Miskien onthou ek te veel van die dag toe ek die eerste keer op Loftus Versfeld gekom het.

Ons het toe op ’n dorp in die ou Noord-Transvaal gewoon, en ek en my pa en oom Apie, ons buurman, is vroeg die oggend in ons Valiant Regal by die huis weg.

Dit was in 1977 – 15 Junie 1977 om presies te wees.

Ek weet dit want ek het steeds die wedstrydprogram wat my pa daardie dag by die stadion gekoop het. Die WP het teen die Blou Bulle gespeel en op die program se voorblad is Thys Lourens met sy sweetband en sy geil saaidies.

Daardie dag al het ek geleer om rugby te kyk, gaan oor baie meer as net die wedstryd: Die oggend toe ons by die huis weg is, het oom Apie ’n sakkie nartjies by hom gehad, en toe my pa op Warmbad stilhou om ’n draai te loop en biltong by die slaghuis te koop, het hy ’n spuitnaald en ’n nippie brandewyn te voorskyn gebring en die nartjies een vir een met brandewyn ingespuit en teruggesit in die sakkie.

“Wat maak oom nou?”

“Ek laai my nartjies, ou beesblaas.”

Hy het kwaai na my gekyk. “Jy sê vir niemand nie, oraait?”

In Pretoria het ons in Parkstraat parkeer, met die Valiant se een wiel skuins op die randsteen. In die straat het rye en rye mense verbygestap, met verkykers om hul nekke of kussingtjies in hul hande, terwyl die Bats êrens oor ’n radio sing: “Vat hom, Dawie, vat hom laag…”

Oom Apie het met sy sakkie nartjies uit die kar geklim, en gebulder: “NOU DIE BLOU!”

Rugbykykers het toe nog nie hul lywe en gesigte geverf en ondersteunerstruie gedra nie. Hier en daar sou jy ’n klein WP- of Blou Bul-wapentjie op iemand se lapel sien blink. By uitsondering het jy ’n effe-onvas-op-sy-voete-ou gesien wat sy hemp uitgetrek en met skoenpolitoer iets op sy lyf geskryf het soos “Bulle!” of “Hallo Ma.”

Ons het in Lynnwoodweg af gestap. ’n Paar blokke verder, toe sien ek dit die eerste keer: Loftus Versfeld se pawiljoene. Hoog. Hoër as ons dorp se kerktoring, het dit bo die huise uitgetroon, met die spreiligte se blink oë bokant dit. Dit was baie anders as daardie hoenderstellasie van ’n pawiljoentjie langs ons dorpsveld.

Hoe nader ons gekom het, hoe meer lawaai was daar: roomysverkopers se klokkies, ouens wat roep en die skare wat kort-kort die hele stadion met al sy pawiljoene laat sug.

Hoeveel keer was ek ná daardie dag weer op Loftus? Dit moet baie kere wees. Baie. Tog, elke keer wanneer ek daar kom, roer daar steeds ’n bietjie van daardie opwinding in my wat ek daardie eerste dag ervaar het.

Nie dat Loftus slegs vir my ’n plek van opwinding is nie. Ek het al te veel teleurgesteld van daar af weggedrentel.

Ek is nog my lewe lank ’n WPondersteuner, sien.

EK EN PA en oom Apie het op die onderste gedeelte van die Oospawiljoen gesit.

Loftus was daardie dag vol. Ek wonder waar het ons kaartjies gekry? Vir ons plattelanders was dit altyd ’n probleem om kaartjies vir groot wedstryde te kry. Jy moes ’n contact hê – jou pa se prokureur se tikster in Pretoria, wie se ma se by die skakelbord by Sanlam werk, waar Thys Lourens, die Blou Bul-kaptein, bedags ’n versekeringsman was. Of so iets.

Oom Apie is met sy sak nartjies styf onder die arm by die hek in. Pa het ’n wedstrydprogram by ’n seun gekoop. Die Voortrekkers was toe die plekaanwysers op Loftus. ’n Meisie in ’n Drawwertjieuniform het ons kaartjies geneem en ons tot by ons verbleikte plastiekstoele regoor die kwartlyn gelei.

Die St Johns-ambulansdiens, weer, was verantwoordelik vir die noodhulp langs die veld – die pynpolisie, het almal hulle genoem. Wanneer hulle op die veld gedraf het om ’n beseerde speler te gaan help, het iemand in die skare altyd geskree: “Skiet hom, moenie lat hy ly nie!” Ek wonder steeds oor een ding. Die pynpolisie het gewoonlik twee-twee saamgewerk, maar dit was altyd ’n Laurel en Hardy-situasie: Die een was of lank en maer en die ander kort en breed. Was daar ’n plan agter dit?

Die pynpolisie het oënskynlik ook net twee kategorieë beserings behandel: dié wat met behulp van die waterbottel reggedokter kon word, en dié wat vereis het dat die speler met ’n draagbaar van die veld gedra moet word, terwyl die skare op die hoofpawiljoen gedemp hande klap.

Ons het skaars op die plastiekstoele gaan sit, toe skil en eet oom Apie weer ’n nartjie. Die Laerskool Eben Swemmer was besig om teen die Laerskool Mayville in ’n voorwedstryd te speel, maar ná ’n paar nartjies het oom Apie die spanne aangemoedig asof hulle die Blou Bulle was: “Die bal! Die bal!” (Jy hoor dit gereeld by rugbywedstryde.Wat beteken dit presies?)

Op die sitplek voor oom Apie het ’n tante gesit met hoë pers-gekleurde hare, langs ’n oom in ’n kleurbaadjie van die Makwassie-rugbyklub, wat hopeloos te klein vir hom was. Jy sien baie sulke ooms met te klein kleurbaadjies op Loftus.

Die volgende oomblik het ’n Miragevegvliegtuig met ’n gedonder oor die stadion geswiep uit die rigting van die Waterkloof-lugmagbasis.

In die 1970’s en vroeë 80’s was ek nie een keer op Loftus wat daar nie een of ander stadium ’n Mirage oor die stadion gevlieg het nie, terwyl ’n ou doer agter in ry Z roep: “Ek’t mos vir my vrou gesê sy moet die budgie se hok toemaak!” Dit is dikwels ook dieselfde kêrel wat, indien hy nie met die skeidsregter se beslissing saam gestem het nie, skree: “Ref, daar’s telefoon vir jou!”

EK KAN NIE onthou watse vermaak was daar op die veld voor die begin van die hoofwedstryd daardie dag nie – nie dat daar toe veel vermaak voor wedstryde was nie. Daar was geen dansers nie (die huidige peloton Blou Bul-cheerleaders was toe nog nie eens gebore nie) en geen musiek is destyds oor die luidsprekerstelsel gespeel nie.

Die luidsprekerstelsel is gebruik vir aankondigings soos: “Sal die eienaar van die geel Toyota Cressida,  registrasienommer TAH 3987, asseblief dit gaan verwyder, hy het iemand vas parkeer.”

Of, net voor die hoofwedstryd: “Sal almal asseblief opstaan, sy edele, die eerste minister John Vorster en sy gevolg het pas arriveer.” Dan, ná ’n kort stilte, het die stem weer plegtig gesê: “U kan maar weer plaasneem in u sitplekke, dankie.”

Voor die spanne op die veld gedraf het, kon jy darem uitsien na drie stukkies vermaak. Een: Die Gevangenisdiens se blaasorkes het oor die veld marsjeer en onder meer die Heidelied gespeel.

Twee: ’n Gimnastiekgroep van die Hammanskraalse Polisiekollege het ’n vertoning gelewer.

Ek het voor die wedstryd deur die program geblaai wat my pa gekoop het. In dit was pensketse van al die spelers: hulle gewig, ouderdom, watter musiek hulle na luister, ensovoorts.

Die derde een was gewoonlik die vermaaklikste: ’n Man – dikwels daardie een wat “Hallo Ma” op sy kaal borskas geskryf het – het in ’n sakkerige Jockey Junior-onderbroek oor die veld gehardloop, met ’n klomp polisiemanne met hul honde agterna. Net voordat hulle hom kon vang, het hy teen een van die pale opgeklouter en die skare daar van bo af vermaak, asof hy ’n lid van die Swewende Montale’s was.

Die dag toe ek en Pa en oom Apie daar was, was daar ook só ’n ou.

Ek het voor die wedstryd deur die program geblaai wat my pa gekoop het. In dit was pensketse van al die spelers: hulle gewig, ouderdom, watter musiek hulle na luister, ensovoorts.

Elf lede van die Blou Bul-span het gesê Julio Iglesias is hulle gunsteling-sanger.

Dit het my weereens bly gemaak ek ondersteun die WP.

EK GAAN NIE veel meer van daardie wedstryd vertel nie.

Ja, ja, WP het verloor, 15-13. Maar dis nie waarvoor die wedstryd onthou sal word nie. In die 24 ste minuut van die tweede helfte het Naas Botha die bal gekry, toe, khwa! tref Morné du Plessis hom met die skouer.

Ek sien nog hoe slaan Naas op sy rug neer en hoe kom die mense om ons orent met hul vuiste in die lug en hul monde wyd oop: “Jeronkie, jou vark!” (Du Plessis se bynaam was Jeronkie, omdat hy glo soos ’n kruis tussen ’n giraffe en donkie gelyk het.) Een ou het ook geskreeu: “Dan stem hy nog vir die blêrrie PFP ook!”

En toe gebeur dit: Oom Apie kom orent en slinger een van sy nartjies in die rigting van die veld. Maar terselfdertyd raak sy smeulende Gold Dollar aan die tante voor hom se hare.

Oom Apie en die tante kon dit darem vinnig blus. Maar Pa het gedink dis dalk beter as ons eerder loop.

Ons het nie veel in die Valiant gepraat terug huis toe nie. Oom Apie het later aan die slaap geraak. Daar was nog twee nartjies in sy sakkie oor en later het Pa oorgeleun en een gevat, afgeskil en ’n skyfie in sy mond gesit.

“Kan ek ook maar een kry, Pa?”“Nee, hulle’s vrot,” het Pa geantwoord, die laaste nartjie uit die pakkie gehaal en by die venster uitgegooi.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #18 (April 2006) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.