Die Kalahari was jare lank ’n droomwêreld waarheen ek in my verbeelding gestap het. Daar gekom, het ek gewoonlik met my jaggeweer oor die skouer begin spoorsny en ’n springbokkie gesoek wat ek die aand sou braai terwyl ’n groot vuur brand en die leeus om my brul.

Ek is grootgemaak met P.J. Schoeman-boeke en die Bybel. Vir my was Jesus nie 40 dae lank in die woestyn nie. Hy was in die Kalahari. En behalwe vir die duiwel wat kom pla het, het ek gereken Jesus het ’n ongelooflike tyd gehad: Saam met Boesmans volstruiseierdoppe uitgegrawe, op die rooi duine saggies gesug as die son val, en saans op die koel sand gelê en kyk na die sterre.

Later jare het my pa my Kalahari toe gevat en dit was vir my die mooiste plek op aarde. Ek kon nie help om te begeer nie en het in my gebede jammer gesê, maar tog bygevoeg: “Here, gee ons tog eendag ’n stukkie Kalahari.”

Later jare het my pa my Kalahari toe gevat en dit was vir my die mooiste plek op aarde.

In 1999 het my pa (wat halfpad predikant en halfpad boer was) ’n beroep aanvaar Olifantshoek toe. Ek was opgewonde toe ek hoor dit is in die Kalahari, maar teleurgesteld toe ons daar kom en daar is ’n massiewe en lang berg (die Langeberg). Ek wou net duine sien.

’n Jaar later het my pa ’n plaas wes van Van Zylsrus en teenaan die Botswanagrens gehuur. Op Mokalanen was hoë duine wat jou kuite laat brand en jou asem laat hol het as jy teen hulle uitklim. Daar was troppe gemsbokke en springbokke. Daar was aasvoëls in die lug en stokstertmeerkaaie op die grond. In die kameeldorings het versamelvoëlneste gehang en breëkoparende geslaap. My gebede is verhoor en ek het nie omgegee dat ek (toe st. 8) en my suster (st. 7) koshuis toe moes gaan nie.

Want naweke kon ek hemel toe.

Tussen die koshuis in Olifantshoek en Mokalanen het 220 km grond- en sandpad gelê. Ons het dit Vrydagmiddae net ná skool aangepak. Ek, my suster en pa voor in die enkelkajuit-Isuzu.

Ons skooltasse en koffers agterop saam met sakke winterlek, afrondingskorrels vir die ou ooie en hanslammers, dieselkanne, rolle draad, pakke sparre wat na teer ruik, dousgoed vir haarwurm, ’n koelboks met groente en roomys, en bokse met inkopies uit tannie Liefie Fouché se winkel, Shop-a-lot.

As die pad nie te sleg was nie, het die rit sowat drie uur geduur. Soms het ons eers laatmiddag weggekom en ’n groot deel in die donker gery. Dan moes my pa uitswaai vir steenbokkies, duikers, ystervarke, bakoorjakkalsies en soms koedoes. Vir rooijakkalse het hy nie uitgeswaai nie. Een aand het ’n steenbokkie uit die lang gras gehardloop en ons agterste band so hard getref dat die lugklep gebreek en die band afgeblaas het.

Op Sondagmiddae het ons weer teruggery koshuis toe. Dit was glad nie lekker nie en ons het een slag probeer om vroeg op ’n Maandagoggend te ry, maar toe verslaap ons al drie en kom eers met eerste pouse by die skool aan.

Die pad tussen plaas en koshuiskamer het deur ’n vreeslike mooi deel van die Kalahari geloop. Vir ’n hele klomp kilometers ry ’n mens al teen die Tswalu-wildreservaat se heining. As ons daar gery het, het ek vir ’n ruk vergeet van die rekeningkundehuiswerk wat nog nie gedoen is nie en gehoop ek sien ’n leeu.

In my matriekjaar het my houding teenoor Sondagaande in die koshuis skielik verander. Alida het in daai jaar koshuis toe gekom en ek kon nie wag om Sondagaande saam met haar op die muurtjie onder die kameeldoringboom naby die eetsaal te sit nie.

Dit was hoeka daar teen Tswalu se heining wat ons een Sondagmiddag ’n groot skaduwee in die pad sien beweeg het. Ons het ons oë skreef getrek om die vreemde gedoente uit te maak en dit was amper te laat toe my pa hard rem trap en ons sien dit is ’n swartrenoster wat reguit na ons aangedraf kom.

Sy draffie het skielik ’n stormlopie geword. My suster het gegil, ek waar-skynlik ook, en my pa het gesukkel om eerste rat tussen my suster se knieë op te spoor. Toe die bakkie uiteindelik begin draai, het ek en die renoster mekaar deur die kantvenster bekyk en ek het vir seker gegil, want die horing was reguit op pad om die deur én my ribbekas te deurboor.

Die Isuzu is eers skreeuend van die pad af en toe terug pad toe. In die kant-spieëltjie het die renoster in ’n bolling rook en stof verdwyn. Toe hy weer verskyn, was hy verder agtertoe, maar steeds besig om agter die bakkie aan te hol. ’n Goeie kilometer of twee later het hy gaan staan, omgedraai en toe weer begin terugdraf in die pad.

‘Die Isuzu het weer net betyds omgeswaai, geskreeu, gerook en weggejaag met die skerp kant van die renoster reg agter ons.’

My pa het gedink hy sal verby die renoster kan jaag, en dié slag was dit ons wat hom agterna gesit het. Maar renosters glo nie in die hou-links-gaan-regs-verby-konsep nie. Hy het in die middel van die pad gebly en toe weer sy humeur verloor, omgedraai en ons weer bestorm.

Die Isuzu het weer net betyds omgeswaai, geskreeu, gerook en weg-gejaag met die skerp kant van die renoster reg agter ons.

“Dis nou ’n ding,” het my pa gesê toe ons kyk hoe Tswalu se boelie weer wegdraf.

Ons was nog besig om te debatteer oor of ons nog ’n slag ons lewens en die Isuzu in gevaar moet stel (my siening, aangesien die liefde my blind gemaak het en ek nie die renoster gesien het nie, maar wel vir Alida, alleen daar op die muurtjie...), moet terugry plaas toe (my suster se standpunt) of nou ’n hengse ompad moet ry Olifantshoek toe (my pa was bang ons verslaap weer) toe oom Dysman van Eeden met sy Cruiser vol koshuiskinders langs ons stop.

“Is dié ou spuls?” het oom Dysman gevra. Spuls is ’n Kalahari-woord wat enigiets van katools tot beneuk tot mal tot “baie lekker bakkie” kan beteken.

“So ’n spulse helsem,” het oom Dysman gesê nadat my pa hom vertel het wat gebeur het. Die kinders agterop sy Cruiser het by die kappie se vensters uitgehang om beter te kan sien.

“Doeminie kan maar net so agter my hou, dan sal ek hom vir ons uit die pad uit druk. My mouter het mos ’n stewige bull bar op,” het oom Dysman voorgestel.

Dis reg, het my pa gesê. Maar toe oom Dysman se Cruiser wegvlie’, het my pa niks gemaak nie en ons het net gesit en kyk hoe die bakkie en die kinders wat by die ruite uithang met ’n spoed op die renoster afpyl. Ek was vies, want ek wou saam met oom Dysman verby die renoster jaag na Alida toe. Toe die renoster omswaai en storm, kon ons hoor hoe die kinders gil. Dit het eers gelyk asof oom Dysman ’n systap oorweeg, maar die Cruiser het terstond wolke stof en sand begin opskop en teruggejaag na ons toe.

Toe hy langs ons stop, was al die kinders weer in die kappie, wit soos die haakbosblomme in die lente.

Nee, het oom Dysman gesê, die renoster gaan ons nooit laat verbykom nie. “Hy is hopeloos te spuls, doeminie.”

Ons het die ompad gery. By oom Flip Niemand verby, wat ook “F****n Flip” genoem is oor hy so kwaai gevloek het. Oor Pearson’s Hunt se wit panne, in die donker oor Vuilnek se skurwe nek en dan die laaste ent wat altyd baie sinkplaat gehad het.

My pa het by Tokkie’s Take Aways langs die Engen-vulstasie vir ons skyfies en ’n Coke gekoop, al was dit heel teen sy geloof om op Sondae handel te dryf.

By die koshuis was Alida nêrens te vinde nie en ek het alleen op ons muurtjie gaan sit en diep bedroef my skyfies geëet.

Die volgende dag het sy vertel dat hulle op pad koshuis toe in ’n donkie vasgery het. Ek het daardie aand die eerste keer haar hand houvas daar onder die doringboom.