Dis ’n reis wat die meeste mans een of ander tyd moet aanpak: Jy moet jou meisie se ouers gaan ontmoet.

Ek moes dit ook al doen – meer as een keer, om eerlik te wees. Maar om een of ander rede onthou ek die keer met, wel, kom ons noem haar sommer Bettatjie, beter as die ander.

Haar pa was ’n Vrystaatse boer en ons is die Vrydag ná werk uit Pretoria weg in my aamborstige, poeierblou Volkswagen Variant Fastback. Dit was klaar ’n effense probleem, want Bettatjie se pa is ’n ryk boer, ’n man wat sommer 23 John Deere-trekkers op ’n slag koop.

Daardie middag op pad Vrystaat toe moes ek twee keer olie in die Fastback gooi (sy was gelukkig taamlik lig op petrol).

Dit was al donker toe ons by die plaas hek iewers op die Vrystaatse vlaktes indraai.

Ek onthou als so duidelik: My natgeswete handpalms op die Fastback se stuurwiel, die paadjie wat deur morge en morge mielielande loop, Bettatjie-hulle se tamaai, groot tuin en vier boerboele; en haar pa en ma wat vir ons staan en wag onder ’n geel buitelig op die stoep van ’n sandsteen-opstal.

Bettatjie se ma was die hele naweek maar op die agtergrond, want sulke ontmoetings is dikwels meer ’n manding.

Dit het ek besef toe oom Fanie, haar pa, my ’n knyptang van ’n handdruk gee en sê: “Naand, boet. Het jy geweet jou linker-voorlig brand nie?”

Toe word ek die huis in gelei, verby ’n gemonteerde buffelkop en foto’s van Bettatjie op haar gradeplegtigheid, verby trofeë en rosette wat op landbouskoue verower is, asook ’n geraamde berig wat in ’n plaaslike koerant verskyn het die keer toe oom Fanie die 23 John Deere-trekkers in ontvangs geneem het.

Maar dis asof ooms soos oom Fanie hul huis ontwerp met die uitsluitlike doel om hul dogters veilig te hou: Bettatjie se kamer was in ’n ander vleuel van die huis en om daar te kom, sou ek eers by oom Fanie-hulle se kamer moes verbykom, oor krakende plankvloere.

Nie dat ek al daardie goed tóé opgemerk het nie. Terwyl ek deur die huis gestap het, het ek slegs een ding gedink: Laat my kamer tog naby Bettatjie s’n wees, sodat ’n man darem laatnag kan oorsluip vir ’n vrytjie.

Maar dis asof ooms soos oom Fanie hul huis ontwerp met die uitsluitlike doel om hul dogters veilig te hou: Bettatjie se kamer was in ’n ander vleuel van die huis en om daar te kom, sou ek eers by oom Fanie-hulle se kamer moes verbykom, oor krakende plankvloere.

EK GAAN NIE alles van daardie naweek vertel nie, want dit is maar ’n variasie op dieselfde tema: Jy word getoets of jy van die regte stoffasie is. Of jy troumateriaal is.

Sulke naweke volg altyd min of meer dieselfde patroon. Ek het eers my goed in die kamer gaan neersit en toe ek terugkom in die sitkamer, toe sit oom Fanie, Bettatjie en die tannie al vir my en wag. En oom Fanie vra: “Sal jy iets drink?”

Ek kyk na die stinkhout-drankkabinet langs die Claerhout-skildery en begeer ’n Oude Meester en Coke om die bewe uit my vingers en die effense trilling uit my stem te kry. Maar ek antwoord: “Koffie sal lekker wees, dankie Oom.”

“Jong, is jy seker?” vra oom Fanie.

“Ek gaan ietsie sterkers gebruik.”

“Miskien sal ek dan maar ’n biertjie vat, Oom.”

Toe gaan skink oom Fanie vir hom ’n Oude Meester en Coke, maak ’n bottel Nederburg Baronne vir die vroue oop – en bring vir my ’n Castle.

Ons sak diep weg in die stoele en toe vra oom Fanie wat ooms soos hy jou altyd vra: “Nou sê my, van watter Snymans is jy?”

Jy is lus en sê vir hom dit het nou net mooi niks met enigiets te doen nie. Maar jy doen dit nie. Jy swyg oor jou probleem-neef en probeer die res van jou hoofsaaklik bloukraag-familie so aristokraties as moontlik laat klink, terwyl oom Fanie sy kop stadig knik, na die tannie kyk en vir haar vra: “Laat dink hy jou nie vreeslik baie aan Spyker van Floors-hulle nie?”

Ná ete het ons eers na die video van oom Fanie en die tannie se besoek aan die Passiespele in Oberammergau gekyk, voordat ons moeg bed toe is. Ek het besluit om dit nie te waag om oor te sluip na Bettatjie se kamer nie.

Sesuur die volgende oggend toe hamer oom Fanie aan my deur: “Kom-kom, ou broer. Ons ry bietjie beeste toe.”

Dit vorm deel van die volgende fase van so ’n naweek: Die Wys van die Plaas, terwyl jy tussendeur hard probeer om die oom te beïndruk, want jy was hitsig verlief op sy Bettatjie.

“Sjoe, Oom se lusern is darem mooi,” sê ek toe ons by die werf uitry, tussen nog lande deur.

“Dis hawer,” antwoord oom Fanie. “Hulle’s maar treurig vanjaar.”

Ek is seker ooms soos oom Fanie het een of twee hekke op hul plaas wat spesiaal daar is om potensiële skoonseuns se vermoë om lateraal te dink, mee te toets.

Nie lank nie, toe hou ons voor só een stil. Ek wip uit die bakkie en draf nader, maar ek kry nie die dekselse ding oop nie: Die ketting is ingehaak by so ’n metaalhakie en ek kry dit nie daar uit nie, want oor die opening is ’n stukkie pyp geskuif.

“Lig net die dêm pypie, man!” roep oom Fanie later. Later klim hy uit die bakkie en knip die hek oop met ’n vinnige handbeweging.

Ons het maklik drie of vier ure plaas gekyk daardie oggend: Die hawer, die werkswinkel, die 23 trekkers, die varke, die Mexikaanse veghoenders, die makoue, die poue, die mak springbok, die hamermeul, die Lister-enjins, die sweismasjien, die melkmasjien, die broeimasjien, die seperator, die kuilvoergat, die familiekerkhof, die windpompe en sinkdamme, die koelkamer en die Simmentalerbeeste, wat ek verkeerdelik as Brahmane geïdentifiseer het.

By die huis het darem ’n groot ontbyt op ons gewag, voorberei deur die drie vroue in eenderse pienk uniforms en wit kopdoeke wat by Bettatjie se ma in die huis werk.

LET N BIETJIE op: Potensiële skoonseuns speel tydens sulke ontmoetings dikwels oordrewe baie met hul potensiële skoonpa’s se honde. Om een of ander rede beskou jy dit as ’n manier om jou bestendige geaardheid en huislikheid mee te bewys.

Ek het daardie naweek baie met oom Fanie se boerboele gespeel. My trui was vol hondekwyl. Ek het ook ná middagete, terwyl die oumense gedut het, probeer om Bettatjie in die sitkamer te soen, maar sy het gesê ons moet wag tot dit donker is, sy is bang haar pa vang ons. (Sy’t ook gesê ek ruik ene hond.)

Halfvier die middag, ná koffie en melktert, toe sê oom Fanie die een ding waarvoor ek die bangste was. “Kom, ek dink jy moet gou ’n bok gaan skiet.”

Dit was die Groot Toets, het ek dadelik geweet. Ek was die ene bewerasies en het opreg gebid dat ons nie bokke moet kry nie. Maar toe kry ons hulle. Tog is ek dankbaar om te kan aankondig: Ek het die toets geslaag. Met ’n nekskoot.

Dis wonderlik hoe ’n groot verskil ’n dooie bok aan só ’n naweek kan maak. Oom Fanie was nou die ene hartlikheid. Hy het gelag en ’n gemoedelike hand op my skouer gesit en toe ons by die huis kom, toe sê hy: “Hoe lyk dit, ou maat, gaan jy vir ons twee ’n dop skink?”

Toe braai ons vleis en drink Oude Meester wat deur my geskink is; en later speel oom Fanie vir ons sy Heino-plate. Dit was amper middernag toe ons gaan slaap. Of liewer: Dit was amper middernag toe ons kamer toe is. En halfeen se koers, toe brand oom Fanie-hulle se kamerlig steeds. Toe besluit ek: My Bettatjie wil my hê, my Bettatjie gaan my kry en ek skuif my kamervenster oop – een van daardie ou houtraamvensters wat jy boontoe skuif.

Toe klim ek uit, slegs in ’n Gamebroek en my ou Jaws-T-hemp en sluip oor die grasperk in die rigting van Bettatjie se kamer. Maar opeens is daar ’n sagte knal agter my: Die slag van my kamer se skuifvenster wat soos ’n valbyl toeval. Oorverdowend op ’n stil plaaswerf ná middernag.

En toe is daar ’n regte kabaal: Daardie boerboele waarmee ek so mooi gespeel het, wou my nou skielik verskeur. En een of ander veiligheidslig op ’n paal gaan aan.

Oomblikke later kom oom Fanie in ’n japon by die voordeur uit met ’n geweer. En daar staan ek vasgevang in ’n ligkol.

“Hallo, Oom. Ek vang net so ’n bietjie vars lug, Oom.”

Oom Fanie het niks gesê nie. Ek is gedweë saam met hom by die voordeur in en ons het gaan slaap.

Die volgende oggend ná ontbyt het ek en Bettatjie weer gery, met oom Fanie-hulle wat in die Fastback se rookwolk op  die werf agterbly.

NOU DIE DAG blaai ek deur ’n vroue tydskrif en daar sien ek sowaar ’n foto van Bettatjie – saam met haar gesin. Sy is getroud met ’n Oostenryker en hulle woon in Zürich, Switserland. Hul twee kinders se name is Horst en Sasha-Lee.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #22 (Augustus 2006) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook