Een van die beste maniere om ’n week in die Krugerwildtuin deur te bring is sekerlik in ’n ryhuis. Ons het meer as genoeg verlofdae gehad én ’n bietjie spaargeld wat al die uitgawes kon dek. Dáárvan was daar baie: vliegtuigkaartjies van die Kaap af Johannesburg toe en terug, ses nagte se kampverblyf in die Krugerwildtuin, eet- en drinkgoed én natuurlik die huurgeld vir die ryhuis.

Vir dieselfde geld kon ons twee retoervlugte na Parys bespreek het én nog geld oorhê vir ’n kersligete langs die Seine, maar die Kruger het geroep. Dit sou my eerste besoek in 21 jaar aan die wildtuin wees en vir my vrou nog langer.

Voor my geestesoog kon ek al sien hoe ons vroegoggend uit die ruskamp vertrek en dan iewers by ’n watergat gaan stilhou met die groot agterruit wat water se kant toe wys. Ons sal dan koffie maak in die wa en terugklim onder die duvet terwyl ons met oorgehaalde kameras wag dat die diere aangestreep kom. Waarmee ek wel nié rekening gehou het nie, was die groot aanvraag onder Europese toeriste vir ryhuise in Desember.

Sommer by die eerste verhuringsmaatskappy waar ek aanklop, kan ek oor die foon hóór hoe die vrou aan die ander kant van die lyn haar lag probeer inhou. “ ’n Ryhuis? ’n Rýhuis, Meneer? In die middel van die Desembervakansie? Nee, jammer, ons hele vloot is al in Mei bespreek.”

Maar ek laat my nie van stryk bring nie. Uiteindelik, ná ’n lang gesoek en gesukkel, is die geluk aan my kant en ek word geholpe by ’n internasionale maatskappy wat kort tevore sy markaandeel en vloot in Suid-Afrika uitegbrei het.

Uiteindelik breek die dag aan en ons land op O.R. Tambo. ’n Bestuurder van die verhuringsmaatskappy kom laai ons op – ’n driekwartier later as wat ons afgespreek het – en neem ons na hulle kantore.

By die verhuringsmaatskappy neem die papierwerk omtrent nog ’n halfuur terwyl die span “net gou die wa regkry.” Ná sowat 45 minute kom ’n groot ryhuis op die grasperk tot stilstand.

My teleurstelling is groot, want die pragtige groot agterruit is beplak met ’n advertensie vir ’n spesiale aanbod. Ek vra mooi of ál die waens dan nou so lyk, want dit is nie hoe hulle op die webwerf geadverteer is nie. Ja, daar is waens sonder die plakkers, sê die vrou, maar dan sal alles oorgepak moet word. Haar dun lippe en gesigsuitdrukking spreek boekdele. Trouens, dis asof hulle uitstreek: “Moenie vir jou kom staan en moeilik hou nie!”

“Ons sal wag,” sê ek.

Ná nog ’n halfuur kry ons uiteindelik koers. Die N12 en N4 is goeie snelweë, en kort voor lank seil ons verby die afdraaiborde na Emalahleni en Middelburg.

Skielik sien ek ’n klammigheid in die voetholte onder die pedale. Ek neem aan ek het seker maar gemors toe ek netnou in die ry ’n slukkie water gedrink het, maar dan, teen ’n bult, trap ek die koppelaar om na ’n laer rat oor te skakel en ’n stroompie kokende warm water stort van iewers agter die paneelbord uit tot op die brug van my voet, daar waar my plakkie geen beskerming bied nie.

Ek gee ’n harde gil. My vrou, wat net begin insluimer het, sit my nou met pieringoë en aankyk. By Belfast se groot vulstasie trek ek af en bel die verhuringsmaatskappy. Daar’s groot fout, sê ek. Die vlootbestuurder luister na my verduideliking, maar het nie raad nie. Hy sê ek kan omdraai sodat hulle na die wa kan kyk, maar dit sal beteken ek verloor een dag se kampgeld en, belangriker, ’n kosbare dag in die wildtuin.

Ek gee ’n harde gil. My vrou, wat net begin insluimer het, sit my nou met pieringoë en aankyk...

Ons besluit om maar deur te druk, want ons moet nog proviand koop in Nelspruit. Maar duskant Machadodorp gebeur dit weer. Dié slag stel die man van die verhuringsmaatskappy voor ek koop teenvriesmiddel en gooi dit in die verkoelertenk.

Ons tyd om Skukuza betyds te bereik is gevaarlik min, maar ek maak soos hy sê en kort voor die hekke sluit, ry ons Skukuza binne. Maar die anti-freeze het glad nie die strome water laat opdroog nie.

Die volgende oggend se kuier langs die watergat moet eers wag, want ek gaan soek die kamp se werktuigkundige, maar ook hy kan nie help nie. Die man van die verhuringsmaatskappy laat weet hy stuur ’n ander ryhuis. Ek kan maar intussen aankruie Letaba toe; die bestuurder sal ons die volgende oggend daar kry.

Ek trek maar my stapstewels aan en bestuur versigtig verder. Trapsuutjies kry nuwe betekenis, want ná ’n paar blertse brand daai water déúr ’n nr. 11-Trailbuster.

Teen vroegskemer meld ons by Letaba aan vir twee nagte se verblyf. Die volgende oggend se watergatplan moet wéér wag, want die man met die nuwe ryhuis daag eers skuins voor 10:00 op. Dis Sondag en hy het sy hele gesin saamgebring vir die uitstappie.

Dit neem rofweg ’n uur om al die nuwe papierwerk af te handel, en dan word al die bagasie en proviand oorgelaai. Ek koppel solank die kragkabel aan die nuwe ryhuis sodat die yskas kan koud word. Ek skakel ook die lugreëling aan, maar die tyd is te min om die wa behoorlik af te koel. Ons vat die pad om diere te gaan soek.

Ons tyd om Skukuza betyds te bereik is gevaarlik min, maar ek maak soos hy sê en kort voor die hekke sluit, ry ons Skukuza binne. Maar die anti-freeze het glad nie die strome water laat opdroog nie.

Toe ons laatmiddag terugkeer, is daar bure op die staanplek langs ons. Die man lees koerant terwyl sy vrou kosmaak. Ek koppel weer die wa se krag en skakel die lugreëling aan. Ná ’n halfuur is dit warmer binne die wa as buite. Ek probeer my bes met al die knoppies, maar niks help nie. Daar is net een gevolgtrekking: Die lugreëling in die slaapgedeelte werk nie – en dis die middel van die somer in die middel van die wildtuin, en daar is nog vier nagte van ons toer oor.

In ’n desperate poging om die wa darem net effens koeler te kry skakel ek die enjin aan om te luier en draai die lugreëling in die stuurkajuit op sy grootste oop.

Ná tien minute kom klop Buurman aan die ryhuis se deur. Toe ek oopmaak trek hy weg, sonder om te groet. “Hoor hier, gaan jy nog lank so staan en raas, huh? Ek het wraggies nie al die pad hierheen gekom om na jou wa se enjingeraas te luister nie. Ek is hier vir die diere!”

My mond gaan oop en toe sonder dat ek ’n geluid maak. Ek wil vir hom sê hy het sy kamp honderde meter van enige heining af opgeslaan. Al wat ’n mens hier hoor, is die gesellige gekuier van ander mense. En buitendien is dit nog nie eens skemer nie.

Maar ek is te oorbluf vir woorde en skakel die enjin af.

Dis onmoontlik om in die wa te slaap. Teen middernag neem ek ’n selfoonfoto van die lugreëling se termometer: 31 ºC. Daar is wraggies internetontvangs en ek stuur ’n e-pos na die verhuringsmaatskappy. My lont is kort en hierdie is nie meer snaaks nie.

Die volgende oggend is daar weer telefoongesprekke en reëlings. Ons slaap die aand in Tsendze, ’n boskamp waar daar geen krag is nie, maar wanneer ons weer by Onder-Sabie aankom vir die laaste twee aande in die wildtuin, sal daar ’n nuwe ryhuis op ons wag.

Op die voorlaaste aand skop ons ná nóg ’n uur se papierwerk en oorpakkery nes in die derde ryhuis van ons week lange vakansie (eintlik vier, as jy die een bytel met die plakker op die agterruit).

Die volgende oggend, op die S28 net voor die Ntandanyathi-voëlskuiling, trap ek die koppelaar en voel weer daardie brandpyn op my voet.

Vir die volgende twee dae het ek maar weer my stapstewels aangetrek.

Dit het my eers heelwat later bygeval ek het nie ’n enkele foto van een van die ryhuise geneem nie. Ek sit wel met ’n hardeskyf vol foto’s van renosters, leeus, ’n luiperd, jagluiperds, olifante, buffels, krokodille, seekoeie en ’n spekvet hiëna. Want sien, ’n ryhuis (of drie) is waarskynlik die heel beste manier om ’n week in die Krugerwildtuin deur te bring.