Oom Doep het nie ’n ingenieursgraad gehad toe hy in 1986 sy 1970 Pontiac Parisienne verkwansel en ’n nuwe BMW 7-reeks by M. Pupkewitz & Sons in Windhoek uitgetrek het nie.

Hy het arm grootgeword langs die Oranjerivier naby Upington, en op die Spoorweë in Windhoek begin werk voordat hy later onder meer leier van die Nasionale Party in die destydse Suidwes-Afrika en voorsitter van die wetgewende vergadering se uitvoerende komitee geword het.

Vrydae het hy sy pak opgehang, sy Homberg-hoed gebêre, die ampsmotor ingestoot en die Parisienne uitgetrek vir sy en ta’ Ella se naweekuittog na sy plaas buite Windhoek.

In ’n kortbroek-safaripak agter die wiel, ’n Satin Leaf tussen sy vingers en een arm by die venster uit, het die Parisienne soos ’n Duitse slagkruiser in die Kaiserstrasse afgewieg plaas toe.

Daar het oom Doep in ’n leidam gebaai en in sy verweerde ou Land Rover die berge aangedurf – weg van al die politiekery en interne twiste wat Suidwes-Afrika in die aanloop tot onafhanklikheid gekenmerk het.

Oom Doep was lief vir sy Parisienne. Dit was ’n lekker groot kar met ’n outomatiese ratkas, baie krag en met eenvoudige lugreëling wat selfs vir orkaan Katrina sou kon ore aansit as die waaier op volspoed was.

G’n niks ingewikkelde climate control-stelsel waarvan jy die werking eers in ’n handleiding so dik soos ’n Hollandse Statebybel moet bestudeer nie.

Ook geen digitale fieterjasies en on boardrekenaarfunksies nie. Jy het ’n hefboompie na koud of warm geskuif en die waaierspoed met die draai van ’n knoppie vinniger of stadiger gestel. Dit was dit.

Toe die Parisienne al taamlik afgeleef was, het haar lugreëling ingegee. Omdat General Motors uit Suid-Afrika padgegee het, was onderdele onverkrygbaar; daarom het oom Doep nie gebodder om dit reg te maak nie. Hy het eerder ’n elektriese waaiertjie (in die vorm van ’n outydse fietslig) op die dash laat monteer.

Die waaiertjie het egter net die bestuurder koel gehou. Op warm dae moes ta’ Ella die Chinese handwaaiertjie saamry wat hulle op ’n staatsbesoek in Taiwan gekoop het.

Dit het mooi gepas by die ronde knop op die Parisienne se stuurwiel. Só ’n knop was vroeër gewild om groot Amerikaanse karre makliker om draaie te krink.

Die waaiertjie het egter net die bestuurder koel gehou. Op warm dae moes ta’ Ella die Chinese handwaaiertjie saamry wat hulle op ’n staatsbesoek in Taiwan gekoop het.

Nie dat dit juis in Suidwes se somers gehelp het nie. Trouens, toe hulle in 1986 op ’n uitgebreide verkiesingsveldtog deur Suidwes ry, het ta’ Ella soos ’n polisieperd gesweet.

Die Parisienne het ook kwaai gestof. Oom Doep het geweet dis tyd vir ’n ander kar toe hulle voor die hotel op Gobabis afklim en sy stomend verklaar: “Ek sit nie my voet weer in dié ou bakoond nie!”

Die warmkry was nie al rede nie. Oom Doep het die Parisienne hárd gery.

Wanneer die kar teen 80 myl per uur in ’n wit stofwolk oor die vlaktes dreun, het oom Doep haar met sy hand op daardie knop op die stuurwiel in die pad gehou.

As ta’ Ella dan bekommerd wou weet wat sal gebeur as daar teen dié roekelose snelheid ’n band bars, het oom Doep – ’n man van min woorde – stilswyend met sy ander hand se wysvinger klein sirkeltjies in die lug gemaak.

Gelukkig het dit nooit gebeur nie. Terug in Windhoek het hy die BMW bestel en die Parisienne met ’n swaar hart aan ’n taxi-operateur van Katatura afgestaan.

Toe die BMW afgelewer word en die verkoopsman hom vermaan om die handleiding te bestudeer, het oom Doep ook met sy wysvinger klein sirkeltjies in die lug gemaak. Dit was nie ’n goeie idee nie…

Een naweek was hulle in die nuwe BMW op pad Swakopmund toe. Hulle was skaars uit Windhoek toe die son begin steek en oom Doep met die lugreëling se knoppies vroetel.

Maar hoe meer hy vroetel, hoe kouer word die kar. Oom Doep het alles van die politiek geweet, maar niks van climate control nie.

Hulle het bibberend en asvaal op Swakopmund aangekom – ta’ Ella die laaste end toegemaak onder die ou wolkombers wat om hulle bagasie in die kattebak gedraai was om die stof uit te hou.

Toe ek in 1979 ’n grasgroen nuwe Chevrolet Commodore 4,1 liter by United Motor Services in Bloemfontein koop, het die gladdebekverkoopsman die feit verswyg dat groen die warmste kleur in ’n kar is.

Swart is tweede – dis ’n feit soos ’n koei.

Ford Suid-Afrika het dit in die jare vyftig met navorsing vasgestel. Wit is die koelste.

Sonder lugreëling was die “Groen Mamba”, soos ek die kragtige sessilinder gedoop het, in die somer ’n onhoudbare bakoond. Op ’n warm dag kon jy ’n eier bak op die enjinkap.

Desembers op pad see toe, met die vensters afgedraai vir ’n luggie, het die wind jou verwaai en die kunstande in jou mond laat tril.

Toe my vrou se perm op een so ’n reis, ’n kopdoek ten spyt, deur die tierende wind verwoes is, het sy by Drie Susters ’n ultimatum aan my gestel: Óf die Groen Mamba waai óf sy waai.

Maar net soos oom Doep vir sy Parisienne, was ek bitterlik lief vir die lekker kar.

Dis boonop die laaste GM-produk met die Chevrolet-naam in Suid-Afrika, en ek is van kindsbeen af ’n Chev-man – ’n garage sonder ’n Chev is soos ’n huis sonder ’n moeder (hoewel die Commodore ’n Duitse Opel was).

Ek moes die gevaarligte sien flikker het, maar ek het nie, want ek wou teen heug en meug ’n aircon hê om my huwelik te red.

Ek skop dus vas en besluit die Groen Mamba moet lugreëling kry. ’n Eenheid is beskikbaar, maar die brackets nie. Moenie worry nie, verseker die man by die lugverkoelingsplek my: Hy maak dit sommer self.

Ek moes die gevaarligte sien flikker het, maar ek het nie, want ek wou teen heug en meug ’n aircon hê om my huwelik te red.

Drie weke en R3000 later laat weet hulle ek kan die Chev kom haal – die lugreëling is in en werk soos ’n bom. Die man waarsku wel ek moet my maar klaarmaak dat die Chev petrol gaan suip as die lugreëling aan is.

By die huis kondig ek opgewonde aan: “Pak, ons gaan Kaap toe!” Dis hoeka Desember, vakansietyd, en ná ’n uitmergelende Vrystaatse winter smag ek na vars kabeljou by koue witwyn en rooi waatlemoen langs die see.

Anders as vroeër toe ons altyd in die nagtelike ure vertrek het om so ver as moontlik te kom voordat die hitte in die Groot-Karoo toeslaan, vat ons die langpad Kaap toe eers toe die son uit is.

Die Groen Mamba het mos nou aircon.

Mammie hoef nie meer ’n kopdoek te dra nie, en die kinders sal nie met hulle taai, sweterige toffiehandjies om my vroetel wanneer hulle begin warm kry nie.

Toe die vlaktes by Colesberg begin wit word, breek die groot oomblik aan.

Ek druk die knoppie… en toe die aircon inskop, swik die Groen Mamba soos ’n hond wat gif gevreet het. Maar toe vat sy weer die vrag brullend terwyl die toere gevaarlik opskiet.

In die jare daarna het ek nooit weer ’n voertuig sonder lugreëling gekoop nie – om daarsonder te wees is eenvoudig ondenkbaar.

Maar daardie oomblik toe die stroom koue lug in die Groen Mamba oor ons gespoel het, bly onvergeetlik.

Wat ook onvergeetlik is, is hoe koud ons, soos oom Doep in sy BMW, gekry het toe die kontrêpsie op sy koudste vasgesteek het en ons dit met die beste wil ter wêreld nie warmer of stadiger kon stel nie.

Die koekblik met konfytbroodjies, hardgekookte eiers en koue frikkadelle in die agterruit het so te sê gevries.

En toe ons in die Strand afklim, was my snor spierwit en moes ons die kinders Borstol gee vir kroep. Hulle het heel vakansie gehoes.

Toe die kinders ná die rampspoedige reis vir haar begin skaam word en wegkruip wanneer ons hulle by die koshuis gaan oplaai, was dit die einde van die Groen Mamba.

Sover ek weet, is sy steeds ’n taxi in Rocklands…met aircon en al.

En ek mis haar nog altyd.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #74 (Desember 2010) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.