Ek is nogal lief daarvoor om met mense te redekawel, maar het gelukkig lank gelede al geleer daar’s ’n paar debatte waarby jy nooit betrokke raak nie: Chev vs. Ford, WP vs. Noord-Transvaal, honde vs. katte, Nat vs. Sap (selfs nou, nadat albei partye ontbind het, kan ’n ondeurdagte opmerking jou jou erfporsie kos), Senna vs. Schumacher, die Skim vs. Walter die Wonderman…

Jy kan nie wen nie. Bly maar eerder stil.

Destyds op hoërskool het ek ook eerder stilgebly wanneer daar pouses gestry is oor een van die grootste kwelvrae van die jare sewentig: Watter een van die twee Abba-meisies sou die “warmste” wees: Die donkerkop of die blonde een? Dit was prikkelend om bloot te sit en luister na die twee kante van dié redenasie. Maar daar is een debat waarvan ek nooit wegskram nie: Seil vs.nylon – in die groot tentdebat.

Ek is ’n seilman en skroom nie om dit in enige geselskap hardop te sê nie. Nylon is… wel, dit staan teenoor seil soos Patricia Lewis teenoor Mimi Coertse, of Herbie en Spence teenoor Simon and Garfunkel.

Hoekom? Wel, dis hier waar die ding my onkant betrap, want terwyl ek nou hier sit en my redenasie agtermekaar kry, onthou ek eensklaps meer slegte seiltentervarings as goeies.

’n Seiltent in reënweer, om maar een te noem. Kyk, dit maak nie saak wat die vervaardiger van ’n tent sê nie: Seil is nie waterdig nie. Nie vir ’n hele naweek nie. Dit is altyd ’n senutergende ervaring om deur reën in ’n seiltent vasgekeer te word. Jy lê nog so rustig in jou slaapsak en dan, gewoonlik in die middel van die nag, word jy wakker. Tippe-tippetippe. Die onmiskenbare klank van waterdruppels wat op die seil val. 

Skielik is jy nie meer met vakansie nie. Jy is beleër. Jy lê stil, want jy weet as jy aan die binnekant van die seil raak, gaan dit daar begin lek. Jy wonder waar gaan die water eerste inkom: Bo, by die nate, daar waar die seil reeds so ’n effense donker kleur begin kry? Of onder, deur die kantseil?

Ek wil nie oordryf nie, maar ’n reënbui in ’n seiltent herinner my altyd aan daai flieks oor die Tweede Wêreldoorlog wat ons op skool gaan kyk het, van die ouens wat in ’n duikboot vasgekeer is.

Julle ken die toneel: Die Duitse bevelvoerder staan gespanne langs die periskoop terwyl fyn druppeltjies sweet op sy voorkop pêrel. Hy fynkam die binnekant van die romp met daardie staalgrys oë… Dan skielik pop daar ’n rivet, ’n piepiestraaltjie spuit die duikboot binne, mense gil “Himmel!” of “Schnell!” en binne ’n oogwink bars alle hel los. Dis net skuim waar jy kyk. Dís hoe ek ’n reënbui in ’n seiltent ervaar. Ek dink nie kampeerders in ’n nylontent gaan deur dieselfde geestelike foltering nie. ‘

DAN IS DAAR natuurlik ’n ander onaangename seiltent-ervaring wat ek nie uit my gestel kan kry nie: Daardie helse gesukkel van destyds om ’n army-tent opgeslaan te kry. Kyk, ek het in my dienspligjare al gesê die jaar lange proses van offisierskeuring is ’n mors van tyd; jy kan die kaf van die koring skei deur die troepe ’n tent te laat opslaan.

Vir dié wat dit nie weet nie: ’n 16 x 16 army-tent (hulle gebruik dit vandag nog, sien ek) is ’n onhebbelik lastige ding om staan te maak. Dis asof dit ontwerp is om mense in ’n bui vir oorlogmaak te kry. 

Daar’s ’n swaar dakseil, ’n lang middelpaal (in twee dele), twee lang kantseile, twaalf korterige kantpale, ’n klomp ankerkabels en -kettings wat áltyd in ’n kraaines gekoek is, en ’n hoop lang, geboë tentpenne van metaal wat lyk of ’n reus ’n paar haakspelde probeer buig het en toe skielik belangstelling verloor het.

Dit was asof die tent se afmetings forensies gekies is om die opslaners hulle humeur te laat verloor, want ’n army-tent se 16 voet by 16 voet is net mooi groot genoeg dat die vier ouens wat die hoekpale gedurende die opslanery vashou, mekaar net-net nie kan hoor nie. Hulle moet op mekaar skree.

Boonop kan dié vier mekaar net-net nie sien nie, want die tentdak begin presies op skouerhoogte. Dus is daar geen oogkontak nie.

Dan is daar twee ouens (een sit gewoonlik op die ander se skouers) wat iewers onder daardie lomp dakseil spook met die tent se lang middelpaal. Dis bedompig en donker daar onder die seil, en al twee van hulle is reeds moeilik omdat dinge buite nie aan die gang wil kom nie.

En dan, die laaste strooi: Jou tent moet presies gelyk staan – aan die voor- én agterkant – met ’n stuk of tien ander tente.

Kyk, ek het inmy dienspligjare al gesê die jaar lange proses van offisierskeuring is ’n mors van tyd; jy kan die kaf van die koring skei deur bloot die troepe ’n tent te laat opslaan.

Die resultaat? ’n Ramp in stadige aksie: ’n Gedempte geroep iewers van onder die dakseil; ’n gesukkel eenkant om kabels losgeknoop te kry; ’n subtiele heen-en-weer-trekkery aan die hoekpale om die half-opgeslaande tent gelyk met die ander tente te kry; dan die moeisame oplig en verskuiwing van die middelpaal om dinge weer haaks te kry (met  die onderste helfte van die paal wat uitval as jy dit oplig); dan ’n gerondpluk, dié slag fermer...

En dan, van onder die dakseil kom die eerste aanduiding dat die oefening begin ontspoor: “Barnard, gee nou @$%^# skiet aan jou kant, of ek kom skop jou onder jou &@#!”

Van die beste vuisgevegte – ek praat hier van Carltonliga-gehalte – wat ek nóg gesien het, het losgebars tussen andersins vredeliewende en gelowige mense wat een van daai olyfgroen army-tente probeer opslaan het. Dis nie iets waarop voorstanders van ’n seiltent trots is nie.

TERLOOPS, AS EK môre my werk verloor, koop ek doodeenvoudig vir my ’n army-tent en begin werk as een van daai spanboukonsultante wat soveel geld uit groot maatskappye melk deur mense oor kole te laat hardloop en dan “Kumbaya” te laat sing. Jy kan maklik ’n spanbou, dinkskrum, indaba of selfs Kamp Staaldraad rondom ’n enkele army-tent bou. Jy roep net die mense bymekaar, gooi ’n sak met ’n army-tent  neer en sê: “ ’Raait, slaan op!” Swak leiers sal ontmasker word, bedeesde rekenmeesters sal begin vuisslaan en ervare vloerbestuurders sal geestelik in duie stort. Alles te danke aan die wonder van seil.

 MAAR AS SEIL soveel probleme oplewer, waarin lê die bekoring? Toe ek klein was, het ons ’n groot geel-en-blou gesinstent gehad, een van daardie huistente uit die dae voor koepeltente. Ons gesin is deur die destydse Suidwes en Rhodesië in ’n Peugeot 404-stasiewa met daardie tent.  Onvergeetlik.

Op skool het ek op “uit naweke” ’n paar koshuiskinders oorgenooi na ons huis en dan het ons daardie tent in die agterplaas opgeslaan. Vrydagaande laat het ons gelê en na Springbokradio se Top 20 geluister om te hoor watter plaat David Gresham – "Nitty Gritty Gruesome Gresh” het hy homself genoem – om twaalfuur as die nommer 1 sou aankondig. (“” was maande lank nr. 1.) En daarná het ons lê en gesels oor wat ons sou maak as ons ’n miljoenrand wen, of drie wense kon wens, totdat ons een ná die ander aan die slaap geraak het. Wonderlike dae.

Op hoërskool het ek vir my ’n tweemantentjie gekoop, van seil natuurlik. Die Sederberge, Hermanus, Plet, Buffelsbaai, Victoriabaai, Swakopmund… Op hoeveel plekke het ek en ’n maat of twee in daardie tentjie geslaap  terwyl ons Suid- Afrika verken het.

My grootste respek vir ’n seiltent het ek in Antarktika gekry. Ek was ’n jaar lank daar as lid van ’n navorsingspan. Eenkeer het sewe van ons met ’n Skidoo-sneeumobiel ’n paar honderd kilometer tot in die binneland gery. Saans het ons dan twee-twee in ’n ronde seiltent op daai onmeetbare ysvlaktes gekamp. Daardie ervaring sal ek nooit vergeet nie.

Buite is dit koud – maklik -40 ºC, met ’n stormwind wat dreun. (Die wind daar fluit nie soos in die flieks nie; dit klink soos ’n konvooi vragmotors.) En dan sit jy daar in jou tent met die wete dat daar g’n ander mense – nie ’n enkele lewende siel – vir tienduisende vierkante kilometers om jou is nie.

Al wat keer dat daardie brutale wêreld jou insluk, is ’n lagie oranje seil van skaars ’n millimeter dik. Trouens, jy sit knus daar in jou tent en lees John Steinbeck se Grapes of Wrath by ’n Coleman-lampie. Net seil kan dit vermag.

SEIL HET EEN verdere eienskap wat hom in ’n klas van sy eie plaas. Slaan ’n tent op en haal diep asem:  Niks op hierdie aarde ruik soos ’n seiltent nie… Effens bedompig, effens muf, met so ’n sweem van ’n rokerige geurtjie, ’n huldeblyk aan puik braaivleisvure van weleer.

En dít is miskien die eintlike wonder van seil: Die vermoë van ’n doodgewone tent om te ruik na ál die plekke waar jy al gekampeer het; om jou te herinner aan al die wonderlike dinge wat jy beleef het (selfs al het jy natgereën); en om jou te laat dink aan al die goeie mense wat dit saam met jou beleef het. Nylon kan dit nie doen nie. Daarom is en bly ek ’n seilman. 


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #37 (November 2007) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets sien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook.