Toe ek so ses, sewe jaar oud was, wou ek nie soos ander seuns eendag ’n dokter, veearts of polisieman wees nie. Ek wou ’n boorman word.

Ek wou my eie boormasjien hê en boorgate sink, op soek na water.

In die Noord-Kaap waar ek grootgeword het, was knaend droogtes; en kinders het mos maar soms sulke edel drome en begeertes voor hulle hulle onskuld verloor.

Ek onthou baie dinge van daardie droogtes: Pa wat deur die groentetuin stap met die stoffies wat onder sy voete uitslaan, dan sê hy vir Ma: “Kyk, Bokkie, die pampoene vrek ook nou”.

Of oom Gert wat kom vertel van die agtien dorperooie van hom wat in die veld bly lê het. Agtien bondels vel en been. En hoe hy hulle met sy Joseph Rodger-knipmes van die dors moes verlos.

Ek onthou bankrotveilings en biddae vir reën waartydens ekstra stoele die kerk ingedra moes word – biddae wat selfs deur oom Riempies, die hotel se kroegman, bygewoon is.

Ook vir oom Doepie, die boorman, onthou ek. In droë tye was oom Doepie in ons wêreld die draer van hoop.

Miskien is dit ook oor oom Doepie dat ek ’n boorman wou word, want die ou was vol stories, veral oor die plekke waar hy al boorgate gesink het – ver plekke, met name wat selfs ’n kind gelok het: Prieska, Sterkaar, Uitkyk…

Oom Doepie het ook maar lekker met stories gesmokkel, weet ek nou. Hy het my selfs vertel hoe ’n span van honderd kamele sy ou Thames Trader-lorrie en boormasjien een slag uit die sand gesleep het toe hy in Egipte gaan boor het. In die Saharawoestyn.

Oom Doepie het sy boormasjien – ’n nerfaf rooi affêre op vier swaar wiele – oral met daardie Thames getrek.Met sy

Oom Doepie het sy boormasjien – ’n nerfaf rooi affêre op vier swaar wiele – oral met daardie Thames getrek.Met sy vaal brak, Jasper, op die sitplek langs hom. En agterop die Thames het Jakkals, oom Doepie se dowe helper, in sy verslete oorpak gesit.

As ek aan oom Doepie dink, dink ek aan ’n spul ou, afgeleefde goed. Die ou boormasjien, die Thames-lorrie met ou Jakkals en ’n klomp ou gereedskap agterop: Deurgeslyte grawe, ’n pik met ’n selfgekerfde steel, ’n effens geboë koevoet, geroeste stukke ketting en ’n dopemmer sonder ’n handvatsel.

Oom Doepie, wat toe seker sestig was, het self so ’n deurwinterde gesig gehad, vol lyne en plooie. Of miskien moet ek sê ’n deursomerde gesig, want dis die Noord-Kaapse somers en droogtes wat hom so verniel het.

Die vel op oom Doepie se arms was plek-plek stukkend en rou, asof die son besig was om die bloed bietjies-bietjies uit hom uit te trek. Maar as jy hom gevra het hoe dit gaan, het hy altyd geantwoord: “Uithou, aanhou, kophou en bekhou, dankie.”

Ek weet nie of oom Doepie ’n huis gehad het nie. Hy het nooit van ’n vrou gepraat nie, ook nie van enige familie nie. Daar waar oom Doepie geboor het, het hy ’n stowwerige tent opgeslaan. Dit was sy huis.

Die keer toe Pa hom gekry het om ’n nuwe boorgat by ons op die dorp te kom sink, het Ma oom Doepie genooi om in ons spaarkamer te slaap, maar die ou het elke keer ’n­ flouerige verskoning gehad. Hy wou eerder by die boormasjien wees.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #44(Junie 2008) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.