Dis Saterdagmiddag en op Ventersdorp gebeur net mooi niks nie. Nie eens die China Shop is oop nie, en in tant Nellie se kroeg sit net een oom en kyk na ’n Britse veerpyltjietoernooi op TV. Dis somer en daar’s nie rugby nie.

Ek gaan sit later en gesels by Rian in die Madeira-kafee. Hy is ook verveeld.

“Hoekom gaan vang ons nie vis nie?” vra hy. “Ek het vir jou ’n stok.”

Hoeveel jaar laas het ek visgevang? Twintig? Dertig? Ek was ’n laaitie en oom Apie, ons buurman, het my party Saterdae saamgevat na die Sterkrivierdam naby Potgietersrus.

Ek onthou veral twee dinge van daardie Saterdae. Een: Dis al wanneer ek oom Apie ooit ’n kortbroek sien dra het, en hy het so ’n vaal keps gehad met ’n flap wat hier agter oor sy nek gehang het.

Twee: Oom Apie het vyf of ses verskillende soorte pap in plastieksakke gehad wat hy as aas gebruik het. Pap met heuning. Pap met kerrie. Pap met pypolie. Pap met ’n kombinasie van bestanddele wat hy nie eens met ’n rewolwer teen die kop sou verklap nie.

“My geheime doepa,” is al hoe hy dit beskryf het.

Oom Apie het gesê jy moet ’n suikermielie binne-in die bolletjie pap aan die hoek sit.

“Daardie vissie eet-eet daardie pap so bietjie vir bietjie, en as hy op die mieliepit in die middle afkom, dan sê hy ‘aaaa’ en dan hap hy daai mielie met hoek en al!” 

Die grootste deel van daardie Saterdae saam met oom Apie, só voel dit nou vir my, het ek gesit en sukkel om kraaineste uit my koffiemeulkatrol te kry, of ek was aan die spook met ’n hoek en sinkers wat tussen die biesies en riete vasgehaak het.

Die Rietspruitdam is sowat 15km buite Ventersdorp in Potchefstroom se koers. Hoewel dit nie heeltemal in die Vaal- of Gariepdam se liga is nie, is daar geen verveling op ’n Saterdagmiddag nie – dit sien ek dadelik toe ek en Rian by die hek inry.

Oral is karre langs die water geparkeer, die meeste van hulle met die bagasiebak na die water toe.

Op party se dak is ’n matras.

Hier en daar is ’n tent – almal sulke ou vierkantiges – opgeslaan en van die ablusieblok af kom ’n huilende seuntjie gehardloop.

“Daardie vissie eet-eet daardie pap so bietjie vir bietjie, en as hy op die mieliepit in die middle afkom, dan sê hy ‘aaaa’ en dan hap hy daai mielie met hoek en al!”

Op die water is ’n ou roeiboot met net een spaan en uit drie rigtings speel musiek: Kitaarklanke, treffers uit die jare tagtig en dalk ’n bietjie Boeremusiek tussendeur – sulke musiek.

“Ek hoop nie iemand is op my plek nie,” sê Rian en ry na die strook riete waar die Rietspruit die dam invloei.

Dis nog iets wat ek van oom Apie onthou: Hy het altyd op een of twee spesifieke plekke langs die Sterkrivierdam visgevang. Daar, het hy geglo, byt die vis beter as op enige ander plek. Byna elke hengelaar glo die plek waar hy vang, is waar die vis die beste byt.

Visvang, het ek as laaitie al geleer, gaan ook oor geloof.

BY ’N DAM soos die Rietspruit voel dit of die tyd iewers in die jare tagtig vasgehaak het. Die roeibote en tente en die meeste van die musiek wat jy hoor, kom uit ’n vroeër era. Baie mans dra ’n kort-kort PT-broek en armyboshoed of ’n keps soos oom Apie s’n, en party vroue dra ’n bloes met helderrooi kolle op.

Ons hou stil naby ’n Ford Granada by die water. (Gaan kyk langs enige groterige dorpsdam – daar sal iewers een staan.) Ons klim uit.
Die Granada se deure is oop en op die dak staan twee glase. Oor die luidsprekers sing die vrou wat “Ska-rumba” sing: “Ararioh skarumba, ararioh ska-rumba…”

’n Entjie daarvandaan is twee manne by hulle stokke. Een dra ’n groen Game-broek, op die ander een se T-hemp staan dowwerig: 7 SAI. 7 SA Infanteriebataljon.

Ons vou ons stoele oop en gou is ons lyne in die water. Ons stokke rus elk op ’n mikstokvormige stuk yster wat Rian se pa vir hom gesweis het. Nie lank nie… ’n fietstoeter.

Piiieeep!

“Kap!” skreeu die ou in die 7 SAI-hemp.

Die een met die Game-broek wip orent, sigaret in die mond, en pluk sy stok van ’n kontrêpsie af waarop nog twee stokke rus.

Die fietstoeter, wat ook aan die kontrêpsie vas is, hou op piep. 

“Mis,” sê die Game-broek en begin inkatrol.

Damhengelaars is vindingryk.

Elke ou het ’n kontrêpsie, gewoonlik self geprakseer, wat hom waarsku wanneer ’n vis aan sy hoek knabbel – ’n fietstoeter wat afgaan, klokkie wat lui of rooi liggies wat flits. Dit terwyl jy eintlik maar net die stok in jou hand kan vashou en self voel wanneer daar ’n byt is.

’n Ent van ons af, in die ander rigting, is ’n oupa besig om vir sy kleinseun te wys hoe gooi jy jou hoek en sinker in die water.

Of dit lyk vir my na ’n oupa en ’n kleinkind.

“Jis, jis, jis,” sê ’n stem skielik agter ons. Dit gebeur mos altyd by die viswater: Jy het net lekker jou sit gekry, dan kom vra iemand: “Hoe lyk dit? Byt hulle hier?”

“Kierie,” stel hy hom voor. Om een of ander rede, miskien om die grootte van sy vangste iewers op te teken, het hy ’n Parker-pen in sy kakiehemp se bosak.

Hengelaars soos Kierie kom gewoonlik nie raad vra nie, hulle kom gesels eintlik oor hulle eie hengelprestasies. Dit blyk hy en sy vrou – sy sit ’n entjie van ons af in ’n Tata-bakkie – het al twee in ’n stadium Wes-Transvaalhengelkleure verwerf.

Kierie beduie na die plastieksak met die pap wat Rian vir ons gemeng het – sy geheime doepa (ek weet daar’s ook vlapoeier in). 

“Vang julle babers?” vra hy effens neerhalend. “Jou baber is mos nie ’n vis nie, man.”

Elke damhengelaar het ’n visspesie waarop hy neersien. Dikwels is dit die arme baber of die karp.

En tog weet ek van min damhengelaars wat hulle vangste eet.

“Ek gaan hoofsaaklik vir geelvis,” sê Kierie. “En ek teel my eie erdwurms. Ek kan jou wurm vir jou lank en maer teel. Of kort en vet. Nes jy hom wil hê, Pappa.”

“Hoe teel ’n mens ’n lang, maer erdwurm?” vra Rian.

“Jy voer hulle Jeyes Fluid, Pappa. Jy voer hulle net Jeyes Fluid.”

Eenkant het die fietstoeter van die ou met die Game-broek weer begin piiieeep en iewers oor ’n luidspreker begin sing Right Said Fred: “You’re my mate and I will stand by you, ’cause you’re my mate...”

“Oukei, good luck,” sê Kierie. 

Elke damhengelaar het ’n visspesie waarop hy neersien. Dikwels is dit die arme baber of die karp.

Net voor hy wegstap, deel hy nog ’n brokkie met ons. “Ek gaan in Maart Karibi toe. Tiervis.”

Die tiervis. Elke damhengelaar se droom.

DIE SON LÊ al laag oor die Rietspruitdam en ek en Rian het nog niks gevang nie. Hier is te veel dinge wat ’n mens se aandag aftrek.

Eenkant het iemand netnou met groot moeite ’n “mieliebom” in die water geplaas – ’n deegbol vol geheime doepa wat visse lok. (Ek het al gesien hoe ’n klein radiobeheerde bootjie gebruik word om ’n mieliebom en hoeke die water in te stuur.)

Nounet was omtrent al die hengelaars kwaad vir ’n man wat in ’n motorboot verby gejaag het met ’n kind agterna op ’n trekkertjoep.

Die harde musiek het ook sy tol begin eis. Op pad na die ablusieblok het ek verby ’n man gestap wat vir homself loop en sing: “You’re my mate, Ska-Rumba, you’re my mate, Ska-Rumba...”

Oral langs die Rietspruitdam sit die hengelaars en doen hulle eie ding. Iewers, wed ek jou, moes ’n pa vandag ’n hoek met ’n tangetjie uit sy kind se vinger verwyder. En hier iewers langs die dam het ’n krapperigheid ontstaan oor daardie ongemerkte grense tussen hengelaars in ’n dorpsdam – grense so ingewikkeld soos dié tussen Israel en Palestina. En iewers het daar ’n jong man met ’n baber in die arms vir ’n meisie met ’n kamera geposeer.

Miskien sal die foto oor ’n maand of twee in ’n hengeltydskrif verskyn. Dalk sal daar ook ’n foto van Kierie wees, tiervis in die hand.

Stil sit ek en Rian. Die laatmiddaglig is sag en die musiek in die Granada het stil geword. Hier en daar word ’n vuurtjie gepak en aangesteek. ’n Pa en ’n kind lig ’n groterige kurper uit ’n vangnet en gooi dit terug in die water.

Opeens wil ek op geen ander plek ter wêreld wees nie.