Jong mense soek rygoed van hulle eie. Op skool is dit ’n fiets of bromponie, en as jou ouers welvarend is, kry jy dalk ’n blinknuwe motortjie wanneer jy skool verlaat om verder te gaan studeer.

Ek is wel vas oortuig ’n mens se eerste ryding móét tweedehands wees, want ’n ouer motor het ’n soort siel wat jou lief maak vir hom, en dít is belangrik. En as jy ’n hegte band met jou ryding gevorm het, is die kans goed jy gaan ’n waaksame bestuurder wees.

Boonop kweek dit ’n waardering vir jou ryding, want jy moet hom diens en oppas – jy kan nié staatmaak op ’n fabriekswaarborg en diensplan nie. En dalk, as jou karretjie se siel sterk genoeg deurslaan, kry hy ’n bynaam, iets soos Levinia, Toktokkie of Herbie.

Toe ek ’n student was aan die Universiteit van Stellenbosch, het ek ’n tweedehandse Nissan-bakkie, ’n eentonner, gery. My ma het die bakkie teen ’n winskoop by ’n familievriend gekoop en vir my gegee, op voorwaarde dat ek op kort kennisgewing enige take moet uitvoer – dinge soos om vullis weg te ry of meubels te trek. Dit het my natuurlik baie goed gepas.

Die bakkie was ’n bloedrooi 1986-model enkelkajuit, die oorspronklike Hardbody. Ek het hom Rooies gedoop. Goed, dit is dalk nie die oorspronklikste bynaam nie, maar daai bakkie was só rooi dat dit net nie anders kon nie.

Ek was gaande oor Rooies en het enige verskoning aangegryp om êrens heen te ry, of daar nou tuinvullis agterop was of ’n groep studentevriende.

Behalwe klasdraf en pendel was my eerste vakansieuittog met Rooies in 1995 toe ek en ’n meisie afgesit het na die Kreeffees op Lambertsbaai in die Weskus. Lambertsbaai is ongeveer 250 km van Stellenbosch af, en goeie brandstofverbruik was beslis nie een van Rooies se sterk punte nie. Ek was dus aansienlik armer teen die tyd dat ons Lambertsbaai se woonwapark binnery.

Daardie naweek het ons elke aand by die Lambertsbaai-hotel gaan sokkie en saam met ander jong mense in die woonwapark bier gedrink en tot laatnag langs kampvure musiek geluister. Wanneer dinge in die park stil geraak het, het ek en my meisie onder Rooies se kappie ingekruip en op die strandmatrasse aan die slaap geraak.

’n Vriendelike oom in ’n Land Rover 90 het Rooies uiteindelik uitgetrek. Ek het ’n bietjie skaam gekry, maar dit was nie Rooies se skuld nie.

Ons was albei eerstejaarstudente en skaars mondig, maar ons het onsterflik en vry gevoel danksy die onafhanklikheid wat Rooies vir ons gegee het.

Op ’n ander keer het ek en my meisie een Saterdagoggend met Rooies na die Strand toe gery. Ons het ’n parkeerterrein naby die SuperTubes-waterwurm binnegery en op ’n vlak sandduin stilgehou. Ná ’n heerlike dag van sonbaai en swem was dit tyd om huis toe gaan, maar Rooies wou niks weet van daardie sandduin nie. Die sand was skaars 10 cm diep, maar ons kon nie herwaarts of derwaarts nie.

Rooies het nie viertrek gehad nie en is net deur sy agterwiele aangedryf. Daar was wel ’n ewenaarslot op die agteras, maar dié was alewig vol nukke en wou op hierdie dag glad nie werk nie. Ek was boonop ’n twintigjarige stadsjapie wat nie veel geweet het van bande afblaas en sulke 4x4-truuks nie.

’n Vriendelike oom in ’n Land Rover 90 het Rooies uiteindelik uitgetrek. Ek het ’n bietjie skaam gekry, maar dit was nie Rooies se skuld nie.

By ’n ander geleentheid het ek en ’n ander meisie (die vorige een het my gelos vir ’n ou op ’n motorfiets) by my boesemvriende Jonathan en Susan op Langebaan gaan kuier. Jonathan se ouers het ’n strandhuis naby die seiljagklub gehad en ons het gereeld daar gekuier as sy ouers weg was.

Op die eerste aand het al vier van ons in Rooies se enkelkajuit gespring en gaan langarm by die Flamingo’s-dansklub langs die gholfbaan net buite die dorp. Ná ’n paar Monis Esprit-drankies en tientalle sokkietreffers was ons gereed om huis toe te gaan en te braai. Ons was hoegenaamd nie aangeklam nie, maar ek was dalk effentjies oor die amptelike perk om ’n voertuig te bestuur.

Uit vrees dat ons ’n padblokkade sou teëkom, het ons eerder kortpad oor Langebaan se gholfbaan gekies – darem nie oor die setperke nie, maar met die gholfkarretjiepad langs tot op die dorp. Die meisies het agterop die bakkie gestaan en ek en Jonathan het sy Now That’s What I Call Music 36-CD kliphard op die radio gespeel.

Teen dié tyd het ek Rooies al twee jaar gehad en hom – én elke nuk en gril – goed geken. Ek het ook geglo ek en Rooies is die beste tydrenspan in die land. Wat volgende gebeur het, is nie duidelik nie, maar ek vermoed een van die melkhoutboompies op die gholfbaan het voor ons ingehardloop. Daar staan ou Rooies toe, bo-op ’n platgestote boom.

Dit was maklik om van die boom af te kom, maar die boom wou nie vanself weer regop staan nie. Ons besluit toe om van die bewysstukke ontslae te raak en vleg ’n sleeptou om die stam. Rooies was so sterk soos ’n os – die ewenaarslot het ook vir ’n slag besluit om sy kant te bring – en die boom is met wortels en al uit die grond getrek.

Nadat ons die gat so goed as moontlik verbloem en ons wielspore uitgevee het, is ons met boom en al vort. Maar wat doen jy met ’n boom waarvan jy ontslae wil raak? Jonathan het ’n blink plan gehad: Kom ons gaan gooi dit in Langebaan se steengroef af, daar naby die gewilde tyddeeloord Club Mykonos.

Tensy die gholfbaanbestuurder hierdie rubriek lees, wonder hy seker vandag nog wat van sy melkhoutboom geword het. Rooies het lig daarvan afgekom – net ’n ligte duik in die voorbuffer en ’n vuisgrootte gat in die plastieksierrooster. Later het ek dit met tweedehandse onderdele vervang.

Die volgende aand het ons ongelukkig vir Rooies heelwat seerder gemaak. Ons wou skemerkelkies geniet op die strand tussen Langebaan en Saldanha, en al vier van ons is wéér daar weg in ou Rooies. Destyds mog ’n mens nog op strande gery het en ons is toe óór ’n duin agter Club Mykonos teen die strand af.

Die ewenaarslot was ingehaak en die banddruk laer – volgens my het ek elke voorsorgmaatreël getref. Maar by die strand se laagwatermerk het die ewenaarslot besluit om te ontkoppel, net mooi toe ek van eerste rat na tweede oorskakel – en daar sit ons.

Maar die trekkertjie was te swak om Rooies uit te sleep en die manne is daar weg om Club Mykonos se opsigter te gaan haal. Dié het glo ’n Land Rover.

Grawe het niks gehelp nie; ons het Rooies se graf in die nat sand net dieper gemaak. Die son het intussen gesak en ’n ysige wind het opgesteek. Die enigste proviand by ons was ’n bottel goedkoop vonkelwyn, maar daar was niks om te vier nie.

Ons grootste bekommernis was die stygende gety. Dit was laagwater toe ons vasgeval het, en ná ’n verbete stryd om Rooies uit te grawe het die see begin inkom. Toe die gety ’n meter van Rooies af is, het ek Jonathan gevra om by Club Mykonos hulp te gaan vra. Dié was sowat ’n kilometer agter ons, en toe hy ’n uur later terugkeer met twee werkers en ’n kleinerige trekker – die soort wat ’n mens vir tuinwerk gebruik – het die see reeds aan Rooies se onderstel begin lek.

Maar die trekkertjie was te swak om Rooies uit te sleep en die manne is daar weg om Club Mykonos se opsigter te gaan haal. Dié het glo ’n Land Rover. Toe die Land Rover uiteindelik sy opwagting maak, het die branders al teen Rooies se deure begin klots.

Ons het die Land Rover met sy wenas én sommer die tuintrekkertjie gebruik om Rooies daar uit te kry. Met ’n slaak van verligting het ek my redders beloon met die enigste item wat darem iets werd is: die bottel vonkelwyn.

Terug by Jonathan-hulle se huis het ons Rooies goed afgespuit met ’n tuinslang – veral onderlangs – maar ek het vermoed roes gaan eendag sy tol eis... dalk was dit al klaar besig om die onderstel van binne af op te vreet. Dit was net ’n kwessie van tyd.

Maar ek is nooit die kans gegun om van Rooies afskeid te neem nie... Enkele weke ná die Langebaan-voorval moes ek Kaapstad toe gaan om ’n werkie vir my ma in die middestad te doen en ek het Rooies in die parkeerterrein op die hoek van Buitengracht en Kortmarkstraat gelos.

Die karwag het my plegtig belowe hy sal mooi na Rooies kyk. Nadat ek klaar was met wat ek moes doen, is ek terug na die parkeerplek toe... maar Rooies – én, ja, die karwag – was skoonveld. Dalk ken jy daai nare gevoel as jy op en af in ’n parkeerterrein loop op soek na jou motor.

Eers is jy vas oortuig jy’t bloot vergeet waar jy hom gelos het. Jy dink selfs iemand het jou dalk ’n poets gebak, maar dan begin die werklikheid insink en jy besef jou geliefde ryding is gesteel. Dan stap jy koponderstebo na Roelandstraat se polisiekantoor toe om die saak aan te meld. Jy klim op ’n voorstedelike trein, bel jou ma van ’n telefoonhokkie af en vra haar om jou by die stasie te kom haal.

Jou hart is in stukke en jy’s woedend vir die skurk wat gevat het wat nie syne is nie.

’n Jaar of wat later kry ek toe darem ’n oproep van die polisie wat die hoofstuk sou afsluit: Hulle het Rooies se onderstel gevind. Dit het glo ’n minibustaxi se bakwerk omhoog gehou, maar die taxi het by Bhisho in die Oos-Kaap met ’n ander voertuig gebots.

Rooies was weg. In die jare ná Rooies het ek heelwat voertuie besit, sommige tweedehands en ander nuut, maar nie een van hulle het ooit ’n naam gekry nie