Om ’n kanaalaap te wees – gebore en getoë langs die kanale wat die lusernlande en wingerde van die Upingtonstreek van water voorsien – hou baie voordele in. Ek ken die verskil tussen ’n goue sultana en ’n Thompson- pitlose rosyntjie, ek kon swem voordat ek kon loop, en ek is bowenal ’n connoisseur van uiterste hitte.

Sou daar ooit iets soos ’n Olimpiese Spele vir die warmste plek op aarde gehou word, dink ek die Kalahari-hitte sal die ander deelnemers lag-lag kan uitstof. 

Ek gee toe dat dit dalk meer sin sou maak om te wed op plekke soos Dallol in Ethiopië, die Lut-woestyn in Iran of Queensland in Australië, maar óns rooiduinwoestyn is ’n gedugte teenstander. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens behoort die amptelike titel van die warmste plek in Suid-Afrika aan Letaba in Limpopo. Dit het ’n gemiddelde jaarlikse maksimum temperatuur van 35°C.

Maar graag wil ek die weermanne en -vroue nooi om ’n somer tussen die duine naby Upington deur te bring – dié gebied verdien sy reputasie (en al die grappies op die nuus) as die warmste plek in die land. Die Kalahari sien neer op ’n “maksimum” temperatuur van in die dertig... die mense hier spot nie verniet daar is net ’n sifdraad tussen Upington en die duiwel se agterplaas nie.

Uiterste temperature laat sommige mense terugdeins – hoekom sonsteek opdoen as jy eerder in ’n koel seebries kan ontspan? Tog dink ek almal moet minstens een keer die Kalahari in die somer besoek. As jy ’n Suid-Afrikaner is, hoort dit op jou moetsienlysie (of dalk jou moetsweetlysie?).

Die hitte van die Kalahari is suiwer, droog en verslawend. Die Kalahari se mense is deur die seisoene getemper. Daar is nie veel tyd vir fieterjasies in ’n gebied waar die son elke oggend opkom met oënskynlik net een doel nie: om alles en almal onder die grond in te brand.

Hou dit in gedagte wanneer jy die gesmelte teer op die hittige sypaadjies van Upington systap. Jou oorlewingsinstink sal jou probeer oorreed om so min as moontlik aan te trek – moenie luister nie. Die groen oewers van die Oranjerivier is die modetuiste van los, wapperende klere met ingeboude ventilering. Katoen is jou vriend; stywe jeans kan jou einde beteken (jammer hipsters, dit geld julle ook).

Om jou uitrusting af te rond, veral as jy buite gaan wees, het jy ’n hoed met ’n wye rand óf ’n sambreel nodig – sonbrand is onaantreklik en gevaarlik en die son kan jou bykom in die tyd wat dit jou neem om van jou voordeur tot by jou kar te loop. En, dalk die belangrikste van alles, smeer gereeld ’n laag sonskerm aan. 

Die meeste kanaalape kan swem – al is dit net hondjieslag in die vlak waters – juis om dié rede.

Ons almal wil graag elegant en statig deur die lewe wals, maar in die Kalahari gaan niemand dit van jou verwag nie. Dit is ’n onbegonne taak: dit gaan warm wees; en sweet gaan jou hare teen jou kop vaspleister en in jou laerrug opdam. Moenie daarteen baklei nie. Sit eerder so stil as moontlik.

Die somerson is niemand se speelmaat nie, maar daar is maniere om die hitte te uitoorlê... en selfs te geniet. As jou begroting dit toelaat, kies ’n blyplek met lugreëling (toemaar, die meeste plekke is ingerig om die ergste hitte af te weer). Lugreëling is ’n luukse in baie dele van die land, maar in die Kalahari is dit noodsaaklik. ’n Waaier is nie opgewasse teen dié hitte nie: Dit karring net die warm lug rond en bring nie verligting nie.

Geen lugreëling nie? Bly binnenshuis (met die vensters oop en die gordyne toe) of kies ’n boom wat ’n groot skaduwee gooi en hoop vir ’n koel briesie om jou te lawe. Ek dink dit is ’n gulde geleentheid om ’n piekniekkombers oop te gooi en ’n koelboks met yslollies nader te trek. En as jy nie soos ’n Oranjerivierrosyntjie wil lyk nie, drink baie water.

Daar is natuurlik lekkerder maniere om af te koel. Die meeste kanaalape kan swem – al is dit net hondjieslag in die vlak waters – juis om dié rede. Vir so lank as wat ek kan onthou, het ek my Desembervakansies in die swembad deurgebring. Koel water en ’n swemnoedel is eintlik al wat jy nodig het om ’n Kalahari-somer te geniet (’n mengeldrankie met ’n sambreeltjie is opsioneel).

Maar as jy dink swem is vir visse, kry ’n tuinslang met ’n sproeikop. Vir geslagte reeds hardloop kinders hier met ’n swembroek deur die sproeiers. Dis vet pret. Al wat kort, is ’n sny waatlemoen (koop een by die stalletjies langs die pad in Upington, Keimoes of Kakamas) en jy kan vriende vir ’n partytjie nooi.

Op skool het ek en my maats soms weggesluip na die Oranjerivier as die kraaie begin gaap. Roei stroomaf, ski of ry rond in ’n rubberboot – dis selfs lekkerder as jy 16 jaar oud is en jou ma dink jy doen huiswerk by ’n maat se huis. Die geheim is om uit die son te bly oor die warmste deel van die dag – waterski is groot sports, maar nie as jy brand totdat jy so rooi soos ’n kreef is nie.

Ja, ’n mens kan omtrent al dié dinge doen sonder om ’n voet uit jou tuisdorp te sit. Dis óral warm in Suid-Afrika. Maar as jy nie die gebied in die hitte van die jaar besoek nie, gaan jy die beste deel misloop: die Kalahari-donderstorm, wat enige tyd van Desember tot Februarie kan losbars. Dis jou beloning as jy die hel se hitte kan oorleef.

Daar is ’n storm aan die broei wanneer dit selfs warmer as gewoonlik raak. Die hitte en bedompigheid bou saam met die wolke op en die aanloop tot so ’n storm strek soms oor ’n week.

Die boere begin die lug dophou – dié met vee hoop op reën vir die veld; dié met wingerde en boorde bid vir uitstel om hulle vrugte ryp en geoes te kry voor die eerste druppels val. Die res van ons wens net vir ’n bietjie verligting van die skroeiende hitte wat die kwik in die veertig laat inskiet.

Wit wolke soos katoenpluise hang in die lug en word mettertyd groter en meer. Ná so drie of vier dae is jy oortuig dat dit nou enige oomblik sal begin reën, maar moet dit nog nie hardop sê nie: ’n Sluwe wind gaan opsteek en al die wolke wegwaai. Die volgende dag is stil, en net wanneer jy dink al die afwagting gaan op niks uitloop nie, begin die wolke weer saamdrom. Ná ’n ruk word hulle swaar en pers, en laat hulle mae op die huise se dakke rus. In die drukkende hitte voel dit asof tyd stilstaan en die sagte lig klee die bome in ’n helder groen. Jy sal lusteloosheid én opwinding ervaar.

Teen laatmiddag steek ’n sterk wind op wat rooi stof en tarentaalvere diep in die woestyn gaan haal om die wolke te laat bloos en rammel. In die verte sien jy dalk die sigsagpatrone van weerlig teen die donker lug speel. Dit raak windstil en die voëls skuil diep in die boomtakke. ’n Harde slag breek die stilte en die eerste druppels plof neer.

Katspoegies val nie in die Kalahari nie. Wanneer dit die dag reën, reën dit ordentlik: Die druppels sak in swaar suile uit en, as die weersomstandighede saamspeel, val daar ook reusehaelkorrels wat alles breek en kneus.

’n Kalahari-storm is verkwikkend. Die reuk van reën op stof en warm teer hang in die lug. Soek ’n stoep en kyk hoe die storm uitwoed. Voel die koel lug in jou nek en week jou voete in ’n poel reënwater. Tel ’n paar haelkorrels op en gooi dit in ’n glas om jou koeldrank koud te hou. Jy sal sien jou bure vaar die strate in om te kyk hoeveel skade die vloedwaters en ontwortelde bome aangerig het. Gaan saam.

Geniet die blaaskans. Môre is dit weer bloedig warm.


Hierdie rubriek het oorspronklik in Weg se Desember 2016-uitgawe verskyn.