Ons is op die oopsee iewers suid van Groenland. Wit branders breek oor die boeg. Die jag sidder soos wat energie vrygelaat word deur die ongenaakbare Noord-Atlantiese Oseaan. Die son skyn en die lug is blou, maar niemand waag dit op die dek nie.

Op die brug is kaptein Dalby en sy offisiere besig om somme te maak. Ons het reeds ’n ompad van 200 seemyl voltooi. Die see woed reeds dae lank. Die oorvaart – wat in Reykjavík begin het – neem langer as beplan. Ons steek die Noord-Atlantiese Oseaan oor, verby Groenland na die Kanadese Poolsirkel.

Die plan was om vlak teen Kaap Vaarwel, die suidpunt van Groenland, verby te vaar. Die omgekrapte see druk ons egter verder suid en beproef die jag se vermoëns tot die uiterste.

Dis toe dat Rolando siek word.

Die bemanning bestaan uit Australiërs, Noorweërs, Iere,

Pole, Amerikaners, ’n Nepalees en selfs ’n paar Suid Afrikaners. Rolando is die enigste Filippyn.

Ons is in ’n verlate deel van die see, en almal ver van die huis af. Dit bring ons nader aan mekaar. In sy kajuit verswak Rolando se toestand. Hy verkeer in pyn. Rolando werk in die jag se enjinkamer. Hy word deur die skeepsdokter ondersoek: Rolando se blindederm moet uit. Die operasie kan nie op die oopsee gedoen word nie. Rolando moet so gou as moontlik aan wal gaan.

Die naaste land is Groenland, ongenaakbaar en geklee in ys.

Permanente inwoners: 50 000.

Maar dit lyk nie asof Groenland ons wil hê nie. Sy stormsee druk ons verder suid. Kaptein Dalby vaar wyd om die storm te omseil. Rolando se pyn raak by die dag erger. Kaptein Dalby praat met die dokter en dan met sy offisiere. Daar is geen ander raad nie: Die jag moet Groenland toe, téén die storm in.

Kaptein Dalby gee sy instruksies. Die jag verander sy roete. Ons draai noord-noordoos. Kaptein Dalby doen ook navorsing. Hy vind uit waar die beste mediese geriewe is in Groenland. Hy vind ook iets anders uit. Dít hou hy vir homself.

Hy word op ’n verlate eiland agtergelaat, ver van sy huis en mense af. Die eensame lot van ’n siek matroos.

Rolando word vertel hy gaan in Groenland aan wal vir mediese behandeling. Die jag kan egter nie vir hom wag nie. Ons moet voort sonder Rolando. Die maatskappy sal reël dat hy ná sy herstel opgepik word.

Die wanhoop lê diep binne-in Rolando.

Hy word op ’n verlate eiland agtergelaat, ver van sy huis en mense af. Die eensame lot van ’n siek matroos.

Ek was nog nooit in Groenland nie, en ook nog nooit in die Filippyne nie. Maar wat ek al van dié twee plekke gelees het, is dat hulle wyd verskil. Groenland se naam is misleidend. Dit is ver van groen af; dis ’n reuse-yslandskap, ongenaakbaar en koud. Die Filippyne bestaan uit honderde tropiese eilande in die Stille Oseaan. Warm seestrome, koraal en palmbome.

Die bemanning se harte gaan uit na Rolando. Hulle doen alles om hom gemaklik te hou en gerus te stel. Ek weet hoe hy voel. Ek is van Afrika. Ek word opgebeur deur sonskyn en hitte. Grou weer en koue is vir my neerdrukkend. Ek kan dink ’n siek man uit die Stille Oseaan moet opsien na ballingskap in die Poolsirkel. Daar is egter geen ander manier nie, want op die jag kan hy sterf.

Intussen beur die jag deur die stormsee-in. Die reuse-branders kasty hom. Hy is ’n dapper skip en vat wat die see sy kant toe slinger. Hy is gebou in Kiel, met Duitse presisie en deeglikheid.

Ten volle gemotoriseer, met die jongste tegnologie. Steeds laat hierdie stormsee hom kwesbaar lyk. Ons bestemming in Groenland is die hawedorp Nuuk. Vier en twintig uur van Nuuk af bedaar die see. Amper asof hy besluit het ons het nou genoeg gehad.

Teen dagbreek vaar ons verby die eerste ysberge. Die bemanning wat nie aan diens is nie, staan op die dek. Die meeste van hulle ken hierdie waters. Hulle ken ysberge. Vir my is dit ’n eerste. Ek staar in verwondering. Ek besef hoe ver van die huis af ek is.

Meesterlik vaar kaptein Dalby die jag verby gevaarlike ysformasies. Ek kan nie help om aan die lot van die Titanic te dink nie. Teen laatmiddag kom land in sig. Stadig nader die jag die Groenlandse kuslyn. Teen skemeraand kom ’n koepelberg in sig. Aan sy voet flikker skamele liggies. Dit weerkaats op die water. Nuuk.

Teen laaste lig word ’n rubberboot te water gelaat. Klotsend word hy teen die jag se wand gestabiliseer. Die seer Rolando word deur sy makkers op die rubberboot gehelp. Die afskeid is ontroerend. Die see bring mense na aan mekaar. Ek en ’n paar bemanningslede vergesel hom na die kaai. Die stuurman is Pavlo, die Pool. Die duister daal soos die rubberboot uitvaar na die hawe.

Ons vaar verby enorme Maersk-vragskepe. Donker staalwande en staalkratte op die dek verdwerg die rubberbootjie. Dit is nog nie winter hier nie, maar dit is ysig koud. Ek twyfel of dit ooit hier warm word.

Langs my staan Rolando geklem in pyn. Dit lyk asof die vooruitsig van hospitalisering in Nuuk hom oorweldig. Ek weet hy dink aan sy vrou en kinders in die verre Luzon-eiland in die Filippyne. Hy weet die jag en sy makkers laat hom agter op hierdie grou kaai.

Ons staan onseker aan die bopunt van die trappe met die siek Rolando tussen ons. Stil staar die donker figure ons aan. Tim staan huiwerig nader. Toe praat een van die donker figure in ’n vreemde taal.

Ons mag net voet aan wal sit. Ons weet nie wat bo op die dokke op Rolando wag nie. Die rubberboot bereik ’n vasmeerplek. Daar brand ’n paar flou haweligte langs ’n geroeste metaalreling. Betontrappe lei teen die hoë kaaiwand uit. Ons meer vas en help vir Rolando uit. Pynlik stadig stu Pavlo en Tim van Detroit vir Rolando teen die nat trappe uit. Ek volg hulle met Rolando se balsak oor my skouer.

Soos ons hoër klim, word silhoeëtte sigbaar onder ’n lamppaal op die dokke. Soos ons is hulle toegewikkel in dik parkas teen die koue.

Ons staan onseker aan die bopunt van die trappe met die siek Rolando tussen ons. Stil staar die donker figure ons aan. Tim staan huiwerig nader. Toe praat een van die donker figure in ’n vreemde taal. Ek sien hoe Rolando orent kom. Hy snak na sy asem, sy mond val oop. Verbasing, verligting. Vir ’n wyle soek hy na woorde. Dan antwoord hy in dieselfde taal terug.

Die vyf Filippyne op die kaai kom ons tegemoet. Besorg neem hulle eienaarskap van Rolando. Hulle neem hom aan sy skouers en groet hom in sy taal. Hy antwoord hulle vrae terwyl hulle hom na ’n kar toe lei.

’n Filippynse man draai na Tim, wat verstom staan. Hy praat in Engels.

“Ons sal goed vir hom sorg. Ons neem hom nou hospitaal toe. Ná sy operasie sal hy by ons aansterk. Moenie bekommerd wees nie. Hy is nou by sy eie mense.”

“Maar wie is julle?’ vra Tim.

“Vissermanne. Nuuk het ’n gevestigde Filippynse vissersgemeenskap. Rolando is in goeie hande.”

Ons staan op die kaai en kyk woordeloos die voertuig agterna. Dit verdwyn om ’n hoek en laat ons agter op ’n koue, nat kaai aan die ander kant van die wêreld.

Ons is stil toe die rubberboot terugvaar na die jag. Pavlo en Tim en die ander is geharde seemanne. Ek weet nie hoeveel keer hulle hierdie gebeure beleef nie. Vir my is dit egter van oorweldigende betekenis. Ek weet Rolando sal vanaand gerus slaap.

Pyn ten spyt.

Bo ons verlig die hemele skielik. Skouspelagtig dans dit deur die poolhemel. Aurora borealis. Die noorderlig.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 156 (Oktober 2017) verskyn.