Die dag begin donkertyd op Cradock. Buite in die dorpshuis se agterplaas is alles nog blou wanneer ek die gordyne ooptrek, maar terwyl ek kyk, verskyn die son se eerste strale en die suurlemoene skakel aan soos gloeilampe, die herfsblare van die witstinkhoutboom soos ’n vuur.

Ek pak gou my goed in die kar, sluit die huis, laai die sleutel af by CDK-sekerheid om die hoek, en ry dan Steers toe om koffie te koop. Dis nét na sewe, maar dis al oop. ’n Meisie in skoolklere draf verby na die winkel en laat val iets deur die gleuf.

Wanneer ek oor die Visrivier ry, kyk ek regs en sien die stoom op die water. Na links is ’n boer in ’n bakkie wat vir my wag by die Marlow-kruispad. Voor my drafstap twee seuns onder deur die duikweg. Hulle gaan laat wees vir skool.

Oukop uit en dan oor die kruin, spoed verminder en links draai Wapadsberg toe.

Langs die pad lê die ryp op die gras; ’n gemsbok wei anderkant die draad in die Bergkwagga- nasionale park.

Ek het al in die verlede geskryf oor reis tussen Cradock, my geboortedorp, en Kaapstad, waar ek woon en werk. Maar geen reis is ooit dieselfde nie. Vra maar vir ’n gids wat toeriste elke dag op dieselfde roete in ’n wildreservaat neem. Vandag sien jy leeus wat ’n bok vreet, môre ’n sekretarisvoël wat ’n slang betrap, oormôre ’n ratel in die lang gras.

Daar is dinge wat ek verwag op dié bekende roete van my. Ek weet ek gaan wit springbokke sien, en dalk wit blesbokke ook, want hier is jagplase. Maar ek rol amper die kar toe ek vyf swartwitpense gewaar. Gits, ’n mens ry al die  pad Chobe toe om hierdie fier bokke te sien en dan bly daar ’n troppie in jou eie distrik!

Nog ’n groter verrassing is die stop-rybordjie wat in my guns swaai soos ek aangery kom na die padwerke aan die voet van die Wapadsbergpas. Daar word nou al meer as ’n jaar hier gearbei, en ek sweer teen die tempo wat hulle werk, gaan daar mense op Mars woon voor hulle klaar is.

Anderkant af, nou met Kompasberg in my visier, verwag ek bloukraanvoëls. En ek sien hulle: maklik 80, gladgrys met hulle maankoppe, senuagtig wanneer ek stadiger ry om beter te sien.

By die T-aansluiting draai ek links Graaff-Reinet toe. Ek kyk na die petrolnaald. Ek het gister in Bloemfontein volgemaak, maar sal ek dit maak tot op Beaufort-Wes?

Ek maak berekeninge in my kop: Dis die 140 km tussen Aberdeen en Beaufort-Wes wat my kwel. As jy by Aberdeen draai, dan is jou besluit gemaak, jou sement gegiet. Ek sal kyk waar die naald lê as ek daar kom – en terselfdertyd ontbyt eet by die Kamdeboo-padstal.

Deur Graaff-Reinet, waar ek besef dis dorpsdag, die laaste Vrydag van die maand. Al die boere is hier met hulle bakkies vol werkers vir inkopies.

Ek ry nou om Spandaukop, maar net waar die pad weer reguit trek, trap ek skielik rem. ’n Man swaai arms, vra hulp, sy bussie van die pad af getrek.

Ek stop en klim uit. Hy praat in ’n aksent – ek raai Lebanees van oorsprong. Mamet is sy naam. “My boss, I told him so many times, but no!” Hy’s radeloos: pap wiel en sonder domkrag. Ek pak al my goed uit om by myne uit te kom, maar besef dan sy bussie gaan te swaar wees.

Mamet se wiel is eintlik nog nie pap nie – die helfte van sy retread het afgekom, maar ek sê vir hom as hy stadig ry, sal hy die dorp haal. Ek sal agter hom aankruie terug Graaff-Reinet toe om seker te maak hy kom veilig daar.

’n Halfuur later is Mamet en sy gewonde bussie veilig by die bandeplek. Ons skud hand, en ek draai weer om Kaap se kant toe. Maar eers gooi ek brandstof in, want nou sal ek nooit Beaufort-Wes haal nie.

Ek luister na Gert Vlok Nel in die kar – Beaufort-Wes se beautiful woorde. Dit maak my gelukkig. Die musiek praat met die landskap en die landskap praat met my.

Daar waar jy die Oos-Kaap verlaat en die Wes-Kaap binnery, is daar ’n kamerasensor wat jou afneem en jou vir die oorblywende 70 km “dophou” en kyk of jy nie te vinnig ry nie. Jou gemiddelde spoed word bereken  wanneer jy weer verby ’n sensor ry net waar jy Beaufort-Wes binnery – as jy dié 70 km te vinnig ry, dan kry jy ’n boete.

Maar by die eerste sensor staan ’n man en werk aan die boks waar drade uithang. Sal ek vandag my kans vat en die kar tot 160 km/h druk tot op Beaufort-Wes? Nee wat, dit sou dom wees.

Net voor Beaufort-Wes slaan my kar se odometer oor na 100 000 km. Dis ’n goeie plek vir so ’n mylpaal. Op die dorp klim ek op die N1. Ek dink aan Johannes Linderts, ’n padwerker vir wie ek ’n geleentheid gegee het tot in die dorp toe ek laas hier deur is. Hy woon in die buurt Bagdad. “Hulle het mos ’n groot oorlog daar geveg,” het hy my vertel ter verduideliking van die buurt se naam, “hier in 1945 rond.” Hy was verkeerd, maar ook reg.

Leeu-Gamka, Prins Albertweg, Laingsburg.

As jy op Laingsburg kom, dan is die N1 se rug gebreek. Die afstande tussen dorpe word dan genadiglik korter, die landskap meer bergagtig, jou oë wakkerder.

Ek trek af by die Wimpy vir iets te ete. In die badkamer vra die jong man wat langs my hande was, of ek Afrikaans of Engels praat. Dis ’n ingewikkelde storie, maar ná ’n ruk verstaan ek Fanie Smith is ’n lorriedrywer, verby moeg, op pad Kaap toe ná ’n paar dae in Limpopo, dat sy vrou kind gekry het terwyl hy weg was (“tweede kind;  weede keer dat ek weg was”) en dat sy vrou kwaad is vir hom.

Fanie soek ’n geleentheid Ceres toe. Die vragmotor moet eintlik nog Kaap toe, maar hy het die ander drywer oorreed om die trippie vir hom klaar te maak. Kan ek? Ek kyk af na waar my Crunchy Chicken Wrap lê en koud word en sê ja, hoekom nie.

Ek en Fanie ry uit Laingsburg uit en hy vertel my van lorriery, hoe dit jou niere opneuk en jou sekslewe ook (“As jy by die huis kom, is dit die laaste ding waarvoor jy lus is”). Hy vertel my van ’n lorriehalte waar die ouerige eienaar “mos jong vrou gevat het” en dat dié gaan lê by een van die man se twee aangenome seuns sodra die ou man en die ander seun (“meer meganies aangelê…”) uit is met die sleeplorrie op die paaie.

Maar die lang tye op die pad maak Fanie klaar. Hy soek iets nader aan die huis, dat hy ten minste elke naweek tuis kan wees. As daai oom van hom net kan deurkom vir hom met daai joppie op die plaas, dan sal dinge anders wees.

Fanie vertel my van die Chinees wat hy anderdag ontmoet het, ’n Chinees met sy eie vragmotor. “Hy’s die nuwe ou op die pad. Ek het my amper doodgeskrik.” Die Chinees praat Engels met ’n Amerikaanse aksent, ry ’n linkerhandstuur en, sê Fanie, is hier om te bly.

Maar die lang tye op die pad maak Fanie klaar. Hy soek iets nader aan die huis, dat hy ten minste elke naweek tuis kan wees. As daai oom van hom net kan deurkom vir hom met daai joppie op die plaas, dan sal dinge anders wees.

Fanie is van Bloemfontein en het landbou gaan swot, maar in sy eerste jaar het hy en sy meisie – nou vrou – “kind gemaak”, en sy pa het gesê hy moet gaan werk soek. Dis nou tien jaar later.

“Dis die Stones se skuld, daai Stones in Bloemfontein,” sê Fanie, en trek sy handskoene – van daai gimhandskoene waarvan die vingers afgesny is – uit. “Ons het lekker gekuier daar, té lekker.”

Ja, kroeë maak soms besluite namens jou waaroor jy later spyt is. “Dè, jy kan dié handskoene kry; ek het nog in die lorrie. Jy sal hulle seker nie kan gebruik nie, maar dis ’n keepsake.” Hy gooi hulle op die agtersitplek.

Is Fanie besig om my met ’n slap riem te vang, wonder ek. Ek vertrou mense te maklik, maar sy stories klink so eerlik. Tog, iewers voel ek onraad.

Duskant Touwsrivier onthou Fanie skielik hy het ’n vriend daar wat hom ook sal kan Ceres toe neem. Ek hoef hom net daar in Touwsrivier af te laai. By die Spar.

“Ek wil darem nie so daar aankom, so met leë hande nie. Ek wil iets soos ’n teddiebeer kry, toiletries vir my vrou. Iets. Ek wil nie…”

Voor hy kan geld vra, sê ek toemaar, ek sal vir hom geld gee. Ons draai in by die dorp, stop by die Spar en ek gee vir hom geld. Ons ruil selfoonnommers. “Ek gaan my kind in die Kaap kom registreer, dan bel ek jou,” belowe Fanie. Dan is die deur toe, hy in die Spar, en straatkinders kom bedel by my venster.

Ek ry weer dorp uit, oor die Donkiesrivier, suidwaarts na waar die Hexriviervallei in die laatmiddagson roesrooi vir my lê en wag. Dis nou vier maande later, en Fanie het my nog nie gebel nie.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #97 (November 2012) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook