Acapulco, Zanzibar, Tristan da Cunha, Rio de Janeiro, Patagonië… dís die vakansieplekke waaroor ek as jong kind altyd gedroom het.

Maar elke Desember is ons maar weer see toe – na die Natalse Suidkus, daar op Hibberdine by oom Koeinaels en tant Mary, in die huis met die groen sinkdak.

Nie dat dit nie lekker was nie.

Maar ek is ook al oud en sinies genoeg om te weet hoe misleidend herinneringe kan wees, veral vakansieherinneringe.

Dinge was nie altyd so goedig en vredig soos dit op daardie vakansiekiekies lyk nie. Daar was krokkerige motorenjins en pap bande, verstuite enkels, bloublasiesteke, verlore kinders in Durban se speelpark en familietwiste op Kersdag.

Pa is eenkeer ook so byna deur die departement van natuurbewaring se wetstoepassers – “Fauna en Flora”, soos ons hulle genoem het – duskant Howick in hegtenis geneem. Oor ’n skaars aalwyn.

Ek kan nie onthou hoe oud ek toe was nie, maar ons het om vyfuur die oggend, op die dag nadat die skole gesluit het, die pad van Daniëlskuil af gevat na oom Koeinaels-hulle toe. (Sy regte naam was eintlik oom Kerneels.)

Oupa en Ouma was meestal by enMa het Tupperware-bakke vol padkos gemaak: Hardgekookte eiers, toebroodjies, frikkadelle, hoenderboudjies, kaiings, biltong.

Pa, weer, was altyd omgesukkel wanneer hy al die bagasie gesien het: Drie tamaai koffers, ’n pocket aartappels vir tant Mary en ’n paar koedoehorings vir oom Koeinaels, twee visstokke, Ouma se hoedetas en Ma se vanity case, ’n trekkertjoep vir die lagoon en dan my lilo. Daar was ook ’n graaf en ’n pik, want Pa het aalwyne versamel.

Wanneer ons dan vroeg op die eerste dag van die vakansie almal in die Valiant geklim het, het Simon, wat in ons tuin gewerk het, altyd aangedraf gekom met ’n leë oliekannetjie waarin ons vir hom seewater moes saambring.

EK MOET SO TIEN jaar oud gewees het dié Desember toe Fauna en Flora amper vir Pa gevang het, want Ouma het nog geleef. Sy is oorlede in die jaar toe ek elf geword het.

Ouma het toe al die eerste beroerte gehad, want die oggend voor ons weg is, het sy nog met die botteltjie wat op die kombuis se vensterbank gestaan het, by die sifdeur uitgekom. Sy was al klaar toe nie meer heeltemal helder nie.

In die botteltjie het ’n avokadopeerpit tussen vier vuurhoutjies in water gehang. Ouma het altyd avokadopitte so in die water gesit totdat dit ontkiem – en dan het sy dit vir Simon gegee om te plant. Ouma wou die pit saampiekel, maar Oupa het dit by haar gevat.

My plek was tussen Ma en Ouma op die agtersitplek, en iewers tussen Daniëlskuil en Koopmansfontein het ’n hoender oor die radio gekraai.

Toe het ’n ferm stem gesê: “Landbouradio roep die landman!”

Barkley-Wes. Kimberley. Bloemfontein.

Dit was asof Pa-hulle tydens daardie vakansies anders was: Hy en Oupa het sandale gedra pleks van skoene, en ’n kortbroek met bleekwit bene, en soms het een van hulle op pad ’n bekfluitjie uit die glove box gehaal en vir ons “Ou perdeby” gespeel.

Oupa het stories vertel van hoe hy eens op ’n tyd kamma ’n vlieënier in Kenia was en Ma het in die ry haar naels rooi geverf en Mills & Boon-boekies gelees. Dit was asof die grootmense op daai vakansies probeer het om te wees wie hulle régtig graag wou wees.

Naby Brandfort het ons altyd ontbyt geëet, op presies dieselfde plek langs die pad – regoor ’n plaasnaambordjie waarop net “De Aap” gestaan het.

Die plaas het aan oudstaatspresident C.R. Swart behoort. Hy en sy vrou, Nellie, het daar in ’n sandsteenhuis in die Vrystaatse oopte gewoon. Ons het hulle nooit daar gewaar terwyl ons staan en eet het nie, maar soms het Oupa sy hande soos ’n verkyker voor sy oë gehou en goed gesê soos: “Ou Blackie-hulle eet net pap en melk vanmôre. Miskien moet ons hulle oornooi.”

Senekal. Bethlehem. Paul Roux.

Op Harrismith het ons altyd by die Caltex-garage petrol ingegooi en elke keer het Oupa vertel hoe hy eenkeer daar vir Tromp van Diggelen, wat ook toevallig daar petrol ingegooi het, van agter gegryp het. Tromp was in die jare vyftig ’n bekende sterkman wie se kursusse jy in Huisgenoot kon bestel. Oupa was glo in ’n lawwe vakansiebui en het hom bekruip en vir ’n paar sekondes vasgevat. Ou Tromp het glo net gelag.

In die botteltjie het ’n avokadopeerpit tussen vier vuurhoutjies in water gehang. Ouma het altyd avokadopitte so in die water gesit totdat dit ontkiem – en dan het sy dit vir Simon gegee om te plant. Ouma wou die pit saampiekel, maar Oupa het dit by haar gevat.

En anderkant Harrismith het Pa altyd na ’n koppie in die verte gewys en weer die storie vertel van ’n boer wie se jong seun glo eendag daar gaan klim het. Toe gly sy voet en hy tuimel in ’n skeur af en beland tussen twee rotse. Hulle kon die kind glo glad nie daar uitkry nie.

“Ná twee dae,” het Pa altyd die storie afgesluit, “het die gebroke pa ’n geweer gevat en toe moes hy sy kind skiet. Siestog.”

Van Reenen. Ladysmith. Estcourt.

Op Estcourt het ons worsies gekoop: Eskort-sausages. Destyds kon jy in byna elke winkel of kafee in die land Eskort-worsies koop, maar Ma het daarop aangedring om dit dáár te koop, amper asof dit ’n aandenking van die dorp was, nes ’n teelepel met die dorpswapen op (al word die worsies en die dorp nie dieselfde gespel nie).

Buite Estcourt het Pa die keer die aalwyne langs die pad gewaar – die spesie wat hy vermoed het hy nog nie in een van sy drie rotstuine het nie. Hy het daar stilgehou en ek, Ma en Oupa het saam uitgeklim.

Ouma het bly sit. Sy het niks gesê nie. Ná daardie eerste beroete het sy nooit juis meer gepraat nie.

“Jammer,” het Pa gesê, sonder om juis jammer te klink. “Ons sal hom moet vat. Dis ’n skaarse.” Soos gewoonlik het Ma gewaarsku: “Jong, as Fauna en Flora jou vang, Gog, is dit verby, Doris Day. Dan’s dit tjoekie toe met jou!”

Pa het die grond om ’n klein aalwyn begin losspit – totdat ’n kar oor die bult aangedreun het. “Maak net of julle gulpe optrek!” het hy geroep en die graaf laat val. Dis wat Pa altyd gesê het as ’n kar aankom terwyl ons aalwyne langs die pad uitgrawe.

Ons het gemaak of ons ons gulpe optrek en vir die mense in die kar gewaai.

“Hulle’s van Te-poria af,” het Pa gesê en weer die graaf opgetel. TP was in die ou dae Pretoria se registrasienommer. Hy het die klein aalwyn uit die grond gehaal en dit sommer by Ouma se voete gebêre.

Mooirivier. Karkloof.Midmar.

Naby Howick was daar skielik mans in kakie-uniforms met groen epoulette om ’n draai in die pad: Fauna en Flora. Een met ’n wye snor het beduie ons moet stilhou.

“O, gonna!” het Pa geroep.

Ma was die ene verwyte. “Ek’t jou mos gesê, Gog!”

Pa het stilgehou en die man het aangestap gekom, al agter sy snor aan. Ek het die aalwyntjie onder die sitplek probeer inprop, maar daar was ’n koekblik. In Ma se vanity case was ook nie plek nie.

Ouma was vas aan die slaap.

Sorry, Ouma,” het ek saggies gesê, en toe draai ek die aalwyntjie dat die wortels na haar toe wys en druk dit onder haar rok in, tot tussen haar knieë.

Dáár het Fauna en Flora dit nie gekry nie.

SOMS RY EK NOG daardie pad Suidkus toe, en elke keer as ek by Pietermaritzburg verby is, roer iets soos opwinding in my. Want dís die plek waarMa altyd gesê het: “’n Roomys vir die eerste een wat die see sien.”

Ons het elke jaar dieselfde dinge gedoen. Soggens het ons krummelpap geëet wat Maria, tant Mary se Zoeloe-huishulp, gemaak het. Dan is ons strand toe, met seilstoele, ’n sambreel en ’n swingball-stel.

Een dag van die vakansie het ons altyd Durban toe gegaan om op die stampkarre en die spooktrein in die pretpark te gaan ry.

Daarna is ek, Pa en Oupa na die slangpark toe terwyl Ma en Ouma rokmateriaal by die Indiese plaza gaan koop het.

Natuurlik het Pa-hulle die soveelste Zoeloe-assegaai en -skildvel gekoop, of ’n tradisionele kleipot, of ’n teelepeltjie, of ’n miniatuur-driebeenpotjie waarop gestaan het: Durban.

En hoekom nie? As jy weet wat jou gelukkig maak, is dit mos nie nodig om op ander maniere vir geluk te gaan soek nie – daaraan troos ek my as ek soms wens ons was eerder in Acapulco of Rio en nie elke dekselse Desember aan die Suidkus nie.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 38 (Desember 2007) verskyn.