Suid-Afrika het omtrent meer danssoorte as amptelike landstale.

Mynwerkers slaan hulle gumboots. Ontevrede werkers toi-toi. Kurt Darrenaanhangers sokkie. Boeremusiek werk weer lekker vir langarm.

In ’n stadium was volkspele besonder gewild. Vir 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi het ondersteuners ’n diski-dans aan die wêreld bekend gestel waarin sokkerbewegings nageaap word.

Ek is nie mooi seker watter dans die Blou Bul-meisies op Loftus doen nie, maar ek hou hulle graag dop... En was daar al ooit ’n openingseremonie vóór ’n groot sportbyeenkoms sonder ’n tradisionele Zoeloedans? 

As daar een danssoort is wat my voete behoorlik laat jeuk, is dit die riel, tot ’n paar jaar gelede een van ons miskende kultuurskatte.

Kyk, ek en dans is nie juis maats nie. In st.9 het my date vergeefs probeer om my voor ’n skooldans in die kombuis te leer two-step terwyl Indecent Obsession se “Kiss Me” oor die hi-fi blêr. Het ek toe maar geweet van die riel...

Laat ek eers verduidelik: Die riel is die oudste danssoort in Suid-Afrika. Dit kan teruggespoor word na die Khoisan wat ’n goeie oes of jagtog met stofdanse ál sirkelend om ’n vuur gevier het.

Die riel het ook ooreenkomste met die Skotse “reel”-dans, vandaar die naam.

Die riel het ’n oplewing beleef in die jare veertig, vyftig en vroeg sestig van die vorige eeu, veral onder plaaswerkers in die Boesmanland, Karoo en Namakwaland. Maar toe het dit begin uitsterf, glo weens verstedeliking en die invloed van die Amerikaanse popkultuur.

Hoe sal ’n mens hierdie energieke dans beskryf vir iemand wat dit nog nie gesien het nie? Michael Jackson se bekende “moonwalk” – waar hy so op sy tone terugkruie asof die grond ’n trapmeul is – is ’n bietjie soos ’n agterstevoorom riel.

Trouens, ek dink as Michael in ’n plek soos Wupperthal grootgeword het, was een van sy treffers dalk “Riel the World”.

Le Roux Schoeman, ’n kollega en self ’n groot rielentoesias, vat die riel vir my die heel beste vas: “As Tim Noakes die aktiwiteit moes beskryf, sou hy dalk sê jy trap ’n onsigbare oefenfiets in los sand terwyl jy eweredig asemhaal en iemand anders se hart probeer verower.”

Trouens, ek dink as Michael in ’n plek soos Wupperthal grootgeword het, was een van sy treffers dalk “Riel the World”.

Dít is juis wat die riel so besonders maak. Dis dikwels ’n liefdespel, die oorspronklike paringsdans. “Die rieldans is só verleidelik, selfs die CD spring ná ’n ruk,” is al gespot.

David Kramer en die skrywer Elias Nel is op hulle manier hedendaagse rieldans-ambassadeurs.

Dit was juis danksy David se Karoo Kitaar Blues-konsert dat ek my eerste rieldans gesien het, in 2001 by die KKNK. Vir dié projek het David die Karoo en Noord-Kaap deurkruis op soek na vergete musikante – appelplukkers, skaapskeerders, draadspanners – wat nog die “ou musiek” op voos kitare en blikviole speel.

Ek onthou nog hoe Tokas Lodewyk, ’n skaam skaapwagter van Richmond, met vernuftige voetwerk oor die verhoog begin riel het. Die gehoor was stomgeslaan.

Tokas het voor ons oë ’n gedaantewisseling ondergaan.

Skielik was hy lewensgroot, ’n energieke Karoo-weergawe van Lord of the Dance.

Sedertdien het “Riel!” ’n kodewoord geword tussen my en ’n paar vriende. Wanneer ’n partytjie lewe kry, begin ons Tokas se rieldans naboots, selfs al pas die musiek nie by die bewegings nie.

Elias Nel is die skrywer van die bundle verhale Iets goeds uit Verneukpan? en het grootgeword op Swartkop, ’n plekkie buite Verneukpan.

Rielwêreld.

Elias, ’n tipe Moses-figuur, het die leiding geneem met die herlewing van die riel.

Deesdae word selfs gepraat van ’n “rieldans-renaissance”.

En as jy wil sien hoe die riel lééf, moet jy kom aansit by die jaarlikse Nasionale Rieldanskompetisie in die Paarl, in die skadu van die Taalmonument...

Ek sit hier by die derde Nasionale Rieldanskompetisie in die Paarlberg-amfiteater. Dis Saterdag, 6 Desember 2008. Die amfiteater is stampvol. Hier moet ’n hele paar duisend mense wees.

As daar weer ’n bemarkingsvideo geskiet moet word van hoe Suid-Afrikaners – oud en jonk – oor kultuurgrense heen saamkuier, kan die kameraspan gerus hier ’n draai kommaak.

’n Entjie links van die teater skiet die Taalmonument se suile die lug in. Penorent. Die mense wat dit in 1975 plegtig geopen het, het waarskynlik nie dié jolige, kleurryke affêre sien kom nie...

Ek en my ouers het soms hier gestop tydens ons jaarlikse vakansie in die Kaap. Dan kom lê ek hier reg langs die plek waar die woorde “DIT IS ONS ERNS” in groot letters gegraveer is vir ’n tong-in-die-kies-foto. Ek ís mos my ma-hulle se Erns!

Sedert die eerste rieldanskompetisie in 2006 hier plaasgevind het – met sewe groepe wat vooraf geïdentifiseer is – het dinge vinnig gegroei. In 2008 was daar eers uitdunrondtes vir 28 groepe reg oor die Noord- en Wes-Kaap, met 11 wat tot die eindronde deurgedring het.

Die meeste groepe, soos Bitterfontein, Brandvlei, Garies en Witzenberg, het ver gereis om tot hier te kom. So ook hulle jolige ondersteuners. Party het al vieruur die oggend in die pad geval.

Die dansbaan op die verhoog is ’n groot halfmaan sand. ’n Paar trofeë staan op ’n tafeltjie. Elias en die akteur Pierre van Pletzen is die aankondigers. David Kramer, wat die prys borg vir die beste rieldansliedjie, is ook hier, én ouma Grietjie Adams van Garies, skrywer van “Dis ’n lekker ou Jan”.

Die verrigtinge word geopen met skriflesing en gebed. Die leraar, dr. Sam Pick, lees hoe koning Dawid en die Israeliete voor die verbondsark gedans het. Hy sê dat die woord “dans” minstens twintig keer in die Bybel voorkom.

Elias vra die groepe om eers vir die gehoor te kom wys hoe die verskillende rieldanse lyk. Dikwels word diere, voëls en selfs plaasaktiwiteite as deel van die liefdesdans nageboots.

En hulle dans dat die stof so staan – letterlik.

Ek is verbaas om so baie jong rieldansers te sien; van die kinders is nog in die laerskool. “Wys die bobbejaandans! Wys vir hulle die slang!” roep Elias. Die gehoor skater. “Hoe skeer ’n mens skaap?

En wys gou vir hulle hoe brei ons die velle! Speel hom hard!”

Die askoekslaan is ’n gewilde dans. Die dansers lig hulle regtervoet vinnig bo die linkerknie, terwyl ’n denkbeeldige askoek tussen die hande gedraai word.

Humor is ’n belangrike deel van die riel. “Muishond kielie vir meerkat dat hy so hier en daar grondvat,” sing Elias oor die mikrofoon, terwyl twee jong rieldansers die toneel uitbeeld.

Die kompetisie begin. Die groepe tree een ná die ander op.

Party het ’n klankbaan op CD saamgebring, ander het musikante wat blikviool en kitaar slaan.

Die kleredrag wissel van T-hemde tot rokkies en kappies wat ’n mens nogal aan volkspele herinner. Heelwat van die mans het pouvere in die hoed. Die gehoor is meegevoer en dikwels op hulle voete. Dit voel asof ek by ’n Super14-eindstryd sit.

“Die riel is ’n wonderlike iets,” vertel Marie Witbooi van Witzenberg. Sy is skoon uitasem ná haar optrede. “Hy vat baie van jou kragte, maar dis lekker!

Jy hoef nie na ’n gym toe te gaan nie, want dit is oefening hierdie. Dis vir my soos ’n kalmeermiddel:

Hy maak jou skoon. Jy kan nie anders as om alles te gee nie. Jy vergeet van alles rondom jou.”

Sy kraai van die lag toe ek haar vra of enigeen mag riel.

“Ja, die wit man kan ook riel! Ons het met wit mense grootgeword wat saam met ons gedans het. Dis ’n lekker ding; almal kan hom doen!”

Barend Salomo van Wupperthal staan nader. “As jy hom beginne dans, dan voel jy regtig ’n vry mens,” vertel hy. “Die riel is soos ’n tou wat ons verbind met ons voorouers. En ek is so opgewonde dat die jong mense dit nou laat voortlewe.”

Twee uur later word Bitterfontein as die wenner gekroon.

Grabouw stap weg met die beste wenliedjie met dié gevleuelde lirieke: “My oorlede man wou nooit dat ek die riel moet dans, maar nou is die moersk—t dood, en die rieldans gaan nou voort...”

Op pad terug kar toe dink ek aan nog ’n liedjie, David Kramer se “My bloed is ’n snaar”:

Ek en my skaduwee

Ons dans in die stof

Vanaand gaan die hemel

Met sterre ontplof

Dit is tyd vir ’n nuwe foto langs die Taalmonument. Maar dié slag wil ek nie net daar gaan lê nie – ek wil riel!


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #62 (Desember 2009) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy iets raaksien.