‘Kom manne, julle gaan nou twee keer om die veld hardloop,” blaf Pine Pienaar, die Hoërskool Punt se LO-onderwyser links uit sy mond. Pine is kort – hy was ’n skrumskakel vir onder meer SWD – maar hy vergoed daarvoor met houding en outoriteit.

Ons is ’n lot van sowat 80 kaalvoet- st. 10’s (gr. 12 vir die jonger lesers) in donkerblou frokkies met ligblou stiksel om die skouers. Ons staan in die laatoggendson op die grasperk voor die skool in Mosselbaai. Dis tyd vir die jaarlikse fiksheidstoetse.

Hier en daar swaai ’n knaap sy arms, een of twee mik-mik met hulle hande na hulle tone om hulle hammies warm te maak. Ek draai na my tjommie Ruan en fluister: “Ek hardloop eintlik net as ek gejaag word...” Ongelukkig vir my het Pine, benewens sy outoriteit, ook goeie ore.

“Wat sê jy daar?” vra hy.

Ek weifel eers, boor my toon in die gras, en onthou dan dat die waarheid veronderstel is om vry te maak. “Meneer, ek sê ek hardloop net as ek gejaag word.”

“Nee, maar reg dan. Stephan sal jou jaag,” antwoord Pine.

Stephan Buys is ons hoofseun, eerstespan-agtsteman en die skool se 800 m-kampioen. Hy draf nader.

“En as hy jou vang, têkkel hy jou.”

Ek kyk op na Stephan – letterlik. Hy is minstens ’n kop langer as ek en omtrent twee keer so breed van al die ure in die gim. Ek sug effens radeloos.

“Toemaar, Leon-Ben, ek sal jou ’n voorsprong gee,” sê Stephan en klop my simpatiek op die skouer.

Prrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrr, sny Pine se fluitjie deur die lug. “Toe-toe-toe, waarvoor wag jy?”

Ek spring weg. Soos ek om die eerste draai van die grasperk hardloop, sien ek Stephan sak teatraal af, soos ’n naelloper voor die 100 m. Gits, ek sal moet aanstoot voordat ek grond koop op groot skaal.

Met my voorsprong op ongeveer 200 m spring Stephan weg. Ek kan nie help om angstig oor my skouer te loer nie. Stephan haal die spasie tussen ons in met sy lang bene, min of meer soos ’n jagluiperd die meter tussen hom en ’n babarooibok sal verorber.

Kort daarna hoor ek die geklap van voete op die gras – nie my eie nie – en met ’n flinke “Jammer, Leon-Ben!” slaan Stephan ’n skouer teen my rug vas. Ek skuur vir wat soos myle voel oor die gras.

Stephan haal die spasie tussen ons in met sy lang bene, min of meer soos ’n jagluiperd die meter tussen hom en ’n babarooibok sal verorber...

Ek staan swaar op en stof die gras van my klere en hare af. Die res van die klas juig en klap hande terwyl Pine lekker lag. Toe ons uiteindelik weer by die groep aansluit, laat hoor Pine: “Right, gaan jy die volgende rondte hardloop sonder dat jy gejaag word?”

Volgens ’n 2007-studie, sê National Geographic, het die mens sowat 2 miljoen jaar gelede begin draf. Dié navorsers het bevind dat ons oeroupas en -oumas as ’t ware gemaak was vir lang afstande hardloop. Die studieleier, prof. Dennis Bramble, het gesê hy reken hulle vermoë om te hardloop was een van die “mees transformerende gebeure in die geskiedenis van die mens”.

Dit mag dalk so wees, maar soos die staaltjie bo uitlig, was ek nie vreeslik lief om lang afstande te hardloop nie. Ek was ’n kranige hokkiespeler, ja, en tot vandag ontsien ek nie die geleentheid vir ’n bietjie agterplaaskrieket of raakrugby nie. Ek kan ook ure lank op ’n naweek sit en sport kyk. (Dit tel nie, Leon-Ben... – Red.)

Wanneer ons voor die hokkieseisoen eers ons fiksheid moes opskerp, was ek altyd die ou wat laaste saam met die goalie aangestrompel het.

Gee my push-ups en opsitte, maar draf? Jy sou my eerder in een van daai T-hemde aantref met die silhoeët van iemand wat hande op die knieë na asem snak terwyl hulle opmerk “I thought you said ‘rum’.” Of daai ouens wat by die ruit uitkyk, ’n enkele wit wolkie teen die blou gesigseinder gewaar, en verklaar hy wou gaan draf, maar kan nie “want hier kom reën”.

Draf was vir my so ondoeltreffend: Dit vat verdomp vir ewig om enige plek te kom. Ry eerder ’n kar, man!

Niemand lyk ooit gelukkig terwyl hulle hardloop nie. Kyk maar net na die Comrades, veral teen die tyd dat die atlete Polly Shorts moet pak.

As drawwers wél gelukkig is (hulle sê so), kom die boodskap nie by hulle gesig uit nie. Ek vermoed heimlik is hulle almal masochiste. In kort, ek was so lief vir tekkie op teer sit soos my kinders deesdae is vir gestoomde kool of vars tamaties.

Die lewe het wel ’n wonderlike sin vir ironie. Ten spyte van alles wat ek tot dusver kwytgeraak het, sit ek tans met ’n natgeswete hemp hierdie en skryf ná my oggenddraffie ter fikswording vir ’n 10 km-ren (In die nag! Teen ’n berg uit!). Daarna wil ek hopelik twee of drie halfmarathonne deur die loop van die jaar voltooi, beginnende by my tuisdorpresies, die Safari-halfmarathon op Wellington.

Wat het dus verander? Dit het alles met ’n dare begin. Bugger, ’n rokersvriend, het vir my gesê as ek saam met hom ’n halfmarathon doen, sal hy die stokkies los. Ek het toe lang hare gehad en was minstens 15 kg oorgewig.

Ek hou nie van draf nie, het ek geredeneer, maar ek hou minder daarvan dat my vriende longkanker kry. Ek stem toe in.

Vanweë ’n komplekse sameloop van omstandighede kon ek nie die resies maak nie, maar die nadraai was wel die volgende: ek was nou draffiks (maar Bugger rook nog...).

Ek het ook ontdek wat die gesoute drawwers reeds lankal weet: As jy fiks is, dan ís draf lekker.

‘Niemand lyk ooit gelukkig as hulle hardloop nie. Kyk maar net na die Comrades, veral teen die tyd dat die atlete Polly Shorts moet pak.’

Daar is iets hipnotiserends aan die gevoel van tekkies wat die vroegoggend-teer tref. Jou bekommernisse oor die kinders se huiswerk, jou huispaaiement en kliënte-afsprake vervaag soos jy fokus op die hier en nou.

Dis mindfulness, as mindfulness nie omgegee het vir sweet en stink skoene en seer bene nie. Dit is asof draf jou maalkolkgedagtes vat, dit afspoel, en skoon vir jou teruggee sodat jy opnuut daarna kyk en besef dat dít wat jy gedink het jou probleme is, bloot klein jakkalsies is.

Dis boonop ’n heerlike manier om ’n nuwe plek te ontdek. In my laaste jare by Weg (Leon-Ben het van 2009 tot 2014 hier gewerk. – Red.) het ek graag dorpe vroegoggend te voet verken.

Nie net leer jy hoe die geografie inmekaarsteek nie, maar jy sien ook die plek uit ’n ander hoek, en sien dinge wat verby jou flits as jy in ’n kar sit. Dis asof die karruit, deursigtig soos hy is, ’n skans tussen jou en die wêreld vorm.

En draf is goed vir jou! Ek weeg heelwat minder, voel in die algemeen beter en as ek ’n stel trappe of drie moet uitklim, hyg ek nie na my asem soos ’n asmalyer-roker-goudvis wat uit sy bak gehaal word nie.

Ek wens ek kan hier skryf hoe ek ontdek het ek is Wally Hayward die tweede en dat ek besig is om die rekordboeke van die Suid-Afrikaanse pad- en veldwedlope te herskryf.

Allermins. Ek is doodgemiddeld, selfs stadig. En ja, daar is nou nog oggende waar ek wakker word, ’n enkele wit wolkie teen die blou gesigseinder gewaar en uit vrees vir reën nie gaan draf nie.

Ek moet ook noem dat rondom die 14 km-merk in ’n halfmarathon daar ’n groter kans is dat jy ’n eerlike politikus sal opspoor as ’n glimlag by my – ek verstaan dus nou die Comrades-gesigte teen Polly Shorts...

Wag, is ek nou ook ’n masochis?