As kind begin jy na die huis verlang as jy te lank op een plek vakansie hou.

Jy mis jou speelgoed, jou maats, die hond en jy wonder of die tannie langsaan genoeg saagsels in Cuddles se hok neergesit het. Cuddles is jou hamster.

Hy en Goliat (die hond) hou nie van mekaar nie. Dit bekommer jou.

Maar as volwassene hou jy soms so lekker vakansie dat jy nooit wil teruggaan huis toe nie. Want by die huis is jy en die hamster sielsgenote. Jy voel die meeste van die tyd self soos Cuddles wat voluit hardloop om die wiel aan die tol te hou. Tussen die huisverband, motorpaaiement, skoolgeld, spitsverkeer en ’n baas wat met ’n siniese laggie sê hy’s jammer om van jou *&^ te hoor, stroom die lewe by jou verby.

Dis g’n wonder daai kusdorpie waar die locals in plakkies en ’n swembroek werk, voel vir jou soos die paradys nie. Jy kan voor jou geestesoog sien hoe jy uit die tuin leef op ’n stil Karoodorpie waar jy jou eie groente met leiwater natmaak.

“Ja, hier kan ek mens word,” dink jy. “Hier kan julle my maar toespit,” verklaar jy aan jou eggenote.

Hier teen die tweede of derde besoek aan dieselfde plek begin die idilliese illusies een-een verbrokkel.

Jy sien die locals dra hulle eie kruise. Die ou in die plakkies en swembroek staar snags grootoog in die donker na die plafon, want hy bekommer hom oor hoe hy geld in die winter gaan maak as die toeriste huis toe is. Op die Karoodorp wil bure vuisslaan oor wie nou waar leiwater in die middel van ’n droogte gesteel het. Dan vind jy dit nogal vertroostend dat die gras aan albei kante van draad maar gelerig is.

Later raak dit lekker om die wêreld plat te toer. Jy geniet die beste wat ’n plek of land bied, maar daai behoefte om wortel te skiet op elke plek waar jy lekker kuier, vervaag met die jare.

Oos, wes, tuis, bes. Inderdaad. Maar dan gaan staan en verloor jy jou hart toet-en-taal in Namibië...

Ek is eers laterig in my lewe “Nam” toe en dalk is dit beter so. Vroeër – toe dit nog Suidwes-Afrika was – het baie van my skoolvriende op “die Grens” gaan draai. My nasionale dienspligjare het ’n ander pad geloop.

Ek het op ’n keer by my bevelvoerder, ’n omgesukkelde kolonel, gaan kla dat ek nie my sport in Pretoria kon beoefen nie en dat ek ’n verplasing Kaap toe soek. “Wat is jou sport?” wou hy weet. Hy’t sigbaar rooier geraak toe ek vir hom sê ek’s ’n surfer.

“Wat is jou mediese klassifikasie?” het hy vir my gesis.

“G1K1, Kolonel,” het ek geantwoord (dit beteken basies jy’s perdfris en gesond – uitstekende kanonvoer).

“Jy hoort in ’n tenk op Grens!” het hy vir my gegil en my by sy kantoor uitgejaag.

Dit het vir my nie lekker geklink nie. Ek was toe nogal skrikkerig vir Suidwes en sy “Grens”.

Ek kan seker nie die branderplankhatende kolonel die skuld daarvoor gee nie, maar in die daaropvolgende 20 jaar het ek nie die behoefte of die kans gekry om Namibië te besoek nie.

Maar sowat tien jaar gelede vlieg ek en my vrou Windhoek toe en ons land op ’n somersoggend – in die middel van nêrens, of so voel dit – by die Hosea Kutako- internasionale lughawe. “Waar is Windhoek?” wonder ons terwyl ons in die hitte na die verlate klipkoppies rondom ons kyk.

Ons vind die hoofstad sowat 40 minute later padaf – mooi, netjies en gerusstellend bekend dog terselfdertyd vreemd en eksoties.

Dit voel asof ons ’n parallelle heelal betree het. Ek verbeel my hoe ’n identiese tweeling moet voel wat net ná geboorte van mekaar geskei is, verskillende lewenservarings het en dan ná 40 jaar weer ontmoet.

Suid-Afrika en Namibië het so baie gemeen; maar ook nie. Só voel ek met die intrapslag oor my geboorteland en sy buurman.

Later kies ons suidwaarts koers, met die B1 langs na Rehoboth, waarna ons wes draai en mik na Solitaire.

Moose McGregor het toe nog geleef en hy bederf ons elk met ’n sny van sy apfelstrudel.

By Sossusvlei gee ek myself heeltemal oor aan die Namib, daar waar ’n mens kaalvoet bo-op Duin 45 kyk hoe die son oor die woestyn opkom.

Hierna sou ek elke geleentheid gebruik om in Namibië te kuier. Ek het al op baie plekke in die wêreld gaan draai, maar as mense vra wat my gunsteling is, sê ek sonder huiwering Namibië. Die bier en die biltong smaak lekkerder, daar’s minder mense en die wat daar is, is hartlik.

Die lug is blouer en skoner. Die Afrikaans klink mooier. Dalk verbeel ek my dit net alles, maar ek skud ’n juk af elke keer as ek die landsgrens oorsteek na Namibië.

Einde 2015 sit ek skemeraand in Walvisbaai se hawe in ’n restaurant met ’n groep gesellige Namibiërs en Suid-Afrikaners aan die einde van ’n week lange toer deur die Namib-Naukluft- nasionale park. My kop maal nog met alles wat ek die afgelope week ervaar het. Ek het in die anderwêreldse Kuiseb-canyon geslaap, by 20 verdieping hoë duine afgery terwyl die brulsand onder my Land Cruiser musiek maak, in die spookdorpie Charlottenfelder ’n Tafel Lager gedrink op die delwers wat 100 jaar gelede waarskynlik met meer moed as verstand fortuin gesoek het, en by die oorblyfsels van die woestynskip Eduard Bohlen gaan draai. Teen ’n massiewe duinwand het ek ’n statige gemsbok alleen sien loop terwyl die sakkende son lang skaduwees gooi.

En ek besef opnuut hoekom ek verlief is op Namibië. Dis nie ’n plek wat ’n illusie van ’n luilekker lewe aan jou smous nie. Hier word hard gewerk en jy werk netjies met dit wat jy het juis omdat daar nie oorvloed is nie.

Dit beteken ook die mooi dinge word gekoester... die land, sy natuurskoon en veral sy mense. Die feit dat ek tot dusver met die fynste sandpapier net begin skaaf-skaaf het aan die balk van ’n land, is gerusstellend.

Daar is nog so baie om te sien.

Wie weet, dalk ry ek selfs volgende keer al die pad op “Grens” toe om self te gaan kyk hoe lyk dit daar.

Maar nie in ’n tenk nie...


Hierdie artikel het in Weg se 2016 Namibië-reisgids verskyn. Ons splinternuwe 2020-Namibië-reisgids is nou beskikbaar! Jy het mos nou ’n bietjie tyd – beplan solank jou Namibië-vakansie.

Dit is nou op die winkelrakke (ja, jy mag tydskrifte koop as jy winkel toe moet gaan!), OF kry dit aanlyn op Zinio en Magzter teen R100.

2020 Namibië-reisgids
2020 Namibië-reisgids