Aan die einde van my eerste jaar in die hoërskool was ek een oggend heel uit die veld geslaan toe ek by die skool aankom en bome vol toiletpapier, plakkate teen die deure en graffiti teen die ruite aantref.

En toe die matrieks opdaag, word ek die eerste keer blootgestel aan die grootskaalse cross-dressing wat met Forty Days gepaard gaan: Die seuns dra rokke en spog met klein bokstertjies ewe met linte in die hare terwyl die meisies grys skoolbroeke dra met seunskouse wat tot onder die knie kom.

Vyf jaar later is dit my matriekgroep se beurt. ’n Paar dae voor die tyd vra die skoolhoof, mnr. Von Zeuner, vir ’n vergadering met die matrieks en vra mooi dat niemand moeilikheid moet maak nie.

“Gedra julle en moet my nie in die steek laat nie,” is van sy laaste woorde. Ja, meneer, reg, meneer, beloof ons.

Maar wat Von Zeuner nie weet nie, is dat ons reeds iets meer as toiletpapier, graffiti en matriekseuns in sykouse in die mou voer.

Die plan was eenvoudig dog ambisieus. Aan die vooraand van Forty Days gaan ons ’n stel rugbypale by die sportvelde agter die skool haal en op die grasperk voor die personeelkamer plant, in die vierkant waar al die leerlinge soggens aantree.

Die volgende oggend sal die leerders en onderwysers ’n onvergeetlike monument ter ere van die 2004-matrieks aantref.

Die samestelling van die Hoërskool Vredenburg se rugbypale bly my nou nog by.

Iewers in die pylvak van my matriekjaar het ek en my boesemvriend (en eerste samesweerder) Jacobus vasgestel dat die korter, ligter pale van die B-veld die beste sal werk vir ons “monument”.

Ons het bevind dat dié pale in silinders in die grond geplant staan en dus relatief maklik uitgetrek kan word.

Een middag ná ’n sportoefening het ons uitgevind twee ouens kan saam een van die regop pale uitlig, maar jy het nog iemand by die ander paal nodig sodat die hele gedoente nie omtuimel nie.

Die dwarslat hang aan hake op die regop pale en as alles op die grond is, kan jy die pale uitmekaartrek en dan afsonderlik vervoer.

In opsomming: As jy in die middel van die nag ’n stel rugbypale sowat 300 m ver wil skuif, het jy minstens vier tienerseuns met koppe voller van kattekwaad as common sense nodig.

Gelukkig het dié beskrywing die meeste van ons pêlle gegeld en nog twee trawante is spoedig deel van die plan.

Toe die vooraand van Forty Days uiteindelik aanbreek, is ons voorbereid. Net ná 2 vm. sluip ek uit die huis in my donkerste sweetpak en ontmoet Jacobus buite.

In Skoolstraat kry ons die ander twee lede van die Oorspronklike Vier. Francois het ’n graaf op sy rug met ’n tou vasgemaak, en Tommie (’n skuilnaam, want hy was nooit amptelik daai aand daar nie) dra ’n balaklava.

In die vierkant van die skool kry ons ’n stuk of tien ander matriekseuns wat met toiletpapier, verf en plakkate doenig is.

Dit kos nie veel om hulle vir ons saak te werf nie. Vele hande maak immers ligte werk. Snaaks genoeg is ons ensemble nou amper ’n volle rugbyspan sterk wat afstap na die rugbyvelde.

Nou’s dit sports, ons terg en grap terwyl ons die pale sonder moeite uittrek. Ons skei die drie pale en lig dit op ons skouers, vier of vyf manne per paal, en begin aanstap.

In die parkeerterrein verlig die spreiligte drie horisontale rugbypale met “bene” wat soos dronk ruspes giggelend al nader aan die skool skuiwe.

’n Streep dobberende ligte wat van voor af kom, vang ons onkant. Ons vries in ons spore. Daar was dan nou-nou nog niemand anders by die skool nie?

‘En toe ek omdraai, word ’n streep manne agter my ook vasgevat, maar nie een van hulle is lede van die Oorspronklike Vier nie...’

Skielik sny ’n skerp stem deur die donkerte: “Stop, staan stil! Dis die polisie! Moenie hardloop nie!” Die volgende klank is die geklangelang van metaal op teer, gevolg deur die tjak-tjak-tjak van tekkies op teer soos ons in alle rigtings laat spat.

Ek en die res van die Oorspronklike Vier het weghardloop-ervaring gehad. In daai dae het ons ’n weergawe van toktokkie gespeel waar jy elke naweek by dieselfde huise aanklop.

Mettertyd ontdek jy ’n huis of twee waar die huiseienaars uitkom en jou al vloekend agternajaag, soms te voet en soms met ’n voertuig. Die adrenalienvlakke hiervan is veel hoër as standaard-toktokkie.

Ons was altyd in ’n groep en die ontsnaptegniek was om in verskillende rigtings te hardloop om ons agtervolger te verwar. Later ontmoet julle weer mekaar by ’n spesifieke plek en ruil stories oor waar jy weggekruip het en wie amper-amper gevang is.

My toktokkie-instink skop dus in en ek mik na ’n oprit aan my linkerkant, weg van my paalpêlle af. Die oprit lei na die straat en ’n woonbuurt met oneindige wegkruipplekke.

In retrospek was dié oprit – eintlik ’n bottelnek met ’n muur aan een kant en ’n tennisbaan se draad aan die ander – nie ’n slim keuse nie.

Ek is halfpad in die oprit toe ’n polisiebakkie met flitsende blou ligte en skreeuende bande om die draai voor my kom en as’ t ware ’n kurk in die bottelnek druk. In my adrenalienvaart is ek op volspoed verby die eerste polisieman wat uit die bestuurdersitplek klim, maar sy kollega op die agtersitplek was meer paraat.

Met ’n behendige plettervat (eintlik ’n hoogvat as jy my vra...) pen hy my teen die tennisbaandraad vas en blus eenklaps my kans om te ontsnap. En toe ek omdraai, word ’n streep manne agter my ook vasgevat, maar nie een van hulle is lede van die Oorspronklike Vier nie...

Ek ry die eerste keer agterin ’n polisie-vangwa. Saam met ’n tweede wa vol seuns is ons polisiekantoor toe waar ons in die aanklagkantoor sitgemaak en aangesê word om ons veters en gordels uit te trek voordat ons selle toe gaan.

Kort voor lank daag die skoolhoof op. “Naand, manne,” sê hy in ’n dreunende stemtoon wat jou laat verstaan hy is dik de dinges in.

Hy begin aan die een kant van die vertrek en kyk ons fronsend een vir een aan. In die helder lig herken ek my klasmaats beter. Een ou se pa is ’n onderwyser by die laerskool. ’n Ander een se pa is ’n speurder in hierdie einste polisiekantoor. Vier van ons, insluitend ek, is op die leerlingraad.

En vir die een of ander rede sit hier ook ’n outjie wat al verlede jaar skool klaargemaak het. Die enigste gesigte wat kort, is Jacobus, Francois en Tommie. Die skoolhoof se oë rek effe wanneer hy by my kom. “Evan,” sê hy verbaas, “weet jou pa waar jy is?”

Die skoolhoof is ons genadig en besluit om nie ’n kriminele klag te lê nie en jaag ons huis toe. “Ek sien julle môreoggend in my kantoor,” is sy laaste woorde voordat hy verkas.

Een vir een word ons ouers gebel om ons te kom haal, maar my ouers tel nie ’n foon op nie.

Ek kry ’n lift by een van die ander vrygelatenes en besluit om liewer nie dié tyd van die nag slapende honde by my huis wakker te maak nie.

Ek sluip suutjies bed toe. Aan die ontbyttafel voel ek dis nog nie tyd om my ouers in te lig oor my nagtelike manewales nie.

Ek wag eerder tot my pa my by die skool aflaai voordat ek hom vra of ek gou met hom kan gesels. Ja, sê hy, maar eers in sy kantoor. Hy klim uit en ek volg hom na ’n kantoor in die skool gemerk “Adjunkhoof”.

Later die oggend staan Jacobus langs my in die hoof se kantoor. Hy en Francois het gisteraand weggekom deur ’n lyn te sny deur die laerskool se grond wat aan die hoërskool grens. Tommie het amper drie uur lank in ’n boom weggekruip voordat hy ongesiens kon ontsnap. Jacobus en Francois (Tommie is tot vandag toe op vrye voet...) het vanoggend besluit om hulleself “oor te gee” en saam met hulle paalpêlle aan te tree.

Toe Von Zeuner ’n koptelling doen en by Jacobus kom, kyk hy hom met verwondering aan. Nie net omdat Jacobus homself willekeurig oorgegee het nie, maar ook omdat Jacobus se pa die hoof van die laerskool is...