Elke kind moet ’n boomhuis hê. Hier geld jóú heerskappy. Jou ma kan jou nie beveel om jou boomhuis aan die kant te maak nie. Dis buite haar jurisdiksie.

Reg van toegang word voorbehou. Indien jy wil ontsnap van ’n mededingende kinderbende, ’n irriterende kleinsus of ’n ouer met ’n houtlepel – dan trek jy eenvoudig die hangleer op. Die hangleer: die boomhuis se weergawe van ’n trekbrug oor ’n klipfort se grag.

Ek kén van boomhuis bou. Nog voordat ek skool toe is, het ek en my beste pêl en buurman, Willie van Tonder, ’n klein houtplatform in ’n boom in ons erf aanmekaargeslaan.

Dié platformpie het ontaard in ’n dekade lange konstruksieprojek wat op sy hoogtepunt ’n seweverdiepingboomhuis was met lopende water, elektrisiteit, ’n kaggel én ’n hysbak.

Dís hoe jy ’n boomhuis bou.

Vind die regte boom

Die ding wat die meeste kinders van ’n boomhuis weerhou, is nie ’n gebrek aan wil of boumateriaal nie, maar die gebrek aan ’n boom. En nie enige boom nie: ’n boomhuis-boom.

Hoe groter, hoe beter. Jy soek ’n boom met die moontlikheid vir vertikale én horisontale uitbreiding. Maar daar is ’n paar ander faktore wat jy ook in gedagte moet hou.

Ek het grootgeword op Ladismith, en een van die voordele van grootword op ’n plattelandse dorp is die groot erwe. Soos baie erwe op Ladismith het ons ’n voortuin gehad met ’n grasperk en roosbeddings, en ’n agterplaas met ’n paar vrugtebome, ’n sementbesproeiingsdam en ’n groentetuin.

Die eerste boom waarin ons probeer bou het, was ’n vyeboom in die agterplaas. Hoewel hy ’n dik stam gehad het, was daar nie baie bouspasie nie. En wanneer jy van die jong takkies gebreek het, is jy bemors met taai wit boomsap.

Die ding wat die meeste kinders van ’n boomhuis weerhou, is nie ’n gebrek aan wil of boumateriaal nie, maar die gebrek aan ’n boom. En nie enige boom nie: ’n boomhuis-boom.

Vir die volgende probeerslag het ons verskuif na ’n perdestertboom in ons voortuin. Die dik takke van dié boom strek wyd; dus perfek vir ’n platform – en ’n platform is natuurlik die fondasie van jou boomhuis.

Maar die perdestertboom se bas is grof. In die konstruksiefase gaan jy baie lank aan takke moet klou, en ’n growwe bas is nie jou vel se vriend nie.

Tog is die grootste ding wat teen die perdestertboom getel het, die borsels aan die takke. Ons moes gereeld op die vlug slaan vir die hordes bye gelok deur die rooi blomme.

Willie se pa was die dominee. En op die heilige grond van die pastorie het ons ons bobaas boom gevind: ’n massiewe sering.

Nie net het die boom baie bouspasie gehad nie, maar die bas was glad, die takke sterk, en die sering se ander inwoners wou ons nie leed aandoen nie.

Kies die regte materiaal en toerusting

’n Ander vriend van my het op hulle kleinhoewe buite Ladismith ’n boomhuis gebou met riete.

Riete!

Laat jy hulle in die son bak vir ’n paar weke en jou vloer is in sy peetjie.

Enigiets swakker as soliede plank en jy soek vir moeilikheid. Gewoonlik sal jy by jou pa moet bedel vir planke, maar ek en Willie was gelukkig. Tussen ons twee gesinne se huise was daar ’n 3 m hoë teerpaalheining, wat afgebreek is toe ek sowat vyf jaar oud was. Die teerpale is op ’n hoop gegooi in ons agterplaas – boomhuis-boumateriaal vir baie jare.

Jy het nie baie toerusting nodig nie, net ’n hamer en ’n saag. Enigiets meer is sommer af-show.

Probeer jou uitgawes so laag as moontlik hou, maar maak reg om wel ’n bietjie sakgeld in jou boomhuis te belê. Planke en gereedskap kon ons bedel en leen, maar oor my skooljare heen is ’n beduidende porsie van my sakgeld gebruik vir spykers.

Sakgelddag het ek en Willie ons munte bymekaar gesit en by die klein ysterwarewinkel oorkant die stadsaal in Koninginstraat vierduimstaalspykers, toegedraai in bruinpapier, gaan koop.

Kry handlangers

Boomhuisbou is ’n spansport. Planke moet aangegee word, in posisie gehou word, en wanneer die eerste dwarsbalk ingesit word, het jy ’n ekstra paar oë nodig om te kyk of alles waterpas is (iets wat ek deesdae net doen wanneer my vrou my vra om ’n portret of iets in die huis te hang).

Dis vet pret om die boomhuis te sien vorm aanneem en dis soveel lekkerder om die proses met jou beste pêl te deel. Daar is egter altyd donkiewerk betrokke. Dis waar ’n jonger boetie in die prentjie tree.

Gelukkig het ek en Willie albei ’n kleinboet. My broer, Servaas, en Willie se broer, Danie, is ingespan.

Boomhuisbou is ’n spansport. Planke moet aangegee word, in posisie gehou word, en wanneer die eerste dwarsbalk ingesit word, het jy ’n ekstra paar oë nodig om te kyk of alles waterpas is.

Die geheim is om die kleinboeties te oortuig dat hulle gelyke aandele in hierdie bouprojek het, want gelukkige handlangers is hardwekende handlangers.

Maar wanneer dit kom by uitvoerende besluitneming, beteken senioriteit alles – al verskil ek en Servaas maar met net tien maande.

Wanneer jy besig is om na aan die bopunt van die boom te bou en jou spyker val grond toe, is dit handig om iemand byderhand te hê om dit te gaan haal.

Dankie, Danie.

Tierlantyntjies

Jy sal verbaas wees wat ’n mens kan maak met weggooigoed wat in bure se agterplase rondlê. Baie daarvan het ’n tweede lewe gevind in ons boomhuis.

Reg agter ons erf was die kerk. Toe hulle die buitebadkamers regmaak, het ons gedeeltes van die asbesdak gebruik om ’n kaggel in die boomhuis uit te lê. As ek nou daaraan dink, was dit nie die gesondste ding nie, maar dit het gewerk.

’n Net wat ek een vakansie op Stilbaai-Wes se strand opgetel het, het jare lank diens gedoen as ’n hangmat.

Heel bo in die boom het ons ’n klein kraaines gebou. As jy regop staan, kyk jy bo die boonste kroonblare van die boom uit. Maar deur ’n 25 l-plastiekhouer vol water te installeer het jy nie ’n pomp nodig om lopende water in die boomhuis te hê nie – swaartekrag doen daai werk vir jou.

Elektrisiteit aanlê was maklik. Ons het die verlengkoord uit my pa se kampkrat “geleen” en aangelê van ’n kragpunt uit die motorhuis. Nie net het ons toe krag vir ’n werklamp nie, maak ook vir ons tape deck as die batterye pap was.

Een jaar het ons tuinman ’n klomp blare bymekaar gehark en in streepsakke gesit. Maak sowat vyf streepsakke vas aan een kant van ’n tou, aan die ander kant ’n stuk stomp om op te sit en gooi dit oor ’n sterk tak naby die boomhuis en voilà, jy het ’n hysbak met ’n teengewig.

Maar die ding wat in daardie jare regtig ’n boomhuis gemáák het, was ’n foefieslaaid. Met ons eerste probeerslag het ons ski-tou gespan tussen die boomhuis en ’n nabygeleë pruimboom, met ’n 30 cm lange stuk swart besproeiingspyp (wat oor die ski-tou pas) waaraan jy vashou.

Die wrywing tussen die twee het egter vinnig die pyp laat smelt, en dit was ook heeltemal te stadig. Ons het spoed gesoek. Tyd om op te gradeer.

Ons kry toe staaldraad, vou dit dubbel, maak dit by die boomhuis vas en span dit oor die groentetuin en ’n sementdam tot teenaan die pastorie se grensdraad sowat 30 m van ons boomhuis af.

Voor ons die draad vasmaak, ryg ons ’n staalpyp deur om aan vas te hou, en smeer die draad met ghries.

Blitsig!

Fred Mouton
Skets: Fred Mouton

Hou ’n noodhulpkassie byderhand

Ek was eendag besig om te hamer aan ’n balk op ’n platform sowat halfpad teen die boom op, toe iets langs my val. Willie was besig om te saag verder op in die boom, en ek kyk op om vir hom te sê om versigtig te wees met sy gereedskap. Maar daar waar Willie was, was net sy saag.

Willie lê en kreun onder op die grond. Jy sal verwag dat iemand al gillend uit ’n boom val, maar uit ervaring weet ek die hele onaangename gedoente is maar ’n stil affêre. Net ’n geritsel van blare en kraak van takkies op pad ondertoe. Gelukkig is die boom redelik dig, en teen die tyd dat jy onder kom, is die meeste van jou spoed deur kleiner takke gebreek.

Elkeen van ons vier – dis nou saam met ons boeties – het ten minste een keer uit die boom uitgeval. Die meeste van ons meer as een keer.

Nie net is boomhuisbou ’n spansport nie, dis ook ’n kontaksport.

Jy sal verwag dat iemand al gillend uit ’n boom val, maar uit ervaring weet ek die hele onaangename gedoente is maar ’n stil affêre. Net ’n geritsel van blare en kraak van takkies op pad ondertoe.

Raakgekapte vingers, splinters, skaafplekke en ’n bysteek of twee is die prys wat jy betaal. Al ons beserings kon gedokter word met ’n pleister en merkurokroom in die ergste gevalle.

Almal behalwe een.

Eendag het ons besluit dat om one-hand by die foefieslaaid af te gaan baie cool sal wees.

Willie probeer eerste. Hy vat met al twee hande die staalpyp, en halfpad teen die foefieslaaid af los sy een hand. Sy ander hand kom dadelik los en hy ploeg tussen ’n klomp ertjieplante in, maar behalwe vir ’n paar af-nerwe was hy ongedeerd.

Ek probeer volgende, met dieselfde tegniek. (Kon ek nie maar uit sy fout geleer nie? Nee.) Die probleem is: Sodra jy jou een hand van die pyp afhaal, verskuif die gewig van jou lyf effens, en dié onverwagte momentum draai die pyp só erg dat dit jou hand wat moet vasklou, van die pyp af dwing. Doef. Nog ’n paar van mev. Dominee se ertjieplante bly in die slag.

Servaas is volgende en hy maak ’n slimmer plan: Hy gaan met een hand begin. Die pyp het skaars ’n meter oor die staaldraad gegly toe val hy, bykans drie verdiepings ver met niks behalwe sy arm om sy val te stuit nie.

Terwyl my pa die 160 km George toe jaag met Servaas op die agtersitplek en ’n arm wat wys in ’n rigting wat dit nie moet nie, moes ek en Willie kyk hoe ds. Van Tonder met ’n draadknipper in die boom opklim.

Beplan jou boomhuis

Hoekom is hierdie punt nie heel eerste nie? Want dit is van min belang. Ja, dis goed om ’n rowwe idee te hê van wat jy wil doen, maar wees aanpasbaar met jou planne.

Ek wil nie soos ’n swami klink nie, maar laat die boom met jou praat.

Onthou ook: Jou boomhuis moet nooit klaar wees nie. Daar was kere wat ons boomhuis “klaar” was. Ná skool sal ons almal in die boom opskiet en in die boomhuis kuier. Ons het selfs ’n paar aande daar geslaap.

Maar kort voor lank het ons na mekaar gekyk en gevra: “Nou wat nou?” Dan is planke uitgeslaan, spykers uitgetrek (as hulle krom uitkom, het ons hulle op ’n baksteen weer reguit geslaan) en ons het van voor af begin – want om ’n boomhuis te bou is baie lekkerder as om een te gebruik.

Vyftien jaar lank het ons gesin in die Kaaps-Hollandse huis in Albertstraat gewoon. Ons het verhuis toe ek 17 jaar oud was, en ons het omtrent tot op die laaste nog gebou aan die boomhuis.

Elke keer as ek deur Ladismith ry, vat ek eers ’n ompad verby ons ou huis. Sedertdien het die Van Tonders ook getrek, en toe ek anderdag in hulle ou oprit opkyk, het ek gesien ’n afgesaagde stomp is al wat oor is van die geliefde seringboom waarin ek soveel ure van my kinderjare deurgebring het.

Dalk het takke te na aan kragdrade gekom, dalk het die wortels begin fondasies lig, dalk het die boom net siek geword. Ek weet nie, maar ek is seker daar was nog ’n paar teerpale aan die boom vasgespyker toe hulle hom afgesaag het.

Ek dink sedertdien al meer aan daai stomp, want dit staan nou daar soos ’n monument ter herinnering aan my kinderjare.

Elke kind moet ’n boomhuis hê. My dogtertjie, Essie, is nou ’n jaar oud en in ons agterplaas is ’n jamboesboom waarop ek my oog het...