Jules van Aardt beduie in die rigting van ’n klipharde stuk doodgerypte gras op die rugbyveld van die Hoërskool  Kirkwood. “Dis hier waar dit gebeur het,” begin hy terwyl hy sy ken intrek op die manier waarop Jules van Aardt altyd sy ken intrek wanneer hy regmaak om ’n ernstige storie te vertel. “Dis hier waar ek harsingskudding gekry het.”

Ek onthou Jules se harsingskudding van destyds. Dit was ’n o.15-wedstryd en, al was ek nie self daar nie, onthou ek hoe hy die week daarna met allerhande stories terug koshuis toe gekom het. “Ek het in die hospitaal wakker geword,” vertel Jules. Dit lyk of sy twee vriende die storie al voorheen gehoor het, want hulle stel meer belang in die drie meisies wat gechoreografeerde danspassies voor die hoofpaviljoen uitvoer. 

Jules en sy vriende is boere, en danspassies is nie iets wat gereeld in die Kookhuis-distrik gesien word nie. Dis waarvoor ’n mens na die Kirkwood-wildsfees toe kom:Wilde dinge. “Drie ouens,” sê Jules, en hy hou drie vingers op. “Drie ouens het my ge-tackle. Hard! Ek het die  overlap gehad, maar toe kry hulle my. Net hier.” 

EK IS BY die Kirkwood-wildsfees om drie dinge te sien. Toe ek dié items in ’n ry op die program sien, toe weet ek ek moet eenvoudig kom: Koedoedrolspoeg, karatedemonstrasie en Ollie, die nar.

Sou jy nie ook vir iemand wat jou bel, wou sê: “Nee, ek kan nie eintlik nou praat nie, want ek is by die  koedoedrolspoegkompetisie en ek gaan daarna karate kyk en dan na Ollie – Ollie, die nar.” Natuurlik.

Ek is egter effens bekommerd, want dit lyk nie of enigiemand besig is om gereed te maak vir ’n spoegkompetisie nie. Nie dat ek weet presies waarvoor om te kyk nie. Beamptes wat rondskarrel?

Deelnemers wat opwarm – met olyfpitte, grondbone, natgekoude bierbotteletikette?

Jules reken die kompetisie is dalk al verby. Ons staan nog ’n ruk en kyk vir die dansende meisies en dan verkas Jules en sy vriende in die rigting van die biertent.

Dis al byna elfuur, en net toe ek daaraan dink om moed op te gee, kom die stem fluiterig oor die luidsprekers: “Dames en Here, die koedoedrolspoegkompetisie gaan nou-nou begin. Die organiseerders sit net vas in die verkeer.”

Verkeer tydens dieWildsfees is nie grappies nie. Kirkwood se strate kan eenvoudig nie die aantal voertuie hanteer nie. Jy kan net sowel drie blokke van jou huis af op Despatch parkeer en hierheen stap. Hier’s ’n hengse klomp mense, want die spilpunt van dieWildsfees is die jaarlikse wildsveiling, een van die grootstes in die land. Jy kan vir jou hier ’n witrenoster aanskaf of ’n koedoe. Soms verkoop hulle selfs dassies. (Wie koop dassies?)

Maar die meeste mense kom maar vir die makietie... Braai, biltong eet en lekker musiek luister.

DINGE BEGIN ROER. Twee mans merk ’n blok van 30 x 30m voor die paviljoen uit – dis waar die kompetisie gehou gaan word.

’n Organiseerder met ’n mikrofoon in die hand begin die skare, wat nou tot ’n paar honderd aangegroei het, aanpor om in te skryf. Een vir een, skamerig, asof hulle aanmeld vir ’n sterkmankompetisie, tree die deelnemers na vore.

Een ou dra ’n Quiksilver-T-hemp en ’n ander een ’n Ferrari-hemp. Nog ’n ou se hemp sê: “Voetsek, ek het genoeg vriende!”

Een ding is duidelik: Jy misgis jou as jy dink jy sal ’n koedoedrolspoeger sommer so op straat eien.

Een ou dra ’n Quiksilver-T-hemp en ’n ander een ’n Ferrari-hemp. Nog ’n ou se hemp sê: “Voetsek, ek het genoeg vriende!”

Hier’s pa’s en seuns; ’n vrou en ’n dogtertjie. Hulle lyk soos ek en jy. Voor ek my oë kan uitvee, tree ek ook na vore en skryf my naam op die lys. Probeer alles een keer, reken ek. Hoekom nie...

Die koedoedrolle lê in ’n plastiekskottel. Party deelnemers begin reeds daarin rondkrap op soek na dié wat die beste sal trek. Jy moet reg kies, want elkeen het sy eie aërodinamika.

Die verskille is klein, maar dit kan die verskil beteken tussen wen of verloor.

Dis soos om pool te speel in ’n kroeg op ’n vreemde dorp. Jy moet eers al die stokke met die hand weeg, die lengte en balans daarvan bevoel tot jy een kry wat jou spesifieke elmboogswaai pas.

Ek wys na die fles. “Waar kom dit vandaan?” vra ek vir die organiseerder, Garth van Niekerk.

Ek wens hy gaan sê hulle’s van Woolworths of Mr Price, of sommer net van ’n plaasstalletjie. Maar nee, hierdie is régte koedoemis. Nie handgemaakte replikas nie. “Van Bosbokrand,” sê Garth, “anderkant PE. Ons het hulle gister opgetel.”

Organies, dus.

Die perfekte kompetisiedrol is vars, maar nie té vars nie. Dit help nie hulle stoom nog nie, want dan is Ta te sag. Hulle moet effens hard wees, met ’n korsie.

Te oud of te sag beteken hulle gaan in die lug uitmekaar val, en disintegrasie is die kampioenspoeger se grootste vyand.

Daar’s prysgeld op die spel. Dis eers net R100, maar Garth vra vir verdere bydraes uit die skare, en kort voor lank groei die pot tot meer as R400. Daar’s ook ’n afdeling vir o.13’s. Die trofee is ’n ou spoegbak.

DIE KINDERS SPOEG EERSTE. Een seuntjie is só jonk hy kan nog nie eens sy naam skryf nie.

Die kompetisie werk nie veel anders as spiesgooi of gewigstoot nie. Die wenner is die een wie se projektiel die verste trek, maar met een belangrike verskil: Die afstand word nie gemeet tot waar dit grond vat nie, maar tot waar dit tot stilstand kom. ’n Goeie rolslag is dus baie belangrik.

Ongelukkig is die meeste koedoeprojektiele rofweg in die vorm van ’n voosgeskopte rugbybal, en omdat die kompetisie-oppervlak boonop ’n ruwe rugbyveld is, het jy baie geluk nodig.

Gou is daar ’n duidelike o.13-wenner – Reuben Barnard. Hy’s van Despatch en het ’n indrukwekkende 10,1m ver gespoeg!

My moed sak in my skoene. Ek het nog nooit goed gespoeg nie.

Party deelnemers maak hulle s’n nat met spoeg, ander met bier.

Omdat ons so baie deelnemers is, word die grootmense in twee uitdunne verdeel. Ek’s in die eerste groep. Ons kry elkeen vier drolletjies: Een vir oefen en drie vir kompetisiedoeleindes. Ek rol myne in my hand soos warm albasters.

Hulle lyk orraait... Spoegbaar.

Party deelnemers maak hulle s’n nat met spoeg, ander met bier.

Garth kondig aan dat verlede jaar se wenner weer hier is om sy titel te verdedig. Dis die ou met die Ferrarihemp.

Hy dra ’n swart Nissan-keps, ’n jean en Puma-tekkies.

’n Lywige man tree na vore vir sy eerste skoot. “Looks like this guy was born to do this!” roep iemand.

Die man spoeg. Honderde pare oë volg die trajek met soveel aandag soos dieWimbledon-skare ’n Roger Federer-afslaan volg. ’n Goeie een.

Ek het my boereklere aan vandag: Kakiehemp en ’n trui met die woorde “Geelbek Merino” daarop geborduur. Boonop het ek ’n groot baard. Maar ek weet sommer almal kan sien ek’s nie ’n regte boer nie.

“Voetsek, ek het genoeg vriende!” het pas gespoeg en nou’s dit my beurt. Ek spoeg my toetslopie.

Dit rol ’n patetiese 5m. Ek het net nie daai brute voor-in-diemond-versnelling van mnr. Ferrarihemp nie. Selfs jong Reuben het verder gespoeg.

Nou vir die drie spoege wat tel.

Met my tone agter die lyn trek ek my bolyf terug vir ekstra momentum, asem diep in en skiet dan my nek vorentoe soos ’n pap kettierek. Sptooo!

Die skare murmureer, die sort murmurering wat net een ding beteken: Jy gaan nooit wen nie, ou maat, maar ons sal jou pogings verdra, kry net klaar.

Ek het g’n enkele ondersteuner in die skare nie. Jules en sy vriende het my verlaat in my groot uur. Hulle drink bier.

Ek spoeg weer.

En dan ’n laaste keer.

My laaste projektiel beur deur die lug soos ’n miniatuur-Challenger en tuimel in ’n patetiese boog grondwaarts. Dit bons, hobbel, rol nog een slag en kom dan tot rus – min of meer daar waar daai ouens destyds vir Jules ge-tackle het.

Ek’s uit. Mnr. Ferrari-hemp en ’n paar ander dring deur na die finaal terwyl ek kantlyn toe hink.

DIE FINAAL IS ’n naelbyt-affêre. Dis nie eensydig in die guns van mnr. Ferrari-hemp nie. Sy naam, vind ek nou uit, is Shaun van Rensburg – van Addo, hier naby.

Ek wonder of hy geoefen het.

Dit lyk so, want hy neem dinge net so ’n bietjie ernstiger op as die ander deelnemers. Met net een kompetisiedrol oor is hy egter nog in die tweede plek, kort agter Quiksilver-hemp.

“Come on, Shaunie!” roep iemand, dalk sy afrigter. Shaun leun op een van die houtpaaltjies voor die paviljoen. Dit lyk asof hy sy volgende spoegslag in sy gedagtes visualiseer.

Dan tree hy na vore. Sy Pumatekkies vat die doodgerypte gras vas.

Sptoooo! Dis ’n manjifieke spoegslag en die rol is ewe goed. Sy 13,4m klop Quiksilver-hemp met enkele sentimeters. Shaun is die wenner!

SHAUN KOM NA vore om die trofee en prysgeld te ontvang. Die skare begin weer koers kies na ander dele van die terrein en ek gaan soek iets om te eet. Ek mis toe die karate-demonstrasie, maar later sien ek vir Ollie, die nar. Hy knipoog vir my wanneer ek sy foto neem.

Volgende jaar is ek terug, en dié slag gaan ek in die af seisoen oefen. En miskien sommer Pumatekkies koop...


Hierdie rubriek het oorspronklik in Weg #36 (Oktober 2007) verskyn.