Net ’n minuut en ’n half, dan draai jy hom om en braai hom net so lank aan die ander kant. En dan nog net drie minute aan elke kant,” beduie oom Siem so heen en weer met die houtlepel in sy hand. “Anders is jou vis te droog.”

Die mans om die braaiplek knik instemmend terwyl hulle na die papegaaivisse op oom Siem se ry roosters staar. Elke nou en dan drup van die visvet op die kole en dan slaan ’n vlammetjie op. In die swartpot langsaan breek borrels tussen die steurgarnale deur en oom Siem karring die spul met sy houtlepel om.

“Vrou!” roep hy oor sy skouer na tannie Heleen. “Hoe lyk dit met ’n handjie vars koljander vir die potjie?” Maar die tannie hoor hom nie waar sy by die ander vroue onder die rallytent staan en slaaie maak nie.

Hy stap woonwa toe, die nat moue van sy afgeskilde duikpak ál druppend en swaaiend langs sy sye. Oom Siem is nie net die kamp se bobaas-visskieter nie, maar ook ’n groot grapmaker.

Hy bekruip die tannie van agter af en fluit in haar oor. “Nee, hemel man, Siem!” raas sy, meer van skrik as kwaad. “Gaan spoel die sand af en trek vir jou klere aan. Jy kan nie so hier rondloop nie – jou niere gaan siekte vat!”

“Net die biere pla my niere,” antwoord hy haar goedig, maar verdwyn tog agter die wa in vir ’n vinnige stort.

Oom Siem-hulle kamp al dekades oor Desember hier op Waenhuiskrans, en staanplek nommer 33 is permanent onder dié Bloemfonteiner se naam bespreek. Aan die bome hang stringe alikreukelskulpe wat hy sorgvuldig ná elke ete aanvul.

“Vir atmosfeer” bring hy ook elke vakansie ’n paar oranje seeboeie aan dik, geel skeepstou saam om sy staanplek te verfraai.

“Bertus! Draai gou daar, ou maat!” roep hy uit die buitestort en oom Bertus spring só paraat uit sy kampstoel op dat hy die bakkie gesoute grondboontjies omtrap.

Dis elke Nuwejaar se ding dié – nadat die laaste lusern gebaal is, sleep ’n stuk of vyf Klein-Karooboere Waenhuiskrans toe. Smiddae sorg Siem en sy seun, Willie, vir ietsie uit die see. Dan braai hulle baardman, rooi roman, hangbergers...en soms is daar selfs ’n mosselsoppie met rys vir voorgereg.

Maar die boere self kom nie eintlik in die water

nie. Hulle sal in ’n kortbroekie op die strand gaan stap om die spierwit bolyf dieselfde kleur as die voorarms te probeer tan, en dalk saam met die jong ouens in die vlakwater ’n rugbybal rondgooi. Maar wat agter die branders aangaan, dít los hulle maar vir ou Siem.

Terwyl die vroue eenkant gesels oor dinge soos die gesondheidsvoordele van rooibostee en die skoolgeld wat net aanhou styg, slaan die mans se praatjies om die vuur ’n lawwer koers in.

Nuwejaar is mos genoeg rede vir vrolik wees, wat. Die hele kamp is jolig en elke nou en dan wanneer ’n vliegtuig van die lugskou op Bredasdorp sy draai ’n bietjie wyd vat en oor Waenhuiskrans dreun, klink ’n gejuig uit verskeie staanplekke op.

Met sy oë nog soekend in die blou lug, begin Jos, ’n boertjie uit Ladismith se wêreld, vertel: “ ’n Goeie klompie jaar gelede is ek een middag op pad terug van Riversdal af met sakke voer vir my kuikens agterop die bakkie.

En man, daar in die Garciapas hoor ek ’n gedreun, maar ek steur my nie daaraan nie – daar is immers ’n donderbuitjie vir laatmiddag voorspel. Al waaroor ek worry, is om voor die reën by die huis te kom sodat die voer nie klam raak nie,” vertel Jos.

“Soos ek anderkant die berg afsak, daar byna by die Ockertskraalpad se afdraai, kom daar ’n ding met ’n lelike spoed van voor af. Die son vang hom sleg, en ek kan nie mooi uitmaak of dit ’n plaaslorrie of ’n vervoertrok is nie – net ’n groot blink kol doer in die pad en dit lyk asof hy sommer so oor al twee bane aangejaag kom.

“Ek skrik my byna vrek en begin ligte gooi, maar die ding kóm. Sy enjin stoot ’n bulk uit soos wat g’n donderwolk kan nie en Sollie begin hier agterop die bak te tjank. Ek gooi weer ligte, maar hy kóm.

“ ’n Benoudheid kom lê oor my en ek maak my reg vir die einde. Uitswaai kan ek nie, want ek’s toe al daar reg langs die padwerke, en aan die ander kant is net ’n smal skouertjie en dan die heining van Stanley se wildkamp.

“Ek spring vir oulaas op die hooter en gooi ligte soos ’n mal mens. En net toe kom daai ding deur ’n skadukol en ek sien dis een van dié lugmagmannetjies in ’n Impala. Die vliegtuig se neus lig op en hy trek hier reg oor my kop verby, die klein hel! Agterop die bak het Sollie só tekere gegaan, sy toonnaels het twee van die sakke voer heel oopgeruk.”

Die manne bulder.

Oom Siem het hom intussen weer by die ander aangesluit, met die paar haartjies rondom sy bles wat kiertsregop staan soos hy dit met ’n handdoek drooggevryf het. “Tjatjatja!” lag die ou. “Willie!” roep hy sy seun, waar dié saam met ’n paar Kovsievriende sukkel om ’n dartboard op te hang.

“Kom vertel weer daai storie van julle visskietkompetisie by Hole in the Wall.”

“Ons was vier ouens in ’n geleende rubberduck met ’n dertigperdekraggie op – die universiteit se eerste amptelike visskietspan,” begin Willie.

“Ons het nie ’n clue waar die vis loop nie, maar was darem baie lus vir die ding. Die eerste paar dae het ons net daar rondgehang en met die locals gebraai.

Maar so sleep ons toe darem een oggend vroeg die bootjie tot op die strand.

“ ’n Ander boot met twee fifty cc’s op launch maklik net hier langs ons en is vort nog voordat ons al die gear ingepak het. Uiteindelik is almal se spiesgewere en snorkels en flippers darem aan boord en ons stoot die bootjie in.

“Maar kyk, nie een van ons is vreeslik fiks óf klein nie. Die ligste ou weeg 110 kg en die ou moutertjie njoinjoinjoi net so.

“Uiteindelik is ons deur die swells en probeer hier en daar duik, maar gewaar niks. Dit hou ure lank so aan, maar ons kry nie vis nie. Toe een ou opkom en sê hy’t nou for sure ’n witdood gewaar, het die res van ons nie veel meer nodig gehad om terug te klim in die bootjie en die dag maar af te skryf nie.”

Die prentjie van die vier moeë pokkels in ’n rubberduck is genoeg om van die mans al klaar te laat proes. Maar Willie is nog lank nie by sy punch line nie.

“Dis toe nie so maklik om die boot weer op die strand te kry nie. Gewoonlik vang jy net ’n brander en bly dan so op sy rug tot op die sand, maar die enjin was só swak dat die swells ons die heeltyd van agter inhaal.

“Daar sit ons toe en ronddryf, moeg en honger en seer gebrand ná ure op die see. Een ou stel toe voor dat drie van ons afspring en uitswem sodat die boot ligter is.

Dit klink na ’n goeie plan en ons gaan sit op ons hurke die volgende brander en inwag. Die bootjie vang hom mooi en ons ry ’n entjie uit voordat ons afspring – al vier van ons.”

Die mans skater. Op die rokers se rooi voorkoppe bult die are en Willie sukkel om sy stem tot bedaring te bring.

“Daar trek die geleende boot, throttle oopgedraai en die moutertjie so lekker teen ’n angle – reguit rotse toe. En wat kon ons doen? Ons vier dikkes dobber soos robbe daar rond en wag vir die slag, want die duckie het nie ’n cut-out switch nie.

“Maar wonder bo wonder stoot ’n brander op daai oomblik uit, klap die bootjie se neus om strand toe en daar vang ’n paar mediese studente van Kaapstad hom toe.”

Oom Siem se keel fluit soos hy lag. Tannie Heleen loer bekommerd by die rally-tent uit.

“Ou man, jou hárt!” waarsku sy.

“My hart is net joune, Vrou,” verseker hy haar bo die gelag en vee die trane af. “Ons haal nou af. Hoe lyk dit met daai koljander vir die potjie?”


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep  (November-Desember 2008) verskyn.