Magtig, swaer Pieter het darem nou vir hom ’n lekker ryding gekry,” sê Pa toe hy die foon neersit. Ek wil dadelik weet wat dit is.

Pa werk by General Motors en toe hy sê oom Pieter het ’n 1961 Chev Impala gekoop, weet ek dadelik waarvan hy praat. Dis die een met die groot vlerke en die chroomsierrooster, oftewel grill. Die meeste was two-tone: wit-en-rooi, wit-en-blou of donkerblou-en-grys. Dis die mooiste kar wat GM nóg gebou het.

Die Chev Impala is vyf jaar vantevore by GM in die Baai begin vervaardig. Pa het gesê as hulle op die produksielyn aankom en die kattebakke staan oop, lyk dit soos rye en rye oop Bybels. En toe sê Pa nog ’n ding wat in my kop bly vassteek: “Weet jy, hulle loop só stil jy kan ’n glas water op die dashboard sit, grondpad ry, en dit sal nie stort nie.”

’n Paar weke later is daar ’n groot lugskou in Port Elizabeth. Oom Pieter-hulle van Willowmore kom Baai toe vir die lugskou en sommer om die Chev op die langpad te toets.

Ek is in die wolke. Ek en Pa reken uit dat oom Pieter met die Chev die afstand tussen die plaas en die Baai beslis in minder as die gebruiklike 2 uur en 35 minute sal aflê. Toe kom daar nog beter nuus: Dis nie uitnaweek vir die Hoërskool Willowmore nie en die groter neefs moet inbly in die koshuis. Dus kom net my jongste nefie saam en dadelik weet ek ons is min genoeg om heel naweek net met een kar te kan ry – die Chev!

Vrydag ry ek al van vroegmiddag af heen en weer op die hek in ons oprit om straataf te sien of hulle al aankom. Eers toe die Chev ’n meter van my af stop, sien ek dis hulle! Ek het bly uitkyk vir ’n “two-tone”, maar toe is hy beige! Aaneen beige! Ek sukkel om my teleurstelling weg te steek. (Jare later het ek en my pa nog bly wonder of dit ’n standaardkleur was en of hy oorgespuit was.)

Oom Pieter sien nie kans om die kar in ons smallerige stadsoprit in te trek nie. “Dra af die kar,” sê tant Annie vir my toe hulle uitklim. In ons familie beteken dit dat alles afgepak en ingedra moet word, en ek en Nefie spring aan die werk.

Daar’s ’n heel Karooskaap, vars beskuit, koekies, plaasbotter, wildsbiltong en genoeg groente en vrugte vir die hele buurt. Maar die lekkernye boei my nie; ek loer net nou en dan vir die dashboard en wonder of die storie van die glas water waar kan wees...

Toe Pa by die huis kom, trek hy die Chev mik-mik en voetjie vir voetjie in.

En toe sê Pa nog ’n ding wat in my kop bly vassteek: “Weet jy, hulle loop só stil jy kan ’n glas water op die dashboard sit, grondpad ry, en dit sal nie stort nie.”

Vroeg die Saterdagoggend maak ons gereed vir die lugskou. Op pad moet die susters – dis nou my ma en my tante – eers gou ’n “paar goedjies” in die winkels gaan kry.

Dis iets wat die stadsmense nie sal verstaan nie, maar as jy op Willowmore bly en jy kom Baai toe, het jy altyd lysies van goedjies wat jy vir die buurvrou of die VLV moet kry. Goed wat jy nie op die platteland kan kry nie. Gelukkig is daar nog vir my ma tyd om by die musiekwinkel in te draf en die nuutste seven single van Jim Reeves te koop – Distant Drums.

Toe ons uiteindelik by die lugskou aankom, het dit al begin en ons kry nie goeie parkeerplek nie. Die inkopies is sommer by die passasiersvoete en agter in die Chev se venster neergesit. Ons klim uit, druk tussen die mense deur en probeer so na as moontlik aan die aanloopbaan staan.

Ek en Nefie is in die sewende hemel – ons wil terstond vlieëniers word! Ek hou die meeste van die grys-en-rooi Harvards wat netjies in formasie vlieg; hy is weer mal oor die spuitvegvliegtuie wat so raas. Ons sien ook Dakotas, Spitfires, Herculesse, Schakletons en selfs ’n helikopter!

Toe alles verby is, is dit terug huis toe. Reeds in 1966 was dit ’n besige lugskou en die verkeer is amper iets soos wat Johannesburgers spitstyd sou noem.

By die kar gekom, sê oom Pieter vir my pa: “Gert, vat jy die wiel, jong. Ek sien kans vir deur ’n drif water ry en tussen ’n trop skape deur, maar nie vir al dié mouters nie!”

Dis toe dat ek my gaping sien. Ek karring mos toe al van die vorige dag af oor die glas water op die dashboard – en ek karring weer. En oom Pieter vervies hom vir my en sê: “Gits, sie’ die kjint nie end kry nie!” en hy gryp ’n kartonglasie en ek gee my groen koeldrank vir hom aan voor hy hom bedink... en daar staan die glas groen koeldrank op die dashboard! En ek is in my element.

’n Verkeerskonstabel beduie al die motors met swaaiende arms by die parkeerterrein uit. Nefie het klaar vergeet van vlieënier word. Nou wil hy Willowmore se eerste amptelike spietkop wees! Daar is ’n paar van daai simpel klasmaats van hom wat hy darem eendag lekker gaan fine! (Hy’t nooit spietkop geword nie, maar wel polisieman – en ek onderwyser.)

Ons is amper by die lughaweterrein uit toe ’n Mini skielik voor die Chev indruk en pa skerp moet rem.

En toe kom daai glas groen koeldrank – bo-oor die VLV en Vrouediens en buurvroue se stadsinkopies. Tant Annie se onse en onse breiwol (sy was ’n voorslagbreier), die VLV se kant en linte, tant Lenie van die buurplaas se rokpatrone – alles groen-nat. Almal kyk vir my asof ek iets daarmee te doen gehad het.

Toe ons by die huis stop, sê hulle vir Nefie aan om die kar af te dra – ek moet die kar binne skoonmaak. Ma en tant Annie haas die huis binne met die beskadigde pakkies om te probeer red wat te redde is. Almal behandel my asof ek iets verkeerds gedoen het. Ek is dikbek.

Toe alles onder beheer is, begin ek witvoetjie soek en vra vir Ma of ek die nuwe Jim Reeves-plaat kan opsit. Sy willig in. Die gemoedere is aan die kalmeer; daar is ook besluit om later die Karoolamsrib te braai.

Die grootmense sit met ’n glasie soetwyn en ek sit die plaat op. Ek sien die plaat se kante is gekartel en lyk soos die rand van die hoed wat my ouma na haar jongste dogter se troue gedra het, maar ek sê niks. Jim Reeves begin sing: “ I hear... of distant...away... away”. Almal kyk vir my.

“Wie’t die plaat agter in die kar se venster neergesit?” vra Pa. Ek haal die kromgetrekte plaat af en gaan kamer toe.

Toe die Willowmore-familie Sondag ná middagete ry, sê ek vir my pa ek dink nie die Chev is so oulik as wat hy hom uitgemaak het nie. Kyk net hoe warm het hy geraak dat die plaat ge-buckle het. “En Pa het gelieg oor die water op die dashboard,” voeg ek roekeloos by.

Kort daarna kry ek ’n helse pak slae.

Ná die Chev Impala het my oom ’n Peugeot 404 gekoop. Maar toe was niks meer dieselfde nie, want my pa het nie meer by General Motors gewerk nie en ons het begin Volvo’s ry. Ander dinge soos veiligheid en ekonomiese brandstofgebruik was nou van belang; en karre was nie meer two-tone nie, almal was nou effekleurig.

Maar vandag nog as ek in my Audi ry, kyk ek soms na die dashboard en wonder hoe hý sou vaar met ’n vol glas water op ’n sinkplaatpad.


Hierdie rubriek het oorspronklik in Weg # 127 (Mei 2015) verskyn.