Nou die dag vra iemand my: “Wat’s jou favourite James Bond-fliek?”

Moonraker,” antwoord ek ferm. “Moonraker.”

“En jou favourite Bond?”

Dis ’n tawwe een. Natuurlik het ek van Sean Connery gehou. Connery is die Bakkies Botha van James Bonds: Stil, maar gevaarlik. Tog, Connery was miskien effens te veel van ’n gentleman.

Timothy Dalton, weer, was nie ’n onaardige 007 nie, maar soms het hy te hard probeer om Bond soos Hamlet te laat  klink. En Pierce Brosnan met daai getinte brillense van hom… Nee wat.

Ek is maar ’n RogerMoore-man.

Roger kon net sy regterwenkbrou so effens lig, dan weet jy, uh-uh, hier kom gróót marakkas. ’n Hele paar lyfwagte gaan binne die volgende 30 sekondes met strikdas en al deur groot glasvensters gegooi word.

Ou Roger is my soort Bond, al het hy sy broek ’n sentimeter of vyf te hoog opgetrek, en al het hy en Harry Steyn my eenkeer sleg in die moeilikheid laat beland.

Dit was Harry wat een Donderdag in 1979 gesê het hoekom gaan kyk ons nieMoonraker in Sterland, Pretoria, nie –Moonraker, met Roger in die hoofrol.

Dit was makliker gesê as gedaan: Ons was laaities in st.9 en het karloos in die J.G. Strijdom-seunskoshuis op  Nylstroom gesit, meer as 150km van Pretoria af. Of blykbaar was dit net vir my ’n probleem.

“Dis easy,” het Harry gesê, “ons bunk net môre skool en skiet deur P-town toe.”

“Uh?” wou ek weet. “Hoe?”

“Ons hike, of course.”

Ek kan nie onthou of ek dadelik ingestem of eers ’n bietjie oor die ding getob het nie. Ek weet net: Die bekommernis het my beetgepak.

Sê nou iemand sien ons en gaan split ons by Ore, die koshuisvader?

Of by Kopbeen, die hoof? Sê nou ons word geskors?

Om skool te bunk is nie naastenby so ’n aangename ervaring soos wat jy dink dit behoort te wees nie – nie vir ’n bang bunker nie. En ek was bang, baie bang.

Die nag voor ek en Harry Pretoria toe is, het ek maar min geslaap.

Sê nou die polisie of ou Herbst, die spietkop, sien ons langs die pad, vang ons en vat ons na Ore of Kopbeen toe? Sê nou ons kry elkeen ses van die bestes?

Erger: Sê nou ek en Harry word gevang en na die verbeteringskool gestuur? In ons kop was Standerton se  verbeteringskool in dieselfde liga as die konsentrasiekamp in Heinz Konsalik se Strafkamp in die berge, ’n boek wat ons almal gelees het. 

ONS HET DAARDIE oggend donkervroeg opgestaan, ek en Harry. Dit was ’n Vrydag. Ons sou die aand in Pretoria by  Harry se tannie in Proklamasieheuwel slaap en die volgende dag, die Saterdag, weer terug hike Nylstroom toe.

Ons het elkeen ’n toksak gepak met civvie-klere: ’n Stel lang Crimplene-kouse, ’n denimkortbroek en hemp van Stavast-mansuitrusters.

Ons het ook elkeen ’n bottel Listermint saamgeneem – Listermint, wat jou asem laat lekker ruik. Die ouens wat skelm gerook het, het veral rojaal daarmee gegorrel, maar ek en Harry was nie rokers nie. Ons het Listermint gebruik asof dit ’n kragtige feromoon is wat hopelik meisies na ons toe sou lok.

“Tjips! Tjips!” het ek myself skielik hoor roep. Ek en Harry het byna instinktief tussen die graspolle langs die pad platgeval.

Dis vreemd: Ek kan nie onthou hoe ek en Harry die oggend uit die koshuis tot sowat ’n kilometer buite die dorp gekom het nie. Ons sou sluip-sluip beweeg, maar dis asof ons alles só suutjies gedoen het dat selfs my herinneringe ’n geheim is.

Ons het ons skoolklere in ’n sloot langs die pad uitgewikkel, ons civvies aangetrek en ons mond weer met Listermint uitgespoel, asof dit nou ’n doepa is wat sou sorg dat ons gou ’n lift kry. Toe het ons langs die pad stelling ingeneem.

Ná ’n ruk het ’n kar oor die bult gekom, ’n rooi Datsun 120Y.

“Tjips! Tjips!” het ek myself skielik hoor roep. Ek en Harry het byna instinktief tussen die graspolle langs die pad platgeval.

Sien, dis wat vrees en ’n skuldige gewete aan ’n mens doen. Die 120Y het rustig verby ons gery.

Ons het weer langs die pad stelling ingeneem. Nie lank nie, toe verskyn daar ’n bleekgeel Toyota Corona MK II-bakkie op die hoogtetjie. Dié slag het ons dapper bly staan, elkeen met ’n huiwerige duim in die lug.

Dit was oom Shorty Dames in die Corona. En dit het dadelik ’n donker skadu oor ons hele Moonraker-avontuur gegooi:  Oom Shorty was die opsigter by die gholfklub waar Ore ook gholf gespeel het.

“Dink jy oom Shorty sal ons by Ore gaan split?” het Harry gevra terwyl die Corona in die verte verdwyn het.

“Nee wat. Hy sal nie. Nooit.”

“Dink jy rêrig so?”

“Ja. Genuine.”

“Ek dink hy sal.”

“Miskien, ja. Miskien sal hy...”

Bunk-ekspedisies op skool bereik dikwels só ’n stadium: Jy begin vermoed jy is in die moeilikheid, maar daar’s niks wat jy daaraan kan doen nie. Gaan jy voort, is jy in die moeilikheid; draai jy om en gaan terug skool toe, dan is jy steeds in die moeilikheid.

“Ons is nou klaar in die dinges,” het Harry gesê. “Ons kan onsself nou maar net sowel enjoy.”

Dis iets wat ook dikwels tydens sulke ekspedisies gesê word, al weet jy voor jou siel jy gaan niks meer werklik kommervry geniet nie.

Nie lank daarna nie het oom Johnny Nienaber, die barbier op ons buurdorp, Naboomspruit, in sy Mercedes 230S by ons stilgehou.

Oom Johnny het ’n ekstra element van spanning tot Operasie Moonraker toegevoeg: Elke keer wanneer hy van Naboom af Pretoria toe gery het, het hy sy vorige spoedrekord probeer oortref.

Ons het skaars ons sit gekry toe oom Johnny soos Jody Scheckter wegtrek en kort-kort na sy horlosie kyk. Die Mercedes – een van daais met vin-tails – het vinnig spoed opgetel.

Ek het stokstyf daar gesit en ook op my horlosie gekyk. Dit was halfnege – die tweede periode op ’n Vrydag. Ons het nou algebra, het ek gedink.

In die wiskundeklas, waarvan ons teen 134km/h saam met oom Johnny weggejaag het, het ou Cosec, ons onnie, pas van agter sy lessenaar met ’n bordpasser in die hand orent gekom en gevra: “Nou waar’s Steyn en Snyman vandag?”

Dis wat ek myself wysgemaak het, terwyl oom Johnny tevrede agter die stuurwiel glimlag en sê: “Boys, nou stap hierdie Benz lat die k—k wit sit.”

OOM JOHNNY HEMY en Harry naby Sterland afgelaai. Daar was sewe flieks en vir ons was dit soos ’n klein Sun City. Ons het in die ry gaan staan om kaartjies vir Moonraker te koop, omkyk-omkyk.

Ek sal jok as ek sê ek kan presies onthou waaroor Moonraker gaan. Een van die skurke se naam was Jaws. Hy het staaltande gehad en hy en Roger Moore – of James Bond – het op ’n kol op ’n trein baklei.

Op die ou end het James ’n bedliggie by Jaws se mond ingedruk, toe kry dié ’n elektriese skok wat rook by sy ore laat uitborrel.

Ek het aan Harry gestamp. “Dink jy hy sal?” het ek gefluister.

“Hoe bedoel jy nou, Pêllie?”

“Oom Shorty. Sal hy Ore vertel?”

Ons het toe nie by Harry se tannie gaan slaap nie. Ná die fliek het ons tot by die Caltex-garage aan die onderpunt van Kerkstraat gestap.

Daar het ons ’n ou gekry wat meubels met ’n Toyota Dynalorrietjie op Pietersburg gaan aflewer. Hy het ons tot op Nylstroom laat saamry en daai aand het ons teruggesluip in die koshuis en ons weer gelê en bekommer of Ore of Kopbeen ons uitgevang het of nie.

En ja,Maandagoggend, ná ’n hele naweek se gewonder, het ou Kopbeen ons toe wel kantoor toe geroep. Wie vir hom gaan vertel het, weet ek tot vandag toe nie.

Ons het probeer verduidelik dat ons Moonraker baie graag wou sien omdat ons gehoor het dit is regtig ’n goeie fliek.

Op die ou end het ou Kopbeen vir my en Harry vyf houe elk gegee – nie die gebruiklike ses nie.

En toe hy terugstap na sy lessenaar, het hy met ’n effense glimlag gesê: “Ek sal gaan gaan kyk of Moonraker wel so goed is soos julle sê. Dit wys hierdie naweek hier in ons inry.”


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #41 (Maart 2008) verskyn.