Die einde het nie mooi gekom nie.

Een aand, ná ’n laat fliek by die Labia in Oranjestraat hier in die Kaap, wou my Kewer nie vat nie.

Ek was nie lus vir sukkel nie en los hom toe net daar, vat ’n taxi huis toe en gaan slaap. Drie dae gaan verby.

Die Saterdagoggend stap ek fluit-fluit af ysterwarewinkel toe en gaan koop ’n skroefsleutel, want ek reken die Kewer se battery is maar net pap. Ek kan dit gou uithaal, ’n nuwe een om die hoek by die motorhawe gaan kry, en brrmm, daar gaan ek weer.

Skroefsleutel in die hand stap ek in Oranjestraat en sien die groen rug van my Kewer in die verte. Maar iets lyk nie reg nie.

Die regter-agterkwart hang laag, soos ’n seekoei wat met die een been in die modder vassit. Ai, pap wiel, dag ek.

Maar toe ek nader stap, sien ek dis veel erger. Iemand het in my kar vasgery, nugter weet wanneer. Die agterwiel is onder die kar ingedruk, die as gebuig, die bakwerk verniel.

G’n skroefsleutel gaan hierdie gemors regkry nie.

Dié tragedie het daartoe gelei dat ek binne ’n maand ’n nuwe kar gekoop het, ’n tweedehandse Subaru Forester. Ek wou al lankal ’n meer betroubare kar koop en, met ’n geldelike gelukkie wat in my skoot geval het, was dit skielik moontlik.

Ná ’n wyle in Siegfried’s Auto se intensiewe eenheid in Woodstock was die Kewer weer reg soos ’n roer. Hy het egter gou staan en stof vergader in my motorhuis – ek het hom een keer ’n maand gery net om die battery aan die gang te hou.

Maar nou, ’n jaar later, is ek en die Bloureier (hy was aanvanklik blou, maar is later groen geverf) weer op die ooppad. My suster en haar man het ’n tweede karretjie nodig vir kort trippies werk toe en terug.

Hulle woon in die Oos-Kaap, naby Paterson, dus ry ek die Bloureier soontoe vir hulle. Dis ’n tweedagtoer, tensy jy wil sukkel met ’n enjin wat elke drie uur warm word.

Vroegoggend verlaat ek Kaapstad met ’n lied in my hart. As hierdie my en die Bloureier se laaste rit saam is, dan gaan ek dit die moeite werd maak.

Ek vat die R62 deur die Klein-Karoo. Die lewe is te kort om die N2 Oos-Kaap toe te ry. (Wat’s lekker aan ’n verkeersknoop in Knysna? Niks.)

Die landskap langs die R62 is mooier, vol dramatiese berge en dorre vlaktetjies waar jy jou kan verbeel Bud Spencer en Terrence Hill gaan enige oomblik aangehuppel kom.

Die N1, weer, het te veel lorries, en as jy ’n Kewer ry, dan is lorries nie jou vriende nie. Wanneer hulle jou verbysteek (en nee, jy steek húlle nooit verby nie) dan sidder jou karretjie só erg dat jy moet vasklou aan die stuurwiel asof dit die laaste reddingsboei op die Oceanos is.

Boonop is die afstand tussen die dorpe op die R62 byna wetenskaplik uitgewerk: Montagu is jou eerste volmaakplek, Barrydale is vir ontbyt, Ladismith is vir koffie uitpiepie, Calitzdorp is vir droëvrugte, Oudtshoorn is weer vir volmaak, ensovoorts.

Maar reeds met die eerste stop op Montagu begin dinge lol. Die joggie gooi die tenk te vol, en toe ek weer sien, stroom daar ’n pienkerige petrolwaterval hier voor onder die “enjinkap” uit. Dis nou vir jou ’n ding.

Die Duitser wat nou al jare lank my Kewer diens, het die vorige week (onder meer) die petrolmeter reggemaak.

Dis die probleem met Kewers: As jy een ding regmaak, breek jy gewoonlik iets anders.

Gelukkig rook niemand naby nie en nadat ek en die joggie die ergste afgedroog het, sny ek bulte Barrydale toe. Ladismith kom en gaan en dan ry ek oor die Huisrivierpas, deur die vlakteveld anderkant Calitzdorp waar die klapperbosse blom en selfs die plakkies regop en hoog staan soos volstruise.

Daardie aand slaap ek in Cloud Cottage, ’n gastehuis in die mistige hoogtes van die Prins Alfredpas. Ek moes mooi ry op die paskronkels, nie soseer weens die glibberige pad nie, maar omdat ouens in Fortuners mos dink hulle kan teen 100km/h oor enige berg ry.

Dis tussen Kersfees en Nuwejaar en almal hou vakansie. My trippie ís my vakansie; dus ry ek die volgende oggend eers af na Die Vlugpadstal om by tannie Annelize van Rooyen te gaan klets, koffie te drink en skons te eet.

Dan ry ek weer terug teen die pas op, draai regs by Avontuur en klim in die Langkloof in.

Ek was lanklaas hier (as ek vir my ouers op Cradock gaan kuier, ry ek gewoonlik oor Willowmore).

Maar met ’n Kewer is jy binne Jan Alleman se prysklas. Nee, hierdie een is nie te koop nie, stel ek dié joggie teleur. Hierdie een het nog baie myle in hom.

Klein kolletjies op die kaart – Haarlem, Misgund, Louterwater – spring onverwags uit draaie en roep om foto’s. Dan gooi ek op Joubertina weer vol.

Hier’s iets wat nooit met jou gebeur as jy ’n Fortuner ry nie: G’n petroljoggie sal wanneer hy jou kleingeld bring, gemoedelik oorleun en vra of hy jou kar kan koop nie.

Maar met ’n Kewer is jy binne Jan Alleman se prysklas. Nee, hierdie een is nie te koop nie, stel ek dié joggie teleur. Hierdie een het nog baie myle in hom.

My suster, Celetje, en swaer, Warwick-John, sal mooi na die Bloureier kyk, dit weet ek. Warwick-John (ons noem hom sommer “WJ” vir kort) is ’n man wat met sy hande kan werk, en vir so iemand is ’n Kewer soos om skielik weer met Lego’s te kan speel.

Jy kan torring en losdraai, olie aftap en in jou stoor gaan rondkrap vir ’n stukkie yster wat iewers kan werk doen.

Naby Salielaagte, net voor die R62 in die N2 doodloop, laat ’n heuwel vol pienk watsonias my stilhou, omdraai en teruggaan om ’n foto te neem. Dié prag is ’n laaste soengroet vir my en die Bloureier voor ons die N2 vat.

Nes ek die afdraande anderkant die Kaapwegafrit in Port Elizabeth kry, verdwyn die wind egter uit my seile. Oftewel, die retread op die agterwiel kom af soos slap melktert. Verdomp!

My noodwiel is styf, maar wanneer ek begin rondkrap in die kar, besef ek ek het nie ’n domkrag óf wielsleutel nie (ek kry wel iewers ’n ou songebuigde Paul Simon-plaat).

Gelukkig vir onbeholpe ouens soos ek is daar die AA. ’n Uur later stop een van hulle bakkies agter my. Vir iemand wat nou seker sy twintigste wiel van die dag gaan omruil, is Reggie Potter (“ja, soos in Harry”) vol praatjies.

Die eerste twee domkragte wat hy probeer, is ook stukkend. Een (“daai #$@% ding!”) gooi hy sommer eenkant in die lang gras weg.

Maar kort voor lank is ek weer op pad. Ek ry stadiger, bang ek kry weer ’n pap wiel. Verby Colchester, waar die Sondagsrivier dreun van die vakansiebootjies, verby die Nanaga-padstal en sy pasteie (wat ek hierdie slag oorslaan), dan tussen die Suurveld se groen turksvybedekte heuwels in.

Wanneer ek indraai by die Shamwari-wildreservaat waar WJ werk, is my en die Bloureier se twaalf jaar lange kys amper verby.

Saam het ons musiekfeeste toe gegaan, meisies vervoer, grondpaaie kafgedraf en mank gestaan langs byna elke pad tussen hier en die Kaap. Noudat dit tyd is om die sleutels te oorhandig, is dit met ’n gevoel van hartseer én verligting.

Hartseer oor die goeie tye. Oor daai gevoel van welbehae wat ’n Kewer jou gee as jy agter die stuur inklim (nee, ’n Forester gee dit nie vir jou nie – wel lugsakke...).

Oor die feit dat die sitplekke soos sitkamerstoele voel (partykeer klim jy in en soek die afstandbeheer eerder as die rathefboom). Vir die toet en wuif na ander Kewer-eienaars wanneer hulle mekaar sien. Hartseer oor so baie dinge.

Ek trek in onder die skadunet, sit die enjin af (wat ná so ’n lang rit ’n rukkie vat om te gaan lê) en klim uit om WJ en Celetje te groet.

Ná ’n koppie rooibostee stap ek en WJ om die kar. Ek wys hom al die klein dingetjies wat hy moet weet.

“Ja, daar’s natuurlik die band – jy sal ’n nuwe een moet kry, eintlik twee. Die flikkerligte het ek laat regmaak in Kaapstad, maar hulle het al by Robertson ophou werk.

“Dan’s daar hierdie nuwe probleem. Die petroltenk lek ’n bietjie...”

Dis hoekom ek ook verlig is om die Kewer aan te gee. Al hierdie ou probleempies is nou WJ s’n.

Sterkte, ou swaer...


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #78 (2011) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook