Engeland is net soos ’n helikopter-ouer wat gedurig oor jou skouer loer, dink ek vir die sóveelste keer sedert ek twee maande gelede in Londen aangekom het.

As die moltreinstasie se interkomstelsel jou nie met ’n hoflike mind the gap waarsku om tog versigtig te trap oor die gapinkie tussen die platform en die trein nie, sal ’n gaskoeldrankbottel jou wrintie die woord twist daarop hê – net ingeval ’n mens dink jy sal die proppie moet afknaag vir ’n slukkie Fanta. (Terloops, hier in die Verenigde Koninkryk is Fanta nie die helderoranje wat ons ken nie, maar ’n troebel geel. En dit smaak nie so lekker sonder daai ekstra kleurstowwe nie.)

Ek sit op ’n bankie in Richmond Park en tob oor dié subtiel dog opvallende verskille tussen Engeland en Suid-Afrika.

My huis lê 14 000 km suid hiervandaan, maar op die oomblik is ek meer bewus van die Noordpool (4 300 km weg): Dis laatwinter in 2017. My baadjie van Coats for Africa in Kaapstad probeer sy bes om die koue uit te hou, maar is allesbehalwe snoesig.

Maar ek gaan nie sommer ingee nie. Ek het al op ’n wintersnag Colesberg se Karoo-koue oorleef. Dáár hou ’n mens in ’n poging om jou tone te behou jou stewels aan wanneer jy gaan slaap. Dít was oorlewing, hierdie is sommer net koudkry.

“Ons moet nou-nou waai, Molly!” roep ek vir die negejarige dogtertjie wat ’n entjie weg ’n feetjietuin van sneeu bou. Ek het as ’n guns vir Molly se ma, Sonja, Londen toe gekom. Sonja is ’n dokter en terwyl sy oor die Kerstyd moordende ure by ’n hospitaal in Windsor (sowat ’n uur buite Londen) werk, pas ek vir Molly op.

Ek gee glad nie om nie – dis nou universiteitsvakansie en ek het sonder skroom my kaartjie vir die Kaapse ronde van die Sewesrugbytoernooi verruil vir Oxfordstraat se glinsterende liggies en ’n Michael Bublé-Kersfees.

Voordat ek Londen met my eie oë kon aanskou, het die plek nooit vir my werklik gevoel nie. En dit was steeds byna soos ’n droom om voor die Royal Albert Hall te staan en dink wie almal sedert sy opening in 1871 – wat koningin Victoria bygewoon het! – al by dié konsertsaal se trappe opgestap het: Albert Einstein, Muhammed Ali, die Beatles…

Hoewel ék vir Molly oppas, is hierdie háár wêreld, en sy het my die afgelope paar weke met die verstommende kundigheid van vandag se kinders rondgewys.

Ons het al die Londen-dinge, soos sy dit noem, gedoen. Ons het deur die gewoel van Covent Garden gebeur, onder Oxford-straat se Kersliggies gedans, Notting Hill deursnuffel op soek na tweedehandse boeke, liters warmsjokolade gesluk, punk-uitrustings by die Camden-mark aangepas en langs die Teemsrivier gedrentel terwyl jongmanne hulle kano’s met sterk hale van die spane verbystuur.

Ons het die Mamma Mia-toneelstuk by die Weseinde gaan kyk, elke uithoekie van Kew Gardens se kweekhuis, grasperke en boomlanings verken en wanneer dit sneeu, het ons gemmerkoekies gebak en buite die Hampton Court-paleis (waar koning Henry VIII twee van sy ses vroue onthoof het!) gaan ysskaats.

In Londen is jy nooit alleen nie. Daar’s altyd iemand naby jou, of dit nou op die moltrein, in ’n koffiewinkel of op straat is.

Hier kos ruimte geld, en pleks van in die privaatheid van jou eie tuin of agterplaas kuier soos wat ons in Suid-Afrika gewoond is, moet Londenaars maar vir lief neem met park toe gaan om ’n leksel winterson te geniet.

In dié gedeelde ruimtes geld daar ’n bepaalde gedragskode: Oorfone op die kop beteken “moet dit nie eens oorweeg om met my te gesels nie”, ’n beleefde glimlag sê: “hou asseblief dadelik op praat” en in die onwaarskynlikheid dat iemand jou wel met ’n kopknik groet, moet jy besef hoe absoluut uitbundig dié gebaar is! (Die kans is groot dat die knikker ook ’n Suid-Afrikaner is, want ons is immers met goeie maniere grootgemaak.)

Eendag terwyl ek en Molly op ’n moltrein ry, bel my ma. En ná afloop van ons gesprek wil Molly weet: “What is a wilde taxibestuurder?”

Twee sitplekke verder bars ’n vrou uit van die lag. Ek draai absoluut verstom na haar toe. ’n Mens práát nie eintlik op die trein nie, wat nog te sê van hardop lag?

“Suid-Afrikaans?” vra sy.

“Ja,” antwoord ek, en besef opnuut dat die Engelse hoofstad eintlik uit sy nate bars van Suid-Afrikaners. En elkeen van hulle is maar net te bly om ’n geselsie aan te knoop met enigeen wat ’n “Ja, Boet” naby hulle uiter. Soos hierdie vrou van Swellendam.

“Soms mis ek daardie taxibestuurders. Hier is almal so oor die kop geslaan met reëls,” sê sy peinsend. Verbeel ek my of was daar ’n tikkie nostalgie in haar stem? En dis waar: Engeland is behep met reëls.

‘Hier is almal so oor die kop geslaan met reëls, sê sy peinsend. Verbeel ek my of was daar ’n tikkie nostalgie in haar stem? En dis waar: Engeland is behep met reëls.’

’n Tennisbal wat voor my voete land, ruk my terug na die hede in Richmond Park. Hierdie park spog nie met dieselfde graad van netheid as byvoorbeeld die gemanikuurde Hyde Park nie. Richmond se wandelpaadjies vertak in alle rigtings tussen die ruigtes in en die gras staan so hoog soos in ’n weiveld. En nogtans hou die rooiwangseuntjie wat naderhardloop om sy tennisbal te kom haal – ’n spanjoel kort op sy hakke – met die paadjie langs, al óm ’n oop stuk veld. Hy gryp die bal en draf weer in sy spore terug na sy ouers aan die ander kant van die sneeubedekte oopte.

Ek kan dit byna nie glo nie! Hierdie fenomeen moet beproef word. “Molly!” roep ek, en beduie na die outjie met die tennisbal, “hoe dink jy kan ’n mens by daardie seuntjie doer anderkant uitkom?”

“Met die paadjie langs, natuurlik!”

Gmf.

’n Paar dae later vlieg ek huis toe. Die doeanebeampte stempel my paspoort, kyk my in die oë en sê: “Welkom terug, sisi.”

Dit laat my op ’n wolkie deur die lughawe drywe, en sover ek stap, glimlag ek byna te breed vir elke mens.

Maar dit maak nie dat enigeen sy bagasie stywer vasklou nie. Inteendeel, elke liewe mens glimlag terug.

Ek gewaar my pa heel aan die agterkant in die aankomsaal rondtrippel. Hy spog altyd dat geduld een van sy deugde is, maar om iewers te moet staan en wag is wraggies nie sy sterkste eienskap nie.

“A, hier’s jy uiteindelik, Zip! Welkom terug! Ons het besluit om sommer ’n hele vlakvark vanaand vir jou te spit.”

Dis die grappie waarmee ons familie altyd die een groet wat ná ’n tydjie weg weer tuiskom. ’n Óú grap, maar skielik weer hartlik.

In die parkade klouter ek in sy skedonk van ’n Landie terwyl my pa stoei om my swaar koffer agterin te laai. “Liewe genade! Wat het jy hierin? Klippe?” mompel hy en klap die agterflap toe.

Op pad huis toe vertel ek hom van Londen: Big Ben, Buckingham Palace, Westminster… “Alles in Londen werk seepglad,” sluit ek af, “maar dit is die rede hoekom dit eintlik vervelig was.

“Pa, dis asof die mense daar moet gaan sóék vir ’n bietjie opwinding; hier hoef ons maar net soggens uit die bed op te staan; die dag se drama en avontuur sal gouer eerder as later ’n opwagting maak.”

My pa skud sy kop afkeurend. “Engeland is ’n tipiese nanny state. Verbeel jou, wat sal die Suid-Afrikaanse eweknie van mind the gap wees, hm?” wonder hy hardop en swaai heel gemaklik uit vir ’n massiewe slaggat op die N3. “Dáár sou seker ’n bordjie aangebring word wat waarsku: Mind the axel-snapping donga!”

Op Folly Hill, ons kleinhoewe in die Natalse Middelland, word ek deur ’n verwelkomingskomitee oorval: My ma is daar, sowel as my twee susters en hulle mans en kinders, my pa se vrou én die vyf hygende labradors. Tim, ’n swaer, vertel met geesdrif hoe hulle seuntjie, klein Luke, vandag per ongeluk voor ’n eentonbul in die diptrog beland het.

“Die mannetjie was so byna bokveld toe!” las my pa laggend by.

Al die kleingoed is besmeer met modder. Party het hier en daar ’n skraap of ’n kneusplek. Dit lyk soos ’n doodgewone dag op Folly Hill, maar die kontras met die steriele bestaan wat ek skaars gister agtergelaat het, is skreiend.

Tim bekyk my leliewit gesiggie skepties. “Daai Ingelse winter het jou maar bra bleek gelaat, nè?”

Oor sy skouer sien ek my pa reeds by die braaiplek rondkarring. Flip, dis lekker om by die huis te wees!

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook