Die voormalige Amerikaanse president Lyndon B. Johnson het gesê wat gister gebeur het is gedane sake, maar wat môre en oormôre vir ons voorlê, moet ons met veel groter vernuf aandurf.

As ’n mens sien hoe die grootste en gewildste woonwapark in die KwaZulu-Natalse Suidkus ’n noodsein na sy gereelde klante stuur om donasies te vra, is dit duidelik dat die kampbedryf onder enorme druk is weens die Covid-19-pandemie.

As ons egter kyk na wat voorlê, is daar hier en daar wel ’n ligpuntjie wat op die horison flonker. In Mei kon handelaars darem hulle deure heropen. Die toekomstige marktoestande rakende die koop en verkoop van kamptoertuie is egter nog duister.

Te oordeel na gesprekke op sosiale media sien kampeerders wel reikhalsend daarna uit om hulle kamptoerusting af te stof en die langpad aan te durf. Kom ons hoop die kampbedryf kan uit die as opstaan en met vernuwende idees en hernude ywer ’n blink toekoms betree.

Kampterreine gaan uiters slim moet werk om sterker na vore te tree. As vertrekpunt gaan die status van kampering verhoog moet word.

Ek het onlangs na Radio 702 ingebel om my mening te lug oor die regering se toerismehulpfonds, want daar is aansienlike tekortkominge. Die fonds minag onder meer die meer as ’n duisend kampplekke wat veg om oorlewing.

Die omroeper, wat niks weet van kampering nie, het self die kampbedryf as ’n lewende organisme of ekostelsel beskryf. Dis ’n raak opsomming. Die ekonomiese welvaart van ’n dorp of streek is mos afhanklik van die gesamentlike sukses van alle kampterreine in die nabye omgewing. Daar is tans nét in KwaZulu- Natal ’n oorhoofse vereniging wat die belange van kampterreine in dié spesifieke streek bevorder. Nêrens elders in die land kry jy dit nie.

Eienaars moet in streekverband, in byvoorbeeld die Oos-Kaap, Brits, Bela- Bela en Dinokeng, begin saamstaan om ’n blinker toekoms te bou.

Dan moet alle kampterreine ook terstond hulle papierwerk in orde kry en werkloosheidsversekering uitneem. In die toerismebedryf verkry alle klein besighede B-BBEE-status as hulle omset minder as R5 miljoen per jaar is – ongeag wie die eienaar is. Dit geld ook vir kampterreine. Deur ’n standaardvorm in te vul verkry die kampterrein ten minste B-BBEE 4-status.

Die hele bedryf moet oor die volgende jaar of twee die beste sakepraktyke nastreef. Kenners voorspel dat die virus nog vir lank ’n gevaar gaan inhou. Daarom moet standaarde blitsig opgestel word om byvoorbeeld ablusiegeriewe doeltreffender skoon te hou en behoorlike sanitasiepraktyke toe te pas. Die uiteindelike doel van só ’n deurlopende proses is om personeel en gaste veilig en gesond te hou.

Entrepreneurs met visie kan produkte en dienste in dorpe of streke skep. Kampterreine kan ook saam sanitêre produkte koop sodat hulle beter pryse kan beding.

Die Kleine Bela-vakansieoord verdien ’n pluimpie vir hoe hulle aangepas het by die gevolge van die pandemie. Die oord het in Mei die mark vir langtermynkampering as ’n geleentheid gesien en agt baie ruim staanplekke vir isolasie-doeleindes beskikbaar gestel. Hulle het gaste twee weke lank op ’n staanplek met private ablusiegeriewe geïsoleer. Alle gaste se temperatuur is daagliks gemeet en aan die einde van die kwarantyntydperk is hulle na die gemeenskaplike kampterrein geskuif.

Die oord het daagliks afleweringsdienste beskikbaar gestel om basiese kruideniersware en selfs medikasie af te lewer, en vars produkte was ook daagliks te koop. By Kleine Bela is onder meer ’n staproete in die berg, fietsroetes, minigholfbaan en twee swembaddens. Dit is dus ’n gawe plek vir die grendeltyd – kampeerders kon selfs hulle klein hondjies saambring.

Met dié plan het die kampplek ’n eiesoortige sakemodel geskep wat vir ’n broodnodige kontantinspuiting gesorg het. En op lang termyn het hulle in die proses ook ’n lojale kliëntebasis geskep. Dit wil gedoen wees.