Ek ryloop nou al ’n hele paar jaar nie meer nie, maar hou die rylopers langs die pad steeds fyn dop. En by omtrent elkeen by wie ek verbyry, sê ek vir myself: “Wragtag, ek sou darem beter as daai ou ge-hike het.”

Verbeel ek my, of weet deesdae se rylopers nie lekker hoe om dit te doen nie? Kyk maar, hulle staan op die verkeerde plek.

Hulle trek verkeerd aan. Hulle duim-aksie is lomp.

Ryloop is baie soos hengel. Dit lyk miskien of ’n visserman sommer net daar staan en sy lyn in die water gooi, maar daar is ’n dosyn klein dingetjies wat bepaal of hy ’n vis gaan vang.

Om te ryloop verg fyn rolspel. Jy moet jouself só “aanbied” dat jy die gewete van iemand wat teen 120 km/h verby jou ry, só roer dat hy remme aanslaan en jou oplaai.

Eerstens moet jy besluit waar jy staan. ’n Kruispad is gewoonlik ’n goeie plek, maar baie rylopers, sien ek, staan deesdae sommer aan “jou” kant van die kruising, daar waar hulle jou tromp-op kan loop in jou motor. Fout. Gaan staan eerder aan die oorkant van die kruispad,

waar die bestuurder jou op ’n afstand kan dophou. Só gee jy sy gewete kans om ’n bietjie te begin werk. En dan vang jy hom net nadat hy weggetrek het – en om teen 40 km/h verby ’n ou te ry wat darem nie te onaardig lyk nie, is nie iets wat ’n Samaritaan sommer doen nie.

’n Ander goeie staanplek is net buite ’n dorp. Die probleem is dat daar gewoonlik ’n paar ander rylopers ook rondhang. By so ’n plek probeer die amateur-ryloper altyd “eerste” staan, min wetende dat hy waarskynlik laaste opgepik gaan word.

Dit werk so: Die ou agter die stuur het minstens twee of drie rylopers nodig om sy gewete op dreef te kry; eers dan is hy ryp vir stilhou. Dan soek hy ’n plek waar hy kan aftrek sonder om deur te veel rylopers bestorm te word. En waar stop hy? By jou, die heel verste ou.

Ironies genoeg is ’n stil pad dikwels beter as ’n besige een. Die ou agter die stuurwiel weet as hý jou nie oplaai nie, slaap jy vannag langs die pad, en geen Calvinis wil met ’n skuldige gewete daardie 143 km tussen Kenhardt en Calvinia aandurf nie.

Ek sien ook baie van vandag se rylopers staan as ’t ware ín die pad. Dit werk nie.

’n Goeie ryloper respekteer die pad en dus ook die motoris. Jy maak nie bedelgebare nie, knik dalk net. Die rugsak by jou voete sê jy’s ’n ernstige ryloper. (’n Koffer werk nie so goed nie – dit laat dit lyk of jy afgedank of iewers uitgeskop is.)

TOG IS DIT nie net die motoris wat die ryloper takseer nie. Die ryloper bekyk die motor dalk selfs intenser.

Dit werk so: Jy sit iewers langs die pad op jou rugsak in die skadu van ’n padteken wat sê “Williston 90”, of so iets. Die karre is min. Die dag raak warmer en jy skuif ál saam met die padteken se skaduwee. Die halfbottel

Coke is louwarm. Jy het klaar die koeëlgate in die padbordjie getel (daar’s twaalf).

Jy’t oorgestap na die oorkant van die pad en ’n bietjie klipgegooi na die einste padteken.

Dan hoor jy ’n gesuis. Jis! Eers probeer jy sien watter soort motor dit is (luukse motors pik jou selde op). Dan kyk jy hoeveel mense daarin is (minder is beter). En dan breek daardie allerbelangrike drie of vier sekondes aan wanneer jy met al jou mag hike. Jou liggaamshouding is reg; jou rugsak op die regte plek; jy maak oogkontak; jy knik die kop…

Sodra die kar verby is, sien jy hoe die bestuurder sy kop effens kantel – hy takseer jou nou vir oulaas in die truspieëltjie – en dan flits die remligte skielik.

Jy’s weg!

NIE ALLE RITTE is ewe goed nie. Behoed jou as daar ’n kindjie saam met jou op die agtersitplek is. Vir ’n verveelde tweejarige is ’n vars ryloper soos ’n nuwe geskenk. En as jy eers oogkontak gemaak het, is jy en klein Basjan met die taai pofferhandjies vir die volgende 300 km beste maatjies. (Al voordeel is dat die kind iewers langs die pad gaan honger word en jy dalk ook iets te ete sal kry.)

Dan kry jy die geselsers, goedige ooms wat rylopers oppik net sodat hulle kan praat.

’n Afgetrede polisieman het my eenkeer duskant Oudtshoorn opgelaai. Dié man het geglo hy kon op sy dag in dieselfde asem as Mannetjies Roux genoem gewees het – as hy nie destyds sy linkerknie in ’n klubwedstryd beseer het nie.

Hy het my alles vertel van sy linkerknie.

Alles. Hy het selfs sy broekspyp sommer so in die ry opgerol en gewys waar die dokter hom gesny het.

Op Calitzdorp, 50 km verder, het ek gevoel ek weet regtigwaar alles wat daar te weet is van sy knie. Maar nee, anderkant die dorp het hy die sage hervat. Op Ladismith het dit gevoel asof ek elk van sy destydse spanmaats – Blackie, Prop, Bouts en Fires van Vuuren (ou Fires het ook met ’n knie gesukkel) – persoonlik ken.

Toe hy my uiteindelik anderkant Barrydale aflaai, het ek soos ’n kniespesialis gevoel.

Ek het uitgeklim en deur die venster gegroet. Maar nee, hy was nog nie klaar nie: “Jy weet, my regterknie was natuurlik ’n ander geneuk...” Eers ’n halfuur later kon ek verder hike.

’n Ander keer het twee ouens my op Mosselbaai opgelaai en gesê hulle gaan heelpad Kaap toe. Puik! Oor vier uur sou ek tuis wees, betyds vir ’n mushroom burger vroegaand saam met vriende in die Spur.

Dit blyk toe dié twee manne is provinsiale bruginspekteurs. Hulle het by elke brug, groot en klein, stilgehou en ’n tydsame inspeksie gedoen.

Die Spur was toe teen die tyd dat ek by die huis gekom het.

ELKE RYLOPER DROOM van die perfekte rit: Doer tussen niks en nêrens hou ’n luukse motor stil, en as die getinte ruit afskuif, sit daar ’n pragtige vrou agter die stuur. En sy’s ryk. En eensaam.

Ek weet van geen ryloper wat só ’n gelukskoot gehad het nie, maar ek het darem al ’n paar puik lifts gehad. Aan die einde van st. 9 het ek en Chinky van der Merwe kuslangs geryloop na ons skoolmaats wat op Plettenbergbaai menseredders was. ’n Rep vir Gunston – Johan was sy naam – in ’n oranje Cortina Big Six het ons duskant Gordonsbaai opgelaai en teen 140 km/h deurgeskiet Tuinroete toe. ’n Paar uur later het ek en Chinky op Plet afgeklim, elkeen met ’n vol pakkie 30-Gunston in die bosak.

Hel, wat meer kan ’n mens in st. 9 van ’n lift verwag?

Ná matriek het ek en ’n vriend, Dicky Koker, Namibië toe geryloop om op Swakopmund by Yster Beukes te gaan kuier. Eers is ons deur ’n lemoenlorrie opgelaai vir ’n pynlik stadige rit oor Piekenierskloof (ons kon darem elkeen omtrent twintig lemoene inkry in dié tyd).

Anderkant Citrusdal het ’n formele omie met ’n hoed (nooit ’n belowende voorteken nie) in ’n Valiant-stasiewa ons opgepik. Hy was alleen, maar daar was ’n klomp bagasie op die voorsitplek, dus het die twee van ons op die agtersitplek gesit.

Die Valiant het “cruise control” gehad wat op 80 km/h gestel was, en teen daardie meedoënloos stadige pas is ons die Knersvlakte in.

Maar laatmiddag, iewers daar anderkant Garies, het die rit op ’n vreemde manier lekker begin raak. Ons het vrede gemaak met die 80 km/h. Die Valiant het soos ’n skip deur die landskap geseil. Op die voorsitplek was die omie met die hoed so stil soos ’n chauffeur. Agter het ek en Dicky breed gesit.

Dit was asof die Valiant ons s’n was. Ons het die genot van cruise ontdek. Maar die heel beste rit was op pad terug.

Dit was asof die Valiant ons s’n was. Ons het die genot van cruise ontdek. Maar die heel beste rit was op pad terug.

Ons het buite Bethanie gestaan en daar was geen karre nie. Ná ’n uur, niks. Twee uur.

Ses uur. Uiteindelik het ’n middelslag vragmotortjie gestop. Dit was ’n klomp groentesmouse op pad terug Kaap toe. Agterop die lorrie was ’n bakkie sonder ’n voorruit agterstevoor geparkeer. ’n Klip op ’n grondpad het die ruit versplinter.

Ek en Dicky het in die bakkie geklim en is agteruit op die lorrie terug Kaap toe. Ek dink die rit het twee of drie dae gevat. Ek onthou ons het baie gelag. Ons het al die Beatlesliedjies gesing wat ons ken. Ons het beurte gemaak om te “bestuur”. Ons het gesels, oor meisies en oor diensplig, wat oor minder as drie weke sou begin.

En die heeltyd het daardie wye Suid-Afrikaanse landskap stadig agteruit verby ons geskuif. Ons het vir die eerste keer regtig gesien hoe onuitspreeklik mooi Suid-Afrika is.

Daar en dan het ek geweet dat ek altyd, so lank ek leef, daarvan sal hou om te reis.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #8 (Mei 2005) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.