Ons het die aand gesit en Who’s the Boss op TV kyk toe my pa se vriend oom Wilhelm se ou beige Land Rover voor die huis stop. Dit was niks ongewoons nie, want dié alleen-oom het gereeld daar opgedaag vir ’n drankie en ’n halfuur se diep sit. Hy’t maar min gepraat, net die ysblokkies met sy middelvinger so om en om geroer en nie geprotesteer as my ma sê hy moet vir aandete bly nie.

Maar dié aand was ’n bonkige ding kort op die Land Rover se hakke. Die Landie se voorwiele was al op die grasperk, toe is die logge blok se agterkant steeds nie heeltemal by die hek in nie.

Dit het die seringboom se takke skoon weggedruk met sy skouers.

Dit was ’n groot woonwa – ’n Wilk, as ek reg onthou.

Ons kinders was in vervoering.

Optel, die worshond wat een dag agter die vullislorrie aangedraf en toe maar by ons erf ingedraai het, het dadelik al twee die wiele gemerk en my ma het haar arms gekruis soos wat sy altyd maak net voor ons raas kry.

Oom Wilhelm het met ’n huiwerige glimlaggie uitgeklim, my ma se kwaai kyk vermy en gesê: “Nou ja, Dirkie, julle kan net sowel die wa vat en Paasfees op my plekkie by Mosselbaai gaan staan. Ek het tog nie meer nut vir die ding nie.”

Die oom se vrou het kort tevore haar trouring in sy Soap-on-a-Rope vasgedruk en met ’n kar vol somersrokke en digbundels na haar suster op Citrusdal verhuis. Die aand ná haar vertrek het hy baie lank langs ons kombuistafel kom sit, nóg stiller as gewoonlik, en net na die geringde koekie Radox-seep voor hom op die blad gestaar.

Die koms van die woonwa het ’n vreemde uitwerking op ons gesin gehad. My pa het nie daardie aand die nuus gekyk nie; my ma het dadelik haar ma gaan bel; en ons kinders het opgewonde die woonwa se binnekant verken.

Die mans het die Wilk langs die garage ingestoot en die volgende oggend was my pa ekstra-vroeg op om voor werk die wiele, remme en gaskanne na te gaan.

Dit was nog twee weke voor Paasnaweek, maar hy’t geglo “wat klaar is, is klaar”.

My ma het besef sy’s in die minderheid en ons is een middag direk ná skool winkels toe vir nuwe swembroeke, ’n sambreel en karsiekpilletjies vir die hond.

Op die eerste dag van die Paasvakansie was die Ford Granada XL al donkeroggend klaar gelaai en almal vir ’n laaste draai in die badkamer. Optel het sy pilletjie saam met ’n hap vienna gesluk en doodrustig langs my kom lê.

Ons is moeiteloos van onder uit die Paarl teen Du Toitskloofpas uit terwyl Neil Diamond se “Kentucky Woman”, “Song Sung Blue” en “Porcupine Pie” oor die bandspelertjie blêr. My ma, ’n stoere Jim Reeves-fan, het nooit te veel van dié Hot August Night-kasset gehou nie en sodra Neil in die middel van “Brother Love’s Travelling Salvation Show” sy longe begin uitgil, het sy aan my pa se arm geraak en gesê: “Nie voor die kinders nie.” Maar die kinders het lustig op die agtersitplek saamgesing. Om die vrede te bewaar is Neil kort duskant Buffeljagsrivier met die strelende klavierklanke van Richard Clayderman se Ballade Pour Adeline vervang en my pa het met groot dankbaarheid op Heidelberg afgetrek – vir ontbyt en ontvlugting van “Für Elise”.

Van daar af was dit voet in die hoek verby Riversdal, Dekriet, Albertinia en Danabaai tot waar Mossgas se vlam vol belofte in die verte brand.

Oom Wilhelm se staanplek by die De Bakke-woonwapark was aan Santosstrand se kant. En die Wilk was skaars op sy stutte, toe’s ons binne-in om swembroeke aan te trek.

Die eerste dag by die see het heel voorspoedig verloop en teen laatmiddag het die mense in die woonwa langsaan oorgestap en kom groet. Ek kon sien hoe my ma se oë glinster toe hulle noem dat Manuel Escorcio die volgende aand in die Walvissaal op Hartenbos sing. My pa wou nog iets sê, maar my ma se arms was reeds gekruis.

Goeie Vrydag is ons eers na dr. Solly Ozrovech se inrykerkdiens op die Hoërskool Punt se rugbyveld. Daar was ’n stapel van die dominee se dagstukboekies in ons gastetoilet by die huis en dit was ’n groot oomblik om hom uiteindelik van naby te kon sien. Ná ’n bietjie soek het my pa die regte frekwensie gekry en ewe skielik was oom Solly se stem hier bý ons in die kar.

Ek en my boetie kon nie help om te giggel toe almal met “Ons hoor die Paasfeesklokke” inval nie – oral om ons het monde die woorde agter toegedraaide motorruite gevorm, maar net ons vier se stemme was hoorbaar.

Kwaai kyke in die truspieëltjie het ons die lag laat sluk, en vir die res van die diens het ons tjoepstil gesit en droom oor later die middag se supertube-ry op Hartenbos.

Daar het ’n massa mense op straat ons begroet en ’n man het entoesiasties oor sy mikrofoon gebulder: “Wie wil met ’n nuwe Volkswagen Citi Golf huis toe ry? Wie kan vir ure aaneen wakker bly?”

My ma, benoud dat ons sal wegraak, het ons aan die hand gevat en deur die bondel lywe tot heel voor gestuur. En daar het ek die vreemdste ding van my jong lewe aanskou: Maklik vyftig mense wat sukkel en stoei om vatplek aan ’n splinternuwe turkoois Citi Golf te kry.

“Die een wat die langste hier kan staan, sal met hom huis toe gaan!” het die man belowe. “Wie gaan eerste los op Hartenbos?” het hy geskree.

My pa het koeldranke gekoop en ons het ’n hele tydjie gestaan en kyk, net gekýk, na die mense om die Citi Golf. Dit was ’n aardige besigheid en van die deelnemers het sommer humeurig geraak.

“Malligheid,” het my ma geprewel en ons weggelei supertube toe, ’n klomp ritrekkies gekoop en dit om ons polse geryg.

Op die supertube het dinge vinnig jolig geraak en soos wat die treintjies langer word, het die vaart en roekeloosheid ook toegeneem. Dit was nie lank nie, toe tref my boetie se voorkop iemand se knie. Die bloed het die swembadwater pienk gekleur.

Ons is almal net so nat, met die oorblywende rekkies nog om die arm, in die kar geboender.

My broer het heelpad tot by die hospitaal aaneen gegil, terwyl Optel die gapende wond op sy voorkop probeer skoonlek, my ma tegelyk troos én raas, en my pa die Richard Clayderman-kasset met soveel geweld uit die spelertjie pluk dat die lint heeltemal uitryg en om die rathefboom vaskoek.

Veertien steke en twee roomyse later was Boeta min of meer weer sy ou self. Die dag het egter aan sy laaste rafels gehang en ons het maar liefs teruggekeer woonwapark toe. Daar het my ma met haar arms oor haar kop gaan lê en my pa is na die Diazmuseum vir ’n praatjie oor die voortplanting en besondere aard van witdoodhaaie.

Manuel Escorcio het nie meer saak gemaak nie.

Om alles te kroon was daar die volgende oggend ’n boodskap teen die woonwa se deur geplak: Ouma het die karavaanpark gebel op soek na “ ’n gesin van vier, met ’n worshond en ’n  CJ-nommerplaat”.

Die briefie het gelees: “Bure het laat weet die kweekhuis se sproeier is heel beneuk. Dirk se bonsais staan in bakke modder. Wat nou? Ma.” Ons het dadelik opgepak, die woonwa aan die Granada gehaak en ons laaste aand by De Bakke gekanselleer. Pa het ons vinnig voor die Posboom gaan afneem, vir oulaas ’n byna gewyde draai om Die Punt gevat en koers gekry N2 toe.

’n Halfuur later het Optel van hom laat hoor – ons het vergeet om hom weer ’n pilletjie in te jaag. Met Richard Clayderman daarmee heen, het Neil Diamond al die pad tot in die Paarl vir ons ge-“Holly Holy” en my ma het mismoedig gesug oor die tan wat sy toe nie gekry het nie.

Nadat al die boompies by die huis sorgvuldig oorgeplant is, het oom Wilhelm een aand daar opgedaag. My pa het vreeslik om verskoning gevra dat hy die woonwa nog nie teruggebring het nie, maar die oom het hom doodgepraat. “Nee, Dirkie, die ding kan maar hier staan. Daar is in elk geval nie nou meer plek vir hom onder my afdak nie.”

Sy vrou was terug. Met ’n splinternuwe turkoois Citi Golf.


Hierdie artikel het oorspronklik in WegSleep van April-Junie 2008 verskyn.