Dit was ’n jaar of wat ná my skoonpa se dood toe Skoonma ’n ruk lank by ons in die Kaap kom kuier. Die plan was dat ons haar met ’n lang ompad sou terugneem plaas toe wanneer die skoolvakansie aanbreek.

Vakansietye het ons meestal gependel tussen die Bolandse berge en die golwende groen heuwels en sandsteenkranse van die Oos-Kaap, waar my vrou se pa en ma net duskant die Lesotho-grens gewoon het. Dié slag sou dit egter ’n propperse toervakansie wees, met ons 1976 Cortina 1600, so ’n “two-tone” een, en ons eerste woonwa, ’n Caravette 5.

Ek het nog altyd ’n voorliefde gehad vir droë, klipperige plekke. Ek skat dis omdat ek op Aberdeen in die Karoo gebore is en as ’n jong man ’n tyd lank op Groblershoop gewerk het. Ek het die roete voor die tyd noukeurig met my Caltex-padkaart en destydse AA-woonwagids beplan: Stellenbosch, Clanwilliam, oornag op Springbok, dan Marchand en die Augrabies-natuurreservaat.

Dit was hier rondom 1980 toe die petrolpompe saans om sesuur gesluit het en ’n mens dan moes wag tot sesuur die volgende oggend voor jy weer kon petrol koop. Om met ’n woonwa te toer het fyn beplanning gekos: Jy moes ver genoeg vorder tot by ’n behoorlike woonwapark, en steeds voor ses by ’n petrolpomp uitkom. Veral as jy jou familie probeer oortuig “die reis is deel van die vakansie”, en dat ’n mens “veiligheidshalwe” niks vinniger as 90 km/h ry wanneer jy sleep nie. Oor die feit dat die  Cortinatjie beswaarlik meer kon vermag, het ons nie gepraat nie.

So toer ons toe – ek, my vrou, Skoonma en die twee kinders – vreedsaam, gemoedelik en vol vreugde al langs die Weskus af. Op Springbok slaap ons oor en maak toe ’n draai by Okiep, voor ek die volgende dag die Cortina se neus in Marchand en Augrabies se koers draai.

My vrou hou die pad fyn dop. Skielik roep sy: “Jy’s by die afdraai na Augrabies verby!”

Ek bly kalm. “Nee, ons moet eers by Marchand kom en daar afdraai.” Ek het mos die roete versigtig uitgewerk.

“Man, die bordjie het baie duidelik regs gewys na Augrabies,” hou sy vol. Skoonma, nou ook lank reeds saliger, was ’n baie opregte mens met ’n baie goeie sin vir reg en geregtigheid. Sy meen toe ook ons moes al gedraai het. “Jong, jou vrou is reg. Daar was ’n bordjie wat gesê het ‘Augrabies’. Daar aan die regterkant van die pad.”

MET MY LIEWE SKOONMA kan ek nie stry nie, en ek draai in my spore terug en sowaar – daar staan die bordjie met “Augrabies” en ’n pyltjie daarop wat duidelik regs wys. Dis ooglopend nie ’n hoofpadaanwyser nie, maar ek draai af, en dis nie lank nie of die teerpad word grondpad. En dit word sommer baie stil in die kar. Die grondpad word ’n sandpad, en hoe verder ons ry, hoe dikker word die sand. Die Cortina beur moedig daardeur, maar vooruitgang kom teen ’n prys. Die petrolaanwyser daal al hoe laer en die horlosie loop ál vinniger.

Ons is lankal nie meer op die pad watek uitgewerk het nie. Trouens, ek weet nie waar ons is nie. Die rigting- en afstandaanwysers wat hier dalk lank gelede was, bestaan nie meer nie. Kortom, ons is vir alle praktiese doeleindes verdwaal en ons moet voor seweuur by die Augrabies-natuurreservaat inklok!

Uiteindelik breek die onvermydelike oomblik aan. Die petroltenk is gevaarlik na aan leeg en ek stel ’n ultimatum: “Ek gaan die woonwa hier afhaak en verder ry op soek na Augrabies, of êrens waar ek petrol kan kry. Julle kan óf hier by die woonwa bly óf saamry, maar met die woonwa aangehaak kan ek nie verder ry nie.”

Dis vyfuur die middag, dis warm en daar is nie eens ’n kokerboom in sig nie, maar die res kies om by die wa te bly terwyl ek verder ry.

“Karel, moenie jou pomp sluit nie. Hier is ’n man in groot nood… ja, ja, ek weet dis sesuur, maar hier is geen polisiemanne nie. Die man se familie sit daar op die vlaktes en hy moet petrol kry. En hy het sy skoonma by hom. Jy moet hom help!”

Met die wegtrekslag kom daar nog ’n kar verby. Dis duidelik die bestuurder weet waarheen hy op pad is, en ek sit hom agterna soos ’n honger hond wat ’n haas jaag. Ek maak doodseker ek verloor daai stofstreep nie uit die oog nie... tot daar nie meer ’n stofstreep is nie, maar net ’n man wat my effe verdwaas aankyk. In sy eie agterplaas.

HIER HET EK WEER GESIEN hoe vriendelik die mense langs die Groot Rivier is. Toe ek my penarie aan hom verduidelik, sê hy net: “Magtig man, dis vyf voor ses en die pompe maak toe!” Hy roep in die huis se rigting: “Hannie, bel vir Karel daar by die garage!”. Toe storm hy die huis in en gryp die telefoon by sy vrou.

“Karel, moenie jou pomp sluit nie. Hier is ’n man in groot nood… ja, ja, ek weet dis sesuur, maar hier is geen polisiemanne nie. Die man se familie sit daar op die vlaktes en hy moet petrol kry. En hy het sy skoonma by hom. Jy moet hom help!”

Dit het die deurslag gegee. Met duidelike aanwysings en uitroepe van simpatie is ek daar weg garage toe, waar die vriendelike Karel op my wag by een van daardie outydse pompe met twee silinders aan die bokant – elkeen een gelling groot en ’n slinger wat jy met die hand heen-en-weer stoot! Elke keer as die bottel vol is, loop een gelling in jou tenk in terwyl jy die ander bottel vol pomp. Met ’n vol tenk is ek toe weer vort om my gesin te gaan haal.

Dit was maar ’n bedremmelde groepie wat ek daar by die woonwa aangetref het – moeg gebrand deur die son en vaal van verveling, maar die verligting was groot.

En presies een minuut voordat die hekke sou sluit, ry ons deur die ingang van die Augrabies-reservaat!

Daai dag het ek (en my gesin) vier waardevolle lesse geleer. 1 As jy seker is van jou saak, hou koers, al sê ander mense jy moet afdraai. 2 Moenie blindelings in ’n ander se spoor volg nie. 3 Almal het simpatie met ’n man wat verdwaal met sy skoonma in die kar, al is sy hóé liefdevol. 4 ’n Goeie mens en ’n wetsgehoorsame burger is nie altyd dieselfde ding nie.


Hierdie artikel het oorspronklik in die Wegsleep Mei 2014 verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy iets raaklees.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook