Toe ek klein was, was dinge in die wêreld om my groot. Vrek groot.

Vat byvoorbeeld Kimberley se Gat. Ek het gedog dit was so diep dat, as jy fyn luister, jy die Chinese aan die ander kant van die wêreld seeetstokkies sou kon hoor krap onder in hul rysbakke. En op die strand by Beach View naby Port Elizabeth was daar genoeg sand vir minstens ’n duisend kastele en katedrale, wagtend op ons klein vingertjies.

Die rooi windmeul voor die Red Windmill-eetplek by Hobiestrand was g’n kitsch vervalsing nie, maar die ware Jakob, spesiaal verplaas uit Nederland na die winderige, tries tigheid van Algoabaai. Net vir ons plesier. Uit die windmeul se binneste is soft serve-roomys te voorskyn gebring – ’n rare lekkerny vir ons verskrikte spulletjie wat af en toe uit Cradock kom besoek aflê het.

Daai Beach View-dae was min, want strandvakansies was die uitsondering.

Ons het Kaapstad nooit besoek toe ek ’n kind was nie. Dit het ’n prentjie op ’n poskaart gebly.

Somers het ons op die plaas deurgebring, in elk geval die beste plek in die wêreld, met ’n rivier vol krappe en paddas om te vang, poele om in af te koel, ’n krieketveld waar die kolwer in die skadu van ’n moerbeiboom sy merkie kon aanvra en ’n populierbos om in huise te bou en bendes byeen te roep.

Ons was wintervakansie-mense; Krugerwildtuin-mense. Elke Juniemaand het ons die N1 noord gevat, ons gidstou na die buitenste grens van die bekende wêreld. Ander kant hierdie grense was dinge soos die grensoorlog, kommunisme en mense met name soos Canaan Banana.

Nóg verder, waar selfs die Grensvegter dit nie gewaag het nie, was daai plek in The Gods Must Be Crazy waar jy ’n Coke-botteltjie in die bodemlose onderwêreld kon afgooi – die gramadoelas.

Ons was selfonderhoudend en dapper, veilig binne die voortstuwende republiek van ons ossewa – ons stasiewa. Eers ’n Passat en later ’n Cressida. Dit was nog voor 1-Stops en Ultra Cities en my ma het genoeg kos ingepak vir die Mongoolse horde: Frikadelle, gekookte eiers, koffie en ’n arsenaal toebroodjies (self met goed soos fyngekapte uie en Bovril op). In die ry kon ons knaag of suig aan vrugterolle, biltong, peper mente en grondboontjies en rosyntjies. Aan elke vensterknop het ’n Total-rommelsakkie gehang waarin piesangskille en ander reisoorskiet geliasseer is.

Wanneer ons wel gestop het om iets te koop, was die keuse een voudig: Groenkoeldrank of rooikoeldrank, oftewel Sparletta se Creme Soda of Raspberry. Tjips was óf tamatiesous óf sout-en-asyn.

DIE EERSTE STOPPLEK was altyd die Verwoerddam, waar ontbyt geëet is terwyl ons vrugteloos die wateroppervlak gefynkam het vir enige teken van die reuse-babers wat – so het die skoolstorie geloop – so groot was dat hulle duikers wat die damwal kom regmaak het, héél kon insluk.

Dan het ons stadig, dog bestendig verder gery, want mense wat stasiewaens ry, ry waardig, nie haastig nie.

Ons het Johannesburg versigtig omseil, lugtig vir die Groot Stad wat enige oomblik die Passat met een van sy seekatsuiers sou gryp en ons in sy staalbek sou verpulp. Ons kon eers weer asemhaal wanneer Pretoria uiteindelik agter ons gelê het, die landskap weer begin uitsprei en ons weer mense in bakkies teëgekomhet.

Met drie kinders in die kar was daar gereelde piepiestoppe, dus het ons dikwels iewers halfpad oornag, soos by die Willem Pretorius-wildreservaat anderkant Winburg. Ek’t eenkeer ’n Maroka Swallows sokkerbal daar gekoop en ek onthou ook duttende renosters tydens ’n wildrit. Saans kon ’n mens Virginia se liggies in die verte sien. Dit was omtrent die tyd van die Merriespruit-modderramp.

Die drie van ons was goed toegerus vir die reis. Elke kind kon ’n klein, bruin tassie (met plakkers soos ‘Ons Rooivleis’ op) vol kritieke voorraad pak: Super Trumpspeelkaarte, ’n verkyker (ons was gebore voëlky kers), penne en Oom Dikdaan-skryfblokke.

Daardie grafiek-papierboeke was ook gesog, want daarmee kon ons OMO-toernooie hou. OMO het soos nulletjies-en-kruisies gewerk, maar jou speelveld was veel groter. Wie’t nou Sudoku nodig gehad?

Ek en my broer sou soms skaak speel op sy klein magnetiese stelletjie, maar dit het gewoonlik kort voor lank in een of ander suur-pluk aan my kant ontaard. Daar was ook dikwels gevegte oor wie in die middel mag sit, wat gewoonlik beëindig is met ’n kwaai kyk van my ma af en iemand wat kattebak toe gestuur is. Dáár was altyd ’n bed opgemaak vir wie ook al vaak was.

Vir muitery was daar nie tyd nie, want my pa het speletjies uitgedink om ons heelpad besig te hou. Ons moes denkbeeldige valhelms opsit wanneer ons onderdeur brûe en hoëspanningsdrade gery het. Jy moes diere en voëls aan jou kant van die kar soek in die verbyflitsende landskap. Tussendeur het Leon Schuster, Manuel Escorcio en David Kramer uit die kassetspeler die padkaart help versnipper.

Ons het Johannesburg versigtig omseil, lugtig vir die Groot Stad wat enige oomblik die Passat met een van sy seekatsuiers sou gryp en ons in sy staalbek sou verpulp. Die stad was nie ons tuisveld nie. Dit was ’n godlose plek, waar plattelandse ordentlikheid en goeie maniere niks getel het in die oorvol strate en in die gestoei om bane op hoofweë nie.

Selfs ons padkaart het hier sy towerwaarde verloor, want die horison het jou hier bestorm met te véél geboue, padborde, afdraaie en geharwar. Ons het dus maar oë toegeknyp en ons blinde geloof in die Ben Schoeman-hoofweg gesit. Ons mog nie praat tydens hierdie deel van die reis nie – te veel stres vir die drywer en navigator. Ons kon eers weer asemhaal wanneer Pretoria uiteindelik agter ons gelê het, die landskap weer begin uitsprei en ons weer mense in bakkies teëkom het.

ONS TWEEDE STOP was Warmbad. Die meeste van my ma se familie bly op die Springbokvlakte en hulle was die eintlike rede vir ons winter-pelgrimstog uit die Oos-Kaap. Die Krugerwildtuin was bloot sekondêre vermaak. Die platter as plat Springbokvlakte was ’n vreemde wêreld vir ons, soos ’n Finse fliek sonder onder skrifte. Ons was bergmense, Angoraboere en nie gewoond aan die uitgestrekte plate sonneblom en katoen onder die yslike spilpuntsproeiers nie.

My ouma se huis was vol gladde, steil trappe, ’n bom skuiling (my oupa, ’n Hollander, het die Eerste Wêreldoorlog oorleef) en versteekte kaste. Die reuk van die vloerpolitoer, die AGA-stoof, die rooi stoepbak stene en die stof buite in die tuin… Dit als het onder jou vel ingewikkel soos fyn akkedissies.

My neefs hier was ook anders. Hulle het gelag wanneer ek en my broer van ons horlosies as “otches” gepraat het (nugter weet waar ons aan dié naam gekom het). Hulle kon boonop kaalvoet en in kakieklere skool toe gaan, terwyl ons Grasshopper-en-withempkinders was, duidelik uit die Kolonie.

Van hier af het ons Krugerwildtuin toe gemik, altyd na die noordelike deel, want vir die leeus en verkeers knope van die suide het ons min ooghare gehad. Pafuri, Punda Maria, Shingwedzi en Letaba was ons soort plekke, waar ons vir ure ’n trop bobbejane sou dophou, of by ’n voëlskuiling sou waak.

Kremetartbome was ondenkbaar groot vir ons wat gewoond was aan olienhoute en doringbome en gedog het dis die grootste bome in die veld. Kremetarte was só groot, jy kon hulle nie eers klim nie.

By die ruskampe se curio-winkels het ons sorgvuldig deur die bak halfedelstene gesif op soek na die mooiste jaspis, ametis, piriet, obsidiaan en tieroog. Koel en swaar vir hul grootte, het ons hulle op ons palms fyn bestudeer vir defekte voor ons ons aankope gemaak het.

Dié skatte sou ons dan veilig in ’n spesiale Black&White-tabaksakkie bêre, wat ons saamgebring het juis hiervoor, nes Indiana Jones sou gemaak het.

TOE EK KLEIN WAS, was alles moontlik. Die werklikheid het meer dimensies gehad en genoeg plek sodat die verbeelde wêreld nog geloofwaardigheid gehad het. Natgeswete drome in die nag was toe soomloos deel van jou wakkerure van skrape op die knie en duwwels uit jou voet krap.

Maar weldra, soos jou ouder dom dubbelsyfers bereik, begin jy die hele stelsel baasraak. Een dag wanneer jy terug huis toe ry, maak jy asof jy steeds slaap in die kattebak van die Passat – nadat jy wakker geword het toe julle oor die plaas se motorhek gery het – net sodat ma of pa jou kan huis-in dra, na jou bed toe, selfs al vermoed hulle jy maak net of jy slaap.

Dís die dag wanneer dinge begin verander. Ek mis die dae voor ek die reëls geken het. Ek mis die reuk van grasdakke en Pritt. Ek mis Smartievlekke op my vingers.

Ek mis my kleintyd.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #28 (Februarie 2007). Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook