Die tente slaan ons in motreën op, en deur die nag sneeu dit.

Wanneer ons opstaan, stoot die mis in die vallei op en die tente word nat opgevou. En dan word die tog in die halflig van melkwit mis voortgesit. Selfs teen twaalfuur die middag kan jy niks sien nie.

Die terrein is nie besonder moeilik nie, net op en af met groot rotse. Maar dan kan jy natuurlik nie verder voor jou sien as tien treë nie. Keer op keer loop ons ons vas in die gapende afgrond van die Mweni Cutback.

Die twee Mweninaalde, Ukikicane en die Twaalf Apostels is heeltemal onsigbaar. So ook die Mwenivallei met sy helder bergstroom. Die kompas met sy bewerige wisselvalligheid boesem ook nie veel vertroue in nie.

Ons wil die aand slaap in die Mponjwane-grot, wat soos ’n vinknes teen die krans hang. Hier kan jy uit jou slaapsak die son oor die breedte van KwaZulu-Natal sien opkom.

Dis nou mits die son skyn, wat op die oomblik nie te waarskynlik lyk nie.

Ons moet nog ’n paar uur stap. Waar presies ons is, kan ons nie sien nie.

In die mis doem vier skimme voor ons op. Vooraan ’n vrou, middeljarig, met ’n buidelsakkie voor haar fletsblou anorak.

Onder die reënkappie is weggekamde vaal hare en ’n bolla. Rooi kamaste oor die dik bruin kouse wat bo die stewels uitsteek. Haar grys oë en dun mond dra die gesag van iemand wat jare lank skoolgehou het.

In haar hand is ’n stok, amper soos die staf van Moses. Sy druk die punt in ons rigting.

“Middag. Waar gaan julle heen?”

Agter haar kom haar volgelinge, twee mans en ’n vrou, plotseling in die paadjie tot stilstand.

“Hallo. Mponjwane,” sê ons. “Waarnatoe is julle reis?”

“Ons is ook op pad na Mponjwane, en julle loop in die verkeerde rigting,” kom dit kortaf, terwyl haar grys oë ons minagtend aankyk.

“Waar is suid dan?” vra ons.

“Gee jou stok, Boet. Laat ek hulle wys.”

Die middeljarige man agter haar gee sy lang staf aan. Ons staan almal in ’n halwe kring om haar soos voor ’n orakel. Sy hou die twee stokke horisontaal oorkruis.

“Kyk,” sê sy, “jy moet sorg dat die twee stokke presies reghoekig oormekaar lê. Omdat oos dáár is, is suid dáár. Dit staan vas.”

“Ja,” sê ek, “maar hoe weet jy dit is oos?”

En ek wys wes.

“Natuurlik is dit oos,” sê sy uit die hoogte.

“Nee, dis wes,” waag ek teëspraak.

“Ek was al dikwels hier in die Drakensberg en ek maak geen fout nie,” antwoord sy afdoende.

“Nou ja,” laat ek lakoniek val, “dan moet ons maar elkeen ons koers kry en kyk wie is reg en wie kom by Mponjwane uit.”

Haar drie volgelinge lyk ongemaklik. “Het julle ’n kompas?” vra Boet.

“Eintlik twee, en julle?” vra ek.

“Nee.” Boet lyk skaam. “Ek kom al dertien jaar berg toe en bring altyd een saam,” sê hy. “Ek het dit nooit nodig gehad nie. Noudat ek dit nodig het, het ek dit by die huis vergeet. In die mis is ek skoon verdwaal.”

“Wel, ek nie,” onderbreek tant Sus. “Daar is oos.”

En sy wys wes. Vasberade.

Sy skuif haar rugsak reg en laat blyk dat die gesprek afgesluit is.

Ek ignoreer haar opmerking en haal die kompas uit die rugsak se ritssakkie. Die ander drie buig oor my skouer toe die bewerige naald tot stilstand kom. Natuurlik is noord waar hy moet wees, te wete noord. Ek kan ook nie nalaat om dit nadruklik te kenne te gee nie.

“Wag nou, Sus. Laat ons eers na die kompas kyk,” kom dit ietwat smekend van Boet. Uit die feit dat hy geen voet versit nie, blyk dit muitery is op hande.

Ook die ander twee, wat nog geen woord gesê het nie, staan roerloos. Ek lei af dat dit Boet se vrou en Sus se man is. ’n Familietwis is op hande.

“ ’n Mens kan g’n kompas vertrou in hierdie berge nie,” sê tant Sus.

Ek ignoreer haar opmerking en haal die kompas uit die rugsak se ritssakkie. Die ander drie buig oor my skouer toe die bewerige naald tot stilstand kom.

Natuurlik is noord waar hy moet wees, te wete noord. Ek kan ook nie nalaat om dit nadruklik te kenne te gee nie.

“Is jy seker jou kompas is reg?” vra Boet, nie heeltemal oortuig nie. Ons bring die ander een te voorskyn. Dié wys ewe bewerig in dieselfde rigting as sy maat.

“Dis al wat ons het. Ons moet daarop vertrou,” sê ek.

Vir die eerste keer neem die tweede man aan die gesprek deel. “Poplap, dit wil voorkom of die mense reg is. Ons is verdwaal.”

“Onsin, Pieter. Daar is oos.” En sy wys wes.

“Sus, die mense lyk of hulle weet wat hulle doen. Ons moet hulle rigting volg,” kom dit van ’n kriewelrige Boet.

Sy heelwat jonger vroutjie staan swyend eenkant, uit ontsag vir haar skoonsuster.

Uit respek vir hulle privaatheid beweeg ons so tien treë weg toe die groot twis tussen tant Sus en Boet uitbars.

Ons bewonder die niebestaande uitsig, maar ná vyf minute raak ons geduld op en ons vat koers in die rigting van Mponjwane.

Maar toe ek ná ’n rukkie omkyk, is Boet en sy vroutjie kort op ons hakke.

Dan volg Pieter en, dofweg in die mis, is nog ’n gedaante sigbaar.

Een in ’n fletsblou anorak met ’n stok in die hand.

Só stryk ons aan deur die mis. ’n Uur gaan verby.

Twee. Dit begin liggies reën.

Van voor af hoor ons stemme en die klank van hoef teen klip.

Pakdonkies en hulle drywers doem uit die mis op.

Die Basotho’s is dig gewikkel in hulle veelkleurige komberse. Die donkies en hulle pakkase is donker van die nattigheid.

Ons groet. Hulle groet vinnig en gaan verby. Seker dagga in die pakke, dink ons. Maar daar agter keer tant Sus die leier voor deur met haar stok sy pad te versper.

“Sawubona,” groet sy die Basotho in haar enigste Zoeloe. “Dumela,” kom dit uit die kombers. Sy neem hom onder kruisverhoor met leidende vrae sonder om eers vas te stel of hulle mekaar verstaan.

“Jy weet mos waar is oos? Daar waar die son opkom. Reg?” trek sy los.

“Ê,” kom dit vanuit die kombers. Uiteraard is daar van son geen teken nie.

“En daar is oos, of hoe?” Sy wys met haar stok, wes.

“Ê,” klink dit dof van waar twee oë vraend uit die kombers loer.

“Sien julle, ek het julle mos gesê!” Sy gluur kwaai in ons rigting. Sy draai haar kop majestueus terug na die vreemdeling, rig haar stok na die mistigheid waarvandaan ons kom en sê in haar beste Sotho: “Mponjwane, Mponjwane!”

’n Onbegrypende stilte volg. Sy herhaal die woorde driftig. ’n Vrou van tant Sus se statuur moet liewers nie weerspreek word nie.

Die “ê” uit die kombers is nie vir my ’n verrassing nie. Vir tant Sus ook nie. Sy het niks anders as instemming verwag nie. Die Basotho’s vat koers en verdwyn in die mis.

Sy kap met haar stok op die grond. Beslis. “Hier draai ons om, Boet. Ek laat my nie verder op sleeptou neem deur ’n spul trippers nie.”

Boet rig sy oë weemoedig na ons. Sy vroutjie kyk af op die grond. Tant Sus se swygsame wederhelf bly natuurgetrou stil. Die mis lyk sommer digter.

“Kom ons loop, die tyd raak min,” beveel tant Sus. Sy hys haar rugsak met haar linkerhand ’n sentimeter hoër op haar rug, draai vasberade om en stryk met swaaiende stok aan – terug soos ons gekom het. Sonder om te groet.

Haar drie geselle kom woordeloos ook in beweging net toe sy soos ’n skim in die mis verdwyn.

Vir ’n paar minute hoor ons nog die klank van stewels op klippe. Toe word dit stil en die mis sluk almal in.

’n Uur later laat ons moeg ons rugsakke in die Mponjwanegrot sak. Wat van tant Sus en haar agterryers geword het, het ons nooit verneem nie.

Dit is nou lanklaas dat ek in die omgewing van Mponjwane was en ek kan dus nie instaan vir die waarheid van die gerugte nie.

Maar bergklimvriende wat redelik gereeld daar klim, vertel dat as die ooswind hard waai en die mis dig toeslaan om Mponjwane, sien jy op ’n afstand soms vier skimme opdoem, een met ’n fletsblou anorak vasberade vooraan.