Ons gaan wát doen?” vra ek.

“Botterboomry,” antwoord Kriel agter die stuur. Ons Toyota Venture skud in die donker oor die sinkplaatpad.

Ons is ’n troppie van seker so 20 studente, almal van die koshuis Dagbreek op Stellenbosch, op pad na ’n plaas in Montagu se wêreld. Ek, Thian “Bossie” de Beer en twee “jarre” (Dagbreek-taal vir eerstejaars), Manie Potgieter en Mauritz Thirion, wat later vir Namibië buitesenter sou speel, ry saam met Kriel.

Ons is almal in seksie 14 en op pad na ons seksienaweek.

Dis eintlik maar net ’n leer-mekaar-beter-ken-oor-rooiwyn-en-braaivleis-naweek. Kriel – sy regte naam is Francois Kriel, maar hy is ook bekend as Kortgat – is ons huiskomiteelid en in sy vierde jaar van ingenieurswese. Dis na hulle familieplaas waarheen ons op dié koue Vrydagaand in April mik.

Vir ’n boorling van Mosselbaai is die gedagte om op ’n vetplant te ry ’n vreemde een. “Kriel, wat de joos is ’n botterboom?” vra ek. “Jy sal sien,” sê hy.

Die volgende oggend met sonsopkoms sien ons vir die eerste keer hoe die plaas regtig lyk. Dit het daardie onmiskenbare karakter van die Klein-Karoo: Oral steek bossies hulle kop bo die dorre grond uit; en so ver as wat die oog kan sien, lê roesbruin berge in lae oor die landskap.

Mooi Erfenis was dekades gelede ’n skaapplaas, maar deesdae word hier met druiwe, appelkose en perskes geboer. Hier loop darem nog ’n paar stuks vee rond.

Terwyl ons op die plaashuis se stoep sit en koffie drink, beduie Kriel na ’n heuwel sowat 1 km na die ooste. “Dáár gaan ons botterboomry. Trek maar ou klere aan...”

Agterop die sleepwa, met Kriel aan die stuur van die rooi Massey Ferguson, sny die herfswindjie deur ons ou klere. By die heuwel word my vrees dat ek van die boom gaan afval nie juis besweer nie – tussen die bossies en vetplante lê skérp leiklipskerwe rondgestrooi.

Gaan ons oor dié goete “ry”? Ek en Bossie kyk angstig na mekaar.

“’Raait manne, nou moet ons die baan skoonmaak,” sê Kriel en haal ’n graaf van die sleepwa af.

“Dis lanklaas gebruik, soos julle kan sien.”

Hy beduie ons na ’n stuk wat omtrent so lank soos ’n dorpswembad en so breed soos Kobus Wiese is – seker so 20 x 2 m – waarbinne ons die ergste bosse, klippe en vetplante moet verwyder. Ons spring aan die werk. “En gooi al die vetplante daar op ’n hoop – ons is nog nie klaar met hulle nie!” sê Kriel terwyl hy ’n klapperbos uitspit.

Ná ’n halfuur se bloed, sweet en swets is Kriel tevrede met die “baan”. Hy stap na die stapel vetplante, tel een op en gooi dit op die grond. Dit is omtrent ’n meter lank, met ’n bonkige stam waarvan die bas losskilfer, en liggroen blare.

Kriel kloof dit onseremonieel met sy graaf in twee.

“Dít,” sê hy, “is ’n botterboom. En dit is waarmee ons híér gaan afry.”

Maar daar is nog een probleempie: Die baan is dalk skoon, maar nog nie glad nie. Hoe nou gemaak?

Die botterboom word so genoem oor die binnekant wat so glibberig soos botter is. Dis dié sap wat maak dat jy ’n botterboom kan ry – en dit, saam met die water wat op die baan gegooi word, word gebruik om die baan te “smeer” vir ’n vinniger en gladde rit.

“Moenie skaam wees om botterbome op te tjop nie. Hulle groei oral, en gee die vee krimpsiek,” sê Kriel, en kap nog ’n boom middeldeur.

As student vang ’n mens allerhande simpel dinge aan. In geen spesifieke volgorde nie was ek byvoorbeeld al skuldig aan: Kaalbas hardloop al om Dagbreek se quad ná ’n verlore weddenskap oor die uitkoms van ’n WP-Bulle-wedstryd; Londen toe vlieg vir mediese toetse om sakgeld te verdien; ’n dosent vertel die feit dat ek sy vak gedruip het, sê net soveel van sy onderrigvermoë as van my syfervaardigheid.

Maar terwyl ek luister hoe Kriel verduidelik hoe jy ’n botterboom ry, besef ek dié is waarskynlik die heel simpelste van alles.

Jy kies vir jou ’n vetplant – jou perd. Een met ’n langerige stam, en twee dwarstakke om aan vas te hou – die, uhm, stuurstang. Sny die onderkant van die voorste punt af sodat die plant se “botter” met die baan kontak maak – sodat jy lekker vinnig gly.

Gaan sit wydsbeen oor die plant, soos op ’n perd of fiets. Sodra jy reg is, skop vorentoe, en klou soos klitsgras. Hoe stop jy? Wel, daar ís ’n groterige wilderoosmarynbos wat as keerwal dien…

My beurt. Versigtig lê ek my tuig neer en gaan sit bo-op. My hart klop in my keel. Met bewende hande soek ek vashouplek aan die dwarstakke. Ons is ver van ’n hospitaal af…

Kriel tree eerste aan. Met ’n ysere blik klim hy op sy perd. “So maak mens,” sê hy, en weg is hy. Hy lag soos ’n kleuter wat gekielie word terwyl hy oor snotterige klippe bons, en die roosmarynbos invaar.

“Ek’s volgende,” skree Mauritz en hy is vort, met Bossie kort op sy hakke.

My beurt. Versigtig lê ek my tuig neer en gaan sit bo-op. My hart klop in my keel. Met bewende hande soek ek vashouplek aan die dwarstakke. Ons is ver van ’n hospitaal af…

“As ons wag tot jy eendag jouself wegstoot, is ons nog hier as die liewe Heer kom,” sê Manie, ’n ingenieurstudent, en skop my botterboom vorentoe.

Die koue Klein-Karoo-wind piets teen my wange. My hare wapper teen my ore. Die boom maak ’n aardige slymerige geluid. Dit voel omtrent asof jy met ’n branderplank strand toe blits.

Ek is vaagweg bewus van ’n groot glimlag op my gesig en ek hoor myself “joegaai!” skree (goed, ek het iets anders geskree…).

In die ry probeer ek die botterboom in ’n volledige sirkel spin en… ek kry driekwart gedraai voordat die roosmarynbos my stuit. Mensig, dit was pret!

Manie gly vinnig agterna. “Dis seker die lekkerste ding wat ’n mens met jou klere aan kan doen!” sê hy en hardloop terug boontoe.

Dis nie lank nie of ons baklei om ’n baanbeurt.

Dinge ruk gou (byna) handuit: Mauritz probeer op sy maag afgly; Manie kyk of hy staande botterboom kan ry (hy kan nie). Ek en Kriel besluit om ’n laaste keer saam af te gly, tandem op dieselfde perd. Ek sit voor, hy agter. Skaars ’n meter verder skiet die plant onder ons uit.

Ek is steeds nie seker hoe dit gebeur het nie, maar toe ek my weer kom kry, sit Kriel op my rug, en gebruik my arms as sy stuurstang.

Gelukkig was die baan teen dié tyd só seepglad dat ek amper moeiteloos na onder gly.

Ek sê amper, want in die pylvak skuif ek van die pad af. My T-hemp, wat ingesteek was vir maksimum beskerming, glip uit en in die proses word die meeste van die nerwe oor my heupbene afgeskuur.

Stadig kom ek orent. Álles is vol botterboomslym: my hare, my ore, my neus. En my hele lyf pyn. Kriel lyk ook of hy al beter dae geken het – iewers oor die laaste paar meter het hy van my rug afgeval en sy kortbroek aan flarde geskeur.

Die res, wat die petalje van die bopunt van die heuwel aanskou het, staan kromgetrek van die lag.

Die aand om die vuur vergelyk ons letsels: Manie se blaaie en lieste is vol skrape; Bossie se oorskulp bloei steeds. My nerfaf heupe maak dit moeilik om ’n broek te dra. En op ’n kol het ek ook ’n laerugspier verrek.

Dié extreme plaassport is soos die boereweergawe van skaatsplank- of sneeuplankry. Vir botter(boom) of vir wors, dié sal ek weer doen.

Elke sport het maar sy beserings, dink ek, en teug aan die lekkerste glas Tas wat ek al in my lewe gedrink het.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #106 (Augustus 2013) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook