Maar een nag versteur iets jou diepe rus; jy raak beneweld wakker. Waar kom daardie diep, amper onheilspellende gegrom buite die tent vandaan? Jy luister aandagtig, maar dan is dit net skoonveld.

Het jy jouself dan verbeel? Jy sluimer weer in. Maar daar’s dit weer! Wat op dees aarde kan dit wees? ’n Waterbuffel wat longsiekte het? ’n Bees wat ’n plastieksak geëet het en besig is om te vrek? Of dalk ’n leeu? ’n Reusagtige maanhaar, amper rég langs jou tent!

Wag ’n bietjie... is dit nie presies waar ou Koos se tent is nie? Die ou bliksem, dis sy gesnork!

Wys my die man of vrou wat nog nie deur ’n snorker geteister is nie en ek wys jou iemand wat nog nooit in ’n groep tent opgeslaan het nie.

Naas vleisbraai, flou grappe en tentpenne wat onverklaarbaar minder word elke keer as jy tent opslaan, is ’n gesnork een van daai konstantes as jy in ’n groep reis en kampeer.

Maar afgesien van ’n paar skimpe en doodmoeë mense die volgende oggend praat niemand daaroor nie. Hoekom nie?

Geen toerleier maak vooraf melding oor snork nie. Dis altyd: “Mense, onthou om net julle voetspore agter te laat en slegs goeie herinneringe saam te neem.” Of: “Moenie die wilde diere voer nie.”

Wys my die man of vrou wat nog nie deur ’n snorker geteister is nie en ek wys jou iemand wat nog nooit in ’n groep tent opgeslaan het nie.

Nóóit word die snorkers gevra om hulle tente buite hoorafstand van die res op te slaan nie.

Kyk, die meeste mans ouer as 35 snork. Dis ’n feit van die lewe soos pap bande en vassit in die modder. Maar jy kry snork en dan kry jy snórk.

Gewone snork is amper deel van die rustige naggeluide van krieke, paddas en die ritmiese geklikkeklak van ’n trein. Laat niemand dus sê ek is onredelik nie.

 Maar party ouens se snork is ’n natuurkrag met genoeg geweld om die onderwerp van ’n National Geographic-TV-reeks te wees.

Dink net, dit het die potensiaal om die drama en interpersoonlike wrywing van Survivor te kombineer met die vermaaklikheidswaarde van Idols, terwyl deelnemers Ray Mears se Bushcraft kan inspan om van die snorkers se intimidasie te ontkom.

Só verken ek en ’n groep mense ’n paar maande gelede die Richtersveld en beland ons by ’n kampplek reg op die wal van die Oranjerivier.

Ek was een van die eerste ouens wat aangekom het en het my tent vér weg van almal, doer in ’n hoek gaan opslaan. Altans, dit was die plan. Want toe ek laataand terug is tent toe, het dit gelyk soos ’n VNvlugtelingkamp in Darfoer.

Gewapen met my kopflits kon ek darem weer my tent kry sonder om oor iemand anders se tent te val.

Uiteindelik het ek aan die slaap geraak. Maar nie voordat ek oudergewoonte my oorpluisies ingesit en my slaapbril opgesit het nie – goed wat ek altyd doen as ek in ’n “tentedorp” bly.

Halftwee die oggend het ’n vibrasie, wat op die Richterskaal moes registreer, my wakker gemaak. Ek kon net sowel geen oorpluisies ingehad het nie.

Hierdie snorker het klaarblyklik in ’n ander liga meegeding. Een waarin groot soogdiere soos grysbere, leeumannetjies, olifante en ploegperde speel.

Maar dit was nie al nie. Mnr. Snork het besluit om sy tent minder as 50 cm van myne op te slaan.

Hierdie snorker het klaarblyklik in ’n ander liga meegeding. Een waarin groot soogdiere soos grysbere, leeumannetjies, olifante en ploegperde speel.

Dit bring my by die volgende punt. As iemand weet ’n Amerikaanse spioenasiesatelliet kan sy gesnork raaksien, hoekom gaan slaan hy nie sy tent ’n entjie verder weg op nie?

En ek val ook nie vir die verskoning van “ek kan nie help dat ek snork nie”. Want dié ou se pens is groot genoeg om menige respektabele Japannese walvisjagter van opgewondenheid te laat giggel.

Wel, jy “kán help” deur jou tent op te slaan waar jy nie ander mense uit die slaap hou nie.

Die uiteinde was dat ek hom omtrent elke driekwartier wakker gemaak het sodat hy kan ophou snork. Die volgende oggend het ék my tent geskuif.

En was hy daarna die josie in vir my! Jammer om te hoor van jóú moeilikheid, mnr. Walrus.

Afgesien van dié wakkermaaktegniek, wat om ooglopende redes net ’n laaste uitweg is, is daar ook ander tegnieke wat jy kan gebruik om ’n gesnork die hoof te bied.

Die algemeenste een is om ’n paar stewige happe te maak en te sorg dat jy voor die erge snorker gaan inkruip. Die teorie is dat jy al diep sal slaap voordat die gewonde buffel begin bulk.

Uit ondervinding weet ek dié tegniek bied net ’n 50/50-kans op sukses, want dit maak hoofsaaklik staat daarop dat die snorker nie té erg snork nie. Die ander probleem is dat as die snorker langer wakker bly, dit noodwendig beteken dat hy langer gaan drink.

Kort voor lank praat die manne kliphard en lag ál meer vir ál flouer grappies.

Weldra kruip een se vrou uit ’n tent en beduie dat hulle sagter moet praat. Dan sê die een aangeklamde ou vir die ander: “Hei ouens, ons moet sjjjjjjjjjjjt!!!” waarna almal giggel en kliphard fluister totdat hulle dertig sekondes later vergeet dat hulle sagter moet praat en harder begin lag as tevore.

En jy moet hoor hoe perform ’n man as hy eers die rug van ’n bottel Captain Morgan geknak het.

Tydens ’n reis het ek ’n kamer gedeel met ’n bekroonde Afrikaanse skrywer van misdaadverhale. Sy ander prestasie is sy vermoë om balke te saag soos ’n kampioen.

Soos die noodlot dit wou hê, het ek my oorpluisies ná twee dae verloor. Die volgende aand het ek besluit om ’n bietjie langer as hy wakker te bly.

Kort ná middernag was dit sulke tyd. Slaap was geheel en al onmoontlik. Uit desperaatheid het ek naderhand ’n mes gevat en ’n T-hemp in repies gesny, wat ek in my ore gedruk het. Daarna het ek ’n lang strook van die flarde gevat en om my ore en kop gedraai totdat ek soos Moaner van Heerden gelyk het.

Nodeloos om te sê het ek verniet ’n T-hemp vernietig. En dit het ’n láng nag geraak.

Jy kan natuurlik ook heelnag wakker bly en sélf om die vuur raas, maar dan pla jy ook die onskuldige mense. Daarom het ek al gewonder of jy snorkers nie nagskof moet laat doen nie: Hulle moet snags eenvoudig wakker bly en hout aandra vuur toe en waghou terwyl almal slaap.

Môreoggend vroeg, wanneer almal begin roer en regmaak om te ry, dan maak jy vir hom ’n bedjie agterin ’n voertuig sodat hy die res van die dag soos ’n baba kan slaap.

Dis eintlik heel gepas, want ek weet nie wat die ergste is nie – ’n baba wat heelnag skreeu of ’n man wat heelnag snork.

En as jy wel daarin kon slag om ’n oog toe te maak, is daar altyd weer die een of ander ou wat kort ná vieruur die oggend opstaan om sy dieselbakkie aan te skakel (hoekom is dit áltyd die dieselmanne wat dit doen?) “sodat die batterye kan laai” en kliphard met blikbekers en -borde begin raas.

As jy mooi kyk, sal jy agterkom die snorkers oorheers die tyd van 23.00-04.00, waarna die vroegopstaners die aflosstokkie oorvat. Wanneer is ’n mens dan veronderstel om te slaap?

Jare gelede het ek maklik ja gesê as ek genooi is om saam met ’n klomp mense iewers heen te ry en mooi plekke te besoek. Mettertyd het ek al kieskeuriger begin raak oor my geselskap.

En ek voel nie eens skaam daaroor nie. Weet jy hoekom? Want as ek heelnag wou wakker lê, het ek my tent voor ’n nagklub gaan opslaan. Trouens, ’n nagklub is baie beter, want ten minste is daar altyd mooi meisies in die omtrek.

Dink gerus daaroor as iemand jou weer nooi om “ ’n bietjie weg te kom van die stad se geraas”.


*Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy (Oktober-November 2009) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.