Dis nie aldag dat jy op die eerste nag van jou droomvakansie in jou slaapsak lê en bibber en dan nog steeds met eerste lig voel jy het ’n fantastiese tyd nie. Maar dié is nie enige vakansie nie: dis ’n wíldernisvakansie. En koudkry is ’n wildernisding: swaarkry hóórt in die wildernis.

Maar hoe diep in die wildernis kan ek dan nou werklik wees as ek in my slaapsak lê en WhatsApp?

Ek is in die Richtersveld saam met drie vriende van Springbok:die 4x4-gids Rey Janse van Rensburg en twee van sy regterhande op toere, Cobus Visser en Enrico Oosthuysen.

Ons is gister naby die Vandersterberg – binne die grense van die Ai-Ais-Richtersveld-oorgrenspark – afgelaai en beplan om oor vier dae sowat 50 km te stap. Nie ’n ver stap nie, maar ’n táái stap.

Ek het sowat twee jaar vantevore ook saam met Rey, Cobus en Enrico – as deel van ’n groter groep – hier in die Richtersveld se ruwe berge gestap. Dit het my lusgemaak vir nóg Richtersveld, méér Richtersveld, díéper Richtersveld.

Ons het toestemming gekry by die Parkeraad om deur ’n deel van die park te stap waar niemand – behalwe die paar skaapwagters wat soms hulle vee hier laat wei – ooit kom nie.

Die idee was dat ons aan die westelike kant van die park sou begin stap en dan die berg se natuurlike wes-ooslyne sou volg en dan die berg se natuurlike wes-ooslyne sou volg na die ooste van die park, daar waar dit aan die Oranjerivier grens.

Ons sou lig stap, sonder tente; wild slaap, gesig teen die nag. Dís hoe ek leer stap en slaap het saam met dié einste drie manne.

Bowenal wou ons dit ’n wildernisstap maak. Ver van verkeersknope, koerantopskrifte en die gedruis van tegnologie.

Ons word wakker bo-op die Vandersterberg, wat meer as 1 km uittroon bo die woestynvloer wat weste toe verdwyn na Alexanderbaai se kant toe. Na die ooste val die kranse meters van ons slaapsakke weg na ’n dorre valleivloer – Armmanshoek – 800 m onder ons. Dan lê die Tswaïesberg soos ’n stowwerige likkewaan, en verder troon die Tatasberg uit. Verder nog, aan die Namibiese kant en 70 km weg soos die kraai vlieg – Spieëlkop.

Kyk noord en jou asem word weggeslaan. Doer lê die Namibwoestyn se suidelikste sandtong wat net wes van Rosh Pinah uitsloep tot teen die Oranjerivier. Jy sien vér van hier, hemelver.

Maar tog: My selfoon sê ek het 3G-ontvangs, en ek stuur gou ’n WhatsApp deur na vriende in die Kaap, en sommer na nog een in Rwanda en ’n ander in Skotland. Watse wildernis is dié dan?

Die antwoord lê aan die westelike voet van die Vandersterberg: die klein dorpie Khubus. Hier’s ’n selfoontoring naby wat onder meer dié gemeenskap bedien, en dis einste sein wat ek nou opvang.

Ja, een ou se wildernis is die ander se agterplaas.

Maar hier waar ons vanoggend stap, kom byna nooit mense nie. Dis die domein van klipspringers, dassies wat jou kantoog aanstaar en delikate akkedissies wat voor jou voetval wegskarrel.

Dis stil, want hier is niks wat lawaai kan maak nie. Selfs wanneer die wind waai, raas

dit nie, want hier’s nie bome waardeur dit kan huil nie.

Die selfoonontvangs hou nie lank nie, en ek skakel my foon af. Ons vier vind ritme; dis die tweede dag van ons stap, en ons het nog sowat 40 km om af te lê tot by ons eindpunt – Rosyntjiebosfontein – waar ons met ’n bakkie opgepik gaan word.

Ons sakke is lig, maar so vol as moontlik gepak met water. In die woestynagtige Richtersveld is jy niks as jy nie water het nie.

Vandag kry ons niks drinkbare water langs die pad nie. Ons slaap by Vensterval waar daar, wanneer hier vloedwater afkom, ’n waterval val rég onder deur ’n rotsboog. Ek lê op my rug – vanaand warm toegewikkel in my blink noodkombersie – onder die Melkweg en probeer myself indink hoe dit moet lyk wanneer Vensterval loop.

Dis dalk wat ’n wildernis is: ’n Plek waar rare natuurverskynsels plaasvind maar geen mensoog – geen GoPro, geen iPhone, geen niks – getuie daarvan is nie. In die wildernis gebeur dinge meestal alleen.

Vroeggend is ons weg by Vensterval, klim ’n bult, daal weer af, en swaai dan ons sakke van ons skouer by Modderwater.

Hier ís water. Dit proe soos modder, maar met ’n bietjie verbeelding proe dit soos ’n rokerige Skotse whisky. ’n Lagavulin dalk, of Laphroaig.

Rey herinner ons daaraan dat jy in die Richtersveld water nooit ligtelik opneem nie. Wanneer jy dit kry, benut jy dit ordentlik. Jy drink. Jy rus. Jy vul maag én siel.

Verfris stap ons voort, al op die spoor van koedoes – een groot, een klein – in die paadjie hier uitgetrap deur kleinvee en wildsbokke.

Met hierdie stap begin jy dink soos ’n wildsbok. Jy kyk na ’n ruwe hang aan die oorkant van die klofie en jy vra jouself: Waar sou die bokke langs loop? Rey leer my hoe om ’n bokpaadjie raak te sien, en hoe om dit te volg. Dis nie maklik nie. Die paadjies raak weg, hulle raak versinnebeelding, hulle is vaag soos die watermerk in ’n vuil tienrandnoot.

Maar met jou voet op die paadjie, op die spoor van die koedoe, voel jy geaard. Jy voel nader aan die wildernis. Jy voel dat jy trap waar die diere trap, en dat jy dus die regte paadjie volg.

Bokpaadjies is nie al wat ons volg nie. Enrico het ’n GPS en 1:50 000-kaarte van ons roete. Soms vou ons dit oop in die wind en pak dit op die grond vas met klippe. Ons kyk na die landskap rondom ons en vra: Watter berg is dié een op die kaart? Watter

vallei is makliker om deur te stap?

Ons nader ’n berg genaamd Katkop. Moet ons links om Katkop stap, of regs? Ons besluit om regs om te stap. Rey het al op baie plekke in die Richtersveld gestap, maar selfs hy het nog nooit regs om Katkop gestap nie.

Dis die domein
van klipspringers,
dassies wat jou
kantoog aanstaar
en delikate akkedissies
wat voor jou
voetval uitskarrel.
Dis stil, want hier is
niks wat lawaai kan
maak nie.

Dit word gou duidelik dat die skaapwagters ook nooit hulle kuddes regsom Katkop vat nie. Die bokpaadjies vernou, vervaag, verdwyn.

Voor ons begin ’n nuwe kloof. Dis dig begroei met kniehoogte droë struike, en ons stoot ons knieë en maermerries daardeur. ’n Klipspringer fluit, en ons stop en rus en drink ’n slukkie modderwater en kyk na die klipspringer. Of is dit twee klipspringers? Die een staan so stil dit lyk soos ’n stuk droë kokerboom. Maar dan word die “droë boom” volwaardig vlees, en bons weg van klip tot klip.

Onder ons val die kloof skielik weg in ’n diep ravyn. Ons soek afklimplek, en skuifel dan versigtig na benede.

Wanneer ons onder kom, staan ons in die skaduwee. Die berge is so steil die son is nou weg.

Die rotse hier is koel – hulle kry min son.

Vanaand slaap ons nie waar ons vooraf beplan het om te slaap nie. Op ’n manier het ons verdwaal, maar dit was die beste soort verdwaal: ’n vrywillige verdwaal.

Rey roep halt wanneer ons ’n ooptetjie tussen die rotse kry.

Wanneer ons begin grondseiltjies oopsprei, sien ons dat ons dit oopsprei bo-op vars luiperdspore. Hoog, hoog bo ons vou twee witkruise hulle vlerke krom en duik deur die ongeskonde lug.

Ek lê in my slaapsak met ’n groot glimlag op my gesig. Môre verlaat ons hierdie kloof en stap stadigaan weer nader aan waar mense beweeg, boer en woon. Aan die einde van ons stap wag vriende met ’n Land Cruiser, en ’n koelboks vol koue bier. Kort daarna sal daar weer selfoonontvangs wees.

Maar vanaand, hier waar ons slaap in die diepste vou van Katkop, is ons in die wildernis. Vanaand klop ’n vars luiperdspoor onder my linkerskouer, en nog een roer in die waai van my regterbeen.

Dít is die wildernis.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #129 (Julie 2015) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien. 

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook