Ek ry sonder veel van ’n plan deur die Klein-Karoo. Ek weet waar ek vanaand wil slaap, maar nie presies hoe ek daar gaan uitkom nie.

Dit lê iewers in die boonste deel van die Baviaanskloof. Sal ek van Willowmore af inry of van Uniondale af? Of sal ek sommer reguit in daardie rigting skiet met die eerste die beste grondpad?

Wat maak dit saak? Hier’s De Rust nou in my voorruit en ek ry stadiger – daar is nog genoeg daglig bo my en agter my, weste se kant toe. Ek parkeer voor ’n winkel wat lyk asof hulle beskuit verkoop en stap in. Ek is reg. Ek koop een pak en klim weer in my kar en glimlag drie glimlagge wyd.

Anderkant De Rust, Willowmore se kant toe, waar die volstruiskampe en lusernlande minder raak, staan ’n knewel van ’n rooi berg langs die pad. Daar is heelwat sulke berge hier rond – hulle lyk soos ’n kombuisspons waarmee jy lank met die skurwe kant aan ’n verroeste pot probeer skuur het. Deurdrenk van die rooi.

Die pad word reguit en ek trek af op die skouer. Ek het al baie hier stilgehou. Hier is nie ’n boom of piekniekplek nie, maar ek stop nie hier vir geriewe nie (hoewel die draad nog nooit gekla het as ek daardeur piepie nie); ek stop hier vir die uitsig, vir staan en vir kyk.

Sedert daai eerste slag toe ek van Cradock af Kaap toe gery het om daar te begin werk, stop ek al hier. Dis seker oor die toneel so ongewoon is, want dié rooi berg lyk soos niks wat jy vir 500km weerskante toe kan sien. Dit lyk asof dit eerder iewers in die Australiese diep platteland tuishoort – Ayer’s Rock se Karooneef, Uluru se ubuntu-boet.

Nou doen ek iets wat ek weet ’n voorreg is (en ek wens dit was binne bereik van elke liewe Suid-Afrikaner): Ek haal my fles onder die sitplek uit, skroef die dop af, balanseer die bekertjie op die skuins enjinkap en skink versigtig my laaste louerige rooibostee. Dan gaan staan ek aan die bergkant van die pad, boud en heup wat gemaklik teen die voertuig leun, en betrag die wêreld om my.

Volmaak.

Nou is dit tyd vir die beskuit.

Ek doop hom driekwart in die koffie, draai hom baie vinnig weer regop sodat hy nie afbreek nie, en druk dan die hele gedoopte deel in my mond.

Lekker.

Die nederige beskuit – of dit nou een van Ouma se kompanjiebeskuite is of een van my ma se tuisgebakte meesterstukke – is ’n Suid-Afrikaanse ikoon.

Kant en klaar.

In ons skoolkoshuis het elkeen van ons kleintjies ’n tuck-blik gehad (ons het dit sommer ’n takblik genoem, want eers heelwat later vind jy uit tuck is eintlik ’n Engelse woord). Dis in die tuck-kamer toegesluit, waar ons net een keer per dag, hier teen drie-uur, kon ingaan.

Die koshuistannie het oopgesluit en seker gemaak ons verorber nie al ons fudge, tjips, koekies en biltong gelyk nie, want dan sou ons maag werk (en die koshuis se toiletpapier opraak) of ons sou nie saans aan die slaap kon raak van al die suiker nie.

Dié eetgoed moes heelweek hou en party outjies se ma het selfs die tuck-blik in vier afdelings verdeel, een vir elke middag van die week, Maandag tot Donderdag. Dit was nou toe ons so in sub A en B was.

Eintlik was beskuit nie op daardie ouderdom die mees gesogte tuck nie. Nee, tjips was die ding. Lekker ongesonde tjips soos Ghost Pops en NikNaks en goeie ou Simba – die tamatiesousgeur.

Maar nie almal se ma het tjips ingepak nie. My ma het geglo ons moet “gesond” eet en ons het dus net vrugterolletjes, biltong en koekies gekry – glad nie te versmaai nie, maar ek het ook maar nou en dan by Douglas Duthie gaan flikflooi en tjips gebedel, want sy ma het altyd vir hom pákke ingepak.

Bedel was sentraal tot die hele tuck-toneel. Later, veral op hoërskool, het die meeste ma’s nie meer tuck ingepak nie. Dan het jy sakgeld gekry en jy is daarmee vertrou (lekker Woensdagmiddae gaan milkshakes drink saam met die meisies by Handelshuis, nè?).

Beskuit rantsoeneer homself, want beskuit is ’n beskeie ding. Dis hard. Dit het nie versiersuiker op nie. En omdat dit gewoonlik tee of koffie nodig het om werklik tot sy reg te kom, is dit deel van ’n ritueel.

Maar my ma het, dank Vader, nooit ophou tuck inpak nie. Toe ek in 2003 ’n jaar lank gaan Engels gee in Suid-Korea, het sy vir my beskuit gestuur – per lugpos! Selfs vandag nog as ek op die plaas gaan kuier, word daar vir my beskuit ingepak.

Die ding met beskuit is dit hou lank en bly vars, mits jy natuurlik die Tupperware of koekblik weer styf toemaak. Niemand hou van ’n klam beskuit nie. En omdat beskuit nie koffiekoekies of fudge of tjips is nie, is dit iets wat ’n mens nie in een middernagfees verorber nie.

Beskuit rantsoeneer homself, want beskuit is ’n beskeie ding. Dis hard (sagte beskuit val in ’n heel ander kategorie en ’n hele baksel kan inderdaad binne ’n oogwink opgeëet word).  Dit het nie versiersuiker op nie. En omdat dit gewoonlik tee of koffie nodig het om werklik tot sy reg te kom, is dit deel van ’n ritueel.

Dis tydens dié koshuisritueel, wanneer die koffieketel fluit langs die staalsluitkas wat na Nugget, witgeverfde tennistekkies en die leeromslag van Die Bybel ruik, dat die bedelaars daar opdaag – jou vriende.

Soms is jy ook ’n bedelaar. Wat jy saai, sal jy maai, ou maat.

Jy deel dus. Want môre, oormôre is jou beskuit gedaan en dan is iemand anders jou laaste hoop op ’n kriesel om jou Sondagmiddagkoffie tot iets meer vertroostends te verhef.

Ja, beskuit is jou troos. En iewers het iemand altyd beskuit, want as jy weet wat goed is vir jou, steek jy jou beskuit weg. In jou kas (die hoërskoolkoshuis het nie iets soos ’n tuckkamer nie), agter stapels klere – veral as jy in st.6 is, want dan sal een of ander matriek soos Flappers of Tunstead een of ander tyd beskuit kom soek.

En jy sal moet tol betaal. Respek betoon.

Maar later is daar nie meer die bedreiging van matrieks nie, want jy is self die matriek. Nou is dit net jy en die bedelaars, en jy weet hoe dit voel om beskuitloos te wees. Dus deel jy met takt, want jy weet jy sal een of ander tyd ’n guns kan terugvra.

En dan maak julle Ricoffy, in bekers vol splintermerke, en elkeen vat een beskuit uit die blik... stadig en sorgvuldig... en die krummels word in die blik afgeskud sodat dit nie op die bed mors nie.

Dis stil en gewyd, byna soos nagmaal. En jy maak seker die kamerdeur is toe, want een bedelaar kan ’n vriend word, maar drie kan jou beskuitreserwes te vinnig uitput en uitnaweek is nog drie naweke ver. Dis vér. Jy luister dus eers vir voetstappe in die gang.

Niks… goed, dis tyd.

Dan doop julle die beskuit. En vat die eerste hap, kou en sluk. Dan is dit die plek van die bedelaar om te sê: “Jissie, jou ma maak darem lekker beskuit.”

En dan is alles in die haak.

Ek weet nie wie dié beskuit gemaak het wat ek nou hier langs die rooi berg buite De Rust eet nie. Maar dis lekker. Dit werk. As ek twee agter die blad het, is ek reg vir die volgende stuk pad, en ek weet ek het die res van die naweek in die Baviaanskloof eintlik nie veel ander kos nodig nie.

Goed, ’n sak appels het ek ook, en gelukkig sal ek later vanaand ’n rol boerewors kan koop by die gasteplaas waar ek tuisgaan. Maar selfs daarsonder sal die beskuit my deurdra.

Dit het die Boerevroue oor die Drakensberg getrek. Neil Armstrong het ’n stuk beskuit op die maan geëet (goed, hy het nie, maar dit was kortsigtig van hom). En nog iets: Beskuit hou jou spysverteringstelsel gesond.

Jy hoef dit nie in ’n yskas te bêre nie. Beskuit kan maande lank onder die karsitplek bly, of in ’n rugsak (as jy gaan stap), en as dit verkrummel anderkant uitkom, kan jy dit saam met melk eet, soos ontbytpap. Jy kan dit vir die ganse voer. Selfs die vredeliewendste skaaphond sal moor vir ’n stukkie beskuit.

Ja, met beskuit kan ek vriende maak. Vriende soos Hans Jumat, wat oormôre saam met my deur die veld gaan stap en vir my bosse en kruie wys. Oor elkeen sal Hans iets kan vertel, want hy’s in 1958 op Matjiesfontein gebore, in die bokloof van die Baviaans, en hy kén die veld en sy “mittersynes”.

Voordat ons begin stap, sal ek vir ons koffie maak (Hans vat “net vier” lepels suiker) en ’n stuk beskuit aanbied en ons sal op die stoepie van die oorhang waar ek oornag het, sit en uitkyk oor die Rietrivier onder ons.

“Wat noem ’n mens daai gryserige bosse teen die hang?” sal ek hom met ’n mond vol beskuit vra, want ek sal dié struike onthou van hier by die rooi berg buite De Rust, want teen die hang staan hulle só dig dat dit deur skrefiesoë lyk asof die veld met fluweel oorgetrek is, soos ’n mooi orrelstoeltjie iewers in ’n ou kerk.

“Daai’s is kraakbos,” sal Hans my vertel, ook met ’n mond vol beskuit. “Hulle kraak mos so as jy deur hulle stap.”

En so sal ek iets leer wat ek nooit sonder die hulp van ’n beskeie stukkie beskuit sou geleer het nie.