Skets: Fred Mouton 

Ek is te bang om dit te Google, want dalk bestaan die toestand regtig en toon ek ál die simptome. Ek is byna obsessief en buitengewoon krities oor ’n blyplek se swembad en die leunstoele. Ek beplan my vakansies en naweke weg rondom swembaddens, stoele en sambrele. Vir my is swem ’n ritueel. Dis soos ’n reis om myself te vind, want dit maak my stil.

Daar is mense wat glo dat jou liefde vir hitte en water alles te doen het met wanneer jy gebore is. Somerbabas kan glo die hitte verdra en hou van water, en winterbabas smag na koue en kaggels. Dalk is dit waar.

As ’n mens my ma kan glo, hoewel dit pynlik was om aan te hoor, het sy my verwar met te veel waatlemoen wat sy geëet het. Sy het glo gedink die vroeë kraampyne ’n week voor Kersfees was omdat sy te veel waatlemoen geëet het terwyl hulle lekker piekniek gehou en geswem het.

Gelukkig het sy uiteindelik besef haar waatlemoen het arms en bene ook!

Ek wou nog altyd net swem – al het ons nooit ’n swembad gehad nie. Ek was in ’n klein skool tussen kleinhoewes op die Hoëveld. Die tipiese Afrikaanse skole in die 1980’s het gedink swem is ’n Engelse sport, of die laerskoolonderwysers het nie kans gesien om toesig te hou oor 30 kinders wat saam soos ’n skreeuende wasmasjien te kere gaan nie.

Dit neem tien minute om uit te trek en dan stadig te stap – net ongemanierde mense hardloop – na die swembad.

Daarom het ons omtrent drie keer per somerkwartaal kans gekry om te swem. Dit neem tien minute om uit te trek en dan stadig te stap – net ongemanierde mense hardloop – na die swembad. Dan kan jy tien minute lank swem terwyl die LO-onderwyser homself hees skreeu: “Moenie skop nie, moenie inspring nie, moenie diepkant toe gaan nie!”

Die oomblik was so groot jy gaan óf mal óf jy doen niks. Dan het jy weer vyf minute om aan te trek en vier weke om uit te sien na die volgende swemkans. Terwyl jy elke dag smagtend na die helderblou water deur die heining staar. Hoekom ons nie meer kans gekry het om te swem nie, sal net hulle weet.

Op hoërskool was die skool rég langs die openbare swembad, maar ons het nog minder swemkans gekry. Een keer per jaar moes almal die breedte van die swembad swem. Dan is die drie wat stert oor kop eerste gekom het, gekies vir een of ander gala.

In graad 1 was ek so moeg geswem by ’n maatjie se huis ek het net eenvoudig onder die water verdwyn. So klein as wat ek was, het ek besef “ek verdrink nou”. Ek het die son glasig deur die water sien bewe en toe was daar niks. Die maatjie se suster wat seker al 15 was, het my uitgehaal en bygebring. Dit was ’n gehoes, geproes, gehuil en ek was skuins geskrik.

Ons het nooit vir ons ouers gesê nie; ons was te bang dat ons dalk nie weer sal mag swem nie. Kinders is baie meer gehard as wat ’n mens dink, besef ek nou. Ek wou steeds swem en op ’n manier het ek die trauma self verwerk.

Ek het gedink die surfers en hulle meisies is die mooiste mense op aarde. Hulle het hulle Volkswagen Kombi’s op die Marine Parade geparkeer en daar uitgehang.

Ek het somervakansies in Durban se branders gespeel tot ek vaal van die honger was; en in die ou swembaddens by Noordstrand, waarvan die sement jou tone gou rou gevreet het. Ek het gedink die surfers en hulle meisies is die mooiste mense op aarde. Hulle het hulle Volkswagen Kombi’s op die Marine Parade geparkeer en daar uitgehang.

Die grootmense het laatmiddag op die Beach Hotel en die Balmoral Hotel se stoep gesit en skemerkelkies drink. Kinders is nie toegelaat nie. Eendag as ek groot is, sal dit ék wees, het ek gedroom. Stylvol met my sambreeltjiedrankie, ’n koker en ’n lang sigaret – soos in die fliekadvertensies – tussen my vingers.

Maar dit gebeur nooit soos toe jy daaroor gedroom het toe jy klein was nie. In 1995 was ek weer in Durban en die hotelle het hulle magiese droomwêreld van ’n tienjarige heeltemal verloor.

My verwondering met water en beheptheid om te swem het egter by my gebly. Die perfekte swembad het ek onlangs op Robertson ontdek. ’n Mooi kamer in ’n klein hotel waar jy ’n private stoep het – en rég voor jou is die swembad. Jy gly as ’t ware tot in die welgeluksalige koelte van die water.

Dit was winter en ek was half dikbek. Dit sou ideaal gewees het indien die Kaap ’n subtropiese klimaat gehad het, dan het sy inderdaad alles gehad.

Daar is net so ’n mooi blyplek in Paternoster. Uitsig. Mooi badkamers en slaapkamers. ’n Braaiplek. En die oortuigingskrag om hom wel te bespreek. Jou eie swembad.

Jy begin so effe sweet, maar moenie nou al gaan swem nie. Probeer om nog dieper in die vergetelheid van die son weg te raak.

Ek was al twee keer daar. In Novembermaand wat ek glo al warm behoort te wees. Ek pak ál my swemtoebehore. En toe is dit yskoud. Ons moet die kaggel pak terwyl my gemoed wieg tussen selfbejammering, depressie en een of ander vorm van seisoenale klimaatswoede.

Immer op soek na ’n swemplek, soos ’n pelgrimstog van ’n swemmer, wat nie juis goed kan swem nie. Is daar ’n lekker sambreel om onder te lê? Of hang die ding soos ’n pap blaar aan ’n tak? En is daar genoeg sambrele? Dit help veel daar is 50 mense en twee sambrele! Hoeveel strandstoele en leunstoele is daar? Lyk dit asof die stoele in 1995 gekoop is en of jy ’n aansteeklike siekte sal kry as jy daarop lê? Is die strand regtig “stapafstand” of moet ek ’n GPS gebruik om daar te kom?

Dis eintlik hartseer as iemand ’n swembad doer eenkant laat bou het, so asof dit nie deel van die blyplek se leefwêreld is nie. Dit lê daar soos ’n uitgeworpene. Daar is nie ’n stoel of handdoek in sig nie en dis sommer net daar. Niemand sal ooit vir jou ’n drankie daar aanbied nie en niks is gedoen om die kosbare watergerief te verfraai nie.

Byna soos ’n vrot visdam waar mense ook nie omgee vir die lewe daarin nie. Asof dit nie ook deel van die tuin is nie.

Die idee van die swemritueel is om net ná ontbyt na die swembad of strand te gaan. Jy kies ’n plek met ’n uitsig om te lê. Jy is nie daar om jou vel te verskrompel nie, nee. Smeer jou vel goed met sonroom en lê lekker en lees. Dan kyk jy tussendeur na die mense, die water en die lug. Of luister net. Geen selfoon, geen werk, geen bekommernisse nie. Jy begin stadig wegsweef in jou stilte. Jou eie gemoed.

Uiteindelik maak jy jou oë agter die donkerbril toe en sink diep binne-in jou eie wêreld weg. Asof jy wieg. Jy begin so effe sweet, maar moenie nou al gaan swem nie. Probeer om nog dieper in die vergetelheid van die son weg te raak.

Dan, op die regte oomblik, wanneer die son en die skoonheid van alleenwees tussen mense jou ingetrek het, staan jy op en stap stadig die water in. Die hemelse koelheid vee oor jou lyf.

Dompel jou kop onder en bly vir ’n rukkie daar. In die wêreld weg van landbewoners. Soos ’n ander vorm van lewe, ’n organisme wat in sy eie kop rondswem. Byna gewigloos.

‘Dis eintlik hartseer as iemand ’n swembad doer eenkant laat bou het, so asof dit nie deel van die blyplek se leefwêreld is nie. Dit lê daar soos ’n uitgeworpene.’