Nee, vertel my ma, neef Jas se moeilikheid is van ’n veel onnatuurliker aard – in hierdie geval miskien selfs van die bonatuurlike soort...

Dit het alles begin by ’n onverklaarbare heuppyn wat hy ’n paar weke gelede oornag ontwikkel het. 

Die vervloekte heup pla naderhand só dat hy skaars kan loop – hy moet kort-kort gaan sit om te rus, en daarvoor het ’n skaapboer mos g’n tyd nie. Hy’t dan skaars tyd om dorp toe te gaan.

Neef Jas was al op die punt om die beste “tjirurg” in die Kaap te gaan sien oor die moontlikheid van ’n heupvervanging. Een middag is hy na die buurvrou – ’n afgetrede verpleegster – om raad te vra. Dis toe dat sy afkyk na sy voete en verbaas sê: “Maar Jas, jy’ t dan ’n onpaar skoene aan!” 

Hy buk vooroor, bly ’n rukkie stil, sug, en moet dan by nader ondersoek erken sy het gelyk. Dis nou wel twee skoene van dieselfde skakering donkerbruin leer, maar hy het inderdaad maats van twee verskillende pare aan: een met ’n dik sool en een met ’n dunne – ’n kerkskoen en ’n werkskoen.

Só dra hy hulle seker al weke lank. Die afspraak by die heupman in die Kaap word summier gekanselleer. Maar die einde van die raaisel oor die pyn sou nog lank nie die einde van sy probleme beteken nie. 

Die hele heupgedoente het hom behoorlik beneuk gemaak, en toe hy later daardie selfde dag met die terugry plaas toe sien daar is fout by een van sy belangrikste windpompe, is sy moer behoorlik kort.

Die uitlooppyp uit die sementdam langs die windpomp is verstop, maar die nodige materiale vir die herstel van die pyp het hy nie nou dadelik byderhand nie. Gereedskap het hy wel, want op die bak van sy rooi Ford-bakkie ry hy altyd ’n geroeste gereedskapskis saam. Maar hy kort ook iets om die verstopte pyp oop te druk, en hy is nottedêm lus om nou eers tot by die opstal en weer terug te ry. 

Soos dit ’n boer betaam, maak neef Jas ’n plan. Dis nou wel nie ’n edele plan nie, maar ’n plan, nietemin: Hy besluit om ’n dikkerige lengte yster van sy buurman se nabygeleë hek af te saag en dit in die verstopte pyp te druk sodat die water darem net weer kan deurvloei. 

Gegewe die waan van beneuktheid en reeds dubbele ongeluk dié dag, is die gevolge van sy dade nie nou van onmiddellike belang nie. Aan die gewraakte “blinde sambok” wat jou kwansuis straf vir jou wandade – en in hierdie geweste ’n gewilde verklaring vir die ongeluk is – het hy nie nou lus om te dink nie. Hy is bereid om sy kanse te waag.

Eers probeer neef Jas met die afgesaagde stuk yster die verstopping van buite af oopmaak, maar sonder geluk. By ondersoek blyk dit dat die redelik gesette neef Jas tot binne-in die sementdam sal moet klouter om die verstopping van binne af reg te maak.

Daar is taamlik water in die dam en ’n man wil nou ook nie ná die operasie met nat klere hoef terug te klim in jou bakkie nie. 

Maar dis nie die eerste keer dat hy hier in die middel van die veld in dié dam moet klim om die pyp van binne af oop te maak nie. 

Dus het hy ’n plan: Hy trek al sy klere – sowel as die verdomde onpaar skoene – uit en plaas dit netjies gevou in ’n hopie agterop die bak van sy rooi Ford. 

Die bakkie moet hy laat idle, want dié het oor die jare sy fut verloor en het reeds twee maal daardie dag gesukkel om aan die gang te kom (dit was ook die enigste voertuig op die ganse plaas wat wél vanoggend wou vat).

Om dié rooi ros se enjin af te sit hier in die middel van die oop veld op die hitte van die dag is dus nie ’n kans wat neef Jas wil waag nie. 

In sy adamspak klouter hy in die dam. Maar met die inklim word hy getref deur ’n besonder onaangename reuk, een wat die buurvrou se soetkoekies suur-suur laat herbesoek aflê in sy keel. Hy gooi sy blik oor die brak water en gewaar die sondaar: ’n Dooie, stinkvrot kraai dryf onheilspellend op die water. Summier gryp hy die ding aan sy een skurwe poot en gooi dit
swetsend oor die damwal buitentoe.

So ja, nou kan hy begin. 

Die volgende oomblik stamp hy sy toon hard teen ’n tamaai klip onder die water. “Maar jou bleddie…” mompel hy, gevolg deur nog ’n paar gekruide woorde. Hy gryp dié ook en werp dit woedend oor die sementdam se rand. Is daar dan vandag geen einde aan sy leed nie?

Met al die duiwelsdrek uit die pad kan hy uiteindelik begin met die herstelwerk. Wonder bo wonder verloop hierdie joppie besonder glad in vergelyking met al die beproewinge wat neef Jas al dié dag moes deurstaan.

Nie lank nie of ’n dunnerige straaltjie water sypel darem weer deur. Die pyp is oop, die saak is reg. En hy kan nog by sy Ford uitkom voordat dié se diesel opraak. 

Maar dis met die uitklimslag dat neef Jas ineens besef dat die heuppyn, die verstopte pyp, die stink kraai en die stukkende toon nog niks is teen die bomenslike uitdaging waardeur hy nou in die gesig gestaar word nie.

Daar waar hy poedelnaak tussen niks en nêrens in die warm Sandveldse son halflyf in die damwater staan, met ’n ryding wat sy laaste bietjie diesel staan en opslurp, trek ’n koue rilling deur neef Jas se lyf.

Hy besef skielik die klip waarteen hy sy toon gestamp het, was om ’n goeie rede daar: Hy het dit met sy vorige herstelwerk aan die pyp juis daar geplaas om op te trap sodat hy die rand van die dam maklik kan bereik wanneer hy weer moet uitklim. Nou is hy vas...

Terwyl die dieseltenk van sy bakkie met elke sekonde leër en die son al hoe warmer raak, besef neef Jas hy het nie veel van ’n keuse nie. Al genade is om te spring – so goed soos ’n naak, oorgewig, onfiks boer van in die vyftig met ’n verduiwelse heuppyn nou maar kan spring – en hom teen die wal op te trek.

Hy spring. Sy boepens skuur seer teen die growwe sementwal, maar sonder geluk. Hy spring weer. En weer. En nóg ’n keer. 

Só hou dit aan vir wat voel soos ’n ewigheid. Hy raak benoud, die sweet tap hom af. Sy maag en die binnekante van sy arms bloei naderhand van al die skrape.

Buite is slegs die sukkelende geproes van sy Ford se dieselenjin hoorbaar, soos een wat hom – salig onbewus van die onheil – aanpor om klaar te maak en te kom sodat hulle nou hulle ry kan kry. 

In ’n desperate oomblik oorweeg hy selfs om die pyp weer toe te maak sodat die dam langsaam kan volloop en hy dan na bo kan dryf. Maar nee, dít sal ook nie werk nie. Hy moet maar weer probeer om hom teen die wal op te trek.

Ná wat voel soos ure, slaag die uitasem neef Jas uiteindelik – en wonderbaarlik – daarin om ’n vashouplek te kry en hom uit te lig. 

Uitgeput, seer, bebloed en bewerig strompel hy na sy getroue rooi bakkie wat wonderbaarlik – veral gegewe die gebrek aan geluk wat hy reeds ervaar het – nog darem aan ’t luier is.

Nee kyk, nou wil hy net verdomp by die huis kom. Hy loop na die agterkant van die Ford om sy droë klere op die bak te kry. En dis hier waar die gedagte aan die sogenaamde blinde sambok die eerste slag deur neef Jas se gedagtes klap. Maar miskien is die term ongeluksvoël eerder gepas.

Want daar, mooitjies bo-op neef Jas se netjiese hopie klere, lê en wag die vrot kraai vir hom.

Onthou: Jy kan ook na van ons rubrieke in podcast-formaat luister, voorgelees deur die skrywers self. Klik hier vir nog inligting.