Miskien moes ou Uil nie meer ons skool se elite-drilpeloton afgerig het nie. Hy was al naby aftreeouderdom, het die een Texan Plain ná die ander gerook en was nie meer te gesond nie.

Party mense het gesê die enigste rede hoekom hy nog die peloton afrig, is omdat Ore, die hoof, hom jammer gekry het – Uil was vroeër ’n Stormjaer in die Ossewa-Brandwag en is glo destyds saam met John Vorster, die eerste minister, in ’n interneringskamp aangehou.

Of dit waar is, weet ek nie. Uil, ’n kort, seningrige man met botteldik brillense, het nie baie gepraat nie. Maar ondanks sy ouderdom en skete het hy nie toegelaat dat ons met hom mors nie. “Julle klink soos ’n klomp July-perde!” hoor ek hom nog skreeu. “Ek soek daai voete gelyk op die grond! Gelyk!”

En dan het ou Uil gewoonlik vreeslik aan die hoes gegaan.

Sy uitbarstings het dikwels in ’n hoesbui geëindig. Stevie Ferreira, ons drilsersant wat toe ook in matriek was, het dan gretig oorgevat en ons verder oor die rugbyveld laat marsjeer.

Suid-Afrika was toe meer militaristies as nou: Ons weermag was in ’n grensoorlog in die ou Suidwes gewikkel, en elke Vrydagoggend het ons by ons skool in ’n Noord-Kaapse dorpie ’n uur lank kadetoefening gehad.

Ons, die sogenaamde elite-peloton, het net uit matrieks bestaan. Ons skool het net twee matriekklasse gehad en daar was skaars genoeg seuns om ’n peloton te vorm, dus was die vermoë om te kon marsjeer nie noodwendig ’n vereiste om in die drilpeloton te wees nie.

Dat Stevie die drilsersant moes wees, was byna vanselfsprekend. Hy het meer as ons in militêre dinge belang gestel. In sy kamer het modelvliegtuigies van die plafon af gehang en hy het omtrent al Heinz Konsalik se boeke besit – Strafbataljon 999, Liefde op die warm sand, Die snydokter van Stalingrad en Die geskende gesig.

Stevie het ook so ’n leerklappie oor sy Lanco-horlosie gedra – dié het hy by sy ouer broer gekry wat in die army was. “Die klappie keer dat die vyand nie in die nag die weerkaatsing van die horlosie se fosforsyfertjies kan sien nie,” het hy gesê.

NIEMAND HET JUIS van die kadetperiode gehou of dit ernstig opgeneem nie, maar dit het ons darem die kans gegee om een keer per jaar te reis: Na die kadetkompetisie op Kuruman, wat een van ons buurdorpe was.

Al het dit nie altyd so gelyk nie, wou ons goed vaar teen Kuruman, Postmasburg en die ander skole. Tog het ’n hele paar dinge teen ons getel.

Om mee te begin: Omdat daar so min seuns was om uit te kies, was daar heelwat verskille in die lengte en postuur van die pelotonlede.

Boenas, die langste, het byvoorbeeld langer as ses voet in sy Grasshoppers gestaan, en Tinkie Visser, die kortste een, was skaars vyf voet.

Hy het boonop nekprobleme gehad en moes soms ’n nekstut dra. Tenk Visagie het byna 100kg geweeg en Draadkar Nel skaars 60kg.

Boonop moes ons Grasshoppers en grys skoolkouse by ons kadetuniform dra. Ek weet nie wie se besluit dit was nie, want jou Grasshopper met sy dun plastieksool is nié ’n goeie drilskoen nie – veral nie as Uil knaend skreeu nie: “Ek wil daai voete hoor! Ek wil hulle hoor! Soos een man!”

Ons drilsessies is ook dikwels onderbreek deur Tenk of een van die ander wat ’n hand opsteek.

“Ja, Visagie,” sou Uil dan vra.

“Wat’s dit?”

“My bene,Meneer. Hulle’s seer. Ek dink ek’t shin splints.”

“Goed manne, kom ons vat gou ’n smoke break.”

Ou Uil het ’n “smoke break” as die oplossing beskou vir die meeste probleme. En natuurlik mag net hy gerook het.

Stevie het altyd eenkant gaan staan – alleen. In kadetperiodes het hy nie met ons gesels nie en ons moes hom sersant noem. “Dis nie vir my wat julle moet respekteer nie,” het hy verduidelik. “Julle respekteer my rang en die uniform.”

Dit was ’n anderster situasie. Ons was veronderstel om ons soos regte soldate te gedra, maar ons was eintlik maar net onseker skoolkinders vir wie marsjeer nog nie ’n natuurlike aksie was nie – en oorlog iets onwerkliks.

Tydens ons oefensessies was dit asof elkeen nog op soek was na sy eie drilstyl. Party ouens – Tenk, Tinkie en Stoney – het hulle voete so na buite uitgeslinger en hulle boude ingetrek, amper asof hulle deur ’n onsigbare yster van agter gebrand word.

Barries Barnard, wat langs my gestap het, was, wel, effens stadiger as die res van ons en het gedril asof sy onder- en bolyf apart werk. Sy skouers was fier en regop en hy het sy arms mooi gestrek met die deurswaai, maar sy onderlyf was ’n toonbeeld van lompheid. Hy het sy voete byna loodreg die lug in gehys terwyl hy sy broek tussen sy boude vasknyp as Stevie ons laat koers kry het oor die rugbyveld: “Liek-wha! Liekwha! Liek-wha!”

Barries was altyd effens uit pas. En dikwels, hopeloos te dikwels wanneer ons moes halt, het hy nog ’n tree of twee aangestap, vas in Pepler voor hom.

EEN VRYDAGOGGEND HET Uil aangekondig dat die kadetkompetisie nie meer op Kuruman gehou sou word nie. Ons moes op Kimberley gaan dril.

Kimberley! Dit was asof die kompetisie skielik in statuur gegroei en Olimpiese afmetings aangeneem het. Ons het harder begin oefen.

Dit was asof elkeen nog op soek was na sy eie drilstyl. Party ouens – Tenk, Tinkie en Stoney – het hulle voete so na buite uitgeslinger en hulle boude ingetrek, amper asof hulle deur ’n onsigbare yster van agter gebrand word.

Hoe om te salueer, hoe om ’n ooporde-en sluitordemars te doen, en, die moeilikste van alles: Hoe om stadige pas te marsjeer – om te slow march.

Stevie het ál meer militaristies geraak en eenkeer terwyl ons stadige pas gemarsjeer het – wat hoofsaaklik vir militêre begrafnisse bedoel is – vir Boenas uitgedinges omdat hy “nie hartseer genoeg” lyk nie.

Hy het ook eendag vir Barries geskree: “Ek sal jou arm afpluk en jou met die bloedkant deur die gesig slaat, oukei?”

Miskien was dit ons manier van rebelleer, maar ons het besluit ons wil Stevie ’n les leer.

Ons wou die BodyMist-TVadvertensie namaak. Dié advertensie was destyds baie gewild: ’n Peloton marsjeer straataf, ál agter ’n kordate korporaal aan.

Dan verskyn daar ’n pragtige, slanke meisie uit ’n systraat. Die volgende oomblik swenk die peloton links en begin al agter die meisie aan marsjeer terwyl die korporaaltjie, onbewus van wat gebeur, voortdril.

Ons het ons kans gekry. Uil was die Vrydag siek en Stevie het ons van die rugbyveld af oor die skoolterrein laat marsjeer. Hy wou sy meisie, Marika, beïndruk. Die meisies het nie gedril nie. Marika en van die ander het altyd voor die naaldwerkklasgesit en naaldwerk doen.

Naby hulle, terwyl hy kort-kort in Marika se rigting loer, het Stevie ons laat halt en ’n luide ooporde- en sluitordemars beveel – en sommer weer vir Barries uitgedinges: “Ek sal jou nie slaat nie, Barnard! Ek sal jou hemp skeur lat jou má jou slaat!”

In die vierkant het die Brayshawboeties in die son op die grond gesit en ons dopgehou. Hulle ouers was Jehova-getuies en het hulle belet om te dril.

Ons het verder gemarsjeer… En toe gebeur dit: Ou Moeder Hen, die musiekonderwyseres, kom uit die sangklas se koers gestap.

Moeder Hen was nie juis ’n Body Mist-meisie nie. Sy het Schollmediese sandale gedra en haar hare pers ge-rinse. Boenas, wat voor op die regterflank gemarsjeer het, het in Moeder Hen se rigting geswenk met ons agterna, ál agter Moeder Hen aan. Nes in die BodyMistadvertensie, terwyl ons sag herhaal: “BodyMist kiss, BodyMist kiss...”

Natuurlik het Stevie gou gesien wat gebeur en op ons begin skreeu.

Daardie dag het ons elkeen by Ore drie van die bestes gekry met die rottang.

ONS WAS TOE Kimberley toe vir die kadetkompetisie, maar hoe minder ek daarvan vertel, hoe beter.

Uil het gesê ons moet sorg dat ons kadetklere en Grasshoppers skoon is. Ons was te min vir die skoolbus en het sommer agterop sy Toyota Dyna-lorrietjie gery, klaar in ons klere, elkeen met sy baret opgevou en by die epoulet ingedruk.

Sal ek dan daardie oggend ooit vergeet toe ons by die skool in Kimberley stilhou ná ’n rit van byna vier uur?

Ek sien nog hoe rek ons strammerig langs die Dyna uit en wikkel ons broeke tussen ons boude los, want dit was ’n beknopte sit. Diep kreukels in ons uniforms het dit gewys.

Skets Fred Mouton

Uil het op pad vir ons by die kafee op Koopmansfontein stilgehou – en dít kon jy ook aan ons uniforms sien. Ons was vol pasteitjiekrummels en sjokoladevlekke; en iewers langs die pad het Tenk ’n liter Sparletta Raspberry oopgemaak wat op hom en ’n paar ander gespuit het. Soos dowwe bloedkolle het die merke op hulle gesit.

Boonop was Barries sonder sy baret. Dit het naby Ulco van sy kop af gewaai.

Ons het daar by ou Uil se Dyna gestaan, tjoepstil en verskrik, want die groot Kimberley-skole het kadette véél ernstiger as ons opgeneem, dít was duidelik. Dié ouens het regte army-boots aangehad wat blink ge-bone was – met sulke wit kamaste daarby.

Hulle het in sweetpakke daar opgedaag en kort voor die tyd eers hulle eksieperfeksie-gestrykte uniforms aangetrek. Hulle is ook deur regte army-korporaals afgerig.

Selfs ou Uil is effens onkant betrap.

Hy het ’n Texan aangesteek en deur ’n wolk blou rook gesê: “Behou net julle trots, Bulle. Behou net julle trots.”

Maar ons het steeds loshande laaste geëindig in die kompetisie. Kom ons laat dit daar.

Dit was ander, meer militaristiese tye, ja, en op ons dorpie het ons miskien nie altyd die erns van alles mooi besef nie.

Dalk het dit eers meer as ’n jaar later werklik tot ons deurgedring toe ons die nuus kry dat Barries, wat die jaar ná matriek weermag toe is vir sy diensplig, op die Suidwesgrens doodgeskiet is.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 31 (Mei 2007 verskyn).