Ek vermoed dit het alles begin die dag toe my vrou vir my ’n elektriese tandeborsel present gegee het.

Van dag een af het ek die ding gehaat. Dit maak ’n onaardse geraas. Dit kielie my tande. Dit voel asof ek ’n veiligheidshelm moet opsit as ek die affêre aanskakel.

Dis vir my ongelooflik dat die mensdom kan toelaat dat die toegepaste ingenieurswese selfs ’n eenvoudige, alledaagse aksie soos tande borsel beïnvloed.

Ek wou net één naweek ontsnap van my elektriese tandeborsel.

Toe sê ek die woord “kamp”, al is ek en Kannetjie hoegenaamd nie buitelugmense nie. Daar en dan begin ons kinders, Simon en sy suster, Marleen, pleit: “Ons moet ’n kamperende gesin wees!”

O, die skrikgedagte!

Hoe sê ’n mens vir jou kinders nee as hulle aandring op iets wat inherent so edel is? Wie wil nou kinders grootmaak wat heeldag in die mall rondlê, bose Afrikaanse hip-hop luister, en hulle broek laag op die agterstewe dra?

Hoe sê ’n mens nee vir die hunkering in jou eie siel?

So neem ons toe uiteindelik die Groot Besluit. Ons sou een naweek – nét twee slapies – opruk na ’n nabygeleë kampeerterrein by Onrusrivier, een met modern geriewe. In ’n hengse groot ryhuis wat Kannetjie vir ons oor die internet gehuur het.

Hoekom ’n ryhuis?

“Gewoonlik is die ablusiegeriewe baie ver,” het sy verduidelik, “en as jy ’n camper het, hoef jy nie in die nag soontoe te stap as jy ’n piepie het nie. En die kinders kan in hulle tente slaap. Hulle wil mos uitkamp.”

Ons het vir die kinders gesê hulle kan elkeen ’n maatjie saambring.

En net om veilig te wees het ons ander mense saamgenooi vir morele en praktiese ondersteuning: Kristoe, die enigste van my pêlle wat in die Voortrekkers was en weet hoe ’n mens tentpenne inkap; my skoonpa, wat alles van vuurmaak en braai af weet; en my kinders se eertydse kleuterskooljuffou, Melanie, om te help toesig hou.

Twee onrusbarend entoesiastiese ouens het die camper by ons voordeur kom aflewer. Omtrent ’n halfuur lank het die hiperhulpvaardige Rodger vir my verduidelik hoe elke ding werk.

Dit is iets ongeloofliks! Daar is tafeltjies en beddens wat ’n mens kan op- en afslaan. Daar is kragpunte en hoofskakelaars, en ’n chemiese toilet wat só ingewikkeld is dat ’n mens omtrent ’n internet-modem nodig het om hom te laat werk.

Die hele affêre, moet ek erken, was vir my soos ’n tegnologiedoolhof. Skielik was my elektriese tandeborsel iets uit die oertyd.

Ons pak die kinders se tente in en val uiteindelik in die pad. Ek is dadelik mal oor die camper se diep dieselbrom en die rit Onrus toe verloop sonder voorval.

By die staanplek kry ek dit reg om al die elektriese kabels op die regte plek te koppel. Maar Kristoe en sy vrou daag toe só laat op dat my vrou al drie die tente alleen moet opslaan.

(Ek wou graag help, maar ek was besig met belangriker dinge, soos om die ablusiegeriewe te soek en al die elektriese goeters in die camper uit te sorteer sodat ons kan koffie maak.)

Vier uur later is al drie tente opgeslaan. Twee van hulle lyk effens skeef (en daar het heelwat dele oorgebly), maar hulle staan.

Toe Kristoe-hulle aankom, kry ons ’n vuur aan die gang, maak ’n paar wynbottels oop en braai.

Op die ou einde is dit ’n gedenkwaardige aand.

Die eerste Groot Krisis tref ons toe ek en Kannetjie wil gaan inkruip. Die enigste gerieflike dubbelbed in die bus is op presies dieselfde plek as waar die tafel staan. Maar hoe verander ’n mens ’n tafel in ’n dubbelbed?

Ons probeer alles: herrangskik kussings, probeer die tafel opvou, soek na versteekte panele, knoppies, remote controls, enigiets.

Maar die tafel verseg om in ’n dubbelbed te verander.

“Ek dog Rodger het vir jou alles verduidelik?” vra Kannetjie later moedeloos.

“Moenie worry nie,” probeer ek haar paai. “Ek het sy nommer; ek bel hom gou.”

“Dis halfeen in die nag!” kap sy terug. “Ons kan nie die man nou bel nie!”

Uiteindelik, ná nog ’n halfuur se swets en vele subtiele (en minder subtiele) verwysings na egskeiding, kry ons dit wonder bo wonder reg om die tafelpoot af te skroef en die tafelblad onder die matras in te skuif.

Dís mos die lewe! As kampeer so lekker is, doen ek dit sommer van nou af elke naweek!

Toe ek daar langs Kannetjie inskuif – skimpe van egskeidings vergete – is ek vir die eerste keer rêrig bly ons het kom kamp.

Eers die volgende oggend besef ek hoe naby die kampeerterrein aan die see is.

Wat ’n vreugde om douvoordag wakker te skrik in ’n luukse kampeerbus, op ’n gemaklike dubbelbedmatras langs jou eie vrou. Jy staan op, gaan sit met ’n koppie stomende koffie op ’n opslaanstoel en staar in die eerste grys lig van die daeraad na die branders.

Dís mos die lewe! As kampeer so lekker is, doen ek dit sommer van nou af elke naweek!

Maar toe begin Kristoe-hulle en die kinders in hulle onderskeie tente ontwaak, en almal wil die spoeltoilet in die camper gebruik – die ablusiegeriewe is glo te ver.

Soos die naweek aanstap, word ek al hoe meer bewus van die onheil wat besig is om my te bekruip. Een of ander tyd moet die ding skoongemaak word…

Skoonpa-hulle kom later die dag daar aan, en kort daarna prut ’n hoender-en-groentepotjie op die kole. Melanie daag uit Somerset-Wes op, saam met haar 17-jarige dogter Tilanie, ook ’n heel ervare kinderoppasser.

Tussen die twee van hulle sorg hulle dat die kinders swem, op uitstappies gaan, Monopoly speel, in die tente sit en vir mekaar spookstories vertel (met gepaardgaande gille en daaropvolgende nagmerries) – alles wat kinders op ’n kampnaweek moet en wil doen.

Dis in feitlik alle opsigte ’n idilliese Saterdag. Eintlik hoef ek niks verder daaroor te sê nie.

Vir omtrent twaalf kort uur is ons die perfekte kamperende gesin.

Maar toe breek die Sondagoggen aan…

Ons stuur die kinders saam met Tilanie see toe en slaan die staanplek gade. Kristoe-hulle is weg, en skoonpa-hulle is ook vort. Dis net ons. Ons… en ’n ongelooflike chaos.

Die plek lyk soos ’n oorlogstoneel: Tekkies, Monopoly-geld, nat baaikostuums en handdoeke, leë wynglase en bottels, en berge vuil skottelgoed lê oor ’n gebied van seker 200m2 gesaai.

“Doen julle gou die res,” sê ek vir Melanie en my vrou, “dan sort ek die toilet uit.”

Hulle kyk onseker na my. Ek besef hulle bewonder my omdat ek so dapper is. Maar nou ja, wat kan ’n man doen? Ek kan tog nie van twee vroumense verwag om alles self te doen nie.

Ek sluit die kompartement aan die buitekant van die camper oop en sleep die affêre uit. Dit lyk soos ’n groot, grys aktetas, vol kleppe en pype en handvatsels. En dis geweldig swaar.

Ek kry die besigheid aan die handvatsel beet en begin stap, ablusiegeriewe toe. So ver as wat ek stap, klots-klots die spulletjie.

Toe ek uiteindelik by die badkamers aankom, sleep ek die kontrêpsie tot by die verste toilet. Ek sit dit neer en staar daarna.

Maar watter klep moet ek nou eerste oopdraai?

Ek sit die ding onderstebo op die toilet en draai die eerste klep oop. Niks gebeur nie. Ek voel-voel aan een van die ander kleppe…en meteens spuit ’n dik straal geel vloeistof daaruit – omtrent soos in ’n stormwatersloot.

Ek spring op en af terwyl ek blitsvinnig probeer red het wat te redde is. Maar dis te laat: My Crocs is sopnat.

Eindelik kry ek dit reg om die apparaat min of meer te ledig.

Maar waar ek staan, is daar nou ’n diep plas. En toe ek die toiletdeur oopsluit, sien ek tot my verskrikking dat die plas tot daar by die heel eerste toiletdeur strek.

Vir ’n oomblik staan en tob ek oor die morele implikasie van my dilemma. En dan gryp ek my aktetas – nou aansienlik ligter – en maak dat ek wegkom.

Ná wat soos ’n ewigheid voel, is alles eindelik min of meer op sy plek en die staanplek skoon.

Toe ek egter ons groot tas klere probeer ophys na die pakplek bo die tafel, word iets geaktiveer. “Kom kyk gou, Kannetjie!” roep ek benoud. “Ek het iets verkeerd gedoen! Ek dink die camper gaan ontplof!”

“Dis nie die camper nie,” sê Kannetjie. “Die geluid kom uit ons bagasie uit.”

Soos blits is sy op teen die leertjie en rits die tas se sysakkie oop. En daar staan sy triomfantelik met my elektriese tandeborsel in die hand.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #68 (Junie 2010) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook