Ons gesin het drie honde: ’n geel labrador genaamd Hunter, ’n bruin labrador genaamd Coco en ’n gespikkelde worshond, Lucy.

As ek dit net durf waag om aan ’n leiband te vat begin hulle mal blaf.

Daar word in die rondte getol en getrippel, amper soos peuters wat te veel malvalekkers by ’n My Little Pony-kinderpartytjie geëet het.

Of – afhangend van hoe jy daarna kyk – soos histeriese winskopiejagters by N1 City op Swart Vrydag.

Sterte waai ywerig, hondenaels gly op teëls, en enigeen wat in die pad van hulle en tydelike ontslag uit ons erf staan, loop die gevaar om onderstebo geboender te word.

Die opwinding begin eintlik reeds wanneer ek my klerekas oopmaak, honde agterna, en my tekkies uithaal. (Dis seker wat my vrou oor mý sê as ek die eerste note van “Nkosi Sikelel iAfrika” voor ’n rugbytoets hoor...)

Sterte waai ywerig, hondenaels gly op teëls, en enigeen wat in die pad van hulle en tydelike ontslag uit ons erf staan, loop die gevaar om onderstebo geboender te word.

Sodra die tekkies aan my voete en ek beslis op pad is na die leibande, is die koeël deur die kerk. Daar is ’n groter kans jy kry politici om die waarheid te vertel as om ons drie honde te bedaar.

Soms gaan stap ek net met die twee grotes, Coco en Hunter, want Lucy se klein lyfie raak maklik platgetrap onder oorywerige labradorpote, en sy kan ook nie so ver soos hulle stap nie. Dan weerklink Lucy se weemoedige getjank oor die onreg wat sy aangedoen is.

Dieselfde gebeur wanneer ek die dag een van die honde veearts toe moet neem: Die tweetjies wat agterbly, huil aanvanklik so erg ’n mens sou sweer jy ontneem hulle van hulle hondwaardigheid. Dis aardig.

Wanneer poot en tekkie dan uiteindelik die teer tref, is hulle in hulle element. Hulle snuffel rond, Hunter laat sy merk op elke lamppaal vir die eerste 200 m, Coco bokspring soos ’n springbok en Lucy lek die twee groot honde se ore soos ’n kind Orange Maid-lollies lek op ’n warm somersdag.

In my grootwordhuis was daar altyd honde: Maltesers, worse, ’n pavement special of twee, ’n foksterriër, ’n spanjoel. Hulle name het gewissel van Wollie (die malteser) tot Pluto (glo ’n miniatuur-worshond, maar hy het ongetwyfeld staffiebloed gehad).

My eerste hond het Oortjies geheet – hy was ’n pavement special wat ek op my sesde verjaardag gekry het. Skaars ’n week later het hy uit die erf geglip en is nooit weer gesien nie. Ek het darem nog ’n foto van my en Oortjies iewers in ’n album.

My ma het nie van groot honde gehou nie. Trouens, ook nie juis van reuns nie (“Hulle piepie teen álles...”). Maar klein hondjies! Klein hondjies kan byvoorbeeld op jou bed lê. Goed, jou sint bernard seker ook, maar dan kan jy nie óók op die bed wees nie. Klein hondjies eet min; groot honde vréét. Klein hondjies se bolle is piepklein; groot honde los landmyne.

Daar is natuurlik ook ’n ander kant van die debat: Voornemende inbrekers is dalk bang vir ’n Duitse herdershond terwyl min sou skrik vir ’n malteser.

Daar is ook ’n groot verskil tussen hoe jy met ’n klein hondjie stap teenoor met ’n grote. Klein hondjies raak nét so opgewonde soos groot honde wanneer jy hulle vir ’n stappie vat, maar minder mense verwag dat hulle aan ’n leiband moet wees – hulle is mos nie juis “gevaarlik” nie. En selfs as hulle aan ’n leiband is, is hulle maklik om te beheer.

Groot honde is egter ’n perd van ’n ander kleur.

Wat my bring by óns honde.

Toe ek en my vrou tien jaar gelede na ons eerste huis trek uit ’n woonstel, kon ons nie gou genoeg ’n hond kry nie.

Trouens, ons het nog twee weke in die woonstel gebly toe Hunter as ’n piepklein bondeltjie vreugde en tjank by ons sy intrek geneem het. Toe ons uiteindelik by die huis intrek, het hy so onbedaarlik getjank wanneer ons nie tuis was nie dat ons kort daarna vir Coco gekry het. Sy was ’n vet bondeltjie vreugde van konstante honger.

Labradors se babafase duur glo twee jaar; dus is hulle ook stout vir twee jaar. Hunter en Coco het onder meer die volgende gevreet: Twee van my leesbrille, my vrou se pepersproei (wat hulle skelm uit haar handsak gehaal het), ’n selfoon en les bes, ’n christusdoringplant.

Vir die wat nie weet nie: ’n christusdoring lyk min of meer soos jy jou sou voorstel Jesus se doringkroon lyk. Dis ’n knoeserige doringbol. Ons het dit juis geplant omdat ons gedink het hulle sou dit nooit soos die ander plante uitgrawe nie. Hulle het daai christusdoring wortel en tak opgevreet.

Soos ywerige jong “ouers” het ons die twee brakke vir hondeklasse gevat. Dit het goedgegaan. Terwyl die instrukteur teenwoordig was, het hulle mooi geluister. Dit het ook gehelp dat ons hulle een-een geneem het – een week Hunter, een week Coco. Maar nes jou kar se starter dadelik weer sukkel sodrá jy weg is by jou mechanic (want daar het dit nie gelol nie), só is dit ook met honde en die maniere wat hulle kwansuis by hulle klasse geleer het.

Dit help egter altyd om hulle besig en hulle energievlakke in toom te hou. Vir die labradors is dit belangrik om gereeld met hulle bal te speel of te stap.

Saam met die ouderdom het ons honde gehoorsaam geword. Ek kan nie onthou wanneer laas hulle iets stukkend gekou of uitgegrawe het nie (die babaworsie is egter nog knaend kouend).

Wat egter in tien jaar onveranderd gebly het, is ons staproetine. Wanneer ek met net een van die honde gaan stap, is dié so soet soos ’n matriekkind wat voorgestel word in die kerk.

Daar is egter iets oers wat in hulle binneste loswoel wanneer ek met hulle almal tegelyk gaan stap. Dit moet die trop-verskynsel wees. Wanneer hulle aan die band is en die voorhekkie van ons erf gaan oop, is hulle uit die blokke en dadelik op volspoed. As jy daai opwinding kon omskakel in energie, was Suid-Afrika se Eskom-probleem iets van die verlede.

‘Daar is egter iets oers wat in hulle binneste loswoel wanneer ek met hulle almal tegelyk gaan stap. Dit moet die trop-verskynsel wees.’

Die eerste kilometer of so is waarskynlik ’n spektakel vir aanskouers – twee labradors (en soms ook ’n gespikkelde worsie) vooraan met ’n baas wat net-net bybly. Ek hoor gereeld: “Stap jý met hulle of húlle met jou?” Of, soos my buurvrou graag opmerk, ek lyk soos ’n lap wat agter hulle aanwapper.

Wanneer hulle begin moeg raak, bedaar hulle genadiglik. Maar net totdat hulle weer ’n hond hoor blaf, dan is dit weer hef aan, ek agterna. Dis nie net sommer draf nie – my hele lyf is deel van die oefening! Wie het CrossFit nodig as jy met groot honde gaan stap?

Eenkeer het ons troppie verby ’n man geblits wat ons totale teenpool was. Hy en sy boerboel het afgemete en bedaard gestap, die hond reg langs sy linkerheup. Die baas was totaal in beheer. Daar was nie eens ’n haar uit plek op sy kop nie.

Ek het so na my woewe geloer wat uitbundig hardloop en besef dié spektakel sê iets van my persoonlikheid: Ek voel soms kwalik in beheer van enigiets in my lewe. Ek neem aan die man met die boerboel se tuin is netjies, sy bed elke oggend opgemaak, sy testament in orde.

Geniet ek dit om met my honde te gaan stap? Natuurlik – hulle natsnoet-opwinding maak dit die moeite werd. Maar as ek eerlik is? Ek begin verstaan hoekom my ma van klein hondjies hou.

As ek eendag weer groot honde kry (hoewel as ek weer eerlik moet wees, kan ek nie my lewe sonder ’n labrador indink nie), gaan ek hulle van die eerste dag af leer hoe om ordentlik te stap.

Dalk lyk en voel ek dan ook in beheer van my lewe…