Ek dag eers ek sien verkeerd toe my tenger ma en haar vriendin doodluiters ’n vrieskas in die minibus laai. Hoe op aarde kan daar nog plek wees daarvoor? Daar is klaar ses matrasse, genoeg beddegoed vir ’n vyfslaapkamerhuis, ’n staaltafel – soos dié waarop ’n mens pannekoek bak by die kerkbasaar – én twee splinternuwe staanwaaiers ingepak.

Dis die Desembervakansie en die Mailovich-gesin is op pad om te gaan kamp op ’n plek waar daar net ’n doringdraad tussen jou en die hel is: Serengeti, waar die temperatuur wissel tussen 39 ºC en 45 ºC. Nee, nie die een in Oos-Afrika met die diere nie... ons mik vir ’n woonwapark net duskant Marble Hall in die suide van Limpopo, sowat 90 minute se ry van ons tuisdorp af.

Hierdie vakansie is ’n groot ding vir ons, want my pa het sedert sy weermagdae nog nooit weer gekamp nie. Johnny is 57 en hy is baie dinge, maar maklik is nie een van hulle nie. As iets hom ontstem, ontstem dit almal, en as iets hom gelukkig maak, is almal gelukkig. Hy is die toonbeeld van oom Boer, met kakie aan sy kraag en krag in sy stem.

En ek vermoed ’n kampery het nog altyd te min struktuur gehad na sy sin. Maar soos die jare aangestap het, het die ekonomie begin knyp, en hy het in Amerika begin werk om die pot aan die kook te hou. Ons hier in Suid-Afrika het kreatief begin raak met ons vakansies. In sy afwesigheid het ons die kuns van woonwaparke en Sanparke se kampterreine begin slyp, want dis bekostigbaar en ons hou heimlik daarvan om kamp-kamp te speel. Vir die res van ons tuisblyers was dit net logies om die lewe van ’n boere-Bedoeïen aan te neem as ons vakansie hou.

Een keer per jaar kom ons bymekaar. Ek uit Kaapstad, sus Claudi uit die Goudstad, my ander suster, Anne-Marie, uit Pretoria, en my kleinboet, Rodney, en ons ma, Anne-marié, uit Mookgophong. En natuurlik Johnny uit Amerika.

Ná ’n gesoebat het Ma vir Pa omgepraat om te gaan kamp, al moes ek hom self ook twee of drie keer emosioneel afpers en dreig om saam te kom en nié op die nippertjie kop uit te trek nie.

My pa was só paniekerig oor die kampery hy het vir dae aaneen daaroor geswets, walgegooi, twee of drie vloermoere gegooi en toe, skaars ’n dag voor die tyd, besluit om my ma se vriendin saam te sleep om haar tent te kom opslaan. Dit het behels dat hy vir amper twee uur moes terugry om haar weer by die huis te kry – al kan ek, my ma en my broer behendig tent opslaan as ons die dag wil.

My ma is gewoonlik ’n redelike kalm mens, maar dis asof die bliksemstrale haar omgeklits het, want skielik was alles deurmekaar.

Teen die tyd dat hy teruggekom het, het ons almal oorverhit en gaan swem waar die ritme van “Boerepompie” en “Hardekole” in die agtergrond kreun. Ons was heel ontspanne ná die vreeslike tentopslanery en die afpak van die magdom huisgoed.

Ek het gedreig om te begin slaai maak vir die braai toe die eerste donderklanke uit die wolke grom. Iewers het die wit van die wolke begin grys raak. Min dinge is so vreesaanjaend soos ’n elektriese storm in die Bosveld, veral as jou tent lek en jy kan sien die oord se kragpunte is nie juis beskut teen water nie.

My ma is gewoonlik ’n redelike kalm mens, maar dis asof die bliksemstrale haar omgeklits het, want skielik was alles deurmekaar.

Soos die druppels al hoe swaarder neersak, is my pa penorent en paraat, besig om die dammetjies water van die tentdak af te kry. Kleinsus skrop rond met ’n besempie en plant ’n dweil bo-op die vrieskas (wat nie vries in die hitte nie), en Claudi hou haar lyf skinker, want iemand moet kalmte van gees behou.

Ek en Rodney het later die aand ’n nat matras gedeel en die sekondes getel om die blitse se afstand te skat. Toe dit hier teen 1 km van ons af begin land, het ek besluit genoeg, ek gaan kar toe – en almal opgekommandeer om my te volg. My ma en sussie het doodluiters in mekaar se arms bly lê (oënskynlik vreedsaam).

My pa het moedig probeer slaap op die matras wat maar net nie sy lê op die opvoukampbedjie onder hom wou kry nie. Ek en my lewendige verbeelding het ons al op die voorblad van Beeld gesien. “Kamptreurspel in die Loskopvallei: Gesin uitgewis deur weerlig.”

Ek kon daarin slaag om my broer en Claudi bang genoeg te praat om saam met my veiligheid te soek. Weens suiwer adrenalien het my broer begin skoorsoek en ons om die beurt oor die bankies getêkkel en verpes – wat só ’n kabaal veroorsaak het dat my pa se weermagstem sy drie stout kinders kom stilmaak het.

Uit die aard van die saak het ons druipstert teruggesuiker tent toe, na die nat matrasse waarop my pa eintlik intussen vir hom ’n droë bed probeer maak het.

Iewers het die slaap ons stilgemaak, en toe die son opkom, was alles weer warm, die oggenddou daarmee heen en die matrasse en al die beddegoed weer droog. Die lug was helderblou en die wolkies wit, en die sonbesies het entoesiasties geskreeu, asof niks gebeur het nie.

Ons bure wat met ’n Porsche vir die grootmense en ’n Wii vir die kinders kom kamp het, was self onthuts oor die nag se bui. My pa het al vroegoggend rondgemarsjeer en gaan uitvis of die ander mense ook natgereën het.

Die groot gelykmaker is duidelik ’n tent wat lek. Net die regte woonwakampeeders het droog gebly. Die mense met die Wii het nog so ewe hulle tentseil verkeerdom gespan; dus was daar vir hulle geen genade nie.

Ons het egter geleer uit ons foute en was slaggereed toe die natuur weer sy tande begin wys.

Teen middagete het wit wolke stelselmatig begin verkleur, ons het WeatherSA al oor oggendkoffie geraadpleeg en my pa het sommer kort ná ontbyt die pad gevat om beter tentpenne te gaan soek. Hy het al vroeg die situasie gerevalueer en besef die tentpenne was die vorige aand te pieperig en die toue moet oorgespan word.

Boonop is al die kragpunte dié slag “geïsoleer” en weggesteek onder die waterdigte tafeldoek, wat eintlik bedoel was vir die basaartafel.

Ons enigste oordeelsfout was hoe laat die aand se chaos sou losbars.

Claudi het weer begin skink, maar dié slag was my ma reg met die slaai, en kleinsus het strategiese swak plekke gepatrolleer, gewapen met haar dweil.

WeatherSA se app het beweer die storm sou eers rondom slaaptyd lostrek. Gevolglik moes my pa ’n plan maak en met ’n deksel braai toe die eerste druppels ons skuins ná sesuur die aand tref.

Claudi het weer begin skink, maar dié slag was my ma reg met die slaai, en kleinsus het strategiese swak plekke gepatrolleer, gewapen met haar dweil.

Ons het gelag, die wolke het gehuil, en toe beplan ons volgende jaar se kamp. Ek sê Mosambiek, die ander reken KwaZulu-Natal... en toe begin my pa weer met sy “huisie met mure”-stories.

Ná al die drama, vloermoere en tentpatrollies het ons die twaalfmantent (sonder die hulp van my ma se vriendin) afgeslaan, die vrieskas en die waaiers teruggepak in die kar en net die dweil in die boom vergeet.

Toe ons tuis kom, het ek uit vrees dat daar nie water sou wees nie (’n algemene krisis op die dorp) onmiddellik gaan stort, en ek was skaars in my pajamas of die krag gaan af. Met die gelatenheid van ’n tentbewoner in die moordende Limpopo-son het ons die kampstofie nader getrek... en onder kamplig begin kosmaak