“Jy beter ’n ander plan maak,” sê my vrou. En ek kan aan haar stem hoor dis nie ’n versoek nie. “Ek gaan nie weer met die padkaart op my skoot sit en die skuld kry as ons verdwaal nie. Dit veroorsaak net huismoles.”

Dis vroeg in Julie en bibber-koud in die Kaap. Maar heerlike somerweer en ’n opwindende road trip deur die noordelike deel van Spanje lê voor – van Galicië aan die weskus tot teen die Franse grens. Maar laat ek voor begin.

My vrou, Jeanne, het dit in haar kop gekry om die Camino Frances te stap – ’n staptog van 800 km van St Jean Pied de Port in Frankryk, oor die Pireneë, tot in Santiago de Compostela in Spanje.

“Kom stap saam,” het sy gul genooi. Maar ek het destyds in die army agtergekom dat lang staptogte uitputtend raak, veral in die somer.

“Stap jy, en as jy klaar is, kry ek jou in Santiago. Dan doen ons ’n lekker road trip kuslangs,” was my teenvoorstel. Dié is met ’n streng voorbehoud aanvaar: dat sy nie wéér, soos op vorige trips in die vreemde, as padkaart-navigator gaan optree nie.

Ek is van die ou skool wat van ’n papierpadkaart hou, een waar jy met jou vinger die rooi en geel lyntjies van die paaie op jou roete van dorp tot dorp kan volg. Verdwaal jy die dag wel, is dit eintlik meer ’n geval van nuwe roetes en plekke ontdek.

Aan ’n GPS het ek nog nooit erg gehad nie. Maar in Europa, met sy bevolkingsdigtheid en digte netwerk tolpaaie, snelweë en wat nog, begin dit lol as jy net op ’n papierkaart staatmaak. Die roete waarop ’n verdwaalpad jou lei, kan dalk net beteken die nuwe plek wat jy ontdek is geheel in ’n ander land!

Dan is daar die yslike padwisselaars – ’n spul reuse-sirkels met afritte kort ná mekaar, en paaie wat in vier bane elk bo-oor en onderdeur mekaar vleg soos ’n bol gekoekte vislyn. Jy het skaars tyd om behoorlik na die groot blou padborde te kyk. En al kan jy, is die inligting daarop, wel, taamlik Spaans.

Maar ek dwaal af. Ek wil eintlik vertel van hoe ek toe my vrou aan my kant gekry het en uiteindelik vir die eerste keer in my lewe per GPS gery het, of soort van.

Ek het al baie saam met vriende gery wat ’n GPS gebruik het, meestal met Tracks4Africa daarop gelaai en op paaie in ’n Afrikaland wat nie op ’n kaart aangedui word nie. Hulle was bedrewe met die goed en ek vra toe raad.

Een oggend het Juffrou Blikstem se geduld opgeraak en het sy haar lelik gewip . . . Toe is daar ’n ruk lank ’n dikmond-stilte.

Een het gereken die leerkurwe sou te kwaai wees só kort voor my vertrek. ’n Ander het weer gedink ek sou dalk regkom met ’n duur een soos syne (hy praat sommer met die vrou as hy opdragte gee, nevermaaind intik). 

Albei was dit eens dat ek my beslis nie sonder ’n GPS op Europa se paaie moes begeef nie.

Om een saam met die motor te huur sou net soveel kos as om een plaaslik te koop. En dan moes jy vir nóg R1000 ’n kaart van Europa aanskaf.

Gelukkig het my seun toe met ’n goedkoop oplossing vorendag gekom. Hy het ’n gratis GPS-app en ’n kaart van Spanje op my tabletrekenaartjie afgelaai en my verseker die vrou met haar blikstem sou my hand al die pad vashou, by wyse van spreke.

Die dag voor ons die skelblou klein Fiat 500 by Santiago de Compostela se hoofstasie sou optel, kry my twyfel egter die oorhand. Ek vaar die boekwinkels in en koop Michelin se bekende rooi padkaart. Met España/Portugal 2015 se volledige Información de carreteras op ’n skaal van 1:1 000 000 is ek sommer weer lus vir ry.

Dié aand trek ek die roete noukeurig met my vinger op die Michelin-kaart, al het ek dit reeds op die GPS ingepons en met die vrou ooreengekom oor hoe ons gaan ry.

Die volgende oggend, toe ek die karretjie se sleutel draai, begeef my moed my heeltemal. Ek vou die Michelin-kaart oop en stop dit in my vrou se hande saam met ’n papier waarop ek die roete afdraai vir afdraai neergeskryf het. Sy wou nog vra oor die GPS, toe ry ons al.

Oor die 70 km na Pontevedra, waar ons road trip eintlik sou begin, wil ek nie veel sê nie, behalwe dat ons reeds by die eerste groot wisselaar op ’n verkeerde afrit beland het en dat die rit, wat ’n beplande 50 minute sou duur, nader aan twee uur geneem het.

Daardie aand oornag ons in Combarro, ’n historiese vissersdorpie. Ons lê weg aan pulpo a la gallega (gekookte seekat, ’n plaaslike gunsteling-gereg) en versag die somerhitte met ’n beker yskoue sangria. Dis toe dat my vrou so half terloops, maar doodernstig sê: “Môre sit jy daai GPS aan voor ons ry.” Case closed.

Die volgende oggend toe ek op die blou pyltjie druk, is die blikstem onmiddellik gesaghebbend: “Turn left on Avenida da Cruz and carry on for 11 kilometres .” Die vrou met haar Amerikaanse aksent hou ons op koers, sirkel na sirkel, uit by die regte afritte en in by die regte opritte.

Teen middagete stop sy ons presies op die parkeerterrein in Muros, waarheen ek haar die oggend beduie het. Ons geniet ’n heerlike, ontspanne middagete van calamares con patatas bravas met ’n lang glas sangria.

Later die middag skarrel die Fiatjie soos ’n blou torretjie oor die teer terwyl Juffrou Blikstem elke nou endan waarsku oor sirkels of afdraaie wat voorlê of onverwags streng vermaan: “You are exceeding the speed limit.” Dalk is dit my verbeelding, maar ek kan sweer dis met ’n tikkie afkeer in haar stem.

Verder gaan dit voor die wind. Nie net het sy die weg presies aangedui nie, maar ook gemaan as daar voetoorgange is, vertel van besienswaardighede langs die pad en gehelp om tolpaaie te vermy.

Soos in enige verhouding het ons ook verskille gehad. Haar siening van “slightly right” of haar manier om die uitgange in sirkels te tel, het nie altyd met myne ooreengestem nie.

Dié soort kon?ik kan in ’n hewige stryery ontaard, maar telkens, ná ’n kort stilte, het sy doodrustig aangekondig: “Recalculating. Recalculating. Enter the ?rst roundabout and take the 5th exit.” En dan stuur sy jou doodeenvoudig terug na waar jou slap regs nie met hare ooreengestem het nie. En dan stuur sy jou doodeenvoudig terug na waar jou slap regs nie met hare ooreengestem het nie.

’n Keer of wat was ek oortuig dat sy die sirkel-uitgange verkeerd getel het. “Nee, suster,” sou ek sê en die derde een pleks van haar vierde een vat, net om deur mý vrou tereg gewys te word – sy het haar reeds vroeg by die ander Eva geskaar.

En ongelukkig vir my was die ander vrou altyd reg!

Een oggend het Juffrou Blikstem se geduld opgeraak en het sy haar lelik gewip.

Toe ek haar Recalculation vir die derde keer ignoreer, is daar ’n ruk lank ’n dikmond-stilte. Toe kondig sy – op ’n oop stuk pad – uit die bloute aan: “.” En dit terwyl ons nog minstens 80 km moes ry!

Maar ons verhouding het gedy. Drie weke lank was die vrou ons metgesel. Sy het ons vir amper 2 600 km op koers gehou, selfs deur Madrid se onstuimige verkeersgolwe tot ons die Fiatjie by die Atocha-stasie terugbesorg het.

Soms was sy, as ek nou eerlik moet wees, blerrie irriterend, maar meestal het ek my sterre gedank dat Juffrou Blikstem saamry.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegry # 77 (November 2015) verskyn.