Ons het grootgeword met stories van my pa, Roelof, se manewales met sy Volkswagen Kewer. Ons het baie uitgevra oor foto’s waarop hy en my ma, Dalena, met ’n Fiat en woonwa in Namibië rondtoer. Die meeste stories oor my pa sluit een of ander vorm van wiele in. My ma het nog altyd gesê as sý wiele gehad het, het my pa haar lankal ingeruil of verkoop!

Daarom was dit nie eintlik ’n verrassing nie toe my pa met ’n “Helse avontuur” vorendag kom...

My pa se doelwit was om die Gamkaskloof – oftewel Die Hel – met sy 150 cc- bromponie baas te raak. Ek het al gehoor van mans wat snaakse dinge aanvang in hulle middeljare, maar in daardie stadium was my pa al 70 en daarom kon ons nie dié plan daaraan toeskryf nie.

’n Mens sou waarskynlik ver moes soek na iemand wat dié avontuur so ernstig opneem soos my pa, maar nie in ons geval nie. Dis omdat my man, Anton, in sy wese ’n ontdekkersreisiger is wat sukkel om nee te sê vir ’n uitdaging en graag onbekende grondpaaie gaan soek.

En so begin die storie van my pa wat sy skoonseun Hel toe vat op ’n bromponie.

Anton moes ’n bromponie soek, want sy KTM 990 is nié goedgekeur vir hierdie avontuur nie. Ons het op die internet gesoek en uiteindelik op ’n Yamaha 100 cc-fiets besluit wat ’n man op Malmesbury verkoop het. Ons het ons navorsing gedoen, en sien toe hy word beskryf as Yamaha se “grootwiel-bromponie” en selfs as “the ultimate offroad machine”. Dit was beslis die regte wiele vir hom.

En so begin die storie van my pa wat sy skoonseun Hel toe vat op ’n bromponie...

Nou kon die beplanning in alle erns begin. Die manne moes besluit wat hulle kon saamry en hoe hulle gaan maak om deur driwwe te ry. Die planne het gewissel: Hulle sou op die agterwiele deurstoot of die motorfiets deurdra en selfs ’n opblaasmatras gebruik om dit deur te sleep...

Een oggend in Oktober spring die bromponies by die Kanga-bergoord weg. Twee Pajero’s (albei met ’n 3,2 l-dieselenjin) is agterna as ondersteuningsvoertuie – my skoonouers, Richard en Emmie, in die een, en ek, ons dogtertjie van 7 maande, Lienka, en my ma in die ander.

Dit was ’n pragtige warm sonskyndag, ’n genade wat ons die volgende dag eers werklik sou waardeer. Die omgewing was skouspelagtig en ’n mens moes kort-kort stop om foto’s te neem.

Die Yamaha het agter my pa se Vuka- bromponie gebly. Ons kon die tweeslagenjin se blou rokie van ver af dophou. Die eerste 20 km was die Swartbergpas. Dit was ’n rowwe stuk pad, maar die entoesiasme was hoog en almal het nog dapper gevoel.

Ná ontbyt was ons reg vir die volgende 50 km – die pad Gamkaskloof in. Hulle ry oor die Gamkaskloof- en Elandspas en besef dat, anders as in die Bybel, die pad na hierdie Hel allesbehalwe breed is.

Gepraat van Die Hel... ’n mens moes seker ook die slang verwag het. Toe my pa die groot Kaapse kobra oor die pad sien seil, het hy skaars teruggekyk na sy skoonseun voor hy laat wiel het. Ons het daardie Vuka eers weer in Die Hel ingehaal.

Ná vier uur was ons almal in Die Hel. Die mense by Fonteinplaas ontvang ons vriendelik en dis nie lank nie voor ons met ’n bier ontspan. Dieselfde middag was daar ’n 1938-model Morris V8 by Fonteinplaas te sien. Dit was dieselfde model as die eerste motor wat 60 jaar vroeër hier ingebring is.

Ons het in die Sankie Marais-huisie van Kaapse Natuurbewaring gebly en daar die uittog uit die Hel begin beplan terwyl Skoonpa sy bekende stowehoenderpot maak. (Dis seker oor ons daardie hoenderpot so fyn dopgehou het dat ons die bobbejaan misgekyk het wat kom brood steel uit die kombuis...)

Die volgende oggend is ons vroeg op die kronkelpaadjie uit die Hel uit. Die weer het verander en daar is skielik reën in die lug. Die bromponies raak al hoe haastiger, maar dit is moeilik met die agterwieletjies wat so glip-glip na die slote toe. Ek het van agter af dopgehou hoe my pa se tekkies remskoene word. By Skelmdraai haal ons die bromponies in. Nou is dit ysig koud. Die wind en reën maak dit moeilik om veel vooruit te sien. Anton en my pa bewe só erg dat hulle tande behoorlik klap. Hulle sukkel om hulle valhelms af te haal om ’n sluk koffie in te kry.

Ons het almal mekaar so effens bekommerd aangekyk en nie mooi geweet wie is nou die naaste aan die grootste moeilikheid nie. Maar van omdraai of boedel oorgee is daar geen sprake nie. Ek is oortuig ons gaan oor ’n paar kilometer ’n man langs sy bromponie in die modder kry. Om op ’n mooi sonskyndag met ’n bromponie daardie paadjie te ry is al klaar ’n taamlike uitdaging. Hierdie was uitdagende weerstoestande vir goeie 4x4-voertuie – en dus belaglike toestande om dit met bromponies aan te durf.

Uiteindelik, seker net so vóór die kouekoors ingetree het, het my pa en Anton by Kobus se Gat ingeval. Hulle het met die hande omhoog voor die verwarmers gestaan en ontdooi terwyl ons vir hulle koffie aandra.

Hierdie was uitdagende weerstoestande vir goeie 4x4-voertuie – en dus belaglike toestande om dit met bromponies aan te durf.

Agterna is die omvang van die skade aan die bromponies vinnig nagegaan... en dit was verrassend genoeg minimaal. Die Vuka se batterykabelskroefies moes vasgedraai word en een agtergloeilampie was onklaar, terwyl die Yamaha net ’n gloeilampie geblaas het toe hy deur ’n waterdrif is.

Wat is dan nou die gepaste afsluiting vir só ’n avontuur? Eerstens ’n goeie skoot dankbaarheid vir die gesondheid om dit te kan aandurf, en om familie en vriende te hê wat laf en dapper genoeg is om dit mee te maak. Natuurlik dan ook die vooruitsig van die volgende avontuur... dalk die Sederberg se Posroete of selfs die Sanipas? Net die tyd sal leer...