Die beste gastehuis op aarde bestaan seker iewers, maar ek het dit nog nie gevind nie. Nie dat ek nog nie probeer het nie, want mense vertel gedurig dié of dáárdie plek is “fantasties,” maar sodra ek inteken, is die teleurstelling fantasties groot.

Die grootste frustasie met die gastehuisfenomeen is dat sommige mense nie kan afskeid neem van dié deel van hulle huis waarin iemand anders nou bly nie. Dis asof hulle die “Reg van toegangbordjie” wat iewers hang, nie self ter harte neem nie.

’n Paar jaar gelede kom ek ná ’n lang dag op ’n argeologiese terrein by die gastehuis. Ek pluk dankbaar my klere van my lyf af sodat ek eers vyf minute op die bed kan lê voordat ek stort.

Maar, die nuuskierige agie van die gastehuis kon haarself nie beteuel nie.

Sy het sowaar by my kamer ingekom: “So? Wat het jy alles vandag gesien? Ons almal bars om te weet wat alles dáár aangaan.” Die ongeloof op my gesig, wat verander in afgryse, het haar vinnig laat padgee. Ek het niks gesê nie, maar my gesigsuitdrukkings het gepraat.

Sy weet steeds nie wat dáár aangaan nie, tensy sy later die artikel in die koerant gelees het. Dalk het sy gedink ek het vir haar kom kuier. Wie weet, dalk maak sy só vriende met almal wat daar kom?

Dís juis die probleem met die meeste gastehuise waar ek al was: Dit voel asof daar geen onderskeid is tussen huisgaste en kliënte nie. Dis amper asof mense in hulle pajamas – of in hulle Evasgewaad – vir mekaar sit en stories vertel. Die vrae wat sommige mense vra, voel soos die vir ’n visumaansoek of werkonderhoud. “Van watter Britse is jy?” is ’n gunsteling.

Gewoonlik probeer ek sorgvuldig na al die foto’s op die internet kyk, veral daardie foto’s waar mense dinge wegsteek, of vir die halwe waarhede wat hulle adverteer. Soos die gastehuis in Stellenbosch wat gesê het daar is ’n bad, maar versuim het om te noem die bad staan in die middel van die slaapkamer. Op die mat. En dat die mat al vrot omdat almal met hulle nat voete daarop uitklim.

Dit kan jou ook sleg tref indien die plek waar jy tuisgaan, namens jou bespreek is. Soos die keer in ’n stad in die noorde toe ek in die “hemel” beland het.

Die plek was ’n kasarm waarop miljoene spandeer is. Dis nou volgens die eienaar wat my dadelik vertel het sy het die Lotto gewen.

Baie geld is ook uitgegee op die aankoop van honderde en honderde beelde, engele en gerubs – van so klein soos ’n vingerhoed tot gróót goed. Hulle sweef, loop, lê en staan.

Sommige slaap duidelik nooit op die hol matrasse, stywe kussings of sien dat die stortkop eintlik nie werk nie – jy moet rondspring om nat te word.

“Wie gaan Italië toe om kuns te sien as jy dit op jou eie dak kan verf?” sê-vra sy. En daar op die plafon is ’n kleurontploffing van iemand se palet wat jou heen een weer laat wieg en nederig laat jammer fluister vir Michaelangelo. Wierook en ander goed brand dat jou oë traan.

Die aand is sy en haar man uit vir ete. Ek soek die musiekstelsel, want teen daai tyd speel dieselfde panfluit-CD al ure lank. Ek kry niks. Teen elfuur is ek met my kop onder die kussing en begeer sterk drank. Iets soos ’n dubbelbrandewyn om my te verdoof.

Nadat die taxibestuurder onderweg na nóg ’n gastehuis in Johannesburg verdwaal het, kom ek laat die aand daar aan. Die volgende dag is een of ander werksessie. Die vrou van die gastehuis praat en praat en praat en ek kry uiteindelik my sleutel.

Later sluit ek die kamerdeur oop. Soos ’n oervrou laat ek die wind wat ek al ure lank soos ’n wildehond moet beteuel, salig uit. Sekondes later staan die gastehuiseienaar se pa voor die deur. Hulle het dié kamer nou net aangebou en hy wil gou vir “die mense” kom wys hoe dit lyk. Ek sê nee. Ek het pas al die swael afkomstig van ’n verre planeet losgelaat.

Maar die man dring aan. Hulle sal gou maak. Dis toe dat ek besluit ek het genoeg gehad van opdringerige gastehuismense wat nie hulle perke ken nie. Sommige slaap duidelik nooit op die hol matrasse, stywe kussings of sien dat die stortkop eintlik nie werk nie – jy moet rondspring om nat te word.

Hulle kom nie agter dat die muurproppe op totaal die verkeerde plek is nie. Of dat geen mens met senuwees in hulle boude op die stoel voor die lessenaar kan sit nie. Of dat die bedlampie jare laas gewerk het.

“Natuurlik, kom in...”

Airbnb is soos om straataf te ry en te besluit: Ek gaan in daardie huis of woonstel slaap. Ek ken nie die mense nie, maar kom ons doen dit, net omdat ons op vakansie is. Dit is die Uber van slaap in wildvreemde mense se huis. Pleks van om aan die deur te klop, is die kontak met die vreemdes digitaal. Tog is dit dieselfde.

Die voordeel van ’n hotel is dat daar meestal kos en iets om te drink is. Veral vir iemand soos ek wat nie juis ontbyt eet nie en altyd saans honger is. In ’n gastehuis steek hulle die kos weg. Ek het al ’n toebroodjie probeer maak – jy kry nie kos in die huis nie. Die broodblik is leeg, so ook die yskas.

Of die eienaars sluit die deur na die kombuis toe, en jy kan nie daar inkom nie. Seker bang jy eet al hulle kos op in die nag. Soveel as wat hulle jou uitvra oor alles onder die son, so steek hulle die kos weg. Daar staan net droë ontbytpap op die ontbyttafel.

Jare gelede het ’n vrou die dinges in geraak toe ek en ’n ander joernalis wyn gedrink het in haar gastehuiskamer by die KKNK. Dit was ons wyn, maar haar glase. Ons het net nie geweet daar is drankreëls soos by ’n skoolkoshuis nie.

Ek verkies ’n hotel. Al het die mense by ontvangs ’n glimlag op die gesig, hoop ek dis vals, sodat hulle van my vergeet sodra ek my sleutelkaart kry. Ek wil so vinnig as moontlik en sonder enige geselsies by my kamer uitkom. Anoniem en privaat, met goeie diens.

Hulle moet my glad nie herken of weet wie ek is nie, selfs al daag die polisie daar op met ’n foto en vra: “Bly dié vrou hier?” Dan moet hulle sê hulle het my nog nooit in hulle lewe gesien nie.

Ek dink ek sal in ’n hotel kan tuisgaan waar ’n robot my kos bring of ’n drankie skink waar ek langs die swembad lê. Hy moet net nie vra: “Nou vertel my waar is jy gebore?” of “Wat gaan jy môre doen?” nie. Dan skakel ek hom summier af.

’n Paar jaar gelede bly ek in ’n hotel in Johannesburg, maar ek het een van daardie griepkieme opgetel wat jou binne ure so siek maak dit voel asof jy in sewe stukke breek. Kouekoors en ’n kop wat jy glo is geswel.

Ek krap in ’n kas en kry ’n ekstra kombers, maar dis winter en ek soek nog een. Ek bel ontvangs en vra. ’n Halfuur later het niks nog opgedaag nie. Bel weer.

’n Uur later is daar ’n klop aan die deur en ’n vrou staan daar met ’n strykyster en strykplank.

Dis toe dat ek dink elke hotelkamer moet ’n robot kry wat jy rondstuur om komberse, kos, wyn, pynpille en wat nog vir jou te gaan haal. ’n Perfekte hotel vir ’n introvert.


Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook