Die rolprentregisseur Woody Allen het op ’n keer geskerts hy het ’n Halloween-partytjie in ’n sjoebroek bygewoon – met sy spatare as kostuum.

Hy’t as ’n padkaart gegaan, ’n padkaart wat asemhaal, een met ’n hart wat klop.

’n Padkaart is immers meer as ’n klomp vet rooi en blou strepe met dunner lyntjies wat soos spataartjies na die kleiner dorpies vertak – dis ’n herinnering aan jou eie reisstories en ’n aansporing vir stories wat nog moet kom.

As ’n mens gereeld dieselfde roete ry – die N1, N2, N4 of N7, of enige van die klompie R’e op ’n padkaart – begin dit lewe kry met gebeurtenisse, herinneringe, plekke en gesigte wat jy vantevore op dié pad teëgekom het.

Die blou N2-slagaar wat oor drie bladsye van my oopgespreide A4-kaartboek van Kaapstad af tot by Port Elizabeth kronkel, vertel dus vir my ’n ander storie as vir my buurman, al volg ons elke jaar in mekaar se spore.

Wanneer ’n mens ’n roete baasraak, is dit asof jy later jou eie GPS in jou kop ontwikkel. Elke rusplek, padstal, rivier, uitkykpunt of piepieplek word in jou geheue gebêre, maar sonder die irriterende onderwaterstem wat baasspelerig vir jou sê waar om te ry. As ’n mens dieselfde roete meer as drie keer gery het, begin jy gewoontetjies aanleer; meer as vyf en die gewoontetjies begin ’n instelling raak.

Suid-Afrika het 14 nasionale paaie. Die N1 slinger van Kaapstad af deur Bloemfontein en Johannesburg tot by die grens van Zimbabwe; die N2 van Kaapstad af met die Tuinroete langs tot by Ermelo; en so gaan dit aan tot by die N18 wat van Warrenton (iewers) in die Noord-Kaap tot by Ramatlabama (iewers) in Botswana dwaal.

Maar wat het van die N13, 15, 16 en 17 geword? Ek het geen idee nie. Dalk lê daar iewers tussen Hanover en Hertzogville ’n eensame strook teer waarvan g’n mens weet nie, tussen die stof en enkelhoogte bossies. Dalk het iemand net vergeet om nog ’n blou lyn op die kaart te trek.

Daar is een Stukkie blou lyn wat ek soos die palm van my hand ken – die 15cm op my 1:3 500000-kaart tussen Kaapstad en Plettenbergbaai. Ek ry van kleins af saam met my ouers tot by die vakansieplekkies langs die Tuinroete en stop steeds by dieselfde padstalletjies en dink elke keer aan dieselfde dinge as ek verby bekende bakens ry.

Die verkeer voor Sir lowryspas beproef nog altyd ’n mens se geduld, en 5km verder op die pas lê daar nog ’n toets: om jou oë op die pad te hou en nie vir die uitsig oor valsbaai – van Bikinistrand (by Gordonsbaai) tot Kaappunt – te staar nie.

Aan die bopunt van die pas lê die Steenbrasdam op regterhand, omsingel deur ’n denneboomwoud. ek verbeel my elke keer ek ry deur die Kanadese rockies met ’n trop bere wat weggesteek om die draai salm in ’n stroom vang – moontlik die gevolg van te veel televisie.

Dis ’n vreemde neiging om die mooiste plekke in Suid-Afrika te vergelyk met oorsese poskaartplekkies. Wit halfmaanstrandjies aan die Weskus skuif Griekeland toe, en in my gedagtes maak ek vinnig ’n draai in Peru wanneer ek Stormsriviermond binnery. Die bakens lê ingeryg soos krale op ’n lint: Die Houwhoekpas, Dassiesfontein-padstal-en-restaurant verby Grabouw en Botrivier waar my pa altyd gestop het vir die beste spek-en-feta-quiche of pastei in die Wes-Kaap.

Kyk, mense verskil oor die Springbokafrigter se spankeuse en taktiek, maar enige pasteikenner sal saamstem ’n padstal-pie is ’n happie hemel met ’n deegkors om.

Dan rol die N2 die plaaslanderye binne met sirkelvormige bruin, groen en geel patrone soos die boere dit bewerk het – eksentrieke Amerikaners sal vir jou sê dit is Marsmannetjies wat hier doenig was…

Die landerye maak golwe in die landskap tot by Caledon, waar ek altyd net verbyry; ek weet daar is ’n ou stoomtrein wat op ’n grasperk staan nes jy die dorp binnery. Hier is ook ’n casino iewers, en as jy die 42-tand-glimlag van die oom op die advertensiebord kan glo, slaan iemand gereeld die jackpot los. Dié bord is een van die dinge wat elke keer my oog tref.

Elke reis het bakens waarvolgens ’n mens jou vordering meet en afstande skat. Amper soos ’n skeepsvaarder van ouds wat die sterre gebruik om te navigeer.

Vir party mense is dit die witgekalkte klippe buite laingsburg wat ’n mens aanmoedig om op die warmste somersdae wol te dra, of die blokhuis net buite die dorp wat hulle laat weet dis nog ’n uur en ’n half se ry tot op Leeu-Gamka.

Vir my is dit die Rolandalepadstal naby Swellendam. (Ons het eenkeer gestop, omdat ’n vriend, Roland, saamgery het.) Dan weet ek Riversdal is ’n nog uur se ry weg. en selfs meer belangrik: ek weet daar wag ’n Wimpykoffie op my. Drink een van dié outjies en jy het vir die volgende paar uur die waarnemingsvermoë van ’n valk met ’n verkyker.

Dis gewoonlik buite op dié Wimpy se stoep, koffie in die een hand en Dagwood in die ander, dat ek ook onthou van die padvalke wat gewoonlik tussen die draaie skuil op pad Stilbaai toe…

Kyk, mense verskil oor die Springbokafrigter se spankeuse en taktiek, maar enige pasteikenner sal saamstem ’n padstal-pie is ’n happie hemel met ’n deegkors om.

Met ’n vol maag en pieringpupille skuif ek agter die stuur in, en met die naald onder 80km/h (my 1400-Polo maak dit aansienlik makliker om stadig te ry) suiker ek aan tot by die visserskuitjie met die vlaggie wat in Stilbaai en Jongensfontein se rigting wys. Min karre draai hier af… te min.

Van hier af is dit nog 45 minute tot by Mossgas en ’n uur tot op Mosselbaai. Vyftien minute verder lê Hartenbos… Hoeveel kilometer dit is, kan ek nie vir jou sê nie.

Anderkant George en Wildernis lê die Stormsrivierbrug. Dis nóg ’n teer punt. Dit is teen die wet om te stop vir ’n foto, en dis verstaanbaar, maar vir ’n amateurfotograaf wat gek is oor ravyne én die see is dit soos die spreekwoordelike rooi appel in die Tuin van Eden. Dis in vet swart koki geskryf op my lysie van dinge om te doen, al moet ek ’n helicopter huur. Dít en om te gaan rekspring by Bloukrans, wat ook gevoelens in my aanwakker, maar om ander redes. Jou natuurlike instink probeer vir jou iets sê as daar adrenalien by jou ore uitloop – Moenie. Spring. nie.

Maar dan steur ’n mens jou ook min aan instink as jy bereid is om die veiligheid van jou huis te verlaat en langer as vyf uur in ’n warm, beknopte kar te sit. Die verste wat ek nog in een skof met die N2 langs gery het, is Port Elizabeth. Ek weet Kulula, 1time en daai ouens maak dit goedkoper en vinniger om te vlieg, maar ek wonder of hulle padstalpasteie op die oggendvlug bedien?

Buitendien is daar nog baie blou lyne op my padkaart waarlangs ek nog nie gery het nie, en een ding is seker: As ek ’n petrolkaart gehad het, het ek die bagasiebak vol blikkieskos gestop en daardie vier vermiste hoofpaaie loop soek.


Hierdie rubriek het oorspronklik in WegSleep # 30 (Februarie 2011) verskyn.