Sy oë het my heel eerste opgeval. Rustig maar ongedurig. Ligblou met ’n stewige skoot swaarkry.

Hulle het stadig dog sekuur en ondersoekend oor die rakke van die motorhawe se deurnagwinkeltjiebeweeg.

In sy linkerhand het hy ’n Checkerssak vasgeklem. Sy regterpalm het met reëlmaat bykans onopsigtelik van sy wenkbroue oor sy ken geveeg. Hy het hier gevat en daar laat staan. Indien hy opgemerk het dat ek hom dophou, het hy dit nie laat blyk nie.

Hy het ’n kortbroek aan, al is dit reeds “diep in Junie” soos wat Koos Du Plessis sing uit my bakkie wat voor die winkel geparkeer staan met ’n luierende enjin as verweer teen’n pap battery.

Stewels met lang kouse. ’n Groen trui met ’n windjekker booor.

Buite is dit snerpend koud. In die winkel hang die geur van varsgemaalde koffie. Die petrolstasie is op die rand van Linden in Johannesburg. Ek drink gereeld laatnag hier koffie ter willevan geselskap wanneer ek snags werk. Oos van hier is die rykmansbuurte, wes die armes.

Ek staan nader en vra hom of ek ietsvir hom kan koop, wel wetende dat elke boemelaar ook sy trots het. Maar hy is nie ’n hierjy nie. Sy voorkoms is adellik, sy neus en ken trots. Amper soos die prentjie van’n Amerikaanse Indiaanse hoofman.

Hy dink ’n oomblik na en knikinstemmend. Ons begin deur die netjiese klein FreshStop loop. Afgemete, meter vir meter. Ek stel dít voor, hy vat dát.“Nee, dankie, Meneer,” sê hy. “Kool sal nie help nie, ek kan nie kook nie, my gasbottel is leeg.”

‘In sy linkerhand het hy ’n Checkerssak vasgeklem. Sy regterpalm het met reëlmaat bykans onopsigtelik van sy wenkbroue oor sy ken geveeg.’

Die piesangs en uie wys hy van die hand. Uie maak sy mond deurmekaar, en piesangs gee hom so ’n trekkerige surigheid op die maag, sê hy.

Ons koop saam vir byna ’n uur: vyf soorte sjokolade, appels, spinasie, toiletpapier, Red Bull, tandepasta, ’n komkommer, soppoeier, kaas, aartappelskyfies, ’n beker warm koffie, ertjies, drasakke, mayonnaise, vis-in-blikkies, poeiercappuccino’s, koffie, ’n moutdrankie, lemoene, perskes, melk, wortels, koeldrank, Doom, kaas, eiers, tamatiesous, mielies, rooiworsies, ingelegde vrugte, ’n pynappel, ’n liter koejawelsap, avokadopere, blikkies vleis, deodorant, ’n toebroodjie, ’n gasaansteker en wat nog meer.

Die rekening is meer as R1 000.

As aandenking van ons ontmoeting koop ek ook vir hom ’n klein, opgestopte speelding – ’n apie wat jy aan jou truspieëltjie sou kon hang. Hy het geensins gedink die apiekopery is snaaks nie, maar het dit aanvaar.

Ons stap uit en hy kyk na my 2004 Bantam-bakkie met die registrasienommer RVM 741 GP.

“Meneer is ’n goeie man,” sê hy. “Ek kan sien Meneer isnie ryk nie. Meneer ry ’n óú trokkie. Sê my, Meneer, waarvoor staan RVM?”

Ek antwoord dit staan vir Reneé van Molendorff, en hy vra waar is sy en ek sê sy is in die hemel – agt jaar al.

Hy sê dit is goed Meneer het die bakkie na haar genoem en ek sê dit was blote toeval. Toe ons die bakkie in 2004 nuut gekoop het, was dit maar die letters op die nommerplaat.

Ek vra hom versigtig na sy vrou en kinders. Hy kyk ver na die liggies teen Northcliff-koppies en sê hulle is weg van hom. Lankal. Hy is nou 72, nee 73. Hy was baie, baie jonger toe het hulle koers gekry, weg van hom af. Nou is dit net hy, hy en die Volksies.

Net voordat ons in my bakkie klim, vra hy my watse werk ek doen en ek sê vir hom ek is ’n professor in die wet. “Die Wet van Transvaal?” vra hy, en ek sê ja. Hy sit sy verslete Nike-skoen op die voorste linkerbuiteband van my bakkie en kyk my aandagtig aan. Hy krap agter sy regteroor en frons en kyk in die sterrehemel op en sê: “Meneer, Meneer was goed vir my, Meneer, maar ek moet sê, as Meneer ’n perfêsser is, Meneer, moet ek nou vir Meneer sê, is ek dônnerse predikant!”

My pa het my geleer dat jy eers vir iemand vra waar werk hy voordat jy hom vra waar bly hy. “By Nic se Volkswagens by die kontantgebou,” antwoord hy, en voeg dan met ’n skaam laggie by: “Ek is Vic en hy is Nic!”

“Die kontantgebou?” vra ek.“Daar is nog baie ou Volksies in mense se jaarts,” lig Vic my in. “Ons bou hulle op en duco hulle en dan verkoop ons hulle. Hulle lyk soos karre uit die boks as ons hulle die slag verkoop. Die kontantgebou is die gebou in Krugerstraat wat nie klaargebou is nie. Die einste gebou waarin ons die Volksies opbou.”

Ek verstaan skielik, want hierdie drie of vierverdiepinggebou met sy muurlose mure en vensterlose vensters prikkel my aandag al die volle 33 jaar wat ek daar verbyry. Eers baie jare met my kinders op pad skool toe en deesdae as ek kruideniersware gaan koop.

Lux in tenebris. Laat daar lig wees in die duisternis. Daar is vir my ná drie dekades lig in die duisternis.

Die kontantgebouword stuk-stuk gebou. Dís die eenvoudige verklaring. Soos hulle kontant inkry van karretjies regmaak en verkoop, sit hulle vensters in of bou nog ’n muur – dis waarom dit ’n “kontantgebou” is.

Dit is sewe minute oor elf die nag toe ons na sy werkplek toery – Vic bly ook daar. “In die gebou self?” vra ek. “Nee,” sê Vic. “In ’n Volkswagenbussie op die perseel. In daardie model wat uitgekom het net ná die bussie met die twee klein venstertjies agter.”

’n Blok van die kontantgebou af vra hy my om te stop. En nou? Nee, hy wil verder stap tot by die huis. Ek help hom om die stukkende voordeur oop te maak. By die huis skakel ek die alarm af en die koffiemasjien aan.

Ek gaan terug na die bakkie toe om my sjokolade te gaan haal wat ek vir die laatnagwerk gekoop het. By die voet van die passassiersitplek van die bakkie lê die inkopiesakke met al die goed wat ek vir Vic gekoop het. Hy het dit nie gevat nie.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #141 (Julie 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.