Hier waar ek ná ons eerste skivakansie sit, probeer ek sin maak van die ervaring. Want dis nie asof ek danig vertroud is met sneeu nie.

My eerste kennismaking met dié sagte wit stof was in die vroeë jare sewentig op Volksrust toe ek seker so vier jaar oud was. Dit het buite begin sneeu, en ek en Kobus Swart, wat in die onderwyswoonstelle bo ons gebly het, het met die sneeu begin speel. Sonder handskoene.

Kobus het die gewoonte gehad om my te byt as ons ’n meningsverskil gehad het. Maar koue sneeu, moes ek uitvind, byt nóg harder as Kobus Swart as jy nie die nodige beskerming dra nie.

My pa het my ná die tyd na ’n wasbak vol louwarm water gedra en my hande daarin gedruk om my vingers te ontdooi. Pynlik.

My tweede sneeu-ervaring was in st. 7 op Newcastle. Pouse het ons sneeugevegte gehou. ’n Paar ouens het later besluit om hulle sneeuballe groter trefkrag te gee deur klippe binne-in te sit.

En dit was omtrent die somtotaal van my sneeu-ervaring. Op skool het ons ook in die Duitse klas die voorgeskrewe boek Drei Männer im Schnee (“Drie mans in die sneeu”) behandel.

Wat ski betref, was my kennis beperk tot die paar tonele wat ek in ’n James Bond-fliek gesien het.

WYS MY ENIGE normale ou wat nie heimlik wens hý was die Camel-man nie en ek wys jou ’n leuenaar.

Maar die Camel-man hét sy beperkings as ’n rolmodel, want sien, ek het al omtrent alles gedoen wat hy gedoen het: in riviere geswem, leer 4x4 ry, valskerm gespring en ’n oorlewingskursus gedoen. Ek het selfs begin stoppelbaard dra.

Maar in my agterkop was daar ’n ander groepie rolmodelle wat my aandag getrek het: die Peter Stuyvesant-mense. Anders as die stil, sterk Camel-man, was hulle gereeld aan die ski. En nie op ’n bruin Vrystaatse dam agter ’n raserige motorboot nie. Nee, hulle het sulke swierige esse gekap in wit poeiersneeu op plekke met name soos Gstaad, Cortina, Kitzbühel en Aspen. En vergeet van skihysers: Hulle het sommer ’n chopper gevat en bo-op die berg gaan land.

Wat ski betref, was my kennis beperk tot die paar tonele wat ek in ’n James Bond-fliek gesien het.

Die Stuyvesant-groepie het ’n groot troefkaart gehad: Hulle was altyd jolig. Dalk het die geselskap van die oulike meisies in stywe broeke gehelp. (Hmm, miskien is dít hoekom die Camel-man nooit gelag het nie.)

Ek en my vrou het dalk nie belang gestel in “die internasionale paspoort tot rookgenot” nie, maar ons was lus vir die gewone internasionale paspoort tot genot: ski.

Só bespreek ons toe plek as deel van ’n groep wat sou gaan ski in Westendorf, Oostenryk.

Ons twee staan teenoor groot toergroepe soos vuurhoutjies teenoor vuurpylbrandstof, maar die prys was billik, al was die vangplek dat ons sou vlieg tot in Doha, Katar, en van daar af na München, van waar ons per bus Westendorf toe sou ry.

Op pad Westendorf toe was dit opvallend hoe min sneeu daar is.

Die toergidse het ons verseker dit sou “binnekort” sneeu. Ek weet nie of hulle toegang het tot ’n baie spesiale telefoonlyn nie, maar toe ons die volgende oggend in Westendorf opstaan, was die hele wêreld inderdaad toe onder die sneeu.

AS JY WIL SKI, is een ding selfs belangriker as sneeu: toerusting.

Die lengte van jou skistokke en ski’s word bepaal deur goed soos jou lengte, gewig en ervaring. Dan kom die skistewels.

Kyk, daar is net een ding in die wêreld wat so styf en ontoegeeflik soos skistewels is – en dis skistewels.

Pleks daarvan om die Tony Yengeni’s van die lewe paroolvoorwaardes te gee wat hulle in elk geval gaan ignoreer, moet jy vir hulle skistewels aantrek.

Dis bykans onmoontlik om met hulle te loop.

Skets Fred Mouton

Toe begin die skilesse. Min dinge maak jou so nederig soos om heeltyd om te val en te probeer regop kom. Maar ten minste was almal in ons groep min of meer ewe onbeholpe.

“Good morning, mountain friends,” het Toni, ons instrukteur, soggens vriendelik gegroet. Hy verdien ’n pos by die Verenigde Nasies: soveel takt en geduld het ek lanklaas ervaar. Sy ergste teregwysing was: “Tuck in your Wiener Schnitzel!” as mense die boude te ver uitgedruk het.

Ek kan nie veel van die res van die week se instruksies onthou nie, maar teen die sesde dag kon ek lekker ski. Esse kap. Tot stilstand kom met so ’n sjwiieeeep van ’n draai, nes die wedrenskiërs aan die einde van hulle item. Wel, as jy jou verbeelding effens gebruik.

Daar op die skihellings het dit my ook weer opgeval watter fassinerende spesie Homo sapiens nou eintlik is. Veral die Suid-Afrikaanse weergawe.

Afgesien van Hartenbos, Londen en Perth, het Westendorf in Desember 2006 waarskynlik die hoogste konsentrasie Suid-Afrikaners ter wêreld gehad. Ja, jy gee duisende rande uit om “weg te kom” en dan bevind jy jou maar net weer tussen diegene van wie jy af wegvlug. Soos die oorgewig (en nou is ek diplomaties) en luidrugtige (weer eens baie subtiel gestel) egpaar van Gauteng.

“I own eleven quads!” het die man een oggend trots op die skihelling verklaar. “See that snow up there?” het hy na ’n amper loodregte muur sneeu gewys. “My big quad can go up there like nothing!”

Later het hy weer vertel dat hy élf motors het.

Ek kan nie veel van die res van die week se instruksies onthou nie, maar teen die sesde dag kon ek lekker ski. Esse kap. Tot stilstand kom met so ’n sjwiieeeep van ’n draai, nes die wedrenskiërs aan die einde van hulle item. Wel, as jy jou verbeelding effens gebruik.

Dan was daar die drie susters wat hulle mans en kinders by die huis gelos en saam kom ski het. Hulle was as ’t ware ’n Siamese drieling. Dit maak nie saak of dit jou beurt was om iets vir die instrukteur te doen nie; as een suster nou net voor jou geski en geval het, sál haar effens gesette suster voor jou indruk – en val.

Sodra die instrukteur haar opgehelp het en hy vir jou knik dat dit nou (weer) jou beurt is, dan druk suster nommer 3 óók voor jou inen ploeg neer.

Ja, jy kan hulle van die Suid-Afrikaanse paaie afhaal, maar jy kan nie die Suid-Afrikaanse paaie uit hulle haal nie.

Daar was ook ’n Suid-Afrikaanse gesin wat heeltyd op die agterstewe gesit het met die snowboards langs hulle – rég in die middel van die skihelling. Afgesien van die feit dat hulle salig onbewus was dat ons alles moes uithaal om hulle nie raak te ski nie, het ek gewonder hoe hulle dit regkry dat hulle boude nie afvries nie. Miskien was dit die spek.

Ná ’n uur staan een sussie op, val en gaan sit weer. ’n Halfuur later doen die ander sussie dieselfde. Tussenin het die een so nou en dan getjank. Hmm, klink na ’n lekker gesinsvakansie.

Daar het ek weer eens ervaar hoe klein die wêreld is. Een middag, toe ons ’n blaaskans vat by die restaurantjie bo-op die berg, hoor ek iemand Afrikaans praat op sy selfoon. Agterna knoop ek’n geselsie aan.

Nie net is Pieter en Hannatjie Weg-mense nie, maar hulle was ook saam met my vrou op universiteit. En hulle ken vriende van ons. Ja, jy sal nie eens jou skelmpie op ’n skivakansie kan vat nie.

Aan die onderkant van een skihelling het ek gesien hoe Dawie Visser van George hom uit sy mus val. En weer opstaan. As ek ’n Afrikaanse kragwoord gehoor het, was dit seker afkomstig van die Suid-Afrikaners skuins agter my. Of was dit die groepie regs van my?

My vrou sê later sy sou ’n skioord vir mense ouer as 18 begin. Want dis effens frustrerend as jy ná vier dae nog nie behoorlik regkom nie en vriende se twee laaities raak op die derde dag al die rooigraadhellings met ongeërgde gemak baas.

Mense praat van skibeserings.

Maar dis nie altyd ’n skouspelagtige affêre nie. Jy kan jouself sommer so staan-staan beseer. Soos toe ek stelling ingeneem het net voor die button lift, ’n kleinerige skihyser met sitplekke wat lyk soos ’n bord op die punt van ’n kierie. Ek staan nog so voor ’n heining, toe gly my ski’s onder my uit. Oomblikke later kom ek tot stilstand met my bors onder die heining. En my knie word deur een ski in ’n aardige rigting gedraai.

“Is jy oraait, Lief?” vra my vrou.

“Ja…” antwoord ek – half moerig, half verleë.

“Nou hoekom staan jy dan nie op nie?”

Ek het eers oorweeg om te sê wat ek dink, maar toe sê ek maar iets hofliks soos: “Man, ek sukkel om die donnerse ski’s los te kry. Waar is my voete? Ek kan hulle nie sien nie!”

Dít terwyl sesjariges verby my kop sjwoesj hyser toe. Moeë lyf en gekrenkte ego ten spyt, was dié ses dae in die Oostenrykse Alpe my beste vakansie nóg.

En al sal ek nie sommer ’n Olimpiese skispan haal nie en nou nie heeltemal in die Stuyvesant-liga is nie, is ek darem die beste skiër in ons familie, veral onder die Namibiese Kirstens.

* Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #30 (April 2007) verskyn.