Vrydagoggend agtuur trek hulle weg. Ben-hulle ry voor met sy Ford-4x4 en Intombazana, sy boot, op die haak. “Intombazana” is die Zoeloewoord vir “meisie”, en dié naam is in swart sierletters voor op die kant van die boot geverf.

Ben se kollega en vriend Johnie ry reg agter die boot in sy Mazda-4x4 met sy Jurgens op die haak. Die Jurgens het ook ’n naam: “Barto”. Dit staan bo die woonwa se nommerplaat geverf. Johnie reken hy is ’n direkte afstammeling van die Portugese seevaarder Bartolomeu Dias wat in 1488 by Mosselbaai voet aan wal gesit het.

Ben- en Johnie-hulle het lank beplan aan hierdie langnaweekwegbreek net voor Kersfees. Alles wat moet saam, is in.

Die 130 km van Eshowe af St. Lucia toe is ’n maklike tog. Alles loop klopdisselboom tot by St. Lucia in die iSimangalisovleilandpark.

Die meer hier, met sy seekoeie, krokodille, stuk of 500 voël- en 14 visspesies, is een van die wêreld se grootstes. Met die 280 km-kuslyn aan die Indiese Oseaan, die Mkuze-vleigebied, Sodwanabaai, die Kosimeer en die goeie kampplekke daarby, is dit Utopia hierdie.

MET DIE AANKOMSLAG by die kampplek word Intombazana by die landingshoof vasgemaak. Tente word opgeslaan, want die Jurgens het nie plek vir almal nie.

Die kamp staan, die middag is verby en dis ’n optog storte toe.

Vroegaand al kuier die grootmense gesellig om die vuur. Die kinders is iewers in die kampplek doenig. Eenkant by die vuur, bo ’n hopie kole, prut Johnie se mosselpotjie.

Dis vrede op aarde. So om die vuur kry die selfverwesenliking bo-aan Maslow se behoeftehiërargie betekenis.

Maar dan word die vrede op aarde skielik versteur: Die jong Markus van Ben kom aangehardloop en skreeu: “Pa... Pa! Kom check die grunter wat die ou hier langsaan gevang het.”

In sy opgewondenheid skop hy in die hardloop die mosselpot om. Vier grootmense storm soos een man op die potjie af om te red wat te redde is. Teen die spoed van ’n weerligstraal is mossels, sand, sous, water, seldery en alles en nog wat terug in die pot.

Ben brand in die optellery sy hand. Hy is boos vir die jong Markus en boos oor Johnie se spesiale potjie wat nou nie meer so spesiaal gaan wees nie. Maar Ben se vrou, Meisie, keer: “Ongelukke gebeur...”

Sy loer in die pot en grynslag effens ongemaklik: “Buitendien is alles nie daarmee heen nie. Hier is nog genoeg vir almal.”

Oor aandete is daar amper ’n gewyde stilte. Johnie het sy mense skelmpies laat verstaan Ben mag nie verder ontstel word oor die potjie nie.

Hulle tande kners soos hulle seesand, mossels en ander seekos uit die pot eet, maar Niemand trek ’n gesig nie. Markus sit buite die vuurkring en ’n goeie ent van sy pa af, net ingeval Ben se gemoed weer besluit om op te vlam.

DIE DAG BREEK EN JY KAN MAAR sê die potjie is vergete. Dis ’n opgewonde groep wat met Intombazana op die meer vaar agter die grotes aan. Heelwat later word die boot weer vasgemaak en kry die groep – rooigebrand, moeg en dors – koers terug kampplek toe.

Die koue bier is verfrissend ná die lang en warm dag op die water.

Ben teug aan sy tweede bier. Dié slag kom Markus nie aangehol nie, maar met die Ford aangejaag. Hy maak ’n wye draai en gil: “Pa! Die boot is los en dryf weg!”

Ben storm nader: “Ry! Moenie tyd mors nie, ek staan sommer agter op die bumper en hou aan die canopy vas.”

Ben is ’n groot ou, maar spring ewe rats op die Ford se agterbuffer en hou aan die kappie vas. Markus trek met ’n vaart weg. Dis mos ’n noodgeval.

“Stadig, stadig! “ brul Ben van agter af, maar toe tref die Ford die eerste spoedhobbel van die kampplek. Ben skiet so effens die lug in, land gelukkig heel behendig weer met sy voete op die buffer en kry die kappie weer behoorlik vasgevat.

“Markus, stadiger... Stadig!” gil hy van agter af. “Stadig!!”

“Water, gee hom water” sê iemand. “Nee, ek dink hy het iets sterkers nodig,” sê een van die ander omstanders.

Net toe tref die Ford die tweede spoedwal.

Ben word weer die lug ingeskiet, maar dié slag is die Ford nie daar met die afkomslag nie. Hy verdwyn al doer voor om die draai en Ben se 120 kg tref die aarde met ’n slag en ’n bons. Ben lê stil; nerfaf en bebloed.

Kampeerders kom uit alle rigtings aangestorm, onseker of hy dié val oorleef het. Dit was ’n groot val en hy lê darem maar baie stil.

“Water, gee hom water” sê iemand. “Nee, ek dink hy het iets sterkers nodig,” sê een van die ander omstanders.

Dan kom Ben met ’n swaar kreun en baie moeite regop. ’n Mens kan sien hy het baie pyn. Hy leun ongemaklik teen sy vriend Johnie.

Johnie jaag vir Ben skoon whisky in – “vir die skok”. Ben vat ’n groot sluk, uiter ’n klompie kragwoorde en vat nog ’n sluk: “As ek daai mannetjie in die hande kry...” Met sy groot hande maak hy die bekende nekomdraaibeweging.

Terwyl almal nog tot verhaal kom, kom die Ford om die draai teruggejaag. Markus spring uit: “Pa, Pa, hoekom klim jy in die ry af? Jy kan lelik seerkry. Ek het my simpel geskrik daar anderkant toe ek sien jy’s weg. Wat het jy gedoen... Kyk hoe lyk jy!”

Gelukkig vir Markus is daar baie omstanders en Ben beteuel homself. “Waar’s my boot?” vra hy met moeite.

“ ’n Vriendelike oom het hom klaar weer vasgemaak toe ek daar aankom. Dis hoekom ek so vinnig kon terugkom om te kyk wat van Pa geword het. Pa se manewales sal ’n man se hart laat gaan staan.”

Stilte, o stilte.

Ben het nie woorde nie, en dit is seker ook maar goed so. Soos die Prediker tereg sê: “Kalmte voorkom groot foute...”

TERUG BY DIE STAANPLEK dokter Meisie Ben se wonde en kneusplekke en gee hom ’n lesing oor “onnosel mans wat agterop ’n bewegende bakkie wil staan”. Ben aanvaar die lesing maar gedweë en begin effens beter lyk.

Hier van die kant af laat Johnie ook van hom hoor: “My broer het so ’n klein rooi boekie, Life’s Little Instructions.

“Nou hoekom sê jy dit nou vir my?” wil Ben weet.

“Die een stukkie wysheid in die boekie het my vandag baie aan jou laat dink.”

“Ja?”

“Dit sê: ‘Resist the temptation to buy a boat.’ Die kool is nie die sous werd nie.

“Wat sê jy nou eintlik?”

“Die oplossing is heel eenvoudig.”

“En wat is dit?”

“Maak eerder pêlle met ’n ou wat ’n boot het.”


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg Ry & Sleep #2 (September 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.