Om met jou starter pack-tentjie langs ’n karavaan te kampeer is baie dapper.

’n Gesoute karavaner is gewoond aan dinge doen op groot skaal, so jou gedroggie van ’n tentjie is nie eens binne sy verwysingsraamwerk nie – sy laaitie se speeltentjie is dan groter as joune.

Met ander woorde, jy moet omtrent sewentig meter polisielint saamvat om jou kampie af te baken, anders is jy maar net ’n hindernisbaan vir jou woonwabuurman se pêlle wat met hulle bakkies tot teenaan jou ry om te kom kuier.

Vanuit my tentjie bekyk ek dikwels die karavaanmense. Vir baie van hulle behels ’n karavaanvakansie die duplisering, en soms verbetering van die presiese weelde en toebehore waaraan hulle gewoond is by die huis. Dit sluit nou alledaagse klein dingetjies in soos ’n mikrogolfoond, wasmasjien, waterverkoeler, DStv, hartlongmasjien en dies meer.

Reeds vroeg in jou kamplewe word jy gekonfronteer met die aura van die karavaan. Die standaard-karavaanman se kamp is gewoonlik groter as joune.

Daar’s genoeg plek vir sy familie en ’n paar vrinne, en miskien die helfte van die Tuli-blok se olifante. Die karavane staan daar soos jong oorlogskepe; hulle het ’n invloedsfeer veel groter as hulle afmetings. Wee jou as jy jou tweemanbesigheidjie tussen twee sulke menere opslaan.

MAAR DIE BELANGRIKSTE uitwerking van karavane op jou is meer subtiel. Sien, daar is so baie blink dinge en liggies en vreemde implemente langs jou dat jou kampkoors stadigaan oorgaan in iets ergers... karavaanagtigheid.

Kampkoors, vir dié wat dit nie ken nie, is ’n ernstige ding. Dis ’n siekte of toestand wat jou beetpak en veroorsaak dat jy jou vermoë verloor om op te hou goed aanskaf vir jou kampnaweke.

Die gevolg is dat jou kampery vinnig ontaard in ’n ding met sy eie momentum.

Elke ding wat gekoop word, laat jou besef daar’s nog iets wat jou jongste aankoop gaan aanvul, en dan koop jy sommer dít ook.

Nog ’n simptoom van kampkoors is die totale onvermoë om net te kamp en te rus. Dis meer soos ’n laertrekkery. Jy’t naderhand so baie goed wat ge-orginaais moet word dat jy die hele naweek besig is.

Sodra alles mooi in, oopgeslaan en reggeskuif is, is dit tyd om huis toe te gaan.

En te midde van dit als is jy waaragtig nog geneig om aantekeninkies te maak van nuwe goed wat onmisbaar blyk te wees en wat jy sal móét aanskaf sodra jy weer by die huis aanland. (Dit doen jy sommer in jou kop, want jou vrou raak al meer iesegrimmig as sy sien jy beplan om nog iets te koop.)

Karavaanagtigheid is die oortreffende trap van kampkoors – die finale fase wat aanbreek nét voor jy ’n karavaan koop. Dit word gekenmerk deur ’n totale oorgawe aan goeters, in die ergste graad.

Jy het nie eens meer die vermoë om twee keer te dink oor ’n kampding voor jy dit aanskaf nie. Jy dwaal rond in kampeerwinkels met ’n mond wat half oophang soos ’n voorspeler wat pas ’n rooikaart gekry het. Jy stap rond met ’n brosjure in die hand waarop jy regmerkies maak soos ’n voëlkyker.

Elke liewe ding wat geadverteer word, het in jou geestesoog al klaar ’n plekkie in jou kampopset. Die uitwerking op

jou beursie grens aan vandalisme. Party ouens gee sommer hulle beursie vir die winkelassistent, maak die kar se kattebak oop en sê: “Maak hom vol!”

SO NEIG JY trappie vir trappie na karavaankoop toe, maar bly net so duskant die finale besluit om wel een aan te skaf. Jy vertel natuurlik vir almal wat wil hoor dat karavane onnodig is en veels te groot vir wat jy nodig het. Jy het báie redes hoekom jy nie karavaan aanskaf nie: Jy’s nie lus vir sleep nie; jy kan net sowel in ’n woonstel vakansie hou; en jy’s meer van ’n “natuursoort”.

Jy vergeet gerieflikheidshalwe dat jou sleepwaentjie nou al so fensie is, jy’t klaar ’n ander kar of ’n groter bakkie aangeskaf om die ding te trek. Jy’t so baie gasbottels en toebehore dat Mossgas jou selfoonnommer het ingeval hulle eendag ’n bietjie vasbrand met die land se aanvraag. Cadac se oorkoepelende strategie is om jou aan die lewe te hou solank as wat hulle kan.

As jy jou kamp opslaan, is daar op die ou end so baie leë seilsakke in jou kattebak dat dit lyk of jy niks afgelaai het nie. As jy al jou ligte in die aand aanskakel, is daar konsternasie in die kampterrein, want almal se kindertjies dink die sirkus het aangekom.

Naderhand het jy so baie goed gekoop dat jy dit net als kan saampiekel as jy ’n karavaan het om dit in te sit.

MAAR DIS DIE nuuskierigheid wat jou finaal onderkry.

Daar sit jy uiteindelik op jou stoeltjie in die wildtuin, sê nou maar, met ’n blikkie goue lafenis ná gister se heeldagkampopslanery.

Jy tuur die bosse in, maar daai karavaankamp langs, of eerder, om jou, is so lewensgroot en oorweldigend, dis soos om onder die Eiffeltoring te staan en te probeer om nie op te kyk nie.

’n Troppie rooibokke kom nader agter die blink van ’n Jurgens en die groen gloed van ’n splinternuwe karavaantent aan, vas onder die indruk dat hulle ná jare se rondswerf uiteindelik hulle pad terug paradys toe gewei het. Party probeer selfs oor die draad klim.

En daar sit jy op jou stoeltjie.

Jou kampmomentum is ’n bietjie gebreek. Jy’s nie so gretig soos altyd om te werskaf aan jou kampie nie.

Vanmôre ry jy nêrens heen nie. Jy sit en kyk na die karavane om jou.

Daar’s ook nie eintlik plek om jou laer uit te brei nie, want jou penne en toue en die buurman s’n (twee keer meer as joune) is al klaar gevaarlik deurmekaar. Jy weet sommer daar kom ’n konsternasie as iemand laatnag koers kies badkamer toe.

Jou vrou kloek nou en dan om uit te vind of iets dan verkeerd is.

G’n mens met kampkoors onder lede kan so iets weerstaan nie. Dis dan wat jy net gou ’n bietjie van nader gaan loer. Net so ’n bietjie kyk.

Maar jou oog trek heeltyd na die Groot Groen Karavaankamp toe. Daar’s so baie goeters! En hier teen skemer het van die implemente nog blink liggies wat vir jou wink.

G’n mens met kampkoors onder lede kan so iets weerstaan nie. Dis dan wat jy net gou ’n bietjie van nader gaan loer. Net so ’n bietjie kyk.

Buurman en sy trawante is mos al vroegdag uit met dieselenjins wat brul (hulle sal net dowe wild sien) en die plek lyk so verlate, dit kan mos nie skade doen om te gaan kyk hoe lyk die kampopset by sulke eksperte nie.

Dis die begin van die einde. Hoe nader jy gaan, hoe interessanter word dit. Daar is hordes tafels, oulike seilstoele wat die ouens by Boeing vir besigheidsklas op ’n 747 sal oorweeg. Magtag, Jamie Oliver se hele kombuis is daar! Én M-Net. Jy sal nie verbaas wees as hulle môre pos afgelewer kry nie.

’n Karavaantent het natuurlik allerhande kamers en hoekies en interessante donkertes wat jou laat wonder wat daar binne aangaan...

Ongelukkig is dit ook so dat iemand wat só nuuskierig is ’n natuurlike sluip aan hom het. Jy lyk sommer verdag. En as die liggies en blink dingetjies jou so laat kwyl, is jy naderhand in die middel van jou buurman se kamp, dalk amper in sy tent.

Dis natuurlik ’n situasie wat maklik daartoe kan lei dat jy ’n uur of wat later in Phalaborwa se hospitaal wakker skrik met toegeswelde oë. Jy sien die toneel in jou geestesoog afspeel: Langs jou sit jou vrou, wat nie té geamuseerd lyk nie. Sy is net effens bly jy leef nog en dat die kindertjies nog ’n pa het, al is dit ’n stupid een.

En steeds maal die gedagte in jou kop: “Miskien moet ek vir my ’n karavaan kry.”

Sien, dís wat kampkoors aan jou doen. Loop lig.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep (Julie 2006) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook