Ketties was deel van my en my broer, Wimpie, se kinderdae op die plaas – dae voor PlayStations, selfone en tikbendes.

Ons bure se seun, Pieter, was een van ons helde. Hy was ouer as ons en het ’n aanvoeling vir wetenskap gehad. Hy het ons help damme bou wanneer my ma die tuin uit die groot dam natgelei het en die vloed deur die tuin geloop het.

Pieter kon ook dinge bou. Daar was treintjies in hulle huis se voorkamer, modelvliegtuigies in sy kamer en ’n radiobeheerde boot met ’n enjin wat hy in die gronddam langs die Appelland uitgetoets het.

Hy het ook eenkeer, terwyl my ma-hulle by sy ma-hulle geëet het, ’n karavaan opgeblaas. Hiervoor het hy tuisgemaakte buskruit gebruik, met ’n 12V-motorbattery as ontsteker. Dit was darem nie ’n regte karavaan nie, maar ’n draadkaravaan, met die mure en dak van karton.

Hy het ook eenkeer, terwyl my ma-hulle by sy ma-hulle geëet het, ’n karavaan opgeblaas...

Hy het ’n vuurhoutjieboksie vol plofstof onder die karavaan gesit en die stroom laat deurvloei. Dit het tog te pragtig ontplof daar langs die waenhuis onder die peerboom. Hy was lekker in die moeilikheid – by sy ma oor die lawaai en by sy pa oor hy sy batterye pap gemaak het.

’n Ander keer het een van Pieter se vuurpyle op die stoep ontplof. Van die skrapnel het hom in die skouer getref en nog ’n stuk het 40cm diep in ’n klapperhaarstoel tot ruste gekom. Dit was Pieter se laaste ontploffing. (Vandag is hy ’n ingenieur op Phalaborwa; as julle gewonder het waar daai gate buite Phalaborwa vandaan kom, dis waarskynlik Pieter se werk.)

Pieter was ook ons held omdat hy ’n superkettie kon maak.

Ons het iewers in ’n fliek gesien hoe mense in antieke tye sulke massiewe ketties gebruik het om stadsmure met groot rotse of vuurballe te bestook.

Pieter het met die hulp van sy pa so ’n katapult gebou vir een van sy laerskool-geskiedenisprojekte. Dit was omtrent 1,5m lank en kon ’n klip so groot soos ’n halwe baksteen ’n taamlike ent laat trek.

’n Kettie is een van die eenvoudigste wapens: Dis maklik om te maak en word aangedryf deur niks meer as ’n kind se voorarm, ’n goeie oog en ’n skeut stoutigheid nie. Dis hoekom dit een van Trompie (en Die Swart Kat) se gunstelingwapens was. Ammunisie kan enigiets wees van ronderige klippies tot appelkoospitte – eintlik enigiets wat lekker swaar is vir sy grootte.

EK KAN MY EERSTE KETTIE goed onthou. Iemand – my pa of ma of een van die plaaswerkers – het my daarmee gehelp.

Maar dit was nie ’n baie goeie kettie nie. Dit was gemaak van kareehout wat effens te dik was en die mik was reg onder die V afgesny – op sy dag ’n omstrede styl. Omdat dit nie veel van ’n handvatsel gehad het nie, moes jy basies die kettie aan die kante van die mik vashou, tussen jou duim en voorvinger, amper soos ’n klaskettie.

’n Klaskettie was van draad.

Ketties was taboe by die skool, en daarom het dit ál kleiner en ligter geraak – makliker om in ’n broeksak, kous of deurmekaar oopklaplessenaar weg te steek.

Maar hulle was hoogs geniepsig, want sien, met ’n klaskettie het jy by uitstek kwaadgedoen. Aan dié eenvoudige draadraampie het jy bloot gewone rekkies vasgebind en jou projektiele was harde stukkies omgevoude papier (boelies het ook omgevoude krammetjies gebruik, óf stukkies draad). Hiermee sou jy vir ontblote bobene mik wanneer die Vrydag net te lank begin raak het.

My volgende kettie was ’n veel beter een, gemaak van olienhout, as ek reg onthou. Dit was van ’n dunner tak gesny en die mik het ’n ordentlike handvatsel gehad.

’n Belangrike onderdeel van ’n goeie kettie was die velletjie waarin jy jou klippie vasgeknyp het. Dit moes sag wees, maar ook sterk – leer het die beste gewerk, veral die tong van ’n afgetrede velskoen.

Die rubberrekke was ook belangrik. Ons het geglo aan rooi binneband, of swart tjoep, as dit moes. Maar dit was net totdat haasrek sy verskyning gemaak het. Haasrek was stywer en harder, dus kon jy verder skiet mits jy fris arms gehad het. As jy ’n staalghoen as koeël gebruik het, só het die storie geloop, kon jy maklik selfs ’n ystervark daarmee doodskiet.

’n Mens kon haasrek by die koöperasie koop, en ’n ruk lank het almal haasrek-ketties gehad.

Toe, eendag in die middel jare tagtig, het alles verander. ’n Kettie het op die skoolterrein verskyn wat almal laat stil raak het. Iemand se pa het dit seker in die Baai gekoop (waar mense – só het ons grootoog gehoor – dwelms gebruik het en Sataniste was), want niemand in die Visriviervallei het nog ooit so iets gesien nie. Dit was swart en van harde plastiek en metaal gemaak, met ’n ergonomiese handgreep én ’n uitvoustut om jou voorarm en gewrig te ondersteun.

Niks daaraan was natuurlik nie.

Trompie sou nie mooi geweet het hoe werk dit nie. Dit het na iets gelyk wat Steven Segal of Rambo sou kon gebruik.

’n Sluipmoord-kettie...

WAT DIÉ KETTIE ruimte-eeus gemaak het, was die rek. Dit was glad nie soos binneband of haasrek nie.

Iemand se ouer broer was ’n mediese student en ons het uitgevind dis dieselfde rubberpypies wat in hospitale gebruik is.

Surgical tubes.

Dié ruimteketties was nie iets wat ons plaasseuns kon maak nie. Dit was dorpsketties, winkelketties. Die klaskamerkettie het nog ’n rukkie voortgeleef, maar ons was so half skaam vir ons primitiewe plaasketties.

Trompie sou nie mooi geweet het hoe werk dit nie. Dit het na iets gelyk wat Steven Segal of Rambo sou kon gebruik.

Soos dit ’n ouer broer betaam, was Wimpie se ketties altyd beter. Hulle was mooier, het beter mike gehad en soms het hy met ’n vergrootglas sy voorletters daarop ingebrand. Hy was ’n beter skut, soos die kepies in die kant van die mik getuig het: Elke keep was ’n dooie voël.

Dooie voëls? Ja, want ons was moordenaars. Dis dalk pret om leë Mello Yello-blikkies met jou kettie te skiet, maar omdat ons op ’n plaas grootgeword het, was ondierbeheer deel van ons speeltyd.

My ma se vrugteboord moes beskerm word teen strooplustige muisvoëls, kersogies, bottergatte (of tiptolle) en spreeus.

Muisvoëls was vyand nommer een.

My pa was ’n voëlliefhebber en ons mag nie voëls voor die voet geskiet het nie – daar was ’n lysie. Die res was Rooidata, taboe.

Kersogies was ondanks hulle oulike boudjies op die lysie, want hulle kon ’n perskeboom verwoes. Spreeus kon met hulle swaar swart lywe die moerbeiboom se takke laag laat hang. Strafbaar, beslis. Ja, die doodstraf was in orde. Dit was die ou Suid-Afrika.

Dis nie maklik om ’n voëltjie raak te skiet nie. Boonop leer voëls vinnig. Ons het die eskaders muisvoëls agtervolg, van hulle skuilplekke in die kriebosse, al in die sloot op tuin toe. Hulle was slinks. En klein.

Dis maklik om teiken te skiet na ’n drom, maar as jy voëls wil raak skiet, moet jy die blikkies waarna jy oefen, eers plattrap en dan van die hoekpaal af probeer skiet.

DIS ’N DESEMBERDAG, diepsomer.

Ek is jonk, met ’n gladde ken, nog lank voor enige sprake van baard. Ek is kaalvoet, dra ’n kortbroek en kakiehemp.

Dis ná drieuur en ek sit in die koelte van die pruimboom.My ma-hulle probeer nog die hitte omdut in hulle koel kamer met die hoë plafon. ’n Mens ruik die somer – dit ruik na vrot vrugte, lang kikoejoegras en die watervoor agter my.

Ek hoor die rooivlerkspreeus se ge-pieeuw-pieeuw uit die ou peerbome bokant die hoenderhok. Die pere is nie lekker nie; die spreeus wil pruime kom haal hier waar ek sit. Dan, eers een vir een en dan die hele lot, sweef hulle met enkele vlerkklappe pruimboom toe.

Ek wag tot almal in die boom is.

Dan, amper soos ’n trapsuutjieninja, lig ek my arms stadig tot ooghoogte en korrel. Daar’s ’n voël in my mik... ek trek die klippie verby my oor en laat waai.

Die spreeus spat uiteen, protesteer.

Ek hoor hoe die klippie grondwaarts tik-tok-tik deur die dik takke van die peerboom agter die pruim.

Mis, pêrepis.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 38 (Desember 2007) verskyn.