My vriend Erns was agter die stuur toe ons anderkant Mount Fletcher regs draai Rhodes toe. Dit was nie ons eerste stuk grondpad van die dag nie en Erns is ’n heel gangbare Serge Damseaux, ondanks die gebons van sy pupille.

Vroeër het ’n avontuurlustige regsdraai by Swartberg ons op een van daardie seldsame grondpaaie uitgespoeg: Ons padgenote was een boer in ’n bakkie, ’n paar jakkalsvoëls en baie rustigheid, soos net hierdie hooglande in die middel van die winter rustig kan wees.

Dit was ’n eensnaarkitaarpad en ons was die vinger wat die noot hou.

Daar was dus geen twyfel by ons dat hierdie nuwe grondpad waarop ons nou Rhodes toe gery het, dieselfde sou wees nie. In my rol as navigator Vito Bonafede het ek bereken dat ons nog sowat 100 km oor het Rhodes toe, waar ek geweet het ’n kaggel, goed verniste kroegtoonbank en warm bed op ons wag by die Walkerbout Inn.

Ek het nog altyd van Barkly-Oos se kant af Rhodes toe gery, dus was hierdie roete oor Laer-Pitseng en Naudesnek ’n nuutjie vir my. Ek het geweet Naudesnek het ’n reputasie – dis die tweede hoogste pas in die land en dus nie sommer ’n hierjy Polly Shorts nie.

Ons het ’n paar keer stilgehou vir foto’s onder die naamlose sandsteenkranse wat bo ons uittoring in geel en bruin, terwyl mense plek-plek beeste kraal toe jaag en kleurryke wasgoed droog word oor doringdraad tussen hutte versprei oor heuwels soos verloopte strooihoede.

Ja, vreedsaam. Ons het van oor tot oor geglimlag, die room gesteel.

Toe bereik ons ’n bord wat sê: “Pad gesluit behalwe vir 4x4’s”. Simpel, het ons gedink, die pad makeer dan niks.

Trouens, dit was nie eers as ’n pas op ons kaart gemerk nie. Daar was net ’n bietjie modder. Ons ry toe maar eenvoudig om die bord.

Het ek al genoem dat ons ’n Nissan-1400-bakkie gery het? Ons het. Die kampioen van Afrika, voorwaar.

LAER-PITSENG HET na die sort plek geklink waar mens ingelegde perskes by ’n padstal sou kon koop, maar toe ons daar kom, was daar net ’n polisiestasie agter ’n hoë heining, ’n skool en ’n man op ’n trekker. Ons het net gewuif en verbygery.

Die pad het vinnig slegter geword.

Erns se oë het begin bewe soos ’n spieëlkarp s’n in soutwater. Hy het begin sweet en daai suig-klapgeluid met sy tong begin maak. Dit beteken net een ding: Erns is senuagtig, het van plan verander en is op die punt om jou hiervan te vertel – maar hy gaan dit as ’n eenvoudige voorstel versluier.

Ek’t geweet wat kom.

“Wat dink jy?” het hy begin, tong wat suig-klap, sweet wat pêrel. “Sal ons eerder terugdraai?”

Die voorstel het ongemaklik tussen ons gelê, soos ’n skoen waarmee iemand in ’n hondebol getrap het.

“Nee,” het ek gesê. “Dalk raak die pad beter. Maar laat ek bestuur.”

En so het ek Serge die bestuurder geword en hy Vito die navigator. Ek’t versigtig bestuur oor die los klippe, die bakkie wydsbeen gebalanseer oor die diep slote. Nie ’n skrapie nie.

Ná ’n ruk het ons ’n plato’tjie bereik.

Ons het stilgehou en die uitsig bewonder.

Van iewers het ’n diep, hinkende koor ons ore bereik. Die volgende oomblik het ons hulle sien verbyvlieg: Mahem-kraanvoëls!

Onder in die vallei waaruit ons geklim het, het die skaduwees al diep begin lê.

Oorkant het die vlamme van ’n sandsteentandberg soos die rugpantser van ’n oerdier in die ligpers lug ingesteek.

Van iewers het ’n diep, hinkende koor ons ore bereik. Die volgende oomblik het ons hulle sien verbyvlieg: Mahem-kraanvoëls!

Twintig, dertig van hulle. Ons het net stilgestaan en gekyk en geluister.

Ja, ons het die regte besluit geneem om verby daardie waarskuwingsbord te ry. Hierdie was heilig. Omdraaiers sien nie mahem-kraanvoëls nie. Omdraaiers sit agter diesellorries vasgekeer op voos geryde stukke teerpad.

HIERNA HET DIE PAD nog slegter geword. Plek-plek moes ek vir Erns vra om uit te klim, sodat hy klippe in van die diep slote kon pak, sekerlik nie iets waarmee Serge ooit vir Vito tydens ’n Barberspan 500 opgesaal het nie.

Maar ons moes, want die pad het nou ’n nuwe dimensie aangeneem: Diep trôe en rûe van ’n donga. Erns moes klippe pak en ek het die Nissan millimeter vir millimeter voort gemaneuvreer, soos Pick-Up Sticks.

Die pad was skokkend sleg: Dit was net slote, kaal rotsbanke en los rotse.

Ons het nou na Rodriguez op die bakkie se kassetspeler geluister, wat kalmerend was (behalwe vir die feit dat die gezonkte blues van “Sugarman” my altyd aan die grensoorlog laat dink en ek was nie eens in die army nie).

Teen sewe-uur was dit stikdonker en die pad nog niks beter nie. Ons was nie meer bloot twee mans op pad na ’n bestemming nie. Nee, ons was nou twee mans wat die juk moes dra van ons eie hardkoppigheid. Dit het soos swaar kleuters op ons skouers gesit.

’n Nissan 1400 is gebou vir baie dinge, maar nie vir paaie soos dié nie. Snoekverkopers, ja, hulle ry 1400’s met die agterste flap afgeslaan en roepend deur jou buurt. Studente op pad intervarsity toe, ja, hulle ry 1400’s met ’n vrag vol bier en meisies.

Die Pitseng-pas? Eerder nie.

Maar ons het nou ’n missie gehad, ’n klinkklare doelwit. Ons was so naby Lesotho dat dit soos ons eie klein grensoorlog begin voel het.

Rhodes was die mikpunt. In ons kop het dit ’n vaste vorm gehad – dié van ’n warm bed en dit het geruik na ’n lekker maaltyd en honde wat warmgebak voor die kaggel lê.

Ons was nou al so lank op die pas dat ons vermoed het ons was reeds op Naudesnek.

Dit maak mos sin: Dis veronderstel om ’n tawwe pas te wees en ons was besig om swaar te kry.

Skielik het daar ligte voor in die pad verskyn. Nog mense! Ek’t van die pad probeer trek so ver as wat dit moontlik was, want dit was een van daardie groot Mercedes-trokke, hoog op die as, ’n regte bergtrok.

Ek’t nonchalant by die bakkie se venster uitgeleun, asof ek die man in die trok iewers in die hoofstraat van ’n klein dorpie wou stop om te vra hoe sy dorpers vanjaar lam.

Die trok was soveel hoër as ons 1400 dat hy vir my soos ’n Romeinse keiser op een van daardie draagbare trone gelyk het. Die man het iets in Sesotho geswets, toe oorgeslaan na Engels. “What are you doing on this road? It’s really bad!”

“Yes...” was egter al wat ek kon stotter, terwyl ek in die rigting waarvandaan hy gekom het, getuur het asof daar dalk ’n antwoord sou lê.

“But it gets better not far from here,” het hy gesê: “Where are you going?”

“Rhodes.”

“Tshweeet,” het hy deur sy tande gefl uit: “It’s still very far, maybe another 50 km.”

Dit is nie wat Erns wou hoor nie. Hy het die bottel Old Brown Sherry wat ons op Mount Fletcher gekoop het, oopgeskroef met die seepgladde geknars van ’n Sako-jaggeweer wat ’n leë doppie uit die slot ruk.

Die trok het voortgerammel en om ’n draai verdwyn. Ons was weer alleen. Ten minste was die lorriedrywer reg. Die pad hét begin beter raak.

Mettertyd het ons ’n vurk in die pad bereik – links Maclear toe en regs Rhodes toe. Dit blyk ons het nog nie eens Naudes-nek begín klim nie...

Ons moes steeds stadig ry, want dis mos ’n steil, fyndraai-pas. Tog het ons die bo-punt bereik, sonder dat Erns verdere padverbouings moes doen.

Dit was vrek koud, want ’n fout in die Nissan se kajuitontwerp het veroorsaak dat die een venster nie kon opdraai nie (die fout was eintlik by Erns – hy moes dit laat regmaak voordat ons die pad gevat het).

Dit was ’n oop, maanlose nag en die sterre iets bonatuurliks, maar die wind het deur die nek gewaai asof dit die hele Oos-Kaap se wind was en hierdie die enigste oop deur.

Toe ons uiteindelik bo-op die nek uitklim om ’n foto te neem by die bordjie waarop die hoogte bo seespieël staan, het ons volksgene ’n paar Racheltjie de Beer-oomblikke oor ons breine laat spoel.

Dit was vloekwoordkoud.

Dit was ’n oop, maanlose nag en die sterre iets bonatuurliks, maar die wind het deur die nek gewaai asof dit die hele Oos-Kaap se wind was en hierdie die enigste oop deur.

Daar bestaan net een foto van ons verowering van die berg: ’n Baie onvleiende een van Erns voor die bord, bottle OBS vasgeklem in een hand, ’n maniese glimlag op sy gesig, so al asof asprispikkewyne hom in ’n sneeustorm kielie.

ONS HET VERDER GERY. Ons sin vir humeur was plek-plek maar diep in die rooi. Ons het probeer dink wat ons sou doen as ons kar hier sou breek. Ons het min kos by ons gehad, net ’n bietjie Mexican Chilli-tjips en ’n pakkie gemmerkoekies wat ons twee dae vantevore by die petrolstasie op Verulam gekoop het.

Ná wat soos ’n week gevoel het, het ons ligte in die verte gesien. Dorpsligte dié keer. Net voor tien die aand het ons Rhodes binne gery. Die tog van 100 km het ons byna ses uur geneem om af te lê.

Dave Walker was nog wakker by die Walkerbout Inn. Ons het selfs ’n ete gekry. Later het ons ’n sinlose sokkerwedstryd op televisie gekyk en toe omgekap en gaan slaap. Goed geslaap.

Ek het anderdag weer by Pitseng-pas saam met my ma afgery. Hulle het intussen die pad reggemaak en dit het ons skaars ’n kwartier geneem voor ons onder in die vallei uitgekom het by Laer-Pitseng.

Ja nee, hulle neuk altyd die lekker goed op...


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #25 (November 2006) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.